Hoe om self sendingwerk te doen

Mense ondersteun soms sendelinge, maar weet nie altyd hoe om self sendingwerk te doen nie. Sending bestaan uit twee dele:

  1. Gebed: Die belangrikste deel van sendingwerk is gebed. Iemand het een keer gesê: “Gebed is die werklike werk, evangelisasie is net die opruiming.” (kyk Aanhalings oor gebed).
  2. Gesprek: Die tweede deel van sendingwerk is om ’n gesprek met ’n persoon te hê.

Daar is baie mense wat glo dat jou dade harder as jou woorde moet spreek. Lee Strobel, wat die boek Saak vir Christus (Engels: Case for Christ) geskryf het, het tot bekering gekom toe hy gesien het watter positiewe invloed sy vrou se bekering op haar lewe gehad het (kyk Former Atheist Lee Strobel’s Follow-Up to Ricky Gervais’ Easter Message). Hierdie argument moet egter nie gebruik word omdat jy nie die moed het om met iemand op ’n geestelike vlak te gesels nie. ’n Goeie voorbeeld kan nie gebed en gesprek vervang nie.

Mense weet egter nie altyd hoe om ’n geestelik gesprek met iemand te begin nie en wat om te sê nie.

Hoe om ’n geestelike gesprek te begin

Voor ons kyk hoe om ’n geestelike gesprek te begin, net eers die volgende: Tydens gesprekke is dit belangrik om nie oor te kom asof jy jou geloof in die persoon se keelgat wil afdruk nie. Wees altyd sensitief. As iemand nie gemaklik voel om met jou oor geestelike dinge te praat nie, moet jy versigtig wees om voort te gaan. Dit is belangrik om altyd te besef dat dit God is wat mense oortuig. Goeie argumente is nooit ’n slegte ding nie, maar dit waarborg niks nie. Die gesindheid waarmee jy die gesprek voer, is in baie gevalle belangriker as die argumente wat jy gebruik.

Aan die ander kant moet jy ook altyd rekening daarmee hou dat jy moontlik ’n persoon van die ewige vuur kan red. As ’n baba in ’n swembad val, gaan vind jy nie eers by sy ouers uit of jy die baba uit die water kan red nie – jy spring summier in en haal die kind uit die water. Moet dus nie té versigtig wees nie. Mag ons wysheid hierin ontvang…

Vrae wat jy kan vra om ’n geestelike gesprek uit te lok

Die volgende is vrae wat ’n mens aan ander kan vra om ’n geestelike gesprek te begin:

Aan mense wat jy nie goed ken nie:

  • In watter kerk is jy?
  • Is jy in ’n Bybelstudiegroep?
  • Ken jy vir Jesus?
  • Wat glo jy oor evolusie?
  • Is jy ’n Christen?

Aan mense wat jy beter ken, waarvan jy die antwoorde van die vrae hierbo weet, sal jy meer direk moet vra:

  • Hoe is jy deesdae betrokke by jou kerk?
  • Hoe ervaar jy julle Bybelstudie/kerk tans?
  • Hoe gaan dit met jou geestelike lewe of jou stiltetyd?

Laat lê ’n Bybel op jou lessenaar

Laat lê ’n Bybel op jou lessenaar en/of sit iets geesteliks op jou kantoormuur vir mense om te sien as hulle in jou kantoor inkom. Dit mag dalk ’n vraag uitlok sonder dat jy eers self die inisiatief geneem het.

Laai mense op wat ryloop

As jy vrou-alleen is, moet jy liefs versigtig wees hiervoor, maar veral mans kan ander mense oplaai en op die pad ’n geestelike gesprek met hulle hê. Die kans dat jy die persoon weer gaan sien, is baie skraal, dus kan jy vrymoedigheid neem om baie direkte vrae te vra of selfs vir die persoon te preek. Onthou egter dat jou gesindheid partykeer groter gewig tel as jou argumente. Moenie so optree dat hy voel dat jy jou geloof op hom wil afdwing nie.

Oorweeg dit om selfs van jou roete af te wyk sodat jy ’n langer gesprek met die ryloper kan hê. Sendelinge in die Midde-ooste gebruik nogal hierdie benadering: Hulle vra die ryloper waarheen hy wil gaan en maak asof hulle toevallig ook na dieselfde bestemming oppad is en dan gesels hulle tydens die rit.

Maak aanmerkings asof die persoon ’n Christen is

Indien jy nie die geloofsoortuiging van ’n persoon weet nie, kan jy aanmerkings tydens ’n gesprek maak asof die persoon ’n Christen is en kyk hoe hy daarop reageer. Byvoorbeeld, as jy vir iemand van jou onseker situasie vertel, kan jy sê dat jy tans baie daarvoor bid.

Bid vir mense

As jy met mense by die werk ’n gesprek het en hulle het gebed nodig, moenie skroom om die deur vinnig toe te trek en vir hulle ’n gebed te doen nie. Moet verkieslik nie wag nie. Moenie net vir hulle sê dat jy vir hulle sal bid nie – doen dit sommer dadelik. Vir meer hieroor, kyk hieronder waar die L-10-T benadering verduidelik word.

Dissipel mense

Kies vir jou ’n paar mense en doen moeite met hulle: bid vir hulle, maak gereeld kontak met hulle (bel/e-pos/besoek) en gee hulle geestelike leiding waar nodig.

Gee vir iemand inligting soos ’n DVD of traktaatjie

Daar is baie DVD’s wat ’n mens gratis aan mense kan gee. Die volgende is voorbeelde:

Die Christelike Lektuurfonds stel gratis materiaal beskikbaar soos bv traktaatjies[1] wat aan mense uitgedeel kan word. Traktaatjies kan bv aan karoppassers gegee word of vir mense wat langs die pad wag vir werk.

Gideons

Jy kan ook by die Gideons aansluit. Hulle is ’n organisasie wat op ’n gestruktureerde manier Bybels versprei aan skole, hospitale en hotelle.

Hoe kan jy jouself toerus?

Dit is uiters belangrik om jouself toe te rus om ’n geestelike gesprek met iemand te hê. Hoe beter jy voorbereid is, hoe makliker sal dit wees om met iemand te praat.

Lukas-10-Transformasie (L-10-T)

Die L-10-T benadering is om vir mense te vra waarvoor jy vir hom/haar kan bid. Daar is gevind dat hierdie vraag gewoonlik die ander persoon daartoe bring om dinge met jou te deel wat die persoon andersins nie sommer met jou of enigiemand sou deel nie. Selfs wildsvreemde mense deel soms baie persoonlike dinge op hierdie vraag. Dit is blykbaar vir mense van ander gelowe ook gewoonlik nie ’n probleem as Christene vir hulle bid nie. Vir meer hieroor, kyk Luke 10 Transformation (L-10-T), L-10-T Introduction video en L-10-T How to…….

EE3 (Evangelism Explosion)

In kort is die doelwit van hierdie metode om vir mense te vra wat hulle sal antwoord as hulle by die hemelpoorte kom en gevra word hoekom hulle ingelaat moet word. Die volgende word dan aan die persoon verduidelik:

  • Almal is skuldig aan sonde en verdien die hel.
  • Net geloof in Jesus kan ’n mens van die hel red.

Vir meer oor hierdie metode, kyk Dink jy dat jy ’n goeie mens is?

Om te sien hoe hierdie metode prakties toegepas word, kyk:

Let daarop dat nie Ray Comfort of Todd Friel die mense probeer oordonder nie en dat beide vrede het met die resultaat van die gesprek omdat dit God is wat oortuig, nie die evangelis self nie. Hierdie is ’n baie goeie manier om straatevangelisasie te doen.

Skepping vs Evolusie

Evolusie was al vir baie mense ’n struikelblok om tot bekering te kom (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed). Daarom is dit belangrik om ’n basiese kennis van hierdie onderwerp te hê.

Evolusie is ateïste se geloof, dus as ’n mens aan ’n ateïs kan wys dat evolusie nie wetenskap is nie en daarom nie ’n feit is nie, mag dit al wees wat nodig is om so ’n persoon weer die Bybel, en daarom Jesus, ’n kans te gee.

Hierdie inligting versterk ook gewoonlik mense se geloof wat reeds Christene is. Vir meer inligting oor skepping en evolusie, kyk:

Die intelligente ontwerp-argument is ook baie nuttig. Dit is die idee dat daar ’n intelligente ontwerper moes wees wat alles geskep het. Die Discovery Institute is die mense wat die intelligente ontwerp beweging dryf. Alhoewel hulle baie goeie werk doen om evolusie te ontbloot, moet daarop gelet word dat hulle nie ’n Christelike organisasie is nie. Kyk ook CMI’s views on the Intelligent Design Movement. Die volgende twee DVD’s van hulle kan egter baie sterk aanbeveel word: The Privileged Planet en Unlocking the Mystery of Life.

Woordlose boekie

Kyk Reik uit na kinders met die Woordlose boekie.

Ten slotte

Dit is ons taak om as Christene na ander ongelowiges uit te reik (kyk Die Bybel oor sending). Om effektief uit te reik na ander is dit belangrik om opgelei te wees. Daarom is dit belangrik om ’n paar bronne hierbo te bestudeer sodat ’n mens ’n effektiewe getuienis kan lewer.

Moet egter nie verwag dat dit maklik gaan wees om mense te oorreed om Jesus aan te neem nie. Moet nooit mismoedig voel as jy nie dadelik tot mense indring nie. Jy is dalk een van baie mense wat ’n saadjie plant in ’n persoon se lewe (kyk 1 Korintiërs 3:5-9). Dit is net God wat iemand kan oortuig. Ons moet getuig en God sal oortuig.

Voetnotas

[1] Lees Lead Pearl Harbor bomber converts after reading tract wat vertel hoe Mitsuo Fuchida, leiervlieënier van Japan wat Pearl Harbour aangeval het, tot bekering gekom het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui