Gered (deur ’n gevangene)

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Oktober 2000 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

’n Gevangene in ’n tronk aan die Rand, het tot bekering gekom en toe gedigte begin skryf. ’n Geestelike werker wat die gevangene besoek het, het van hierdie gedigte onder ons aandag gebring by ’n vergadering wat ek bygewoon het. Ek heg een van hierdie gedigte wat ek huis toe gebring het vir julle aan:

GERED

Daar staan ’n seuntjie in die voetpad alleen,
die seuntjie staan daar saggies en ween.
Die melk het geval, die bottel gebreek,
hy weet wat wag, sal nie help om te smeek.

Met stukkende toon, gestamp teen ’n klip,
Het die bottel uit die seuntje se handjie geglip.
Nou moet hy huis toe ,sonder melk in die hand,
Wens hy kon wegkruip soos die melk in die sand.

Gaan nou maar huistoe, dit word ook al laat,
Hou snikkend op huil, dit sal tog nie baat,
Snuifend stap die seuntjie voetpaadjie langs,
Vinnig moet hy huis toe, gevul met angs.

Pak gaan hy kry, hy staal hom daarteen.
Hy ken die sambok, dit byt tot die been.
Ook ken hy die agressie in vader se groet,
Sag praat hy met homself: “Begeef my nie moed!”

Hy sien die sambok hang teen sy vader se been,
Daar waar hy met gemak teen die deurkosyn leun.
“Waar is die melk?”, het hy toe gevra.
Jy sal betaal met ’n goeie drag slae.

Met bruingebrande ruggie en skouers ontbloot,
En met niemand om hom te help in sy nood.
Hy’s dik vir die lewe, om hom af te sloof,
En voel hoe die sambok sy ruggie oopkloof.

Gille van pyn word deur emosie gesmoor,
Want dis asof dit sy vader bekoor.
Daar lê die seuntjie stil en verstoot,
Saggies sê hy: “Maak my asseblief tog maar dood.”

Jare daarna en hy is nou groot,
Maar na wie kan hy gaan in tye van nood.
Rebellerend maak hy foute wat niemand verstaan,
As hy maar net as kind, kerk toe kon gaan.

Laat iemand tog net betyds sy  hulpkreet hoor,
Van die seuntjie wat as man, sy rigting verloor.
Mense is te gou om ’n oordeel te vel
En hunkerend na die lewe, is hy op pad na die hel.

Een laaste keer het hy om hulp geroep,
Nog in sy hart die slae van die pyn op die stoep.
Tyd heel die wonde van bytende leer,
Maar teer lê die pyn in sy hartjie so seer.

Die pyn van die oordeel raak te veel om te dra,
hy wend hom tot Jesus, Hóm hulp te vra.
Sy hart geopen voor Jesus gestort,
Nou vind hy die tyd van leiding, eintlik maar kort.

Jesus het hom gehoor en gered,
Die seuntjie is bekeer, die sonde belet.
Geleer om te vergewe, te gee en te dien.
Nou kan die seuntjie die mooi, ook weer sien.

Hy het nou ook sy vader vergeef,
Sodat hulle in liefde kan leef.
Al wat hy oorhou van sy vader se daad,
Is dat hy nou met Jesus kan praat.

OV.

Hoeveel mense in die tronke het nie dalk derglike verhale om te vertel nie. Geen wonder dat die Here Jesus die mense in die tronke onder ons aandag bring nie. (Mat 25:36) Kom ons bid met nuwe deernis vir die mense in die tronke.

Ds Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui