Gesinsjaar

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Mei 2004 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Dit is vanjaar gesinsjaar. ’n Gesin begin by ’n huwelik. Ek wil hierdie maand twee gediggies vir julle gee van mense wat ’n huweliksmaat verloor het. Die een gediggie is deur ’n man geskryf en die ander deur ’n vrou wat ’n maat verloor het. Die doel hiermee is om mekaar op te skerp om ons huweliksmaats te waardeer. Dit is mos nou maar so dat ons aan mekaar gewoond raak en mekaar naderhand nie meer waardeer nie. Ons is geneig om onvergenoegd met mekaar te raak. Daar is mense wat hulle lewensmaats verloor en dan eers werklik die waarde van jou maat ontdek. Hiervan skryf die twee digters:

DIE ROOS – A.G. Visser

Te kort jou skoonheidsduur,
Roos van my hof
Vir jou volmaakte uur
Die Gewer lof!

Te kort ons liefdestyd:
Te lank die rou.
Tog – tot in ewigheid
Goddank vir jou!

JY MAG MAAR – Hester Heese

Jy mag maar jou koffie slurp
of in die piering gooi
Jy mag met vuil voete
uit die komposhoop
oor ons wit mat loop
Jy mag jou naels byt
vals sing
swak groente huis toe bring
die badkamer omkrap
die nat vroer opdroog met my waslap
Skakel maar die radio aan
om ses in die môre
en luister hoe hulle brabbel
oor veevrektes
artappelroes
inseminasie
Jy mag maar snags hard snork
oor koue voete brom

As jy net terug kan kom.

Daar is mense wat hulle lewensmaats langs die pad verloor het maar ek dink die meeste van julle wat die briefie lees het nog die voorreg om julle maats by julle te hê. Kom ons sê opnuut vir die Here dankie dat ons nog daar is vir mekaar. Kom ons kyk by mekaar se tekortkominge verby en betoon waardering aan mekaar. Laat ons aan mekaar rose gee terwyl ons nog die geleentheid het.

Ons kyk na nog ’n gedig van Hester Heese met die titel: “Rooi”. Wat kan ons leer uit die manier waarop haar oorlede man konflik tussen hulle hanteer het soos blyk uit die gedig?

ROOI

“Rooi, rooi, rooi!
Die lig is rooi
Kan jy nie sien nie?
Toe het jy stilgehou
En sag gesê:
“Moenie lelik met my praat nie.”

Die lig het groen
geword vir jou.
Vir my
Bly dit
Rooi, rooi, rooi.

Nuwe voornemens??

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui