‘Ek is reeds volledig mens,’ sê gay NGK-predikant ná kwetsende opmerking

*******

‘Ek is reeds volledig mens,’ sê gay NGK-predikant ná kwetsende opmerking | Netwerk24

Jana Marx

19 Oktober 2023

Hy is reeds volledig mens en hoef nie van seksualiteit te verander om sy roeping uit te leef en vir God aanvaarbaar te wees nie.

So het dr. Louis van der Riet, ’n gay predikant, Donderdag gereageer op beweerde uitlatings deur ’n afgevaardigde kerkraadslid by die NG Kerk se algemene sinode.

Die NG Kerk hou vandeesweek sy 18de sinodevergadering in Boksburg. Byna 400 afgevaardiges uit tien streeksinodes is teenwoordig.

Die media is Dinsdagaand belet om die gesprek oor selfdegeslagverhoudings by te woon, wat spesifiek die besware teen die 2019-standpunt hanteer het.

In 2019 het die sinode ’n beskrywingspunt aanvaar wat ruimte skep vir meningsverskille oor homoseksualiteit. Dit gee kerkrade ruimte om onder meer te besluit of hulle gay verhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante wil aanstel. Maar nie almal is hiervoor te vinde nie.

Netwerk24 het van bronne binne die geslote vergadering verneem dat Gert van Rensburg, ’n afgevaardigde kerkraadslid, sy misnoeë oor die kerk se besluit van die vloer af uitgespreek het en in sy ongelukkigheid glo kras verwys het na ’n gay predikant wat in 2019 by die NG kerk Kraaifontein bevestig is.

Van der Riet, ’n afgevaardigde by die sinode, het ná Van Rensburg opgestaan en by die mikrofoon aan die afgevaardigdes gesê hy is daardie predikant na wie Van Rensburg verwys.

Hy het agterna aan Netwerk24 bevestig wat hy aan die afgevaardigdes gesê het: “Dit was een van die mees betekenisvolle dae van my hele lewe – om bevestig te kon word, en om voorts my roeping uit te leef binne die NG Kerk. Ek wil ons almal, maar in besonder dié wat beswaard is oor die 2019-besluit en sukkel om gay mense met waardigheid lief te hê, herinner dat daar ruimte vir almal by God se tafel is. Dit is nie ons tafel nie.”

Hy het toe alle afgevaardigdes genooi “na liefde, en weg van vrees”.

“Dankie aan almal wat saam werk om die tafel oop te hou,” het hy gesê.

In reaksie het Van Rensburg aan Netwerk24 gesê: “Ek het nie eens geweet hy is hier nie, ek het nie sy naam aangehaal nie.”

Oor die kwetsende aard van sy woorde, het hy volgehou: “Ek gaan niks nou sê nie. Dit gaan net vir my daaroor: Die Skrif wat ek verstaan – ek kan dit nie anders sien nie. As hy dit in sy eie lewe wil doen . . . maar nie op die kansel nie.”

Van der Riet het op sy beurt aan Netwerk24 gesê die doel met geslote vergaderings is nie om mense ruimte te gee om teen mekaar se menswaardigheid te diskrimineer nie. Hy sê Van Rensburg het hom agterna buite die vergadering raakgeloop en glo gesê: “Mense sê ek moet jou om verskoning vra, maar ek gaan nie. Jy kan mos nog bekeer.”

Van Rensburg ontken ten sterkste dat hy dit gesê het. Volgens Van Rensburg het hy sy hand na Van der Riet uitgesteek en gesê hy wou hom nie te na gekom het nie, maar dat dit sy oortuiging is.

Oor die kontak ná die geslote sessie het Van der Riet aan Netwerk24 gesê: “Ek het vir hom (Van Rensburg) gesê die feit dat hy dink ek moet myself (van gaywees) bekeer om my roeping uit te leef en om vir God aanvaarbaar te wees, is gewelddadige woorde. Ek is reeds volledig mens.”

In antwoord daarop dat Van der Riet sy woorde as diskriminasie ervaar het, het Van Rensburg aan Netwerk24 gesê: “Wel, dan is ek jammer.”

Die sinode sal later vandag besluit wat om met die 2019-besluit te doen.

• Die vergadering het Dinsdag die Taakspan Leer- en Aktuele Sake saam met die 10 moderators van al 10 streeksinodes en die Taakspan Regte opdrag gegee om binne ‘n dag of twee met ‘n konsepvoorstel vorendag te kom. In 2007 is ‘n soortgelyke proses gevolg toe moderators moes saamwerk om ‘n voorstel ter tafel te lê.

Hierdie konsepvoorstel het Donderdagaand gedien.

Ná omtrent 40 stemme van die vloer af, het die vergadering besluit om die voorstel weer terug te verwys na die taakspanne om nog nodige veranderinge te maak sodat die vergadering Vrydagoggend tot stemming kan oorgaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui