Spangenberg betig, maar nie getug

*******

Spangenberg betig, maar nie getug | Kerkbode

Jean Oosthuizen

Kerkbode, 9 April 2004

Die NG Kerk se Ring van Lyttelton sê hulle het tot die oortuiging gekom dat die geloofstandpunte van prof Sakkie Spangenberg wat hom met die standpunte van die sogenaamde Nuwe Hervormers vereenselwig, nie meer te rym is met die Christelike geloof nie. Prof Spangenberg is ’n teoloog wat aan Unisa verbonde en lidmaat van die NG Kerk is.

Die moderator van die NG Kerk in Oos-Transvaal en voorsitter van die ring se ondersoekkommissie, dr Johann Ernst, sê die ring wil egter nie in dié stadium die weg van kerklike tug volg nie omdat hulle graag weer met prof Spangenberg wil praat.

Dr Ernst het aan Kerkbode gesê die moontlikheid van tug is nie uitgesluit as prof Spangenberg volhard met sy “afwykende” standpunte nie. Volgens dr Emst is die deur ook oopgelaat vir prof Spangenberg om self as lidmaat van die NG Kerk te bedank.

Volgens ’n ringsbesluit van 18 Maart word. opnuut ’n beroep op prof Spangenberg gedoen om van sy standpunte af te sien. Die ring sê hy kan nie insien hoe prof Spangenberg op eerbare wyse sy lidmaatskap van die NG Kerk en sy bevoegdheid as proponent kan voortsit sonder om sy geloofstandpunte radikaal te hersien nie. “Die ring stel dit onomwonde as geloofstandpunt dat die Christelike geloof nie los gedink kan word van die liggaamlike opstanding van Jesus uit die dood nie, waarby die Christendom staan of val.”

Volgens prof Spangenberg kom sy geloofstandpunte wat vir die kerk onaanvaarbaar is, uit hoe hy die Bybel lees. In ’n dokument wat hy aan die Ring van Lyttelton voorgelê het, pleit hy vir ’n goeie herlees van die Bybelse verhale.

Hy sê wanneer die verhale, gedigte, spreuke, gelykenisse, briewe en ander dele van die Bybel in hulle historiese, kulturele en literêre konteks gelees word, sal “ons ontdek dat hulle inderwaarheid nie ‘sê’ wat die tradisionele dogmas ons wil laat glo hulle sê nie”.

Dr Ernst hou egter vol dat prof Spangenberg saam met die Nuwe Hervormers ’n Christendom verkondig wat radikaal afwyk van wat wêreldwyd onder die Christendom verstaan word en in die ekumeniese belydenisskrifte verwoord is. “Terwyl hy dit teen die kerklike dogmas het wat die Ou en Nuwe Testament verkeerd vertolk het, skep hy en ander hulle eie dogmas wat hoegenaamd nie met die skrifte ooreenkom nie,” het dr Ernst aan Kerkbode gesê.

– jean@tydskrifte.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui