Julian Müller en die opstanding van Jesus het tonge los

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn op 2006/06/08.

********

Cobus de Klerk, Strand, skryf:

ADRIO KÖNIG se reaksie (Kerkbode, 12 Mei 2006) op Julian Müller se standpunte oor die opstanding van Jesus bevestig ’n gevoel van onrus wat lankal by my bestaan oor Müller se standpunt oor die opstanding van Jesus.

As ek Müller reg verstaan, het hy ’n probleem met mense wat die standpunt huldig dat Jesus werklik, fisiek, opgestaan het. Vir hom is die opstanding ’n misterieuse gebeurtenis wat nie met presiese woorde beskryf kan word nie. Dis ‘‘’n onsêbare werklikheid wat in geen verstaanskategorie tuis is nie’’. Maar wat beteken dit nou eintlik? Het Jesus werklik opgestaan of nie? Is die gebeure van daardie opstandingsoggend ‘‘’n misterie, iets onsêbaars’’? Müller beleef die aandrang van mense dat hy in geen onduidelike terme moet sê of hy glo dat Jesus werklik (fisiek) opgestaan het nie, as ’n oogklapbenadering wat aan die letterlike verstaan van die Bybel vasklou. Wat beteken dit? Beteken dit dat ons nie kan glo wat daar geskryf staan nie? Dat ons nie kan glo dat die graf leeg was en die steen weggerol nie? Dat die vroue nie by die graf gekom en Petrus en Johannes nie met hulle eie oë gesien het dat die graf leeg is en die doeke daar lê nie? Is ook hierdie mededeling ‘‘’n onsêbare werklikheid’’?

Volgens Müller is die letterlike verstaan van die Bybel ’n ongeldige hermeneutiese sleutel (my interpretasie van sy standpunt). Wat beteken dit? Dat die Bybel nie geglo kan word dat Jesus werklik (fisiek, liggaamlik, normaal) gebore is op ’n bepaalde dag in die geskiedenis en werklik (fisiek) doodgemaak is op ’n bepaalde Vrydag nie? Dat Hy ook nie werklik (fisiek) opgestaan het op ’n bepaalde dag nie? Is dit alles ook ’n onsêbare misterie? Kom alles nie dan op losse skroewe te staan nie? Het Jesus dan werklik (fisiek) as mens gelewe? Kan ons dan nog volhard met ons belydenis dat Hy waaragtig God en waarlik mens is?

Dat Jesus werklik (ja, ook fisiek) opgestaan het, word vir my bevestig deur onder meer die volgende Bybelse gegewens:

  • Die steen voor die graf was weggerol.
  • Die graf was leeg.
  • Die grafdoeke was in die leë graf.
  • Hy nooi Tomas om sy vinger in die wonde in sy hande en sy hand in die wond in sy sy te steek (Joh 20:27).
  • Hy eet ’n stukkie gebakte vis om sy dissipels te oortuig dat Hy nie ’n gees is nie (Luk 24:42, 43).
  • Hy nooi sy dissipels: ‘‘Voel aan My en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene (iets fisiek!) soos julle sien dat Ek het nie’’ (Luk 24:39).

Ek glo dat Jesus opgestaan het met ’n veranderde, verheerlikte liggaam, maar nie ’n ander liggaam nie! Die fisieke, waarlik menslike liggaam is verander in ’n verheerlikte liggaam wat tegelyk kenbaar én onkenbaar was, maar onlosmaaklik deel daarvan was!

As ’n teologieprofessor soos König nie verstaan wat Müller bedoel nie, hoe kan daar verwag word dat die studente wat deur Müller opgelei word, dit moet verstaan? Nee, die tyd het aangebreek dat Müller ophou om met woorde te speel en vir die kerk en die wêreld in eenvoudige taal sê of hy glo dat Jesus (ook fisiek, liggaamlik) uit die dood opgestaan het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui