‘Goeie gesprek’ kom oor gay-verbintenisse in NGK

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Goeie gesprek’ kom oor gay-verbintenisse in NGK | Netwerk24

Mia Spies

Saterdag, 07 Oktober 2023

Die NG Kerk sal eersdaags weer sy standpunt oor selfdegeslag-verbintenisse bespreek. Die kwessie is op die agenda van die 18de vergadering van die kerk se Algemene Sinode (AS) wat volgende Sondag begin.

Volgens ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk, gaan daar “ ’n baie goeie gesprek en ’n debat” oor die kwessie wees nadat ’n aantal gravamina (kerklike beswaarskrifte) daaroor ontvang is.

“Ek is baie bly dat dit weer op die tafel is sodat ons verder daaroor kan dink. Dit gee ook vir mense wat bekommerd is oor die kerk se huidige posisie die geleentheid om hul standpunte 100% helder op die vloer van die sinode te stel. Dit sal binne die prosesse van die sinode hanteer word,” sê Janse van Rensburg.

Die AS het in 2015 ’n geskiedkundige besluit geneem dat kerkrade self kan besluit of hulle gay-verhoudings wil erken, gay paartjies in burgerlike verbintenisse bevestig en gay predikante beroepbaar maak. Die besluit is egter op ’n buitengewone sinode in 2016 ter syde gestel nadat ’n groep lidmate hulle tot die hooggeregshof gewend het. Die AS moes ook in 2019, in die lig van die hofuitspraak, sy 2015-besluit nietig verklaar en ’n nuwe besluit neem. ’n Besluit is toe aanvaar dat daar ruimte is vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag en dat gemeentes weliswaar self daaroor kan besluit.

Janse van Rensburg sê hulle het die afgelope vier jaar vertoë gekry van sinodes (’n klomp gemeentes saam), wat aangedui het dat hulle ongemaklik is met hierdie “oop besluit” dat gemeentes self kan besluit oor selfdegeslagverbintenisse.

Die Tafelberg-gemeente in die middestad van Kaapstad het in Junie die eerste gemeente geword wat sy verband met die kerk opgeskort het en die verband formeel verlaat het weens die “rigting wat die kerk ingeslaan het”.

“Die Tafelberg-situasie sal nog getoets word. Na ons mening kan ’n gemeente nie uit die kerkverband tree en die naam van die NG Kerk behou nie. Daar is nog gemeentes wat dieselfde geluide maak. Ons besef dit is ’n baie, baie moeilike kwessie op die tafel van die kerk. Trouens, ek het baie simpatie vir almal wat met die kwessie worstel en nog nie helderheid daaroor het nie.”

Janse van Rensburg sê ook die kerk is nog nie deur die proses van onderskeiding daaroor nie. “Dis nie asof die AS aan gemeentes die reg gee om dit (hul eie besluite oor gay-verbintenisse) te neem nie. Gemeentes het die reg, hulle het dit altyd gehad en uitgeoefen en besluit hoe hulle gay lidmate insluit of nie. Die AS het ’n sterk standpunt ten gunste van die huwelik as instelling tussen een man en een vrou. Wat selfdegeslagverbintenisse betref, het ons in die lig van ons gebrek aan helderheid en uitsluitsel daaroor, daarmee volstaan om nie ’n voorskriftelike beleid daaroor vas te stel nie, maar dit aan gemeentes oor te laat om plaaslik en op ’n pastorale wyse daaroor te besluit.

In beginsel het die AS dus ruimte gelaat vir ’n diversiteit van standpunte oor die kwessie in die kerk.

Janse van Rensburg sê daar is in aanloop tot die AS-vergadering verskeie gesprekke met van die deelnemende sinodes oor die kwessie gehou.

“Die moderamen het deeglik na almal geluister en die gesprekke het inderdaad tot groter helderheid oor die betekenis van die 2019-besluit gelei. Dit was baie waardevol. Ons vertrou dat die komende sinode ’n plek sal wees vir verdere onderskeiding en Skrifgegronde nadenke oor die onderwerp.”

Die vergadering van die AS vind van 15 tot 20 Oktober in Boksburg plaas.

Kommentaar

Daniel Louw

Daar word gesê:

  • Die NG Kerk sal weer sy standpunt oor selfdegeslag-verbintenisse bespreek.
  • Daar gaan ’n baie goeie gesprek en ’n debat oor die kwessie wees

Dit beteken nie noodwendig dat die 2019-besluit hersien sal word nie.

Daar word gesê:

  • “Dit sal binne die prosesse van die sinode hanteer word”

Nelis verwys waarskynlik na “kennis van revisie“. Om ‘n vorige besluit te hersien moet kennis van revisie gegee word. Die kans dat dit suksesvol sal wees is bitter klein.

En dan sê Nelis, soos ná die 2016-besluit, dat gemeentes in elkgeval nie deur die AS voorgeskryf gaan word wat hulle kan en wat hulle nie kan doen nie. Dus, selfs al besluit die AS dat homoseksuele verhoudings on-Bybels is, gaan gemeentes steeds die vryheid hê om anders daaroor te dink.

Verder sal ‘n mens moet sien wat bespreek gaan word oor Tafelberggemeente se situasie.

Voorwaar interessante tye wat voorlê…

1 thought on “‘Goeie gesprek’ kom oor gay-verbintenisse in NGK”

  1. In reaksie op Mia Spies se onderhoud met ds Nelis Janse van Rensburg (Beeld 7-10-2023) die volgende opmerkings:
    Eerstens moet ‘n mens daarop let dat die gay-debat in die NG Kerk slegs een simptoom is van die probleem wat veral dolerende gemeentes met Algemene Sinode (AS) het. Hierdie probleem is dat die AS toenemend die ideologie van sosiale geregtigheid (of “wokeness”) navolg ten koste van die Bybel en die Gereformeerde Belydenis. In Mei vanjaar het 56 van die dolerende gemeentes as “Koinonia Sinode” saamgegroepeer juis om gesamentlik híéroor met die Moderamen van AS in gesprek te gaan. Die gay-debat was nie op die Koinonia Sinode se agenda nie.
    Hoe kan “goeie gesprek” by die AS verwag word terwyl die Moderamen van die AS geweier het om met die Koinonia-sinode te praat?
    Dan verwys hy na die “Tafelberg-situasie” wat nog “getoets” sal word. Let wel dat hierdie “situasie” ook niks met die gay-debat te doen het nie, maar gaan oor ‘n ander simptoom van die navolging van “wokeness.” Dit gaan oor intergeloof-aksies. Hierteen het die leraar van Tafelberg kapsie gemaak, en is hy (omdat hy tekste soos Hand 2:12 en 1 Kor 10: 19-20 aanvaar) verketter. Daarom het Tafelberg alle bande met die kerkverband (nie met gemeentes wat by die Woord en Belydenis bly nie) opgeskort.
    Hoe dit “getoets” gaan word, sê hy nie, maar hy weet nie hoe ‘n gemeente die naam “NG Kerk” kan behou en uit die kerkverband tree nie. Dis baie eenvoudig: Die gemeente is die kerk, nie die kerkverband nie. Jy is lid van ‘n gemeente – nie van ‘n Ring of sinode nie. En Tafelberg bly getrou aan die Bybel as onfeilbare Woord van God en Belydenis soos nog altyd. Hulle glo ook soos nog altyd dat Jesus Christus die enigste Hoof is van die kerk. Dit is die kerkverband wat teenstrydig met die Woord en die Belydenis optree en daarom buite orde is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui