Brief: ’n Suster se stem oor aborsie

Kyk ook:

Die volgende is geskryf in reaksie op Nadia Marais se Die geskenk van ’n stem (2 Okt 2023).

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Brief: ’n Suster se stem oor aborsie – Kerkbode

05 Oktober 2023

Yasmin Olivier van Groblersdal skryf: Nadia Marais se Kerkbode-rubriek “Die geskenk van ’n stem” verwys.

As ’n verpleegster (geregistreerde suster) word ek daagliks in die praktyk met hierdie tipe etiese situasies gekonfronteer. Voorbeelde wissel van die tragiese en traumatiese werklikheid van ’n 15-jarige meisie wat deur haar pa verkrag is en kom aanklop vir ’n aborsie en jong skoolmeisies wat navraag doen oor aborsie vir ’n ongewensde swangerskap as ’n produk van onverantwoordelike, onbeskermde seks.

Definisies in hierdie debat is baie belangrik. Reproduktiewe gesondheid verwys na ’n toestand van volledige fisiese, geestelike en sosiale welstand. Dit gaan nie bloot net oor die afwesigheid van afwykings en siektes nie. Dit hou verband met alle sake rakende die voortplantingstelsel met al sy funksies en prosesse. Reproduktiewe gesondheid impliseer dus dat mense ’n bevredigende en veilige sekslewe kan hê en oor die vermoë beskik om voort te plant wanneer en hoe hulle gereed voel om dit te doen (Wêreldgesondheidsorganisasie, 2023).

As gevolg hiervan vra ek altyd hoekom word die beplanningsaspek van ’n familie of swangerskap onderbeklemtoon en die toegang tot aborsie oorbeklemtoon. Dit is vir my duidelik dat reproduktiewe gesondheid primêr handel oor beplanning en die voorkoming van ’n ongewensde swangerskap en aborsie te dikwels as laaste uitweg gebruik word in situasies van krisisbestuur. In die mediese wêreld het ’n skuif plaasgevind van ’n “curative” benadering tot welstand na ’n “preventative” benadering. Dit hou verband met die oeroue gesegde: “Prevention is beter than cure.”

Aborsie moet nooit as die eerste of enigste opsie voorgestel word nie. In gevalle soos die bogenoemde geval van ’n verkragting is die voorgestelde prosedure dat die misdaad onmiddellik aangemeld moet word by die polisie en die naaste hospitaal of kliniek. ’n Vrou sal dadelik gehelp word om te verhoed dat sy swanger word sodat daar nie later ’n traumatiese aborsie hoef plaas te vind nie. Gesprekke moet eerder fokus op polisiëring en veiligheid van vroue as bloot net die toegang tot aborsie.

Ons moet nooit uit die oog verloor wat ’n aborsie is nie. Ongeag ’n persoon se geloofsoortuiging of kultuurgroep bly ’n aborsie die terminering van ’n swangerskap. In leketaal is dit die terminering van nuwe lewe.

Met dit gesê, wil ek uitwys dat ek nie net ’n suster is nie, maar ook ’n jong predikantsvrou wat daarna strewe om ’n Godvresende vrou te wees wat die Here verheerlik in my doen en late. Daarom sukkel ek om te verstaan waarom daar neergekyk sal word op ’n waardestelsel wat jong vroue aanmoedig om hulle seksualtiteit op verantwoordelike wyse te bestuur binne die konteks van ’n huwelik. Die werklikheid is dat ons die gevaar loop om onsedelikheid in ons samelewing te bevorder en aan te moedig deur mense te laat dink dat daar geen gevolge vir hulle keuses en optredes is nie.

Ter afsluiting wil ek beklemtoon dat die negatiewe implikasies en risiko’s van aborsie op ’n vrou te dikwels in die doofpot gestop word.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui