Kairos Netwerk vra ook dat lidmate nie ‘lasterlike’ Aprilgek-storie versprei nie

*******

Kairos Netwerk vra ook dat lidmate nie ‘lasterlike’ Aprilgek-storie versprei nie | Kerkbode

12 Desember 2022

Anton Knoetze skryf namens Kairos Netwerk: In Rapport van Sondag 11 Desember verskyn ’n verkorte weergawe van ’n berig wat al sedert 2016 as ’n April-gekkedaggrappie oor sosiale media versprei word. Daarin word verskeie valse bewerings teen die NG Kerk en spesifiek ook teen dr André Bartlett gemaak. Hiervolgens sou hy ’n verslag opgestel het wat deur die NG Kerk aanvaar is, waar gay-huwelike asook poligamie en gelykstelling van die Christene, Moslems, Hindoes en Jode se gode aanvaar word. Dr Gustav Claassen veroordeel, heeltemal tereg, hierdie vals berig as kwaadwillige laster wat die NG Kerk en dr Bartlett groot skade aandoen.

Die sentrale werkgroep van Kairos Netwerk (KN) het kennis geneem van hierdie ou “kettingbrief” wat ook tans op sosiale media versprei word. KN distansieer hulleself onvoorwaardelik en volledig van beide die kwaadwillige trant asook die valse inhoud daarvan. Daar word verder ’n beroep op alle behoudende NG lidmate gedoen om sulke berigte met minagting te verwerp en onder geen omstandighede te deel in die verspreiding daarvan nie. Dit is ’n oortreding van die negende gebod en daarom ’n sonde wat nie pas by enige Christen se styl nie.

Daar word verder ’n beroep op alle lidmate gedoen om met vrymoedigheid van die onskriftuurlike besluite van die Algemene Sinode (AS) te verskil maar dat dit op ’n waardige wyse met die nodige respek en integriteit sal geskied.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui