Gespreksdokument oor Belhar en ander AS 2011 besluite

Gespreksdokument: Kerklike verbintenis aan voorgestelde nuwe belydenisskrifte

By ’n vergadering gehou op 24 Oktober 2011 het die uitgebreide Ringskommissie van Louis Trichardt besluit om die aangehegte gespreksdokument te stuur na alle leraars van die 4 Gereformeerde Afrikaanse susterskerke, met die oog op stimulering van gesprek rondom die voorneme van die Algemene Sinode van die NG Kerk om nuwe belydenisskrifte deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak, omdat dit na die ringskommissie se mening die verhouding met hierdie kerke wesenlik raak.

Die Uitgebreide Ringskommmissie van die ring van Louis Trichardt bring graag die volgende opmerkings onder u aandag:

  1. Die Uitgebreide Ringskommissie van Louis Trichardt vind dit hartseer dat die NGKA en die RCA nie in een Algemene Sinode opgeneem is nie ter wille van die nuwe voorgestelde belydenisgrondslag vir ’n nuwe kerk wat die Belharblydenis insluit, wetende dat hierdie kerke nie hierdie belydenisskrif aanvaar nie.
  2. Die uitgebreide Ringskommissie van Louis Trichardt bring die onderskeid tussen die QUIA- en QUATENUS-verbintenis aan belydenisskrifte onder u aandag, waar die Quia-standpunt beteken dit word onderskryf omdat dit in ooreenstemming met die Woord van God is, terwyl Quatenus beteken dit word onderskryf in soverre as wat dit ooreenstem met die Woord van God.
  3. Terwyl die NG kerk ‘n Quia-standpunt handhaaf tov van al die gereformeerde belydenisskrifte, en nou ook só ’n verbintenis vir die Belharbelydenis aanbeveel, word dit terselfdertyd deur die Algemene Sinode voorgehou asof die nuwe belydenisskrifte nie kerkordelik op elke lidmaat afdwingbaar sal wees nie. Dit is die mening van die Uitgebreide Ringskommissie van Louis Trichardt dat sodanige belydenis wat nie verpligtend is nie, die Quatenus-standpunt verteenwoordig tov verbintenis aan belydenisskrifte.
  4. Dit is die mening van die ring dat dit ‘n onhoudbare standpunt is om aan lidmate te stel dat hulle nie elkeen verbind is tot ’n belydenis, sowel as die tug van die kerk om hierdie belydenis te moet aanvaar nie, aan die een kant, maar aan die ander kant, lidmate te oortuig om hierdie belydenis te aanvaar omdat dit met die Woord van God ooreenkom.
  5. Die Uitgebreide Ringskommissie van Louis Trichardt voel dat die ASM duideliker leiding en formulering sal moet verskaf om hierdie verwarring en onhoudbaarheid aan te spreek voor enige stemproses aan die orde kan kom.
  6. Die uitgebreide Ringskommissie van Louis Trichardt verklaar hiermee dat die Ring van Louis Trichardt steeds staan by sy standpunt van 2004 waarin dit verwerp word dat die NG Kerk moet ontbind vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG Kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid (dokument aangeheg).
  7. Die uitgebreide Ringskommissie van Louis Trichardt is ook besorg dat ander besluite van die Algemene Sinode 2011 (oor duiweluitdrywing, saamwoon en die doop) reeds die NG kerk se verbintenis tot bestaande belydenisskrifte verander het vanaf Quia- na Quatenus-standpunt.

Vir enige navrae, kontak gerus ons Ringskommissievoorsitter Ds PJ Kriel by enige van die volgende nommers: 015 583 0020 of 082 898 2081 of per E-pos krielpj@mweb.co.za

**********

GESPREKSDOKUMENT VAN DIE RING VAN LOUIS TRICHARDT OOR BELHAR EN ANDER ALGEMENE SINODE BESLUITE 2011

Inhoud

Die inleiding

Die gevaar van die Suid Afrikaanse konteks is die vooropgesette rasdenke en rasse interpretasie waarin alle sake byvoorbaat reeds verstaan word. Dit maak baie keer dat mense sake verstaan en aanvaar volgens rassevooroordele en nie volgens die eie aard van sake nie.

Vir die beoordeling en verstaan van die pas afgelope Algemene Sinode (AS) besluit is hierdie gevaar ook wesenlik. Die kerk is ’n geloofsgemeenskap binne die burgerlike gemeenskap wat volgens die gemenereg ge-orden is. Daarom is die inrigting van die kerk as ’n openbare instelling altyd ’n geloofsgemeenskap wat in sy eie orde, onderwerpe is aan die orde van die land en landswette. Die kerk is en kan homself nooit verhef bo hierdie openbare gemeenskapinrigting nie. Hy is deel daarvan. Die NG Kerk is nie net bewus hiervan nie, maar het hierdie werklikheid in al sy kerkregtelike sake soos die aanstelling van predikante as werknemmers, die gemeente as openbare instelling wat as werkgewer optree, die barmhartigheidsinrigtings van die kerk, en belastingspligtigheid van gemeentes en die kerk as openbare instelling reeds verreken.

Die besluit van die Algemene Sinode 2011 oor die Belharbelydenis is volgens die sinode self beide ’n geloofssaak en ’n saak van ’n nuwe kerkorganisasie. Die besluit oor die Belharbelydenis as geloofsbelydenis is ’n besluit vir ’n nuwe kerkorganisasie, dit wil sê ’n nuwe openbare kerklike instelling. Die Algemene Sinode noem hierdie nuwe openbare kerklike instelling as organisasie in geloofstaal die “verenigde kerkverband”. Maar in regstaal is dit ’n nuwe openbare kerklike instelling in die land.

Die Belhar besluit as geloofsaak

1. Die formulering in die besluit vir ’n nuwe belydenisgrondslag waarvan die Belharbelydenis deel sal wees, klink so: “Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Word van God bely,…”

2. Die uitdrukking “in ooreenstemming” is die kerklike regsterm “Quia”.

3. Met hierdie besluit het die sinode die Belharbelydenis deelgemaak van die kerklike onderskeid Quia – Quatenus.

4. Hierdie twee kerklike tegniese regsterme word in Afrikaans weergegee met die uitdrukking: “in ooreenstemming” of “omdat dit ooreenkom”. Quia beteken dus in Afrikaans “in ooreenstemming” en Quatenus beteken in Afrikaans “in sovere as wat”.

5. Hierdie kerklike regsterme dui die verskil aan in die wyse waarop die spesifieke kerkorganisasie as openbare instelling in sy vergaderinge en sy lidmate aan spesifieke geloofsdokumente verbind is.

6. “In ooreenstemming” beteken dat alles wat in die geloofsbelydenis verwoord is, volgens die kerk se oortuiging in ooreenstemming met die Woord van die Here is.

7. Hierdie verbintenis is volgens die kerk regsgeldig vir die kerk as openbare instelling. Hierdie verbintenis het nog altyd beteken dat die kerk die reg het om hierdie geloofsbelydenis kerkregtelik deur openbare tuguitoefening so te mag handhaaf. Dit het ook nog altyd beteken dat die die openbare plig van lidmate is om hulle aan hierdie openbare regsgeldigheid van die kerk se belydenis te verbind, deur hulle aan die tug van die kerk ooreenkomstig hierdie belydenisse te onderwerp.

8. Met die nuwe gefomuleerde belydenisgrondslag kry die Belharbelydenis en die Laudiumverklaring dieselfde regsstatus en regsgeldigheid van die Apostoliese geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea, die geloofsbelydenis van Athanasius, die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse geloofsbelydenis en die Dordtse leerreëls.

9. Terwyl die voorgestelde nuwe belydenisgrondslag op die “Quia”standpunt gegrond is (dat dit die regstatus en regsgeldigheid het dat dit volgens die Woord van God is, so aanvaar móét word en so gehandhaaf móét word deur die tug van die kerk), kom die Algemene Sinode en stel “Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe kerkverband dit vanselfsprekend as belydenis hoef te aanvaar nie.”

10. Hier moet ons onderskei tussen die voorgestelde nuwe belydenis grondslag en die opmerking van die Algemene Sinode. Hiedie opmerking “Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe kerkverband dit vanselfsprekend as belydenis te hoef te aanvaar nie.”, is regtig net dit – ’n opmerking van die Algemene Sinode. Maar dit is ’n verkeerde opmerking van die AS.

11. Die regstatus en regsgeldigheid van die kerk se belydenisgrondslag word deur die inhoud van die belydenisse bepaal aan die een kant en die wyse waarop die kerk aan hierdie belydenisse verbind is: “omdat dit met die Skrif ooreenkom” of “in soverre as wat dit met die Skrif ooreenkom.”

12. Die regstatus en regsgeldigheid van die kerk se belydenisse word nie deur die kommentaar, mening of versekering van persone of vergaderinge bepaal nie. Daarom het hierdie opmerking van die Algemene Sinode in terme van die voorgestelde nuwe belydenisgrondslag geen regstatus nie. Geen lidmaat of kerkvergadering sal na die aanvaarding van hierdie nuwe belydenisgrondslag enige kerkregtelike bevoegheid of status hê om hulle op hierde opmerking van die Algemene Sinode te kan beroep om nie die belydenisgrondslag te móét aanvaar nie.

13. Hierdie besluit, in so verre as wat dit ’n besluit en nie net ’n opmerking van die Algemene Sinode is nie, is regskorrup. Die Algemene Sinode kan nie die regsstatus en regsgeldigheid van sy geloofsbelydenisse aanvaar as “in ooreenstemming met die Woord” van God en dan ’n nuwe reg aankondig dat lidmate en vergaderinge nie aan die regsgeldigheid van hierdie belydenisse gebind is nie en nie deur die kerklike tug gedwing kan word om hulle daaraan te onderwerp nie.

14. Dit is ook regskorrup omdat, alhoewel die kerkregtelike uitdrukking “in ooreenstemming met die Woord van God” gebruik word, kom daar ’n wesenlike verandering in die wyse waarop hierdie verbintenis gekwalifiseer word, en hierdie kwalifikasie is dat lidmate en vergaderinge se verbintenis tot die belydenis grondslag opsioneel is.

15. Die wesenlike gevaar is dat die Algemene Sinode met die versekering of motivering dat die nuwe “quia” standpunt lidmate nie verbind nie, net so voorgehou word sodat lidmate hierdie grondslag net eers moet aanvaar met ’n tweederde meerheid stem, sodat die Algemene Sinode, nadat die lidmate en gemeentes dit klaar aanvaar het, die regsverbintenis kan afdwing.

16. Sou dit só wees, dan beteken dit dat die Algemene Sinode sy lidmate doelbewus eers onder ’n verkeerde indruk bring oor die regskrag van die nuwe belydenisgrondslag, en nadat hulle hulle self daartoe verbind het, maak asof hulle dit verkeerd verduidelik het, en jammer is daaroor, maar bly by die werklike regskrag van die nuwe belydenis.

17. Sou die Algemene Sinode daarop staan dat daar werklik ’n besluit van die AS is dat die nuwe belydenisgrondslag nie hoef aanvaar te word deur gemeentes en lidmate nie, en dat hierdie besluit regsgeldig is, dan het die Algemene Sinode nie net die belydenisse waaraan die nuwe kerk verbind is, verander nie, maar is die nuwe kerk se verbintenis tot al die belydenisse, verander van die huidige verbintenis van “in ooreenstemming” na “in soverre as wat dit met die Woord van God ooreenkom. Daar is genoeg aanduidings in die formulering en die besluite oor duiweluitdrywing, die doop en saamwoon wat aantoon dat die AS vir hierdie verandering gekies het,en dat die taal van die nuwe formuleringe nie meer as die regtaal van “Quia – Quatenus bedoel word nie. Dit beteken die algehele omkeer van die huidige belydenisse en nie net die byvoeging van twee ander nie.

18. Anders beteken die besluit of “versekering” van die AS dat nie alle lidmate en gemeentes hierdie belydenisse hoef te aanvaar nie, is net ’n sogenaamde “oorgangsklousule” of te wel ’n “sunsetclause”. Dat dit waarskynlik die enigste bedoeling van die AS kan wees, wys in die formulering: “Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe kerkverband dit vanselfsprekend as belydenis te hoef te aanvaar nie.” Hulle plaas hulleself dus willens en wetens in die regsposisie dat hulle moet aanvaar dat hulle oortuig sál word in die nuwe kerk.

19. Indien die AS nie regskorrup opgetree het nie, of nie doelbewus misleidend wil wees net om ’n tweederde meerderheid besluit met wanindrukke deur te druk nie, dan beteken hierdie opmerking – die verbintenis is regsgeldig, en almal wat nog nie die Belharbelydenis en Laudium verklaring as in ooreenstemming met God se Woord aanvaar nie, moet net pastoraal begelei word om dit te aanvaar.

Al wat hierdie opmerking dan kan beteken is dat lidmate net soos met die herdoop eers baie lank en geduldig gelei moet word om die regsgeldigheid van hulle aanvaarding van die nuwe belydenisgrondslag te móét aanvaar. Dit beteken dit is net ’n oorgangsklousule vir geduldige begeleiding voor die tug toegepas word.

As dit die bedoeling van die AS is, dan moet dit so uitdruklik, helder en duidelik aan kerklike vergaderinge en lidmate gestel word. Dit is tog absurd om lidmate te laat stem met die indruk dat hulle nie gebind is nie, met die vooraf versekering dat hulle onbegrip oor dit waarvoor hulle stem verdra sal word. ’n Opmerking oor pastorale bewoëndheid kan nie voor gehou word as ’n regsversekering nie.

20. Hierdie innerlike spanning tussen ’n nuwe belydenisgrondslag “in ooreenstemming met die Woord van God”, wat die Belharbelydenis en Laudiumverklaring insluit, en die besluit dat lidmate nie “vanselfsprekend” die nuwe belydenisse hoef te aanvaar nie, moet eers opgeklaar word voor die proses van ’n tweederde meerderheid stem aan die gang kan kom.

21. Sou die AS nie hierdie besluit duidelik wil stel, is dit regsgeldig “Quia” of regsgeldig “Quatenus” nie, kan daar geen billike en regmatige stemproses in kerklike vergaderinge begin nie. Anders beteken dit dat die AS die kerklike vergaderinge en lidmate van die NG kerk doelbewus mislei oor dit waaroor gestem word.

22. Sou die AS hierdie teenstrydige besluit geneem het: dat die AS regsgeldigheid gee aan kerklike vergaderinge en lidmate om nie aan die nuwe belydenisgrondslag wat “in oorstemming met die Woord van God is” kerkregtelik gebind te wees aan die volle implikasies van hierdie kerkregtelike verbintenis nie, is hierdie besluit oor Belharbelydenis van die AS regskorrup. Dan is die AS se besluit self nie geldig nie.

23. Die AS se besluit het huidiglik net een regsbetekenis:

Die AS het besluit dat die Belharbelydenis en die Laudiumverklaring dieselfde geloofsbetekenis en kerkregtelike status in die nuwe ter stigte kerkorganisasie sal hê as die Formuliere van Eenheid van die NG Kerk: “dit is in ooreenstemming met die Woord van God”..

Daarmee sal alle kerklike vergaderinge en lidmate van die nuwe ter stigte kerkorganisasie op hierdie wyse aan hierdie belydenisse verbind wees.

Daarom sal alle vergaderinge en lidmate regtens aan kerklike optredes en tug onderworpe wees om hulle by hierdie belydenisse te hou omdat dit “in ooreenstemming met die Woord van God is”.

Kerklike vergaderinge en lidmate sal met pastorale bewoëndheid en sorg begelei word om hierdie belydenisse te aanvaar terwyl die lidmate tydens hierdie pastorlae gesprekke deeglik sal moet verstaan dat hulle is net ’n oorgangstyd gegun om hierdie belydenisse te móét aanvaar.

24. Die ASM sal kerklike vergaderinge voor enige verdere kerklike gesprekke oor hierdie besluit, dit sluit gesprekke met ander kerke in, eers oor hierdie innerlike teenstrydigheid moet inlig. Die landswette van deursigtigheid en die lanswette oor kontrakte vereis dit.

25. Die posisie wat die AS voorsien dat lidmate kan stem en deel word van die nuwe kerkverband, sonder dat hulle verstaan of aanvaar dat hulle kerkregtelik gebind is om hierdie belydenisse te aanvaar, en daarom pastoraal hanteer moet word, dui op die regskorrupsie van hierdie besluit en die moontlike misleidende karakter van hoe lidmate en kerkrade oortuig moet word om te kies om in so onhoudbare posisie in ’n nuwe kerkverband te moet wees.

Die Belhar besluit as gemeenregtelike saak

1. Volgens die kerkorde van die NG Kerk staan die NG Kerk gegrond op die Bybel volgens die Formuliere van Enigheid.

2. As gemeenskapinstelling is die NG Kerk geregistreer as die NG Kerk en al sy geboue en bates is in hierdie Naam geregistreer.

3. Daar is verskeie ander kerkgenootskappe in die land wat ook op hierdie grondslag gekonstitueer is: die Nederduits Hervordme Kerk, die Gereformeerde Kerk, die APK, die NGKA en die RCA.

4. Volgens die landswette is hierdie kerklike gemeenskappe elkeen eie regsinstansies met eie regpersone, regte, eiendome en regsaanspreeklikhede, al het hulle dieselfde geloofsgrondslag. Om dieselfde geloofsgrondslag te hê, maak kerklike instellings, as openbare instellings, nie dieselfde kerkorganisasies nie.

5. Die besluit om twee nuwe belydenisse as ’n núwe geloofsgrondslag te skep vir ’n nuwe kerkverband, beteken gemeenregtelik die stig en konstituering van ’n nuwe openbare kerklike instelling in SA volgens die land se wette op openbare instellings.

6. Die werklikheid dat hierdie ’n nuwe ter stigte openbare kerklike instelling is, is al in die verlede deur die ASM erken deurdat in die gesprekke reeds oor ’n nuwe naam vir die nuwe ter stigte kerkverband gepraat is. (2006)

7. Daarom moet die weg van tweederde meerderheidsbesluit gevolg word, want dit gaan oor die ontbinding van die NG Kerk soos wat die NG Kerk as kerk gekonstitueer is, vir die konstituering van ’n nuwe kerkorganisasie met ’n nuwe belydenisgrondslag met, na alle waarskynlikheid, ’n nuwe naam.

Die regsmening waarin die AS optree, dat met ’n tweederde meerderheid stem die regte en bates van die NG Kerk na die ter stigte kerk oorgedra word en dat die derde minderhied geen aanspraak meer op hulle eie bates sal hê nie, beteken die ASM erken dat hulle besig is met die skep van ’n nuwe openbare kerklike instelling.

8. Hierdie werklikheid word deur die AS erken in hulle verwysings dat gemeentes dieselfde sal bly, aanvanklik, maar dat alle bestaande ringe en sinodes van die bestaande NG Kerk sal moet ontbind en as ringe en sinodes van die nuwe kerk móét konstitueer.

9. Die werklikheid van ’n nuwe openbare kerkorganisasie wat nuut gekonstitueer word, word tans vir lidmate onduidelik gemaak en onduidelik voorgehou deur net in geloofstaal te verwys na “ verenigde kerkverband”. Dit skep die indruk of dit nie gemeenregtelik ’n nuwe openbare kerkorganisasie met ’n nuwe konstitusie, orde en naam sal wees nie.

10. Dat die AS vir ’n nuwe openbare ter stigte kerkinstelling gekies het waarin die NG Kerk moet ontbind en alle kerklike vergaderinge moet konstitueer as die nuwe kerkorganisasie, blyk uit die keuse van die AS om nie met die twee kerke wat volgens die bestaande belydenisse met die NG Kerk op die pas afgelope Sinode in een kerkverband tree wou, om een kerkverband binne die bestaande konstitusie van die kerk te vorm nie.

11. Die AS het hierdeur gekies om nie een kerkverband te vorm nie, maar ’n nuwe kerk met ’n nuwe geloofsgrondslag te stig en die proses so te bestuur dat die NG Kerk met al sy bates deur die nuwe ter stigte kerk oorgeneem word. Hierdie oorname van een openbare instelling se lede, bates en regte word verduister met die geloofstaal van “een kerkverband”.

12. Die AS gee voor dat gemeentes “dieselfde bly”. Hierdie pretensie is verkeerd.

13. Gemeentes is as NG gemeentes gekonstitueer, regtens as openbare instellings. Die naam, bates en regte van gemeentes kan nie net voortbestaan as NG gemeentes, NG regte en NG bates in die nuwe ter stigte kerk nie.

14. Elke gemeente sal effektief eers as NG instelling deur eie besluite moet ontbind en dan as gemeentes van die nuwe ter stigte kerk konstitueer – volgens die nuwe geloofsgrondslag van die nuwe kerk.

15. Geen gemeente, kerkraad of sinode se NG status en konstitusie as openbare instelling kan deur ’n ander kerkelik vergadering ontbind en as ’n nuwe kerkinstelling of as deel van ’n nuwe kerkinstelling gekonstitueer word nie. Daar is geen delegasie van regte in die konstituering van NG gemeentes aan ander vergaderinge nie.

16. Daarom sal die AS dit vooraf duidelik moet stel wat hulle bedoel met “gemeentes bly diesselfde”. Indien hulle daarmee bedoel dat die sinodeverbande en ringsverbande ontbind en as nuwe sinodes en ringe konstitueer, maar nie die gemeentes nie, is dit of ’n regsleuen of regskorrup.

17. Die ring van Louis Trichardt het homelf hieroor reeds verantwoord in die ringsdokument: “die verwerping van die ontbinding van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid.” Wat in 2004 gedien het, aan die Sinode van Noord Transvaal deurgegee was en wat deur die Sinode van Noord Transvaal aan die Algemene Sinode deurgegee was. (Sien bylaag I)

18. Die ring het die volgende besluite na die behandeling van hierdie dokument geneem:

  1. Die ring van Louis Trichardt verwerp die ontbinding van die van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid
  2. Die ring van Louis Trichardt versoek die kerkrade in die ring om die studiestuk “Die verwerping van die ontbinding van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid” in behandeling te neem.
  3. Die ring van Louis Trichardt versoek kerkrade in die ring om ‘n besluit te neem waarin hulle standpunt inneem t.o.v. die ontbinding van die NG Kerk t.w.v. ‘n nuwe kerkorganisasie.

19. Die ring het ook gestel dat indien hierdie proses so voorgehou word dat gemeentes onder die indruk gehou word dat hulle bly soos hulle is, regtens as openbare instellings, en die AS nie die ontbinding en nuwe konstituering van gemeentes as gemeentes van ’n nuwe ter stigde kerkorganisasie voorhou nie, die AS die lidmate in ’n regskorrupte lokval inlei.

20. Die AS het geen bevoegdheid om op ’n nuwe kerkverband te besluit, met ’n nuwe belydenisgrondslag met die openlike verklaring dat ringe en sinodes sal moet oor en nuut konstitueer maar versekeringe uit te spreek asof dit regsgeldig is dat “gemeentes dieselfde sal bly nie”.

21. Indien die AS hierdie ondeursigtigheid volhou en nie die ontbinding van en nuwe konstituering van gemeentes as deel van die nuwe kerkorganisasie voorhou en verduidelik as dit waarvoor vergaderinge en lidmate moet stem nie, beteken dit dat die AS en ander kerklike vergaderinge en persone kies om kerkrade en lidmate in die onduidelikheid van hierdie dubbelsinnighede te hou.

22. Die teenstrydigheid van alle verbande wat ontbind en nuut volgens ’n nuwe belydenisgrondslag konstiteer, as nuwe regspersone volgens die wette van die land, maar gemeentes “wat dieselfde bly”, moet eers opgeklaar word, voor die proses van stemming vir die nuwe kerkorganisasie begin kan word.

Die inhoud en karakter van die nuwe kerk

Die karakter en inhoud van die nuwe kerk waarop die AS besluit het, wys reeds duidelik in die karakter en inhoud van ander besluite wat die AS geneem het.

Die uitdryf van duiwels wat nie bestaan nie

Die nuwe inhoud van die nuwe kerk

In die eerste keer in die NG Kerk se bestaan het die AS besluit dat duiweluitdrywing deel van die amptelike bediening van die NG Kerk is. Dit beteken dat die aanspreek van duiwels op die voorbeeld van die gesagvolle optrede van Christus as Here, nou die gesagvolle optrede van bedienaars van die evangelie word. Predikante en “begaafdes” kan as “bediening” nou hierdie gesagsspreuk gebruik: “Satan, in die naam van God, gaan uit”, en dan sal duiwels op die hierdie gesagvolle aanspreek uit besete lidmate en mense uitgaan.

Voor die AS hierdie gesagspreuk as “bedieningshandeling” goedgekeur het, was dit die posisie en standpunt dat die bediening van die evangelie is, dit is, die verkondiging van Christus is, wat bevryding bring.

Verkondiging is iets anders as die uitspreek van gesagspreuke. Die verkondiging van Christus wat vergewe is die versekering dat wie in Christus glo, word vergewe. Vergifnis kan nie op die voorbeeld van die Here se optrede waar Hy mense vergewe het, ’n kerklike bediening word van gesagspreuke wat predikante uitspreek soos: “In die naam van die Here, sê ek vir jou: “Word van jou sondes vergewe.”

Volgens die AS is die bediening van die evangelie nou nie net meer die verkondiging van Christus nie, dit is nou ook om die gesagsvolle spreuke te sien as magsmiddele wat mense kan gebruik waardeur God sal werk. Die hele geestelike bedryf hoe om ’n demon of duiwel te identifiseer, watter soort duiwel dit is, wat die naam van hierdie duiwel is en hoe om duiwelsbesete lidmate en mense te hanteer is nou deel van die “bediening” van die NG Kerk en behoort daarom ook nou deel van die opleiding van predikante te word.

In presies dieselfde besluit wat vir die eerste keer duiweluitsrywing as bediengshandeling van predikante goedkeur, stel die AS: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose anders interpreteer.” Anders interpreteer beteken in hierdie besluit niks anders as dat daar nou ruimte is in die NG Kerk om nie te glo dat die duiwel en duiwels gevalle nie engele is wat werklik en persoonlik bestaan nie.

Hierteenoor stel die Geloofsbelydenis van die NG Kerk: Artikel 12 Die skepping van alle dinge, veral die van die engele.

“Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en aarde en alle skepsel uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte, voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag, om die mens te dien, sodat die mens sy Skepper kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagsliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ..”

Volgens die besluit van die AS is daar in die nuwe kerk waaraan hulle nou visioneer ruimte dat mense nie meer hoef te glo dat die duiwel en duiwels AS regtig skepsels met “’n eie wese, gestalte, voorkkoms en onderskeie take” nie. Volgens die AS is daar nou vir dit wat in die NG Kerk se belydenis genoem word die “dwaling van die Sadduseërs” ook ruimte.

Die absuditeit van hierdie innerlike teenstrydig besluit is nou werklik so dat in die NG Kerk predikante duiwels kan uitdryf wat nie werklik bestaan nie.

Die nuwe karakter van die nuwe kerk

Die NG Kerk se kerkorde bepaal dat hy gegrond staan op die Bybel wat in sy belydenisse bely word “ooreenkomstig die Woord van God”, dit is die “Quia” standpunt. Hierdie belydenisse kan net deur ’n tweederde meerderheid stem van alle kerklike vergaderinge verander word.

Die AS hierteenoor besluit dat die NGB artikel 12 nie meer vir alle lidmate geldig is nie. Want daar is nou binne die nuwe kerk ook ruimte dat mense nie hoef te glo wat die kerk in Artikel 12 van die NGB bely nie. Daarmee het die AS die kerk se verbintenis van die “Quia – omdat dit ooreenkom met die Woord van God” verander na ’n nuwe verbintenis van “Quatenus – in soverre as wat dit met God se Woord ooreenkom.”

Hiermee het die AS besluit dat lidmate nie met artikel 12 van die NGB hoef saam te stem nie.

Hierdie verandering van die inhoud van ’n belydeniskrif en daarmee die verbintenis tot ál die belydenisskrifte, het die AS gedoen, sonder om aan die vergadering voor te hou dat die vergadering die inhoud en verbintenis tot die geloofsbelydenis verander. Die vergadering het hom op geen stadium aan die belydenis verantwoord nie.

Dit wys op die nuwe karakter van die nuwe kerk: spirituele konsensus. Die besluit oor “bevrydingsbediening” soos die AS dit geneem het, was om konsensus te kry tussen al die botsende en teentrydige spiritualiteite in die vergadering volgens die standpunt van die diversiteit van spiritualiteite, nie om ’n standpunt volgens sy eie belydenisse te neem en alle spiritualteite aan die geloofsbelydenis van die NG Kerk te verbind nie.

Dit het die AS gedoen, sonder om die kerkordelike prosedure van ’n tweederde meerderheid van kerkrade wat dit artikel met ’n tweederde meerderheid verander te volg. Kerkrade, ringe en sinodes se kerkregtelike posisie is in hierdie spirituele konsensus van die AS net genegeer en geminag.

Die karakter van hierdie spirituele konsensus wys daarin dat die kommissie wat hierdie saak aan die AS voorgehou het reeds 8 jaar met hierdie saak besig was. Dit is ’n kommissie wat bestaan uit geleerdes en spesialiste. Hulle het nie die verandering van belydenis aan die vergadering voor gehou nie. Indien dit nie doelbewus was nie, maar omdat hulle nie geweet het dat die kerk so ’n belydenis het nie, maak dit die werklikheid nog net meer skrikwekkend. Die waarskynlikheid is dat elkeen van die 400 afgevaardigdes so onkundig oor die NG Kerk se belydenisse is, dat nie een afgevaardigdes wat die NG Kerk moet verteenwoordig, geweet het hulle is verbind aan ’n belydenis wat hulle besluit ongeldig maak nie.

Dit is hierdie onkunde van afgevaardigdes oor die inhoud en verbintenis tot hulle eie belydenis en die doelbewuste verswyging van kundiges oor die verandering van die belydenis om spirituele konsensus te kon kry, wat ook werksaam was in die beluite oor die Belharbelydenis en die verandering van die belydenisgrondslag van die NG Kerk.

Die semi-bekeringsdoop

Die besluite van die AS rondom die doop is net so innerlik teenstrydig. Op die oog af lyk dit asof die AS ondubbelsinnig die bekeringdoop afgewys het en die eenmaligheid van die doop herbevestig het. Maar dit is feitelik nie korrek nie.

Die nuwe inhoud van die nuwe kerk

Die doop bestaan uit die teken en die betekende saak. Die betekende saak in die doop is Christene se insluiting in die sterwe en opstanding van Christus: hulle afsterwe van hulle ou mens en opstanding van hulle nuwe mens in Christus. Die teken bestaan uit twéé onherhaalbare dele, die eenmalige ritueel van water sowel as die eenmalige toesegging van die insluiting in Christus deur die evangelie.

Die onherhaalbaarheid van die doop is die onherbaalbaarheid van ritueel en toesegging: die eenmalige bediening van een spesifieke ritueel en die onherhaalbaarheid van die eiesoortige toesegging van die insluiting in Christus deur die evangelie.

Die onherhaalbaarheid van die doop soos bely in die belydenisskrifte, beteken dat hierdie één ritueel en één toesegging genoemsaam is om te deel in die volle bevestiging, herinnering, herdenking en viering van die betekende saak, die opstanding en afsterwe saam met Christus. Dit is genoegsaam omdat die teenwoordige Christus hierdie een teken vir altyd gebruik om sy kinders aan hulle insluiting in Hom te herinner, bevestig, te herdenk en te kan vier. Christus doen dit alles deur hierdie eenmalige teken: één ritueel en één toesegging.

Tot en met die AS was die nuwe saak op die tafel om die doopsgeleentheid met nuwe seremonies te vier, nie die betekende saak in die doop, die afsterwe en opstanding saam met Christus nie. Die AS het ’n ingrypende nuwe standpunt oor die doop ingeneem: “6. Dit staan kerkrade ook vry om toepaslike rituele te vestig wat die behoefte van sulke lidmate opvang om simbolies uitdrukking te gee aan hulle sterwe en opstanding met Christus.” Hiermee is die begrippe “viering”, herdenking”, “herinnering”, nie meer aan die doopsgeleentheid gekoppel nie, maar aan die betekende saak in die doop: die insluiting in die sterwe en opstanding van Christus.

Wat word die “afsterwe en opstanding” in die geloofsbelydenis van die NG Kerk genoem? Dit word die twee dele van die ware bekering genoem. Met hierdie besluit het die AS dus goedgekeur dat die lidmate hulle bekering met ander rituele kan vier as die doop. Dit, terwyl in NGB en HK die opstanding van die nuwe mens en die afsterwe van die ou mens juis die saak is wat deur die eenmalige ritueel van die doop bevestig en verseël word. Dit is hierdie eenmalige ritueel wat ons juis herinner dat elke bekering uit Christus is en dit is juis hierdie eenmalige ritueel wat ons ons insluiting in Christus laat vier.

Wat is die nuwe doop van die nuwe kerk? Dit is ’n doop waarin die toesegging en die spesifieke ritueel wat die Here ons gegee het onherhaalbaar is, aan die een kant volgens die AS. Maar dit is terseldetyd aan die ander kant ’n doop waarvan die eenmalige ritueel soos die Here dit ingestel het, nie meer vir Christus genoegsaam is om alles aan sy kinders te bevestig, te verseël, tot herinnering en tot viering te bring nie. Die herinnering, viering en bevestiging van die betekende saak in die doop, die afsterwe en opstanding saam met Christus, kan kerkrade nou sommer na goeddunke met eie nuwe rituele bedien.

Hiermee het die AS die doop wat die NG Kerk bely ’n semi-doop gemaak: die een ritueel is nie meer genoegsaam om die betekende saak te verseël, te bevestig, tot herinnering, herdenking en viering te bring nie. Hiermee het die AS ’n nuwe semi-bekeringsdoop in die NG Kerk ingestel: die viering, herinnering en herdenking van die betekende saak van die doop met nuwe selfontwerpte rituele wat sonder enige Skrifgesag of enige voorbeeld uit die Skrif sommer na goeddunke opgemaak kan word – volgens elkeen se spiritualiteit.

Die nuwe karakter van die nuwe kerk

Die nuwe karakter van hierdie nuwe kerk wys juis in hierdie innerlik teenstrydige besluite van die AS. Dit gaan in hierdie besluite nie meer oor die belydenis van die doop soos in die belydenisskrifte vervat nie, dit gaan oor die spirituele konsensus van die teenstrydige en botsende spiritualteite in die AS.

Die wyse waarop die AS hierdie innerlike teenstrydighede aanspreek is om ’n konsensus besluit te kry met die beleid van diversiteit van spiritualiteite. Dit is nie meer om hierdie spiritualiteite oor hulle wanopvattings aan te spreek en weer tot die inhoud van die geloof terug te bring nie. Dit is om die inhoud van die geloof te verskeur binne die konsensus van die diversiteit van spiritualtiete. Daarom kan aan groep die spesifieke ritueel en toeseggingswoorde van die Here toegesê word, en aan die ander groep nuwe rituele vir dieselfde geestelike inhoud van die doop omdat die Here se ritueel nie vir hulle genoegsaam is tot herdenking en viering nie.

Wat is deur hierdie spirituele konsensus van die AS bereik? Geen persoon wat leef in die spiritualiteit van reding deur bekering gaan met iets anders te vrede wees as die teken wat die Here self ingestel het nie. Hoekom moet hulle te vrede wees met selfontwerpte tekens terwyl hulle juis op die voorbeeld van Jesus tot bekering kom en gedoop wil word? En geen persoon wat in die genoegsaamheid van hulle verbondsdoop glo, gaan aan die verspotheid deelneem om naas hierdie ritueel wat die Here self ingestel het, hulle met ander selfopgemaakte rituele besig te hou nie.

Nou waaroor gaan dit dan? Dit gaan oor die nuwe spirituele mag van die AS. Die AS se magsbasis is dat die nuwe kerk se eenheid in die diversiteit van spiritualiteite lê. In hierdie besluite is die AS se gesagbasis is nie meer die Skrif en belydenisse van die NG Kerk nie. Maar wat is die eenheid van hierdie spirituele diversiteit? Dit kan nie meer die geloofsbelydenis wees nie, want die inhoud van die doopsbelydenis word verwater. Dit kan ook nie die Skrif wees nie, want volgens die AS kan kerkrade sonder die Bybel selfuitgedinkte en ontwerpte rituele gebruik om hulle eenheid met Christus te vier, te herinner en te herdenk.

Dit is die mag van spiritualiteit! Eenheid in die diversiteit van spiritauliteite beteken: spirituele eendrag maak spirituele mag. Daarom is die verskeuring van die geloofsbelydenis van die NG Kerk onbelangrik – want dit gaan oor die nuwe eenheid in die mag van spiritau;iteit. In hierdie magseenheid dien die verskeuring van die geloof net tot groter mag in spiritualiteit.

Hoe is hierdie besluit deurgevoer?

Die kerkraad van Levubu het hierdie saak van nuwe rituele wat die betekende saak van die doop ook nou moet uitdruk, in ’n weldeurdagte en gemotiveerde dokument aan die ASM deur gegee. (Sien bylaag II). Die skriba van die ASM het ontvangs erken en aan die kerkraad bevestig dat hierdie dokument aan die Algemene regskommissie deurgegee was.

In hierdie skrywe is die ASM en Regskommissie gewys dat hierdie ’n verandering van die geloofsbelydenis van die NG Kerk is en net deur ’n tweederde meerheid van kerkrade goedgekeur kan word, nie deur die AS nie. Hierdie voorstel om die betekende saak van die doop nou met nuwe rituele uit te beeld was deel van die wekrsaamheid van die kommissie wat uitgeleerdes en spesialiste bestaan het.

Die ASM en regskommissie het die vergadering nie op hierdie verandering van belydenis gewys nie, terwyl hulle ingelig was deur die skrywe van die kerkraad van Levubu. Daarmee is die vergadering doelbewus onkundig oor die inhoud en reikwyde van hierdie besluit gehou. Meer nog, die kommissie van geleerdes en spesialiste het hierdie verandering voorgestel, of wetend dat dit die belydenis verander of nog erger, sonder dat hulle eers dit kon herken as ’n verandering van die belydenis. En niemand in die AS vergadering het dit aan die vergadering gestel dat dit ’n verandering van die geloofsbelydenis oor die doop is nie – want hulle weet nie dat die opstanding en afsterwe van die mens in Christus juis die betekende saak van die doop is nie. Of as hulle geweet het, het hulle net nie meer die kerk se belydenisse ge-ag nie.

Dit is met hierdie selfde onkunde en onge-ergheid oor die geloofsbelydenisse wat die besluit oor die verandering oor die geloofsgrondslag van die NG Kerk geneem was. Die nuwe magsbasis van die nuwe kerk is spiritualiteit, nie meer die Skrif volgens die geloofsbelydenis nie.

Die seremoniële verseëling van christelike saamwoon buite die huwelik

Die nuwe Christelike saamwoon van die nuwe kerk

In die besluite oor die huwelik en saamwoon, het die AS die sondige karakter van saamwoon verchristelik. In saamwoon het die AS nou die kerk bedien met ’n onderskeid wat gebruik word om homoseksuele verhoudings kerklike en teologies ook te probeer verchristelik: die onderskeid tussen promiskue verhoudings teenoor verhoudings van liefde en trou met seksuele eksklusiwiteit.

Die AS wys saamwoon af indien dit met die motief gedoen word om nie “seksueel eksklusief” te wees nie en stel die eiesoortigheid van die huwelik in seksuele ekskluwiteit: “om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ’n eksklusiewe karakter dra,”.

Met hierdie uitgangspunt kan die AS dan ’n spesiale manier van saamwoon erken wat christelike is: “8 Die AS wil mense wat in ’n etiese saamwoonverhouding leef en dus die Christelike norme vir die huwelik uitleef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte ook in plek te kry”, die AS stel dat hierdie tipe saamwoon verhoudings “refekteeer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek, en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie”

Wat is die nuwe van hierdie Christelike saamwoon wat nog net kerklike aspekte moet bykry? Die nuwe is dat die wese van die huwelik nie meer die geloof is in die eenheid wat God skep tussen man en vrou om vir mekaar man en vrou te wees nie. (man and woman te be husband and wife”) Die spesifiek Christelike is nie liefde en respek vir mekaar, seksuele eksklusiwiteit of ’n lewenslange verbintenis nie. Dit is univeseel menslik.

Die eiesoortigheid van die Christelike huwelik is nie die seremonie, liefde of verbintenis nie, dit is die geloof in wat God in hierdie liefde, respek, verbintenisse en wetlike kontrakte laat gebeur: dat God ’n man en vrou verenig in ’n onbreekbare eenheid van eggenote.

Die AS het nie hierdie spesifieke Christelik inhoud van die huwelik verreken nie: die geloof in die eenheid wat God tussen ’n man en vrou skep wat hulle eggenote maak. Daarom het die NG Kerk nou ’n spesifieke saamwoon verchristelik: ’n man en vrou wat wil lewenslank saamwoon in liefde en respek terwyl hulle seksueel eksklusief is. Met hierdie morele basis wat in saamwoonverhoudings verchristelik is, kan liefde en lewenslange homoseksuele saamwoonverhoudings ook nou verchristelik word.

Die NG Kerk erken nie meer elke vorm van saamwoon as in wese sondig nie.Sondig omdat nie in hierdie daad van God geglo word wat hulle as eggenote een maak nie. Daarom kom die AS tot die ligsinnigheid dat kerklike aspekte hierdie “christelike saamwoon” voltooi. Hierdie “voltooiing” vervang die christelike oproep tot bekering en geloof. Die keuse om nie meer saam te woon, maar in die huwelik te tree, is nie meer ’n erkenning dat God nie geglo is vir wat Hy tussen hulle laat gebeur het nie, dit is ook nie meer ’n keuse om te glo in die eenheid wat God tussen man en vrou skep nie, dit is ’n kerklike openbare inseëning.

Die ring van Louis Trichardt het in sy behandeling van die dokument “Ongetroud saambly” die werklike karakter van saambly teenoor die geloof in die huwelik gestel. (Sien bylaag III) dat die wese van die huwelik is geloof in die eenheid wat God skep, en nie die liefde, respek, seksualiteit of verbintenisse nie.

Die nuwe tipe saamwoon verhouding wat die AS voorhou as sou dit aan al die waardes van die Christelike huwelik voldoen em net kerklik “voltooi” moet word, is verkeerd. Om voor te gee dat daar saamwoon verhoudings is waarin mense glo dat God hulle in die eenheid van man en vrou (husband and wife) saamgevoeg het, is ’n leuen. Mense woon saam omdat hulle nie glo in wat God tussen hulle en met hulle doen nie.

Om hierdie ongeloof en die lewe in hierdie ongeloof net te wil “voltooi” met kerklike seremonies en wetlike kontrakte, plaas die NG Kerk weer binne in die “natuurlike godsdiens” en verduister die christelike geloofslewe in Christus: dat alles wat nie uit die geloof in Christus gedoen word nie, sonde is. Die verchristeliking van saamwoon deur seksuele eksklusiwiteit en lewenslange verbintenisse is humanisties en vrysinnig. Sonder geloof in wat Christus met en vir mekaar doen, om mekaar een te laat wees, is die seksuele ekskluwiteit, respek, liefde en lewenslange verbintenis in saamwoon sonde.

Die die karakter van die nuwe lewenswyse van die nuwe kerk

Die karakter van die nuwe etiek van die nuwe kerk, is om menslike optrede te verchristelik. Nie om sonde aan te spreek en tot bekering en geloof op te roep nie. Dit was die onderliggende verskil tussen die Rooms Katolie Kerk en die Gereformeerde Kerke: di verskil tussen natuur en genade. Die eiesoortigheid van die RK kerk en alle ander kerke wat die natuurlike godsdiens van die mens as Christelik aanvaar, is om die natuurlike lewe en optredes van mense kerklik te “voltooi.” met rituele, magspreueke en seremonies. Hiermee word die kerk nog net ’n seremonië instelling: dit gaan die mens in sy natuurlike lewe voor met seremonies.

Dit is die karakter van hierdie nuwe soort etiek van die nuwe kerk waarin die stelling in die Belharbelydenis dat God op ’n besondere wyse die God van die armes is, pas. Die natuurlike armoede, ellende en politieke mag of magteloosheid van hierdie wêreld, is die lewe wat deur die kerk “voltooi” moet word met seremonies en kerklike “aspekte”.

Die AS 2011 as die Polokwane van die NG kerk

Die besluit van die AS om die geloofsgrondslag van die NG Kerk te verander, wys helder en duidelik in hierdie geloofsveranderinge wat die AS klaar aangebring het, asook in die wyse waarop die AS hierdie geloofsveranderinge aangebring het.

Die AS 2011 is vir die NG Kerk wat Polokwane vir die ANC was. Vir die ANC was Polokwane die geweldige oorname van die ANC en daarmee van die konstitusionele bedeling van die land deur die Nasionaal Demokratiese Rewolusie. Die doel van hierdie oorname is om bestaande konstitusionele instellings en bates, in en deur die rewolusie te vernietig vir die nuwe magsryk van die NDR.

Die Belharbelydenis en Laudium deklarasie het nou die vlagskip van ’n spirituele rewolusie met ’n rewolusionêre doelwit geword: die NG Kerk se sinodes, ringe en gemeentes moet ophef word vir ’n nuwe kerk. Dit beteken dat met die nuwe kerk oor die 300 jaar se sinodale besluite, ringsbesluite en kerkraadsbesluite gewoon net nie meer bestaan nie; oor die 300 jaar se instellings en bates sal net gewoon vervreem word van die bestaande NG Kerk en opge-eis en opgeneem word in ’n nuwe kerk, asof dit nog steeds dieselfde kerk is. Geen lidmaat of gemeente sal meer na hierdie rewolusie sy eie geloofsgrondslag, bates en instellings as sy eie meer kan hê nie. Dit is die rewolusionêre van die AS 2011 – die hele kerk moet van vooraf met ’n nuwe geloofsgrondslag oor begin, en alles wat voor dit was, mag nie meer bestaan nie.

Die besluit oor ’n nuwe geloofsgrondslag gaan nie oor kerkeenheid nie: die AS 2011 het twee kerke wat meteens een en deel van die NG Kerk kon word met een besluit, sonder enige verandering in sy geloofsgrondslag, afgewys en waarskynlik vir altyd vir kerkeenheid van die nuut ter stigde kerk vervreem.

Dit gaan met en na die AS 2011 nie meer oor kerkeenheid nie. Dit gaan oor die rewolusionêre idee dat die kerke van die verlede moet verdwyn en alles wat die kerke is nuut moet oorbegin. Die verskuiwing van ’n geloofsgrondslag ooreenkomstig die Woord van God na ’n spirituele konsensus van diverse spiritualteite is die werklike geestelike rewolusie waartoe die AS in sy besluite hom reeds verbind het. Die Belhar belydenis en Laudium deklerasie is net die simbole waarmee hierdie geestelike rewolusie gevoer word en waarmee die totale ontbinding van die NG Kerk, wat nie op spiritualiteit gegrond is nie, maar op sy geloofsbelydenis ooreenkomstig die Woord van God, verdring, oorgeneem en opgeneem word in ’n spiritualiteit wat sy belydenis ter syde stel en minag soos dit in die drie besluite hier bo uitwys.

Dit wys duidelik uit die voorgestelde verandering van die betekenis van die geloofsbelydenis: “1.2 Die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis, en die Dortse leerreëls waardeur die Kerk haar verbondenheid met die Gereformeerde tradisie uitdruk.” Die gesag van die Woord en die kerk se belydenis het vir die Gereformeerde Kerk nog altyd teenoor “tradisie” gestaan. Kerklike belydenisse druk ons geloof in die Woord uit, nie ons verbondenheid met tradisie nie. Hierdie verskuiwing van wat in belydenisse uitgedruk word is wesenlik. Indien dit verbondenheid met “tradisie” uitdruk, dan is spiritualiteit die grondslag van die kerk, nie die Woord nie.

Daarom moet die nuwe geloofsgrondslag van die nuwe kerk goed verreken word. Dit is nie meer die Skrif en belydenis nie. Die AS se lede het met drie besluite gewoon net rewolusionêr, teen die geloofgrondslag van die NG Kerk, teen die lewenswyse van die NG Kerk, teen die orde en prosedures van die NG Kerk om, die belydenisse en leefwyse van die NG Kerk verander, vir die nuwe vryhede van die nuwe kerk.

Die krag waaruit die AS opgetree het, was reeds die nuwe grondslag: die eenheid in die diversiteit van spiritualiteite. Hierdie krag het die AS geput uit geestelikes wat hulle sien as die bemagtigde leiers van die kerk.

Hierdie bematiging wys in die karakter van die AS. Geestelikes het die AS uitgewerk om as bestuursvergadering van die kerk, ’n aanbiddingskarakter soos ’n erediens te hê. Dit beteken dat die bestuursvergadering van die kerk in ’n erediens omskep word. Binne hierdie aanbiddingskarakter van die AS, is die onderskeid tussen die amp en werksaamhede tussen die leerende en regerende ouderlinge in effek opgehef. Wat die leraars in en met eredienste moes doen, doen hulle nou as spirituele leiers met die bestuursvergadering van die regerende ouderlinge.

In hierdie “aanbidding” word die vergadering nie meer deur die leerende ouderlinge ingelig oor die inhoud van sy eie belydenisse, die Skrif en ordes nie, maar vind hulle in die gees van aanbidding, spirituele konsensus.

Die verskeuring van die Skrif en belydenis deur hierdie spirituele konsensus in aanbidding is net nie meer vir die afgevaardgdes aanvoelbaar gewees nie. Die nuwe mag van eenheid in spiritualiteit het die eenheid in die geloof verdoof.

Die nuwe spirituele kerk waarop die AS besluit het, is die nuwe kerk vir die nuwe nasie. Dit is ook ’n bemagtigde kerk wat alle rasse in een sprituele gemeenskap wil verenig vir die visies en missies van geestelike leiers. Die eenheid wat die kerk op kon besluit met kerke wat saam een in die geloof is, het die AS ter syde gestel.

Die misleiding in die besluit tot ’n nuwe spirituele kerk

Die misleiding in die besluit tot ’n nuwe geloofsgrondslag vir ’n nuwe kerk, is die voorwendsel dat met hierdie besluite die kerk die rasse-sondes van die verlede ophef.

Die verandering van die NG Kerk van ’n kerk wat net op die Skrif gefundeer is ooreenkomstig sy geloofsbeldyenisse, na ’n nuwe gemeenskap wt gegrond is op spiritualiteit, die verandering van vergaderinge wat besluite neem op grond van die Skrif en volgens sy belydenisse, na ’n gemeenskap wat besluite deur spirituelekonsensus neem om alle teenstrydige spiritualiteite te akkommodeer, is nie die ophef van apartheid of een of ander rasseprobleem nie.

Dit is die oorname van die NG Kerk as geloofsinstelling deur ’n rewolusionêre geestelikheid met rasseverwyte en veroordelings vir hulle wat nie met hierdie nuwe moderne geestelikheid wil saamgaan nie.

Binne hierdie geestelike rewolusie is die innerlike teenstrydighede van die skep van ’n nuwe belydenisgrondslag terwyl lidmate verseker word hulle hoef dit nie te aanvaar nie en die ontbinding van die NG Kerk terwyl lidmate verseker word gemeentes sal dieselfde bly, nie maar net administratiewe foute of menslike vergissings nie. Dit is strategies bedoel. Dit moet lidmate, gemeentes en kerkrade verwar en passifisties maak terwyl hulle geloofsgrondslag rewolusionêr ter syde gestel word en hulle naam, bates en instellings sonder verset oorgeneem kan word sodat hulle kan ophou om te bestaan. Die gees van oorgawe waarmee hier gewerk word is die moegheid en moedeloosheid van lidmate wat willoos en magteloos hierdie selfde proses van oorname op alle ander vlakke van die samelewing moet aanvaar deur die Nasionaal Demokratiese Rewolusie.

Bylaag I: Die verwerping van die ontbinding van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid

  1. Die huidige konventpolitiek en openbare debat in die NG Kerk is besig om die NG Kerk se vergaderinge, gemeentes en lidmate in ‘n vernietigende lokval in te lei: die houding dat kerklike eenheid vir die NG Kerk nie anders kan wees as om as NG Kerk saam met die VGK en NGKA wetlik te ontbind vir die konstituering van ‘n nuwe kerklike organisasie nie
  2. Hierdie keuse word voorgehou asof dit volgens die geloof in die Vader, Seun en Heilige Gees moreel nie anders kan as om vir so ‘n kerkontbinding en nuwe kerkkonstituering te kies nie. Wie nie hierdie keuse op hierdie wyse neem nie, se geloof in die eenheid van die Kerk van die Here en daarmee saam sy geloof in die Here self word verdag gemaak.
  3. Die keuse vir die stigting van ‘n nuwe kerklike organisasie vir lidmate van die NG kerk volgens die huidige geloofs- en morele debatte, beteken dat die NG Kerk as deel van hierdie besluit om as NG Kerk te ontbind en op te gaan in ‘n nuwe kerkorganisasie, erken dat die bestaan van die NG Kerk naas kerke soos die VGK en NGKA ‘n sonde is: dit is teen ons geloof in die Here en teen ons lewenswyse uit ons geloof in die Here..
  4. Die regs-implikasie van hierdie wyse waarop die keuse vir die wetlike ontbinding van en konstituering die NG Kerk voorgehou word , is dat die vergaderinge en lidmate van die NG Kerk erken dat die bestaan van die NG Kerk as organisasie soos hy tans daaruit sien kerkregtelik en gemeenregtelik verkeerd is.
  5. Hiedie morele regverding van die keuse om as NG Kerk te ontbind en op te gaan in ‘n nuwe kerkorganisasie plaas die NG lidmate, gemeentes en vergaderinge binne die regsposisie dat die NG Kerk aanspreeklik is vir hierdie verkeerde en sondige kerklike bestaan waarin hulle hulle self wetlik georganiseer het. Die VGK kan nie hiervoor aanspreeklik gehou word nie want hulle is wetlik georganiseer as ‘n kerk wat die vereniging met die NG Kerk insluit.
  6. Met hierdie morele regverdiging van die keuse tot die ontbinding van die NG Kerk om in ‘n nuwe kerkverband met die VGK op te gaan, erken en staan die NG Kerk se gemeentes, lidmate en vergaderinge in vir die verkeerdheid van die bestaan van die NG Kerk as organisasie.
  7. Die regsposisie en regsimplikasies van ‘n besluit oor die wetlike en wettige konstituering van ‘n kerkorganisasie in Suid Afrika word nie bepaal deur die geloofshouding, die vrome bedoelings of die morele integriteit van lidmate van die kerk nie. Dit word bepaal deur die grondwet van Suid Afrika en dit word afgedwing deur die wette en howe van die land.
  8. Die lokval waarin die NG Kerk se gemeentes, lidmate en vergaderinge ingelei word, is dat die keuse vir die ontbinding van die NG Kerk om in ‘n nuwe ter stigte organisasie op te gaan, ‘n geloofskeuse is wat eers geneem moet word voor en sonder om die regsposisie en regsimplikasies van hierdie nuwe wettige organisasie te vereken.
  9. Om nie die regposisie en regsimplikasies van ‘n besluit te verreken nie is onverantwoordelik. Dit is nie vroom of gelowig nie. Onverantwoordelikheid kan nie in diens staan van kerkeenheid nie. Om dit wel te verreken maar nie aan die lidmate, gemeentes en vergaderinge van die kerk voor te hou om hulle keuse te beïnvloed, is nie ‘n sensitiewe hantering van versoening nie. Dit is bedrog. Om die skade en vernietiging van ‘n oningeligte en onverantwoordelike keuse na misleiding aan die wat die skade moet dra en ly, voor te hou as offers in diens van eenheid en versoening is die misbruik van God se naam. Die verdeeldheid waarin die NG kerk deur sulke misleiding sal verval, is nie ‘n moeilike geloofsweg na kerkeenheid nie. Dit is die verskeuring van die kerk deur en ter wille van van oppertunistiese geesdrywers. Onverantwoordelikheid, bedrog, misleiding en verskeuring is nie maar net wyses waarop kerkeenheid gefasiliteer word nie. Dit is sonde.
  10. As die lidmate van die NG voor die keuse van die ontbinding van die NG Kerk om in ‘n nuwe kerkverband op te gaan, gestel word, dan moet hulle voor die volle inhoud en impak van hierdie keuse gestel word – hulle moet instaan vir die gevolge van die keuse.
  11. Wat is die regsposisie en regsimplikasies van hierdie keuse van die NG Kerk om as NG kerk te ontbind en in ‘n nuwe kerkorganisasie op te gaan?
    1. Ontbinding beteken dat geen lidmaat, geen gemeente, geen kerkvergadering geen eiendom, fonds, belegging of inrigting hom op die naam en die dienste en regte wat met daardie naam gepaard gaan kan beroep nie, indien hy lidmaatskap van die nuwe kerk aanvaar nie.
    2. Die stigting van ‘n nuwe kerk beteken presies dieselfde. Die nuwe kerk kan net optree binne die naam en regte van die nuwe konstitusie. Alle besluite, dienste, regte en eiendomme kan alleen in die naam van die nuwe kerk gedoen word.
    3. Dit stel lidmate van die NG Kerk in die volgende posisie. Hulle sal weer aansoek moet doen as lidmate van die nuwe kerk. Geen vergadering kan vir mense of namens mense besluit dat hulle lidmate van ‘n nuwe organisasie is nie.
    4. Lidmate wat nie aansoek doen om lidmaatskap nie, kan nie maar net verklaar word as sou hulle lidmate van ‘n nuwe organisasie wees nie. Byvoorbeeld in tug: indien die nuwe gemeente met tug sou wou optree teen lidmate wat nie uitdruklik aansoek om lidmaatskap van die nuwe kerk gedoen het nie, sal hulle gewoon net in hofsake beland.
    5. Die nuwe kerk mag nie eers met ‘n veronderstelling werk dat mense moet verklaar dat hulle nie lidmate wil wees nie, anders word hulle sonder instemming lidmate van die nuwe kerk.. Lidmaatskap tot die kerk gebeur deur ‘n persoonlike geloofsbelydenis wat openlik verklaar word sodat die kerk regtens sy diens en tug teenoor hierdie lidmaat kan opneem.
    6. Elke lidmaat sal alleen met ‘n nuwe persoonlike geloofsbelydenis in die nuwe kerk opgeneem kan word. Geen vergadering kan met ‘n besluit of verklaring hierdie aansoek en geloofsbelydenis van ‘n persoon wegneem nie.
    7. Elke gemeente, ring en sinode in die NG Kerk is ‘n regpersoon. Geen ander vergadering kan vir ‘n gemeente regbesluite neem vir dit wat in sy regspersoon geregistreer is nie. Dit beteken dat elke gemeente, ring en sinode elkeen ‘n afsonderlike en eie besluit sal moet neem om te ontbind en oor hulle bates te besluit. Daar is geen meerdere vergadering wat namens of vir hierdie vergaderinge kan besluit nie. Daar is ook geen binding wat maak dat hierdie liggame besluit hulle gee hulle bates of dra alles wat in hulle regspersoon geregistreer is oor na die nuwe kerk nie.
    8. Elke gemeente is ‘n regpersoon met die kerkraad as gevolgmatigde. Indien die kerkraad sou besluit om die eiendomme en bates van die gemeente aan ‘n nuwe kerk te moet oordra – sal dit lidmate as lede van die gemeente vrystaan om te eis dat die bates verkoop moet word en dat die inkomste aan die lidmate gegee moet word. Alle bates van ‘n gemeente kom uit die bydraes van sy lede. Indien die gemeente ontbind kan die lede eis dat die bates onder hulle verdeel moet word, en nie aan ‘n nuwe kerk geskenk mag word met wie hulle nie wil assosieer nie.
    9. Geen kerklike vergadering kan vir ‘n gemeente besluit of hy ‘n gemeente is of nie. Net die gemeente kan deur die kerkraad so besluit in oorleg met die ring neem. Kerkrade wat besluit om nie te ontbind en nie as nuwe gemeentes van die nuwe kerk as regpersoon te registreer nie- kan nie wetlik verplig word om dit te doen.
    10. Die kerkraad is die wetlike werkgewer van predikante. Indien die gemeente as NG gemeente ontbind en as ‘n nuwe gemeente van ‘n nuwe kerk konstitueer – is die predikant vanaf die oomblik van ontbinding werkloos. Die NG gemeente kan nie as NG gemeente net besluit dat hy die leraar van die nuwe kerk se gemeente gaan wees nie.
    11. Dit beteken elke gemeente sal elke predikant weer moet beroep. Dit is die gewone gemeenregtelike proses waarin elkeen weer aansoek moet doen vir dieselfde pos omdat dit ‘n nuwe regspersoon is.
    12. Geen gemeente wat hulle as ‘n nuwe gemeente van ‘n nuwe kerk gekonstitueer het kan binne die nuwe wetgewing op werkgewers en werknemers verplig word om dieselfde persoon wat in die NG Kerk predikant was, weer as predikant aan te stel nie. Dit beteken al die predikante sal weer heraansoek moet doen vir die poste wat hulle gehad het sonder enige waarborg dat hulle vir hierdie pos beroep sal word. Wetgewing verplig dat hierdie nuwe aansoeke is waarin daar teen ander aansoekers nie gediskrimineer mag word nie.
    13. Die kerkraad as werkgewer kan ook nie die predikant verplig om ‘n pos as predikant van ‘n nuwe gemeente te aanvaar nie. Die predikant kan as die gemeente besluit om te ontbind as NG Gemeente binne die ontbinding van die NG Kerk aanspraak maak op ‘n skeidingspakket van sy werknemer,die kerkraad, wat hierdie skeidingspakket moet betaal uit eie fondse en waarskynlik uit die verkoop van sy bates. Die eis om ‘n skeidingspakket sal voorkeur geniet bo die besluit om die bates en fondse aan ‘n nuwe kerk oor te dra.
    14. Gemeentes wat ontbind as NG gemeentes kan nie maar net weer as die nuwe gemeentes van die nuwe kerk verklaar deur ander kerklike vergaderinge nie. ‘n Gemeente word gevorm uit lidmate. Indien die VGK en NG gemeente in een geografiese gebied ontbind kan op die aandrang van lidmate net een gemeente in daardie gebied gevorm word vir die nuwe kerk. Hulle is onderling verbind om hulle nie meer op hulle vorige NG of VGK verbintenis te beroep nie. Dit sal absurd wees indien die NG gemeente en VGK gemeente in een gebied ontbind as morele daad teen die gewaande ras en kultuurskeiding om weer twee nuwe gemeentes in een nuwe kerk te vorm – gebaseer op historiese verskille oor kultuur en ras.
    15. Dieselfde geld vir die samestelling van nuwe ringe en sinodes.
    16. In hierdie vergaderinge sal Engels die amptelike kerktaal wees om die taal en kultuurverskille binne een vergadering en een geografiese gebied te moet akkommodeer.
  12. Om die bestaan van die NG Kerk te aanvaar as moreel verkeerd en daardeur te besluit om te ontbind, plaas elke gemeente, ring, sinode en instansie van die NG Kerk binne ‘n posisie van restitusie en binne die restitusie proses en wetgewing van die land.
  13. Enige persoon kan binne hierdie erkenning opstaan en homself of haarself beroep op vergoeding vir de onreg wat die NG Kerk aan hom of haar gedoen het weens die feit dat sy bestaan as eie kerk-organisasie moreel verkeerd was. Dit plaas elke aanstelling van elke proffesor, be-ampte, maatskaplike werker en uitvoerende amptenaar binne die restitusie proses waarin die NG Kerk op grond van die feit dat hy sy eie bestaan as moreel ongeregverdigbaar gesien het, in gedrang.
  14. Indien die NG Kerk sy eie bestaan moreel ongereverdigbaar verklaar beteken dit dat predikante en amptenare wat in die VGK minder betaal is as predikante in die NG Kerk ook restitusie eise kan instel teen die fondse van die ontbinde kerk.
  15. Daar is geen kerklike be-ampte, geen welmenende voorsitter van kerklike vergaderinge en geen welsprekende geleerde wat waarborge kan gee dat hierdie sake soos hier uitgespel, nie so kan en gaan verloop in die proses waarin die NG Kerk sy eie bestaansreg ongeldig verklaar en ontbind vir die opgaan in ‘n nuwe kerk nie.
  16. Indien die NG Kerk sy eie bestaan as kerklike organisasie tot niet verklaar op grond van die feit dat dit moreel nie regverdigbaar is nie en rassisties is, sal die ontbinding van die NG Kerk en die konstituering van ‘n nuwe kerk-organisasie verloop volgens die wetgewing van die land en die gemene reg, nie volgens die idealistiese visioene en vrome wense van welmenendes nie.
  17. In hierdie druk dat die NG Kerk as kerk moet ontbind en moet opgaan in ‘n nuwe kerkverband gee kerklike verteenwoordigers gereeld die waarborg dat lidmate kan aanvaar dat niks aan die samestelling van gemeentes gaan verander nie. Gemeentes gaan presies bly soos hulle is.
  18. Hierdie waarborg gaan teen die hele gees en bedoeling van die ontbinding van die NG Kerk in. In die meeste gebiede bestaan die VGK en die NG Kerk binne dieselfde geografiese gebied. Die motivering vir die ontbinding van die NG Kerk is juis dat sy bestaan nie moreel regverdigbaar is nie omdat dit kultuur en taalverskille sou verhef bo die eenheid van die kerk van die Here.
  19. Die gee van waarborge vir die voortbestaan van gemeentes soos hulle tans gekonstitueer is, net as sou dit onder ‘n ander naam wees, is teenstrydig met die hele motivering vir die ontbinding van die NG Kerk.
  20. Hierdie teenstrydigheid sal in die hof volgens die wette van die land getoets word en sal volgens die gemenereg as ‘n innerlike teenstrydigheid en onhoudbaarheid uitgewys word binne die eie oortuigings van die NG Kerk oor die rede vir sy ontbinding as organisasie. Gemeentes sal gevorm word volgens die gees en bedoeling van die NG kerk se verantwoording vir sy eie ontbinding – nuwe gemeentes sonder die motivering van taal en kultuur in die bediening van die Evangelie.
  21. Indien dit werklik die oortuiging van die aanvoerders van die ontbinding van die NG Kerk is dat gemeentes presies dieselfde gaan bly, en net die samestelling van die kerklike vergaderinge is wat gaan verander, dan is daar ander maniere waarop hierdie samestelling bewerk kan word sonder die ontbinding van die NG Kerk as kerk.
  22. Een manier is om aan gemeentes kerkregtelik die reg te verleen om in meer as een meerdere kerkverband binne die familie van NG kerke en VGK te kan bestaan. Daar is geen gronde hoekom een gemeentes net in een ringsverband of een sinodale verband binne die familie van NG Kerke hoef te funksioneer nie.
  23. Indien hierdie reg deur die NG Kerk en die VGK, NGKA en Reformend Church aan hulle gemeentes toegestaan word, kan hierdie gemeentes uit eie besluitreg en met vryheid in verskillende meerdere vergaderinge hulle self verbind.
  24. Hierdeur word geen konstitusionele reg van enige kerk-organisasie weggeneem nie, geen organisasie se bestaan moreel veroordeel nie en kan uit die vrye keuse van kerkrade ‘n eenheid binne meerdere vergaderinge na vore gebring word.
  25. In hierdie proses kan gemeentes die reg van hulle onderskeie organisasies kry om self te besluit om met ander gemeentes te kombineer soos wat die bediening van die Evangelie vereis.
  26. Indien die aanvoerders van die ontbinding van die NG Kerk eerlik is in hulle bedoelings dat al die gemeentes net gaan bly soos hulle is, is daar ander kerklike weë om meerdere vergaderings te konstituer om kerkeenheid in meerdere vergaderings se werking sigbaar te maak.
  27. Hierdie ander weg sluit enige kerkskeuring uit. Dit is ‘n waanbeeld om te dink dat alle lidmate en gemeentes die ontbinding van die NG Kerk gaan aanvaar. Die bestaan van die NGKA en die Reformed Church is vaste bewyse daarvan. Die NG Kerk sal voort bestaan na die nuwe kerk se stigting met selfs die moontlikheid dat daar nog ‘n VGK ook kan bestaan na die stigting van ‘n nuwe kerk. Hulle sal net in verskeurdheid verder bestaan soos die VGK en NGKA of in verwydering van mekaar soos die VGK en RCA. ‘n Weg waar gemeentes vryelik in meerdere rings- en sinodale verbande kan funksioneer en nog steeds bly wat hulle is, is mos die weg wat die aanvoerders van die ontbinding van die NG Kerk voorstaan ter wille van kerkeenheid.
  28. Hierdie weg maak ook ‘n finale einde aan die morele veroordeling van mekaar se bestaansreg binne die organisasies van kerke binne die formuliere van eenheid. Om lidmate en gemeentes van die NG Kerk voor die keuse te stel dat hulle nie werklik in die eenheid van die kerk van die Here glo en daarom ook nie werklik in die Here glo as hulle nie die NG Kerk ontbind nie, is ‘n eis wat ongeregverdig is sonder enige Skrifgesag.
  29. Daar is geen Skrifgesag wat sê dat die NG Kerk as organisasie moet ontbind as sy gemeentes dieselfde gaan bly maar net in ander en nuwe meerdere vergaderinge gaan funksioneer nie. Hierdie keuse is nie meer gelowig, meer vroom, meer geestelik en nader aan die bedoeling van kerkwees volgens God as om te besluit dat die gemeentes van die verskillende kerk-organisasies wat die formuliere van eenheid aanvaar in meer as net een meerdere kerkverband hulleself mag verbind nie.
  30. Indien daar ander weë is waarin elke gemeente in gesamentlike meerdere vergaderinge funksioneer, maar die aandrang bly dat die NG Kerk moet ontbind sal NG lidmate en gemeentes hulleself die volgende moet afvra: is die eis dat die NG Kerk moet ontbind uit die eerlike behoefte na eenheid in meerdere vergaderinge of is dit die onverbiddelike eis van hulle wat nog woedend is oor die gevoel dat NG Kerk hom met die ideologie van apartheid vereenselwig het.
  31. Die NG Kerk het al 250 jaar voor die ideologie van apartheid bestaan. Sy Evangelie bediening was nooit in sy ganse bestaan tot een ras of kultuurgroep beperk nie. Die vorming van eie erediens is al in 1857 besluit, nie weens die rassebeleid van ‘n party nie, maar weens die eiesoortige behoeftes en uitdagings van die Evangelie bediening. Die vorming van eie kerk-organisasies uit die werk van die NG Kerk het al in 1881 begin, nie in 1948 nie.
  32. Om hierdie eeue lange bediening van die NG Kerk te verguis as rassisme en sy bestaan as eie kerkorganisasie te wil wegmaak – in ‘n proses waarin sy hele finansiële en gemeentelike inhoud vernietig word, is nie die eerlike behoefte vir sigbare eenheid in meerdere kerkvergaderinge nie. Dit is ‘n doodswens uit wraak of skaamte vir die NG Kerk se assosiasie met die ideologie van apartheid. in die verlede.
  33. NG lidmate en gemeentes mag hulle nie aan hierdie eis dat die NG Kerk moet ontbind om sigbare eenheid net in kerklike meerdere vergaderinge te kry, onderwerp nie. Dit is is ‘n kerkregtelike weg wat die NG Kerk gaan verteer en verskeur.
  34. Die ironie is dat die NG Kerk die grootste kerk is met die meeste lidmate wat die formuliere van eenheid aanvaar. Hierdie ontbinding word nie as ‘n minderheid heidsgroep gedoen teenoor die druk van ‘n meerderheid nie. Dit word gedoen teenoor ‘n minderheid wat in baie gevalle self afhanklik is vir hulle finansiële voortbestaan van die kerk-organisasie wat hulle eis moet ontbind.

BESLUITE VAN DIE RING VAN LOUIS TRICHARDT

  1. Die ring van Louis Trichardt verwerp die ontbinding van die van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid.
  2. Die ring van Louis Trichardt versoek die kerkrade in die ring om die studiestuk “Die verwerping van die ontbinding van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid” in behandeling te neem.
  3. Die ring van Louis Trichardt versoek kerkrade in die ring om ‘n besluit te neem waarin hulle standpunt inneem t.o.v. die ontbinding van die NG Kerk t.w.v. ‘n nuwe kerkorganisasie.
  4. Die ring van Louis Trichardt versoek kerkrade in die ring om gemeente vergaderinge te oorweeg waarin die gemeente vergadering ‘n standpunt inneem t.o.v. die ontbinding van die NG Kerk t.w.v. ‘n nuwe kerkorganisasie.
  5. Die ring van Louis Trichardt versoek kerkrade in die ring om elke belydende lidmaat per individuele stembrief die geleentheid te gee om ‘n keuse te maak vir of teen die ontbinding van die van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid.
  6. Die ring van Louis Trichardt versoek kerkrade in die ring om vir elke nuwe lidmaat wat in die gemeente intrek per individuele stembrief die geleentheid te gee om ‘n keuse te maak vir of teen die ontbinding van die van die NG kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid.

Motivering vir 3 tot 6

1. Die ring is van mening dat hierdie die aangewese prosedure is om aan elke gemeente die regstatus te gee om hulle posisie as NG gemeente te behou onge-ag enige besluit van die sinode of algemene sinode wat die status van die gemeente sal ontneem om ‘n gemeente van ‘n nuwe kerkorganisasie te word.

2. Op hierdie wyse word die gesag vir gesprek verskuif van die sinodes en algemene sinode na die gemeentes en hoef die gemeentes nie bevange te wees oor ‘n besluit wat bo-oor hulle geneem gaan word nie.

  1. Die ring van Louis Trichardt verwerp die morele verwyt dat lidmate en gemeentes wat nie instem om die NG kerk te ontbind vir ‘n ander kerkorganisasie, teen die sigbare kerkeenheid van die Here is.
  2. Die ring van Louis Trichardt verbind homself tot ‘n sigbare eenheid in die organisasie van die familie van NG Kerke sonder die ontbinding van die NG Kerk.
  3. Die ring van Louis Trichardt verwerp die opvatting en daarmee saam enige besluit van enige kerkvergadering van die NG Kerk dat die bestaan van die NG Kerk ander gelowiges sou verontreg.
  4. Die ring van Louis Trichardt versoek die sinode van Noord Transvaal om die reg van gemeentes en ringe te erken om binne die NG familie van kerke in meer as net in die NG kerk in meerdere vergaderinge te mag konstitueer ter wille van sigbare eenheid in die vergaderinge van die NG Kerk familie.
  5. Die ring van Louis Trichardt besluit om hierdie besluite aan die sinode van Noord Transvaal deur te gee.
  6. Die ring van LouisTrichardt besluit om die verwerping van die ontbinding van die NG Kerk vir die stigting van ‘n nuwe kerk waarin die NG kerk moet opgaan ter wille van kerkeenheid as beskrywingspunt namens die ring aan die volgende sinodesitting van die sinode van Noord Tranvaal deur te gee.
  7. Die ring van Louis Trichardt besluit om enige gemeente in die NG Kerk op navraag van die motivering en inhoud van die besluite van die ring behulpsaam te wees.
  8. Die ring van Louis Trichardt besluit om hierdie besluit en ‘n verduideliking van hierdie besluite in die kerkbode te publiseer.
  9. Die ring van Louis Trichardt besluit om hierdie besluite in ‘n persverklaring aan die publiek bekend te maak.
  10. Die ring wys ‘n persoon/ e aan om die verduidelik en gesprek met openbare media te voer.

BYLAAG II: Twee briewe van NG Gemeente Levubu aan die ASM

Brief 1: Kerkordelike hantering van voorstelle wat die belydenisskrifte verander

Die Kerkraad
Die NG Gemeente Levubu
Posbus 46
Levubu
0929
14 Februarie 2011

Die ASM

Geagte broers en susters

Kerkordelike hantering van voorstelle wat die belydenisskrifte verander

  1. Die voorlopige verslag i.s. doopsviering het deur die SDR se bespreking van hierdie dokument in Oktober 2010 onder ons aandag gekom.
  2. Die ring van Louis Trichardt het navraag gedoen deur ons sinode om van ons lede by hierdie verslag betrokke te kry, maar ons is kennis gegee dat hierdie werk van die kommissie afgehandel is.
  3. As kerkraad het ons ’n duidelike geloofsafwyking in die verslag en aanbevelings wat voor die AS gaan dien opgemerk, nl. dat die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens wat Christus as lewende Here self deur die doop verseël en bevestig, nou met nuwe selfontwerpte rituele deur die kerk gaan herbevestig word.
  4. Ons het ook gemerk dat die kommissie nie in hulle verslag die opdrag uitgevoer het om die afskaffing van rituele te verantwoord nie en dat die viering van die heilsbetekenis van die doop met rituele nooit deel van hulle opdrag was nie.
  5. Die verandering van die doop as enigste teken waarin die afsterwe en opstanding van die nuwe mens verseël word na een van baie tekens waarin dit ritueel bevestig word, ’n wesenlike verandering van die belydenis van die kerk.
  6. Daarom vesoek die kerkraad dat hierdie besluit hanteer sal word volgens die kerkordelike weg waarin belydenisskrifte verander word, soos die skrywe van die kerkraad dit uitwys en versoek.

Met hoogagting die uwe

E Jacobs (Leierouderling)

EOM Hanisch (Onderleierouderling)

namens die kerkraad van die NG Gemeente Levubu.

************

Brief 2: Kerkregtelike en kerkordelike hantering van die geloofsafwyking in die verslag van ADGO in sake doop en doopsviering

Die Kerkraad
Die NG Gemeente Levubu
Posbus 46
Levubu
0929
14 Februarie 2011

Die ASM

Geagte broers en susters

Kerkregtelike en kerkordelike hantering van die geloofsafwyking in die verslag van ADGO in sake doop en doopsviering

Die kerkraad van Levubu het die verslag oor doop en doopsviering onder oë gehad en is besorg oor die kerkregtelike en kerkordelike implikasies daarvan, asook die feit dat hierdie voorstelle ons gereformeerde Godsdiens in ‘n nuwe rigting vat, en daardeur die betekenis van die sakramente verswak eerder as om hulle te versterk. Die twee sakramente wat ons Here vir ons gegee het, word nou uit gebrei deur middel van nuwe mensgemaakte, selfontwerpte rituele vir die herbevestiging van wat Christus self deur die doop daagliks steeds bevestig.

Dit is nie ons doel om alles wat in die verslag voorkom af te breek nie, maar eerder om dit krities te evalueer en die onduidelikhede, teenstrydighede en ander probleme uit te wys. Ons, as kerkraad, is terdeë bewus dat daar talle lidmate binne die NG Kerk is wat ontevrede voel oor die feit dat ons tradisies en konserwatiewe benadering tot die evangelie, beperkings plaas op die wyse waarop hulle graag die Christelike Godsdiens wil beoefen. Verandering en aanpassing is nodig binne die onstuimige tyd waarin ons leef, maar ons moet ook versigtig wees in die manier waarop verandering aangebring word. Die Christelike Godsdiens word aangeval in ons land, d.m.v. die standpunt dat alle gelowe (en bygelowe) gelykstaan aanmekaar en ook as gevolg van die rasionaliseering en vermindering van departemente in die teologiese fakulteite van ons opleidings universiteite. Om hierdie redes moet ons versigtig wees hoe ons enige veranderinge aan ons geloof aanpak en uitvoer. Onsekerheid en onenigheid gee meer skietgoed vir die wat teen ons geloof is.

Ons sal stuksgewys deur die dokument gaan, en waar toepaslik, die kerkraad se besorgdheid en kommentaar deur gee. Ons beaam dit weer. Hierdie moet nie gesien word as ‘n aanval op die lede van die taakgroep of op die goeie werk wat deur hulle gedoen is nie.

1. Kommentaar oor Inleidende Opmerkings

1.1 Onder Algemene Opmerkings 2.2.1 word gepraat van doopviering as die brandpunt wat tans in die kerk beleef word. Soos dit daar staan is dit ‘n veralgemening van die toestand en skep die indruk dat elke NG gemeente in die land hierdie spesifieke probleem of behoefte het. Dit sou sin maak om eerstens ‘n opname van die huidige situasie en behoeftes in elke NG gemeente landswyd te doen en die werklike toestand van sake te bepaal en dan daarvolgens te beplan en op te tree. Daar moet met versigtigheid opgetree word indien dit die geval sou wees dat dit hoofsaaklik die groot gemeentes in die stedelike gebiede is wat die behoeftes het, terwyl dit nie noodwendig van toepassing is op die plattelandse gemeentes nie.

1.2 Liminaliteit (2.2.2) word hier gedefineer as die oorgang van een lewenssiklus na die volgende een. Hierdie is egter nie ‘n volledige definisie nie.

Die konsep van liminaliteit het die lig gesien in 1909, toe Arnold van Gennep, ‘n Duits-gebore Franse antropoloog, dit gebruik het in sy werk Rites de Passage. Hierdie Rites de Passage (Engels: Rites of Passage) het as uitgangspunt gehad dat in kleiner, nie-westerse kulture ondervind word dat elke persoon dwarsdeur sy of haar hele lewe sosiale status verandering ervaar d.m.w. spesifieke, kultuurgebonde rituele of seremonies, soos b.v. verandering in status van seun tot man deur tradisionel inisiasie seremonies. Om verder hierdie voorbeeld te gebruik, verwys liminaliteit dan na die periode tussen seun wees en man wees, wanneer die persoon nog die een nog die ander is nie en het gevolglik, in die oë van die gemeenskap, geen sosiale status nie.

In die sestiger jare van die vorige eeu, het antropoloë en sosioloë die beginsel uitgebrei en toepaslik gemaak op grotere gemeenskappe soos in die Westerse wêreld gevind word.

As ons dan die bogenoemde definisie aanvaar dat persone geen sosiale status het nie omdat hulle tussen twee aparte lewensstadia verkeer, dan pas die behoefte aan ‘n doopviering nie hier in nie. Dit kan egter geargumenteer word dat persone wat hierdie behoefte het in hulle eie oë tussen twee sake staan, maar dit affekteer geensins hulle sosiale status binne in die breëre gemeenskap van die NG Kerk of die samelewing buite die kerk nie.

Daar bestaan egter die moontlikheid van gevaar indien liminaliteit sonder duidelike beperkende grense en maatreëls sy gang gaan in die moderne samelewing. Ons haal die volgende uitreksel aan uit die werk van Bjørn Thomassen (The Uses and Meanings of Liminality International Political Anthropology 2009 p. 22).

One primary characteristic of liminality (as defined by van Gennep and Turner) is that there is a way in as well as a way out In ritual passages, “members of the society are themselves aware of the liminal state: they know that they will leave it sooner or later, and have ‘ceremony masters’ to guide them through the rituals”. However, in those liminal periods which affect society as a whole, the future (what comes after the liminal period) is completely unknown, and there is no “ceremony master” who has gone through the process before and that can lead people out of it.

In such cases, liminal situations can become dangerous. They allow for the emergence of “self-proclaimed ceremony masters”, that assume leadership positions and attempt to “perpetuate liminality and by emptying the liminal moment of real creativity, turn it into a scene of mimetic rivalry”.

2. Kommentaar oor die res van die verslag

2.1 Die afskaffing van seremoniële wette en rituele.

In die verslag, noem die taakgroep dat deel van hulle opdrag was om die doopsviering aan die kerk te moet verantwoord in terme van die Nederlandse Geloofsbelydenis 25, wat handel oor die vervulling van die seremoniële wette in en deur Christus.

As ons kyk na die inhoud en bedoeling van die NGB staan dit baie duidelik: alle seremonies en rituele in die ou Testament wat te make het met die uitbeelding van die koms en werk van Christus, is vervul in die koms van Christus. Om dit in ander woorde te stel, daar is geen rede waarom die kerk gebruik moet maak van enige rituele of seremonie in die konteks van die evangelie, behalwe vir die sakramente nie. Die belydenis stel dit uitdruklik dat die gebruik van sulke seremonies en rituele afgeskaf is en nie meer in die Christelike Kerk gebruik mag word nie. Ons het geen keuse nie. Hierdie is nie ‘n middelmatige saak waarin elke gemeente en kerkraad kan besluit soos hulle wil nie. Hierdie belydenis het niks te doen met sake soos te veel klem op die leer van die kerk, rationalisme of een of ander verkeerde verstaan van die mens en sy behoeftes, wat maklik, tereg of verkeerdelike, uit die ad-hoc kommissie se verslag afgelei kan word.

Laat ons kyk na die betekenis van seremonies en rituele. Ons het al gesê dat alle seremonies en rituele waarin Christus en sy werk uitgebeeld is, is in en deur Christus vervul. Vervul beteken dat God nie meer hierdie seremonies en rituele nodig ag nie. Daarom hoef enige vorm van seremonies en rituele wat Christus en sy werk uitbeeld nie meer gebruik te word nie. Die doel waarvoor God dit ingestel het, bestaan nie meer nie. Hiermee het die Reformasie die betekenis van seremonies en rituele om Christus en sy werk uit te beeld volgens Skrifgedeeltes soos Kolosense 2: 16-23, direk aangespreek.

Waarom sou dit nodig wees vir nietige mense om rituele en seremonies te wil gebruik, as die openbaring van Christus en Christus se werke só duidelik is en wys daarop dat dit nie nodig is om die werke in die kerk met seremonies en rituele te moet uitbeeld nie. Daar word geargumenteer dat die moderne mens ander tipes van geestelike behoeftes het, iets waarvan die Reformasie nie sou weet nie. Volgens die Skrif is wat Christus doen genoegsaam om alles wat met rituele en seremonies moes gebeur het volkome te vervul. Is ons nie nou besig om ons menslike behoeftes voor God se wil te sit?

Christus is God. Hy is nie die insteller of rolmodel vir die ontwerp van seremonies en rituele nie. Christus as Here het self twee tekens aan die kerk gegee waardeur Hy aan sondaars sy beloftes verseël. Hierdie tekens is nie sommer net rituele nie. Dit is tekens waardeur God self deur sy Heilige Gees in ons ans nietige mense werk. Die doop en nagmaal is die enigste tekens wat Christus gebruik om Homself en sy heilswerk mee te bevestig. Dit is geloof in God volgens die Skrif en belydenis van die kerk, en is nie maar net ‘n spirituele mening nie.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel dit as volg:

“Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en van die heilige nagmaal van Jesus Christus. ( NGB 34, HK 68.)

Ons is bekommerd oor die interpretasie wat die ad-hoc komitee hieraan gee. Christus as Here en God kan alleenlik werk deur die tekens wat Hyself ingestel het. Geen mens of instansie kan nuwe tekens uitdink, instel en aanvaar dat Christus daarmee tevrede sal wees om deur hierdie nuwe mensgemaakte tekens te werk nie. Die aanbeveling in die verslag is duidelik: kerkrade en gemeentes kan self nuwe rituele ontwerp om by hulle behoeftes te pas. Daar is geen konsep voorstel om eenvormigheid in hierdie nuwe benadering te bewerkstellig. Ons moet dan terug dink aan Thomassen se waarkuwing:

In such cases, liminal situations can become dangerous. They allow for the emergence of “self-proclaimed ceremony masters”, that assume leadership positions and attempt to “perpetuate liminality and by emptying the liminal moment of real creativity, turn it into a scene of mimetic rivalry.

Ons bedoel nie dat predikante nou skielik misbruik sal maak van die geleentheid nie, en eienaardige rituele skielik sal instel. Die bekommernis lê daarin dat as elke gemeente hulle eie gang gaan en geloof beoefen deur middel van verskillende vorms van rituele, bo en behalwe die sakramente, skep dit dan nie die indruk van onsekerheid in die Woord van die Here nie?

2.2 Die fokuspunt van die verslag

Hierdie verslag behoort te fokus op die redes waarvoor Christus die doop en nagmaal ingestel het, naamlik dat Hy daardeur as God self al sy beloftes waarin Hy Verlosser en Here is, ten volle verseël. Deur die Heilige Gees word alles as die waarheid verwesenlik in sy kinders d.m.v. van net die twee tekens. Nou word nuwe selfontwerpte seremonies en rituele deur die kommissie aanbeveel.

2.2.1 Laat ons kyk na 7.3.3 van die verslag: Wanneer ‘n persoon sy doop “in” water herdenk, beleef hy die werklikheid van die afwassing, sterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens op opvattende wyse.

Hierdie is nie ‘n nuwe instelling nie. Dit is presies waarvoor die Here die doop ingestel het. In die Nederlandse Geloofsbelydenis staan dit duidelik: “. . . . ons Here gee wat deur die sakrament aangedui word; . . . . . Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke..” (NGB 34)

Dit wil nou voorkom asof ander rituele ingestel moet word, wat presies dieselfde werking sal hê as die sakrament van die doop. Die werklikheid van Christus wat sy beloftes nakom en ons met die “nuwe mens beklee en van die ou mens ontklee”, word op ‘n omvattende wyse deur die eenmalige doop bewerkstellig. Maar dit wat Christus as God deur die doop bewerk en laat gebeur as God, wil die kommissie nou laat gebeur deur nuwe rituele wat dieselfde betekenis en uitwerking sal hê , te wete “die werklikheid van die afwassing, sterwe en opstanding van die nuwe mens”. Die verskil is dat individuele lidmate van die kerk dit nou op ‘n “omvattende wyse” kan “ervaar en beleef”.

Dieselfde lidmate wat nou hunker na hierdie belewenis, het sekerlik hulle eie kinders laat doop. Sou dit nie dan ‘n omvattende belewenis gewees het nie? Meer betekenis sou, byvoorbeeld, aan ‘n doopsgeleentheid gegee kan word indien ‘n kerkraad dit toelaat dat oupas en oumas en boeties en sussies saam voorstaan terwyl die doop bedien word. Is hierdie nie dan die werklike doopsviering nie? (Sien ook 7.5.2 van die verslag.)

2.2.2 Die bevestigingsverklaring in die verslag, (punt 7.3.4) wat predikante nou met hierdie nuwe rituele moet uitspreek, bevestig dat die saak wat Christus self as Here deur die doop verseël en die saak wat die kerk nou met nuwe selfontwerpte rituele moet uitbeeld is een en dieselfde saak, naamlik “hiermee bevestig jy opnuut datjy saam met Christus gesterfhet, die ou lewe afgelê het en in ‘n nuwe lewe opstaan. Leef ook van hieraf verder deur die bemagtiging van die Heilige Gees.” Hierdie is ook die saak wat in 7.3.6 aanbeveel word om deel van nuwe formuliere te wees.

‘n Vraag wat na vore kom, en nie deur die verslag behandel word nie, is waarom moet presies dieselfde saak wat Christus deur die doop verseël,te wete sy lyding en opstanding, en die krag en vrug van sy lyding, die innerlike afsterwe van ons ou mens en die opstanding van die nuwe mens, nou deur ander rituele uitgebeeld moet word – rituele wat elke predikant nou na goeddunke selfkan ontwerp?

2.2.3 Godservarings

Die verslag stel dit duidelik dat daar sekere “godservarings” is wat Christus nie met die “gewone” wyse waarop Hy deur die doop ons eenheid en gemeenskap met Hom bo alle twyfel verseker, bevestig, vertroos, versterk en bemiddel aan mense kan meedeel nie. Ons opstanding as die nuwe mens en die afsterwe van ons ou mens is volgens ons belydenisse die heilservaring wat ons altyd en volledig in die die eenmalige doop altyd deur Christus ervaar. Maar nou wil mense “godservarings” van hulle opstanding en sterwe in Christus deur nuwe rituele inbring, wat hulle voel hulle nie genoegsaam ervaar in die eenmalige doop nie.

Dit wat Christus in die doop sigbaar verseker en dit wat in hierdie verslag met nuwe rituele herbevestig moet word, is een en dieselfde heilssaak, naamlik die opstanding van die nuwe mens en die afsterwe van die ou mens. Om rituele te ontwerp vir ‘n “godservaring” van die opstanding van die nuwe mens en die afsterwe van die ou mens beteken dat die doop soos gegee deur God nie genoegsaam is om al die troos, sekerheid, bevestiging, heilserving en versterking te kan meedeel nie. Dus sê ons as nietige mense, dat Christus met die doop as Here en God nie aan lidmate die volle bevestiging en versterking van geloof kan gee wat hulle in “godservarings” wil beleef nie. Alles wat Christus oor die opstanding van die nuwe mens en die afsterwe van die ou mens volledig met die doop kan doen, word gedeeltelik vervang en uitgebrei deur rituele wat die kerk, predikante en geestelikes nou vir lidmate ontwerp.

Hierdeur sê ons vir die Almagtige God dat ons nie tevrede is nie met die doop en die nagmaal. Daar moet nuwe rituele uitbeeldings van Christus se lyding en sterwe asook die mens se afsterwe van sy ou mens en opstanding van sy nuwe mens gemaak word, sodat ons dit volledig kan ‘ervaar’. Weereens wil dit voorkom dat ons as mense ons belange belangerike ag as God se wil.

2.2.4 Doopsviering of herdoop?

Onder punt 5.2.3 van die verslag word besluite rakende die doop en die herdoop gegee. Dit is duidelik dat ‘n persoon, hetsy baba, kind, of volwassene net een keer gedoop kan word. Herdoop is nie toelaatbaar nie. Egter onder 7.3 van die verslag waar die praktyk van die doop(viering) bespreek word, staan dit duidelik dat water alleenlik die besondere betekenis van die doop in herinnering kan bring. Daar word bygevoeg dat die betekenis van die gebruik van water by die geleentheid anders is as by die eenmalige doop en dat dit so aan lidmate wat doopsviering wil beoefen verduidelik word.

Mag ‘n kerk, kerkraad of predikant besluit omdat ‘n ander formulier of bewoording tydings die besprinkeling van water op die lidmate se koppe gebruik word, dat dit nie meer die doop soos deur God ingestel is nie? Ons, as kerkraad, glo dat dit nie so kan wees nie, omrede dat die gebruik van water tydens die doopsviering ritueel dieselfde betekenis het van afwassing en inlywing soos die eenmalige doop. Met ander woorde, dit is herdoop wat net onder ‘n ander naam sy verskyning maak, en geheel en al teenstrydig is met die besluite van die Algemene Sinode.

2.2.5 Die voorkoms van dualisme in die verslag.

Die verslag werk met ‘n dualisme wat ‘n teken is van die Pinksterbygeloof.

Die indruk word geskep dat die kommissie die sakramente sien en interpreteer as synde “godservarings”. Volgens hulle wys die sakramente na Christus in hierdie nuwe “godservarings”. Wat die verslag dan wil byvoeg by hierdie “geinstitusionaliseerde Godservarings” (3.2.2) is die lidmate se ervaring van die afsterwe van die “ou mens” en die opstanding van die “nuwe mens”. Hierdie nuwe dualisme van “geinstitusionaliseer” godservarings en vrye persoonlike godservarings wat mekaar sou aanvul, is ‘n filosofiese en sielkundige dualisme wat die werk van die verhoogde Here Jesus Christus in twee skeur.

Die Here sou nou met en deur die doop as sakrament sy eie lyding en opstanding aan die kruis uitbeeld en bevestig en is die “geinstitusionaliseerde” kant van die nuwe “godservarings”. Die persoonlike kant van hierdie “godservarings” sal dan die predikante en geestelikes met hulle rituele wees.

Hierdie dualisme is tipies van die Pinksterdualisme van “God se kant en die mens se kant”. Hierdie dualisme bestaan glad nie binne ons Gereformeerde geloof in God en die werk wat God doen soos in die belydenisskrifte vervat word nie. Die heilswerk van Christus in sy lyding en opstanding as mens kan nie losgeskeur word van die heilskrag en heilsvrug wat reeds in ons is nie. Christus beklee ons met die nuwe mens deur sy opstanding uit die dood en terselfde tyd ontklee Christus ons van die ou mens deur sy lyding en sterwe. Altwee hierdie “kante” is alleen die werk van Christus. Altwee hierdie “kante” word in die doop genoegsaam en volledig verseel sodat gelowiges in die eenmalige doop sonder enige ander ritueel die volle heilservaring in Christus deur hierdie een doop beleef.

Een doop verseël en bevestig Christus én die Heilige Gees se volledige heilswerk, vir en in ons. Beide Christus se heilswerk in sy lyding en opstanding én die Heilige Gees se toeëiening van die heil in lidmate deur die afsterwe van hulle ou mens en die opstanding van die nuwe mens word deur een en dieselfde doop uitgebeeld. Daarom kan daar nie naas die doop nog ander rituele wees wat die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens moet uitbeeld, omdat daar ‘ervaar’ word dat dit nie genoegsaam in die doop wat Christus ingestel het uitgebeeld word nie.

Die skeiding tussen doop in Christus en doop in die Gees vorm die fondament van die verslag. Want die doop in Christus verseël, versterk, bemiddel, bevestig nie meer die opstanding van die nuwe mens en die afsterwe van die ou mens nie. Dit moet nou in selfontwerpte rituele ervaar word. Die doop is nog net goed genoeg om as “geïnstitsionaliseerde godservaring” Christus se lyding en opstanding uit te beeld. Hierdie amptelike en deur die kerk nuut bediende skeiding tussen die heil in Christus en die heil deur die Heilige Gees doem onheilspellend op in die nuwe verklaring van die kommissie “…” “hiermee bevestig jy opnuut dat jy saam met Christus gesterf het, die ou lewe afgelê het en in ‘n nuwe lewe opstaan. Leef ook van hieraf verder deur die bemagtiging van die Heilige Gees.”

Word lidmate nie met hulle eerste doop deur die Gees bemagtiging om in Christus te leef nie?

3. Opsomming

Die verslag maak groot gewag daarvan dat die doopsviering nie afbreek doen aan die eenmaligheid van die doop wat Christus ingestel het nie. Daar word gepleit vir die behoud van hierdie eerste, eenmalige doop. Aan die anderkant word daarop gewys dat nog rituele nodig is om presies wat in die doop uitgebeeld word, uit te beeld. Spruit hierdie behoefte uit omrede van die lidmate nie genoeg kennis dra van die werklike betekenis van die doop soos dit gereeld in die kerk beoefen word?

Ons belydenisskrifte is duidelik dat die doop en nagmaal as tekens genoegsaam is om ons alles te verseker en te bevestig wat vir ons geloof nodig is. Daar is niks daarin wat dui op ‘n gebrekkige “godservaring” in die bediening van die doop en nagmaal, wat as tekens deur ander rituele aangevul moet word nie. Die doop en die nagmaal is die enigste tekens wat die verhoogde Here as God self gebruik om ons die volle heil in Christus ten volle te laat beleef.

Daar kan nie in Christus se bediening deur die doop ‘n gebrekkige “godservaring” wees wat in menslik ontwerpte rituele ervaar moet word nie. Dit is nie nuwe geestelike behoeftes waarvan die Reformasie ‘n gebrekkige filosofiese, sielkundige of sosiale insig sou gehad het nie omdat dit plaasgevind het in omstandighede wat heeltemal anders was as die druk wat in die moderne wêreld voorkom. In ons beskeie mening as kerkraad, is hierdie “godservarings” wat moet plaasvind tesame met rituele ‘n vorm van afgodsdiens. Die kerk wil deur menslike ontwerpte rituele lidmate iets laat beleef wat Christus as verhoogde Here nie aan lidmate deur die doop en nagmaal kan laat beleef nie.

4. Verandering van die belydenisskrifte van die NG Kerk

As hierdie verslag versigtig deur gelees word tesame met die voorgaande kommentaar, kan dit gesien word dat hierdie verslag na inhoud en voorstel ‘n verandering van die belydenisse oor die volgende twee sake, te wete:

  1. die afskaf van ander rituele naas die doop en nagmaal; en
  2. die genoegsaamheid van die twee tekens om alles wat Christus is, alles wat Christus doen én alles wat die Heilige Gees in ons deur Christus doen, volkome uit te beeld om ons geloof volkome te versterk en te bevestig.

Graag wys ons u daarop dat hierdie verslag soos dit hier verwoord is tesame met die voorstelle oor nuwe rituele wat presies sal uitbeeld wat die doop en nagmaal alreeds uitbeeld, ‘n verander van die belydenisse van die kerk is.

Ons is oortuig dat ons hierdie sake, vir enige lidmaat en enige instansie, genoegsaam uit die verslag kan toelig, soos en waar nodig. Ons sal ook kan aantoon dat die skeiding tussen Christus en die Heilige Gees, d.w.s. die heilswerk van Christus aan die eenkant en die toeëiening van sy heilswerk in ons deur die Heilige Gees aan die anderkant, die geloofsoortuiging van die Pinksterbygeloof is.

5. Voorstelle oor die pad vorentoe.

5.1 Opsomming van die probleem rondom die doop en die doopsviering

Die kommissie het die werklike probleem van die doop en doopsviering baie duidelik uitgebeeld en aan die orde gestel. Doopsviering was nog nooit vir baie lidmate net ‘n rituele viering van hulle eerste doopgeleentheid gewees nie. Dit was en bly vir feitlik elke lidmaat wat nie net met die een doop geestelike tevrede is nie, ‘n diep geloofsaak.

Die kommissie het hierdie geloofsaak suiwer aangevoel. Dit gaan oor lidmate wat nie die ervaring van die afsterwe van hulle ou mens en die opstanding van hulle nuwe mens in Christus enigsins met hulle doop kan verbind nie. Hulle doop as kinders is nie vir hulle ‘n teken van die nuwe opstanding en afsterwe wat hulle in hulle bekering ervaar nie. Hulle kan hulle doop nog as teken van die heilswerk van Christus aan die kruis en met sy hemelvaart sien, maar dit het vir hulle geen waarde vir die ervaring van nuutheid en oudheid wat hulle in hulle bekering ervaar nie.

Hierdie “godservaring” waarin lidmate nie bevestiging kan vind vir hulle afsterwe van hulle ou mens en die opstanding van hulle nuwe mens nie, is egter ‘n geloofsafwyking van die geloof wat die NG Kerk in sy belydenisse bely. Daarin bely die kerk dat in en deur die doop Christus dit wat hierdie lidmate nie bevestig voel nie, volkome bevestig en verseël. Die kommissie het dus die werklike geloofsafwyking behoorlik ter tafel gelê, naamlik dat mense wat probleme het met die heilswerklikheid dat Christus deur die doop die volle heil bevestig, dit wil herbevestig met selfontwerpte rituele en seremonies.

Die verskuiwing wat in die gesprek oor doopsviering in hierdie verslag gekom het, is radikaal. Sedert 2004 was “doopsviering” die rituele viering van die doopsgeleentheid van lidmate. Dit is tog wat die woord doopsviering beteken. Maar nou het in hierdie verslag die doopsviering ‘n nuwe soort viering van die “afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens” geword. Daarmee is die saak van die viering van die bediening van die doop met rituele vervang met ‘n nuwe saak waar die doop ‘n teken is wat ook met ander rituele naas die teken van die doop gevier kan word.

5.2 Die status van die verslag

Die vraag ontstaan of kerkordelik hierdie verslag hoegenaamd binne die opdrag van die Sinode geval het. Ons glo dat dit in geheel ‘n nuwe saak is wat die inhoud van die belydenisse wesenlik verander. Waarom is hierdie opdrag só verwoord of verander dat die doop as teken se genoegsaamheid as teken van die “opstanding van die nuwe mens en die afsterwe van die ou mens” nou te sprake is?

Ons as kerkraad en gemeente van Levubu kon hoegenaamd nie aan hierdie nuwe gesprek deelneem nie, want die indruk word geskep dat dit net gaan oor die viering van die doopgeleentheid. Om te wil voorgee dat ons vooraf van genoegsame inligting voorsien is vir hierdie gesprek betwyfel ons. Ons voel dat indien hierdie verslag in ontvangs geneem word deur die sinode, dat ons as gemeentes en kerkrade mislei was.

Hierdie verslag is nie aanvaarbaar vir ons nie. Sou die sinode op een of ander manier dit as ontvanklik sien, gaan dit dan oor die vraag van hoe ‘n saak hanteer moet word, wat die inhoud van die kerk se belydenisse verander.

5.3 Kerkregtelike hantering

5.3.1 Aanbeveling van die Kerkraad van Levubu.

Ons as die wettige kerkraad van die NG Gemeente, Levubu rig die volgende versoek aan u, die ASM, naamlik dat u met hierdie verslag sal handel volgens die orde van die kerk oor enige saak wat die inhoud van die kerk se belydenisse verander.

Die hanteringswyse is duidelik. Die saak soos dit hier staan moet uitgaan na alle kerkrade, ringe en sinodes en omdat die voorstelle die verandering van die belydenisskrifte raak, is ‘n tweederde meerderheid stemming deur kerkrade, ringe en sinodes benodig om die veranderinge aan te bring. Hierdie verslag kan nie maar net ter tafel gelê word en alleenlik deur die Algemene Sinode behandel word nie. Die saak moet volgens die kerkorde hanteer word as dit kom by besluite wat die belydenisse verander.

Na ons mening kan hierdie verslag, sou u ‘n manier kry om dit as ontvanklik te beskou, dan net in die eerskomende vergadering van die Algemene Sinode ontvang word, en dan aan die sinodes en gemeentes vir oorweging deurgegee word met die uitdruklike en duidelike aanduiding dat die voorstelle die inhoud van die kerk se belydenisse verander.

0ns voel ook dat ons moet onderskei tussen die mandaat van die kommissie en die saak wat die kommissie aan die orde stel. Die kommissie het geen mandaat om hierdie verslag en voorstelle met hierdie nuwe saak aan die AS te bedien nie, net soos wat die AS nie die mandaat het om sonder die orde van 2/3 meerderheid van al die kerklike vergaderinge, hierdie besluite te mag neem nie.

Oor hierdie saak moet die hele NG Kerk saam kan dink en inspraak kan hê voordat die geloofsafwyking wat in hierdie verslag aan die orde gestel word, vir besluitneming voor die AS gelê word. Dit het nie so gebeur in die tussen tyd waarin die debat nog net gegaan het oor die viering van die doopsgeleentheid nie.

Sou die Algemene Sinode hierdie verslag in sy huidige mandaat en vorm in ontvangs neem, behandel en die besluite goedkeur, dan tree die Algemene Sinode hiermee ons insiens teen sy eie orde op.

5.4 Toegang tot die Algemene Sinode

Omdat kerkrade geen direkte toegang tot die AS het nie, neem ons die vrymoedigheid om hierdie saak betyds onder die ASM se aandag te bring. Ons kan ter selfde tyd, indien u as ASM ons daarop wys, hierdie saak na die SDR van die Noordelike Sinode toe neem omdat dit ons enigste amptelike kanaal is om hierdie saak onder die kerk se aandag te bring.

Maar dan versoek ons u dat u ons met so wenk in hierdie week nog bedien omdat die laaste vergadering waarin ons nog deur die SDR van die Noordelike sinode hierdie saak aan u kan deurgee se agenda reeds volgende week uitgegee word.

Ons vertrou dat u die erns van hierdie saak saam met ons sal aanvoel.

Met hoogagting die uwe

E Jacobs (Leierouderling)

EOM Hanisch (Onderleierouderling)

namens die kerkraad van die NG Gemeente Levubu.

BYLAAG III: Ongetroud saambly

WAT GLO MENSE IS SAAMBLY?

Mense wil ongetroud saambly.
Dit is wat hulle wíl doen. Dit is hóe hulle dit wil doen.
Saambly is vir hulle ’n geloofsaak: hulle gló in saambly.

Hoe glo hulle in dit wat hulle doen – saambly?

Hierdie geloofsoortuiging word gewoonlik só gestel: hulle is regtig lief vir mekaar, hulle twyfel nie aan mekaar se liefde nie. Geen paartjie wat wil saambly, doen of regverdig dit deur te sê dat hulle nie regtig lief vir mekaar is of dat hulle onseker is of hulle mekaar regtig liefhet nie. Hieroor is hulle baie seker – hulle liefde vir mekaar. Dit is gewoonlik die diepste motivering vir hulle besluit om saam te bly. Mense glo in saambly omdat hulle mekaar lief het.

Hulle glo ook dat hulle hulle lewe met mekaar wil deel en dat hulle een huishouding met mekaar wil deel. Hulle wil nie mekaar lief hê en op verskillende plekke bly nie. Saambly is nie maar net ’n keuse vir goedkoper huisvesting te reël nie. Dit gaan oor die innerlike behoefte om saam met mekaar te leef en met mekaar een lewe te deel.

Hulle glo ook dat hulle met mekaar ’n toekoms wil deel. Of hulle nou net vir ’n paar maande, of een, of twee jaar saambly voordat hulle trou, hulle wil met mekaar hulle toekoms deel. Dit is ongewoon dat mense net vir ’n kort rukkie wil saambly terwyl elkeen besig is met ’n toekomsplan wat die ander persoon heeltemal uitsluit.

Die reël is ook dat mense hulle finansies saam wil deel. Hulle wil op mekaar finansieël steun vir ’n gesamentlike inkomste om gesamentlik te kan leef. Mense besluit uiters selde om saam te bly, maar elkeen beplan en bestuur sy eie finansiële sake op só ’n manier dat dit die ander persoon uitsluit.

Hulle wil hulle liggame met mekaar deel. Saambly gaan oor liggaamlike eenheid! Mense wil nie saambly maar nie seksueel met mekaar verkeer nie. Saambly is juis die woord wat mense gebruik om daardeur te stel dat hulle in ’n seksuele verhouding met mekaar wil leef wat ander mense beslis uitsluit. Saambly is nie ’n verhouding waarin mense met mekaar wil saamleef terwyl hulle nog ter selfde tyd seksueel aktief in ander verhoudings wil leef nie.

Dit is hoe mense in saambly glo: ’n man en vrou wil mekaar werklik as man en vrou liefhê; Hulle wil as man en vrou in eenhuishouding leef ; Hulle wil as man en vrou een lewe deel; Hulle wil as man en vrou liggaamlik net aan mekaar behoort sonder enige derde party in hulle saambly verhouding.

Dít is die geloof waarin mense saambly: ons is man en vrou vir mekaar en deel in een liefde, een huishouding, een inkomste, een toekoms, een lewe en ons is liggaamlik een.

HIERDIE SAAMBLY IS NIE TROU NIE

Mense wat in saambly glo, glo dat hierdie saambly is nie trou nie. Hierdie geloof klink dan só: “Ons is as man en vrou lief vir mekaar, ons wil een lewe, een huishouding, een inkomste, een toekoms deel en liggaamlik een wees met mekaar. Maar ons is nie getroud nie. Ons wil nog nie met mekaar trou nie. In elk geval, nog nie nóú nie.”

Nou wat is trou dan?

As om lief te wees vir mekaar as man en vrou is om een lewe, toekoms,huishouding, inkomste met mekaar te wil deel en liggaamlik een te wil wees, nie trou is nie, wat is trou? En wat moet jy dan doen om saambly trou te maak?

Volgens mense wat wil saambly, is trou dan om regtens volgens die landswette te trou en om hierdie wetlike reëling dan met ’n groot funksie te vier.

Dit is die enigste verskil wat openlik voorgehou word as mense kies om saam te bly en te glo dat hulle nie getroud is nie. Hulle het hulle eenheid as man en vrou nie wetlik gesluit volgens die landswette nie en hulle hou nie ’n groot funksie om die geleentheid met familie en vriende te deel nie.

Wat anders moet nog gebeur om van saambly ’n huwelik te maak?

DIE EENHEID VAN MAN EN VROU VOLGENS DIE WOORD VAN GOD

Waaroor gaan die saak van die eenheid tussen man en vrou in die Woord van God?

Die openbaring van die eenheid tussen man en vrou vind ons in Genesis 2: 18Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke … 23Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” 24Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” Die Here Jesus bevestig hierdie openbaring in Matteus 19: “3Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag ’n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?” 4Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? 5Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ 6Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.”

Die apostel Paulus stel die saak van die eenheid tussen man en vrou ook op dieselfde wyse in Efesiërs 5: “(31)Daar staan in die Skrif: “Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.” (32)Hierin lê daar ’n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. (33)Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ’n vrou moet aan haar man eerbied betoon.”

Die is helder en duidelik die saak waaroor die huwelik in die Bybel gaan. Die huwelik gaan oor die eenheid tussen man en vrou. Nie oor funksies, seremonies of om kontrakte te sluit nie. Hierdie sake is maar net die wyse waarop ons as mense hierdie eenheid erken, inrig, vier en deurleef.

Volgens die Bybel is die huwelik die daad van God waarin Hy as God ’n man en vrou verenig om een persoon te wees. Dit is ’n eenheid waarin jy as man (Engels: man) jou manwees (Engels: husband) net in jou vrou vind en die vrou (Engels:woman) haar vrouwees (Engels: wife) net in jou as man vind. In hierdie eenheid vind en maak man en vrou mekaar eggenote (husband en wife).

Daarom glo ons as Christene in die huwelik. Ons glo dat God ’n man en vrou op só ’n wyse aan en met mekaar verbind dat hulle nie meer net twee persone is nie, maar dat hulle in en tot ’n eenheid met mekaar verbind is deur God. Die naam vir hierdie eenheid wat God skep, is die huwelik.

Daarom is die huwelik baie meer as net maar ’n kontrak tussen twee mense oor hoe hulle wil saamleef en wat hulle met mekaar wil deel. God self as Skepper bring ’n eenheid tussen ’n man en vrou tot stand. Dit is ’n werklike gebeurtenis wat dieper, groter, kragtiger en meer bindend is as enige kontrak tussen twee mense. Meer, eers wanneer God hierdie eenheid gee, is dit vir mense moontlik om kontrakte te skep, openbare verklarings te maak en openbare funksies te hou.

Christene glo ons in die huwelik. Ons glo dat God self ’n man en vrou aan mekaar verbind en een maak in ’n nuwe persoon.

DIE WYSE WAAROP GOD HIERDIE EENHEID SKEP

Die Here stel dit in sy eie woorde as volg: Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Die wyse waarop die Here dit doen, is deur liefde. Hy gee die gawe van liefde tussen man en vrou vir mekaar. Die wyse waarop die Here dit doen is deur in hierdie liefde ‘n man en vrou tot een lewe op hulle eie, los en selfstandig van hulle ouers, te verbind, met hulle eie toekoms, eie huishouding en eie inkomste.

Waar ’n man en vrou hulle aan mekaar in liefde gee om een lewe met mekaar te deel – gee en skep God die eenheid tussen man en vrou – die huwelik.

DIE KONFLIKPUNT: BUITE DIE HUWELIK EEN.

Wat is probleem wat ons as Christene het met saambly wat iets anders is as trou volgens die mense wat dit doen?

Dit help niks en niemand deur karikature van saambly voor te hou nie. Dit is ’n geloofsprobleem.

Die kerk glo volgens die Woord van die Here skep en gee die gawe van liefde tussen man en vrou op so ’n wyse dat hulle een is.Hierdie eenheid wat God gee tussen man en vrou is die krag waarin hulle hulle eie lewe los van hulle ouers en vriende begin en in een huishouding, een toekoms, een lewe en een in liggaam met mekaar leef.

Wat glo mense is saambly? Saambly is om lief te wees vir mekaar, saam een lewe, een toekoms, een huishouding te deel en liggaamlik een te wees – maar nie tot ’n huwelikseenheid verbind te wees nie.

Wat is die verskil?

Daar is net een verskil! Alles is dieselfde: liefde vir mekaar, deel in een lewe, een toekoms, een huishouding, selfstandig en los van ouers en liggaamlike eenheid. Maar in saambly glo mense God doen niks tussen hulle as man en vrou nie. God skep volgens hulle nie hierdie eenheid van man en vrou nie.

Die kerk glo anders. Nie net omdat dit die kerk se geloof is nie. Die werklikheid van die lewe soos God dit laat gebeur is anders. Daarom is die diepste kritiek van die kerk dat saambly ’n illusie uitleef wat anders is as die werklikhied hoe God die eenheid tussen man en vrou laat werk.

ONGELOOF

Dit is die aard van die konflik oor saambly tussen die kerk en mense wat in saambly glo – dis ’n geloofsverskil! Saambly is mos ’n geloofsdaad! Mense glo hulle moet saambly. Hulle doen dit nie in twyfel nie. Hulle glo in saambly.

Hierdie geloof in saambly is volgens die Bybel vir Christene ongeloof! Die ongeloof van saambly is dat God niks doen en niks mag doen wat man en vrou in saambly met mekaar verenig nie. Volgens hierdie ongeloof het God niks te doen met hulle besluit om saam te bly nie. Terwyl hulle saambly, kan en mag God hulle nie verenig in ’n eenheid wat nie geskei mag word nie. God mag dit eers doen as hulle besluit om te trou en nie meer wil saambly nie.

Daarom is hierdie geloof in saambly – ongeloof in God en ongeloof in die vereniging wat God skep. Hierdie ongeloof verwring die lewe soos God dit laat gebeur en die wet waarvolgens God die mens binne hierdie lewe lei.

ONGELOOF IS DIE KERN VAN SAAMBLY WAT AL DIE GEBOOIE VAN GOD VERWRING

Ongeloof is die kern van al die oortredings van die wet van die Here. Die ongeloof in die vereniging van man en vrou deur net te wil saambly, verwring nie net die sewende gebod oor egbreuk nie. Dit verwring al die gebooie van God. Daarom verwring dit die hele godsdiens en elke deel van die lewe.

Die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”

Die gebod: “ Jy mag nie egbreuk pleeg nie”, beteken dat ons moet glo in die eenheid wat God skep waar ’n man en vrou in liefde aan mekaar toebehoort. Hierdie eenheid noem die Bybel die huwelik. Trou beteken vir Christene dat hulle glo dat hulle deur God in hierdie eenheid verbind word (husband and wife) in hulle liefde vir mekaar as man en vrou (man and woman). Dit is hierdie eenheid wat hulle erken in openlike verklarings, kontrakte en in openbare vierings.

Saambly beteken mense glo dat hulle mekaar as man en vrou (man and woman) lief het, en een lewe, een huishouding, een inkomste en een toekoms deel, en liggaamlik een is, maar dat God hulle nie verenig het (nie “husband and wife”is nie)nie.

Hierdie geloof in saambly is die hart van alle egbreuk. God wag nie vir mense om te besluit dat Hy hulle mag en kan verenig nie. Waar hulle in liefde hulle as man en vrou aan mekaar gee, skep Hy hierdie eenheid soewerein as God. Dit maak nie saak of mense dit glo of nie. Daarom leef mense wat hulle self in liefde as man en vrou aan mekaar gegee het in hierdie eenheid – al erken hulle dit nie en al glo hulle dit nie.

Wat doen saambly aan hierdie eenheid waarin man en vrou dan wél as eggenote verbind is?

Saambly is en kan nooit ’n alternatief of ’n proeflopie wees op pad na die eenheid van man en vrou nie. Saambly in liefde is om in hierdie eenheid te leef asof dit nie daar is nie. Om buite die eenheid wat God skep, te leef asof hierdie eenheid nie bestaan nie, is nie ’n ander tipe eenheid as die huwelik nie. Dit is die verbreking en vernieling van die eenheid wat God skep, maar mense ignoreer. Saambly leef die eenheid wat God skep om eggenote te wees, stukkend. Dit is wat egbreuk beteken.

Die agtste gebod: “Jy mag nie steel nie.”

Saambly beteken dat mense glo in ’n dubbele soort besitreg tussen man en vrou. Want terwyl mense saambly behou hulle vir hulle nog ’n ander reg voor – die huweliksreg. Die besitreg in een huishouding: saambly, is nie dieselfde as die reg in die ander huishouding, die huwelik, nie. Dit word ook nie in die gemene reg as dieselfde soort besitreg erken nie.

God verbind die man en vrou tot ’n eenheid waarin daar net een huishouding met een besitreg is: die huwelik. Die dubbele soort besitreg tussen man en vrou in saambly ontwrig die besitreg wat God vir die welvaart en versorging van die huwelik skep.

Wanneer mense wat saambly, uit mekaar gaan, verkwis hulle die gawes wat God vir die eenheid van man en vrou bedoel het.

Die negende gebod: “Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.”

Die geloof in saambly verwring die gebod oor die waarheid. Saambly is geloof in ’n leuen: die leuen dat mens as man en vrou mekaar kan lief hê en alles met mekaar kan deel, buite die eenheid van die huwelik. Saambly wil die geloof in hierdie leuen uitleef: dat die huwelik, om eggenote te wees, (husband and wife), nie die verbintenis is waarin man en vrou hulle liefde moet vind en uitleef nie

Die geloof in hierdie leuen van saambly is die kern waaruit hierdie mense die waarheid van die huwelik wat God skep, aanval en diskrediteer. Uit mense se geloof in saambly, glo hulle dat die eenheid wat God gee in die huwelik is die rede vir die meeste ongelukkigheid tussen man en vrou. Daarom wil hulle buite die ongelukkigheid van die huwelik wat God skep, mekaar net liefhê en saam met mekaar gelukkig wees – in hulle geloof in saambly en ongeloof in die huwelik. Hulle wil net man en vrou wees vir mekaar sonder om eggenote vir mekaar te wees.

Die tiende gebod: “Jy mag nie begeer nie”

Die geloof in saambly verwring die gebod oor begeerte. Mense wat saambly glo nie dat die liefde wat hulle vir mekaar as man en vrou het genoegsaam is nie. Hulle begeer nog iets anders van mekaar, of van iemand anders, om as eggenote aan mekaar verbind te wees. Die geloof in saambly leef uit hiérdie onvervuldheid – dat daar ten spyte van die liefde vir mekaar as man en vrou iets anders nodig is om met mekaar te kan trou.

Daarom is hierdie geloof in saambly geloof in begeerte. Mense glo nie dat God hulle aan mekaar as man en vrou gee en dat hulle vir mekaar genoegsaam is nie. Dit is die reg van mense wat saambly om nog steeds in hierdie onvervuldheid in mekaar te mag glo.

Hierdie reg, gevoel en soeke na nog iets anders buiten die liefde waarin man en vrou (man and woman) een lewe deel en liggaamlik een is om eggenote (husband and wife) te kan word, is nie ’n manier waarop getoets word of mense met mekaar later kan trou nie. Dit is die óórsaak waarom mense hulle self nie in ’n huwelikseenheid as eggenote aan mekaar kán verbind nie, maar eers net as man en vrou moet saambly. Hierdie reg, gevoel en soeke buite die die vergenoegdheid met memaar, vernietig die huwelik wat kon en moes gewees het.

Die vyfde gebod: “Eer jou vader en jou moeder”

Mense bly saam uit die geloof in hulle eie bemagtiging teenoor enige gesag wat die huwelik as instelling in stand hou. Jongmense glo dat ouers moet aanvaar dat hulle saambly omdat hulle volwasse is, maar terselfde tyd wil hulle hê dat die ouers later weer moet bly wees oor hulle troue omdat hulle hulle kinders is. Dit plaas ouers in die oneervolle posisie om hulle gesag te moet weerhou, terwyl hulle hulle kinders as ouers moet lief hê.

Ouers moet stilbly oor hulle kinders se saambly. Hulle mag nie hulle gesag uitoefen deur te wys op die egbreuk, onreg, leuen, begeerte, geweld en ontering van saambly nie omdat die kinders net nie meer hulle gesag aanvaar nie. Die ouers moet saam met hulle kinders in die leuen, onreg, egbreuk en begeerte leef as hulle deel van hulle se kinders se lewe wil wees. Want indien die ouers hulle gesag wel uitoefen moet hulle gewoonlik aanvaar dat hulle kinders dan hulle liefde as kinders gaan weerhou en dat hulle aangeval sal word vir hulle eie swakhede in hulle eie huwelik.

Aan die anderkant word ouers weer deur hulle kinders in die posisie gestel dat hulle as ouers trots en ge-eerd op hulle kinders moet voel wanneer hulle kinders dan later besluit om te trou. Van hulle word dan verwag om met eer die huwelik te help aanbied en saam die openbare rolle van ouers by die huwelik te vervul. Hierdie vernedering dat kinders jou kan uitsluit as ouer as hulle wil saambly, maar weer as ouer wil insluit as hulle wil trou, word in kinders se selfbemagtiging teenoor hulle ouers uitgeleef as innigheid.

Dieselfde minagting word teenoor die kerk uitgeleef. As hulle saambly het die kerk niks daar oor te sê nie. Sou die kerk wel sy gesag uitoefen in tug word dit as teken van verwerping, liefdeloosheid, onkunde, ouderwetsheid en uitgediende waardes voorgehou. Maar as hulle dan besluit om te trou, dan moet die kerk gereed staan en bereid wees om hulle in ’n erediens met eer en waardigheid van die Woordbediening en diens aan God te trou. Die kerk word eers misken en dan misbruik, maar móét altyd die rol van die ondersteunende, liefdevolle en onderskragende gemeenskap vervul sonder die gesag om die sonde van saambly aan te spreek. Die kerk moet hierdie vernedering aanvaar as betrokkenheid.

Die sesde gebod: “Jy mag nie doodslaan nie.”

Saambly gaan oor die geloof dat julle vir mekaar man en vrou (man and woman) moet wees, sonder dat julle eggenote mag wees. (husband and wife). Dit is die vertroue waarin mense hulle tot saambly verbind: ons gaan ’n man en ’n vrou vir mekaar wees (man and woman), maar ons vertrou mekaar om nie nou al “jou man” en “jou vrou” (husband and wife) te mag wees nie. Om binne die verhouding van saambly te probeer om eggenote te wees is vertrouensbreuk van die kontrak om net saam te bly. Dit is hierdie vertroue in saambly wat maak dat mense as man en vrou (man and woman) saambly, maar dat hulle nie mekaar se man en vrou (husband and wife) genoem mag word nie. ’n Mens is tog man en vrou, eggenote, as jy trou, en volgens hulle self is en kan jy nie hierdie persoon wees as julle net saambly nie.

Die erkenning van die persoon van jou geliefde as “jou man” (husband) of “jou vrou” (wife) moet in saambly ontken en onderdruk word. Die mistieke eenheid van die huwelik waarin jy net jou manwees vir jou vrou in haar kan vind en deurleef, en waar sy net haar vrouwees vir jou, in jou as man kan vind en deurleef, mag nie gebeur nie. Die wyse waarop dit nie mag of kan gebeur nie, is dat hulle moet aanvaar dat hulle net ’n “lewensmaat”, nét “’n geliefde”, nét “ kêrel” of “meisie” is, terwyl hulle in die praktyk van saambly alles moet wees wat ’n man of vrou vir mekaar is.

Die erkenning van mekaar as eggenote moet innerlik in die hart, siel en verstand van man en vrou ontken en weerhou word. Hierdie miskenning vind plaas terwyl die Here mense wat hulle self in liefde aan mekaar gee, eggenote (husband and wife)vir mekaar laat wees in die eenheid waartoe Hy verbind.

Daarom is saambly die minagting en vernietiging van die persoon van jou geliefde as man en vrou in jouself. God laat hom of haar man en vrou wees, maar hulle leef hierdie persoon dood in die geloof dat hulle nou nog nét lewensmaats, nét geliefdes of nét “kêrel” en nét “meisie” is, maar beslis nog nie eggenote nie (husband and wife).

Dit is geweld. Dit is niks anders as karakter- of persoonsskending en moord nie. Die onderdrukking en miskenning in mense se harte en verstand dat hulle man en vrou vir mekaar is, is ’n daad van geweld teen die die persoon van man en vrou (husband and wife) wat dit skend, verniel en vernietig. Saambly beteken dat mense mekaar vir hierdie karakterskending en -moord moet vertrou.

Geloof in saambly beteken dat nadat man en vrou mekaar vir hierdie onderdrukking en miskenning van mekaar as eggenote v ertrou het, hulle skielik na ’n trou-seremonie, mekaar dan weer kan vertrou om vir mekaar eggenote wees.

Na hulle besluit het om wetlik te trou, dan moet hulle in mekaar weer hierdie mistieke eenheid waarin die man sy vrou, vrou (wife) laat wees in homself as man, en die vrou “haar man” in haarself man laat wees as vrou, voor kan vertrou. Hoe kan jy iemand wat jy vertrou het om hierdie eg dood te leef en jou net “ ’n lewensmaat” laat wees het, sommer dan net weer vertrou om jou in hierdie eg te koester? Hierdie geloof in mekaar met saambly is bygeloof.

Dit is ongeloof in die persoon van die huwelik. Dit wil maak asof die persoon van man en vrou (husband and wife) nie doodgeleef is in die miskenning en ontkenning daarvan nie. Dat dit nie verniel, geskend en in baie gevalle vernietig is nie, sodat na die wetlike sluiting van die huwelik en die onthaalfunksie, hulle nog niks ander vir mekaar is as waarvoor hulle mekaar nog die hele tyd voor vertrou het nie – nét lewensmaats. Die besluit om wetlik te trou kan nie die skending, vernieling of vernietiging van die persoon van die huwelik wat in saambly doodgeleef is, herstel of terugbring nie.

Watter verskil maak die besluit om wetlike kontrakte op te stel, rituele uit te voer, seremonies te vier en funksies te hou aan die geestelike geweld waarin mense geleef het dat hulle die eg van man en vrou wees (husband and wife) in mekaar doodgeleef het?

Die vertroue om nét saam te bly en nie vir mekaar eggenote te wees nie, is ’n daad van geweld teen die huwelik. Dit skend, verniel en vernietig die vertroue in mekaar om man en vrou (husband and wife) vir mekaar te wees. Dit is nie ’n manier om te oefen om later te getroud te kan wees nie. Die vertroue om nie eggenote (husband and wife) vir mekaar te wees nie, kan nie ’n oefening wees om te leer hoe om mekaar te vertrou as eggenote nie.

Die vierde gebod: die openbare verering van God.

Hierdie eenheid wat God skep en gee – die huwelik, is ’n openbare instelling deur God. Die eenheid van man en vrou is die fondament waarop God die hele wêreldgemeenskap en ook die verbondsgemeenskap van gelowiges laat staan. Dit is die fondament van die kerklike-, gesins- en familielewe.

Mense wat glo in saambly, glo hulle saamwees is ’n privaatsaak wat niemand anders raak nie en wat niks met iemand anders te doen het nie. Daarom sluit hulle almal uit die gebeurtenis van hierdie eenheid uit: God én die openbare gemeenskap. Mense vier nie die begin van hulle saambly met ’n erediens of openbare onthaal nie.

Dit wat die gemeenskap saam in dankbaarheid teenoor God moes weet, saam moes erken, saam moes deurleef en saam oor bly en opgewonde teenoor God moes wees, word nou van God en die gemeenskap weggeneem. Dit word in die houding gedoen – dat niks en niemand hiermee iets te doen het nie.

Maar, wanneer hierdie mense dan besluit om te trou, dan skielik is dit ’n saak vir God en die openbare gemeenskap. Dan moet dit in die erediens van die kerk en die onthaal van die gemeenskap gevier word en moet God sy seën gee vir hierdie verbintenis. Vir saambly word God se seën nie gevra nie..

Die sonde van saambly is dat die huwelik, wat deur God bedoel is as ’n openlike en openbare instelling, geprivatiseer word asof dit ’n persoonlike saak is sonder God en die gemeenskap, totdat mense self besluit hulle laat dit nou ’n openbare saak wees.

Die derde gebod: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.”

Saambly verwring die derde gebod oor die Naam van God. Hulle verwag dat God hulle moet seën, vir mekaar bewaar en behou en krag moet gee om mekaar liefde te hê, terwyl hulle nie wil erken dat God hulle verenig as man en vrou nie.

Aan die ander kant weer leef hulle terwyl hulle saambly sonder enige verwagting van God oor hulle saambly omdat hulle voel dat hulle nog nie getroud is nie. Beide hierdie verwagtings dat God die liefde in saambly sal seën én die verwagtingloosheid teenoor God terwyl ons saambly, is ’n miskenning van die toeganklikheid van die Heilige God as God. God kan nie sonde seën nie en God se goedheid kan nie misken word asof Hy ontoeganklik is nie.

Met dieselfde dubbelslagtigheid wil mense saambly, leef in hulle ongeloof oor die eenheid van man en vrou, terwyl hulle tog weer wil glo in die genade en vergifnis van God. Om God se genade en vergifnis deur Jesus Christus te gebruik om te mag leef in die ongeloof in die huwelik en te mag leef in die geloof in saambly – is die misbruik van die Naam van God. Dit is nie geloof in die Evangelie nie.

’n Ander wyse waarop God se Naam misbruik word, is dat mense hulle daarop beroep dat God hulle hierdie liefde vir mekaar gegee het waarin hulle met mekaar saambly, en daarom kan hulle saambly nie sonde wees nie. God se gawe van liefde kan mos nooit sonde wees nie! So maak hulle van hulle ontkenning dat hierdie liefde hulle tot man en vrou verenig het in die huwelik iets wat God bewerk het.

Die tweede gebod: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of gelykenis maak nie..”

Hierdie gebod eis dat ons God volgens sy Woord en nie volgens ons eie opvattings sal eer en dien nie. In saambly word God se Woord oor die eenheid van man en vrou misken en leef mense in hulle eie beelde oor die liefde tussen man en vrou.

Hiermee saam gaan mense se bygeloof in die openbare seremonie en wetlike verbintenis van die huwelik Dit klink só: “God mag en kan ons nie tot hierdie eenheid verbind nie, al verlaat ons ons ouers, gee ons self in liefde aan mekaar en deel een liggaam, een lewe, een toekoms met mekaar. Ons wil nie nou só gebind wees in ’n eenheid wat ons nie mag skei nie. Daarom, al leef ons soos God mense verenig, mag God dit nie met ons nou doen nie.”

Wanneer mag God dit doen? Meer, wanneer glo en wil hierdie mense hê móét God dit doen? God moet dit doen wanneer ons besluit nóú wil ons verenig word. God moet dit nóú doen wanneer hierdie twee besluit hulle wil dit wetlik volgens die landswet doen en dit met ’n groot partytjie vier.

Hoe moet God dit nóú doen? Wat God nie deur liefde en die eenheid van een lewe mag of kan doen nie, dit moet God nou doen – deur die wetlike kontrak wat hulle teken en die partytjie wat hulle hou.

Om te glo dat God nie deur liefde en die deel in een ligaam , een toekoms, een lewe en een huishouding ons kan of mag verenig nie, maar dit na die tyd moet doen deur landswette wat geteken word en partytjies wat gevier word – is afgodsdiens. Dit glo nie meer God wat in die eenheid gee en bewerk terwyl, en wanneer, ons ons aan mekaar gee om een te wees in liggaam en lewe nie.

Die eerste gebod: “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie.”

Die geloof in saambly verwring die eerste gebod: dat ons in die teenwoordigheid van God leef en sy persoon, wil, gesag en liefde in alles erken. Om jou buite die eenheid wat God gee as man en vrou te stel, sy wil in hierdie eenheid te ignoreer en sy gesag oor hierdie eenheid te misken, is om God afwesig te leef .

Hierdie geloof maak van saambly ’n liefde wat in die afwesigheid van die persoon, die wil en die gesag van God geleef word.

Om te glo in die krag, geluk, seën, die goedheid van jou eie liefde vir jou geliefde, terwyl jy die persoon, wil, en gesag van God afwesig leef, in dit wat Hy in en deur die liefde van man en vrou vir mekaar doen – is die vergodddeliking van jouself en jou eie liefde.

Dit is ’n geloof in die krag, geluk, seën en goedheid van die liefde wat jý in saambly skep buite die eenheid wat Gód skep as man en vrou. Dit is ongeloof in die persoon, die wil en gesag van God wat met ons in ons eenheid as man en vrou teenwoordig is.

DIE VERSKIL!

Die verskil tussen saambly en om in die huwelik verbind te word, is die verskil tussen geloof en ongeloof.

Christene glo in die huwelik. Hulle glo dat waar en wanneer hulle hulle as man en vrou in liefde aan mekaar oorgee om in een lewe, een toekoms, een huishouding t e leef en liggaamlik een met mekaar te wees, God hulle verenig in ’n persoon wat meer is as net hulle liefde, besluite en gevoelens vir mekaar. Hierdie eenheid in persoon as man en vrou (husband and wife), is die huwelik. Ons as Christene glo aan die huwelik omdat God Hom aan ons bekend maak in sy Woord as die Here wat hierdie eenheid skep. Daarom kan ons dit ook só in die lewe en inmekaar deur sy Woord ontdek.

Saambly is ’n daad van ongeloof. Hulle glo nie dat God hierdie huwelikseenheid van man en vrou skep waar hulle hulle self in liefde aan mekaar gee om in een lewe, een toekoms, een huishouding en liggaamlik een met mekaar te leef nie.

Hulle glo dat hierdie verbintenis as man en vrou is net ’n kontrak tussen man en vrou wat God net moet seën waar en wanneer hulle besluit dat hulle hulle self tot so kontrak wil verbind.

Dit is hierdie ongeloof wat dit moontlik maak om in saambly vóór die huwelik te glo. In hierdie ongeloof kan hulle eers saambly in liefde en dan later besluit wanneer hulle hulleself kontraktueel tot die huwelik wil verbind. Dit is hierdie ongeloof wat nie die vernieling, skending en vernietiging van die huwelik deur hulle saambly kan herken nie, maar dit wegwens of toeskryf aan wie en wat hulle vir hule ookal vir hulle self uitdink. Dit is hierdie ongeloof wat van saambly ’n instelling wil maak wat deur die kerk en gemeenskap aanvaar moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui