NG Kerk se sinode besluit Donderdag oor gays

*******

NG Kerk se sinode besluit Donderdag oor gays | Netwerk24

Jana Marx

Donderdag, 19 Oktober 2023

Staan die NG Kerk se besluit oor gays? Word dit gewysig, of dalk heeltemal herroep? Dis waaroor die NG Kerk se algemene sinode (AS) Donderdag moet besluit.

Dié kerk hou vanjaar sy 18de vergadering van die AS in Boksburg. Byna 400 afgevaardiges uit 10 streeksinodes is teenwoordig.

In 2019 het die sinode ’n beskrywingspunt aanvaar wat ruimte maak vir meningsverskille oor die saak. Dit gee kerkrade ruimte om onder meer te besluit of hulle eengeslagverhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante wil aanstel.

Die besluit het egter nie oral byval gevind nie en is vier jaar later steeds ’n brandpunt op die NG Kerk se agenda.

Afgevaardigdes het Dinsdagaand in ’n geslote vergadering beskrywingspunte en beswaarskrifte voorgehou oor onder meer die AS se hantering van die Bybel (Skrifgesag). Daar was ook druk om toe te laat dat behoudende lidmate ’n eie sinode buite die kerkverband stig.

Data uit die geslote vergadering se tafelgesprekke het die volgende temas uitgewys:

• Gemeentes ten gunste van die 2019-besluit: Volstaan daarby en fokus op “saamloop” ten spyte van verskille. Verduidelik die inhoud beter, sodat kerkrade en kerke dit beter kan verstaan.

• Herroep die 2019-besluit weens die verdeling: Kerkrade is nie in staat om dit met insig te hanteer nie.

• Herroep die 2019-besluit: Kies kant en kry klaar. ’n Besluit wat almal tegemoetkom, is nie uitvoerbaar nie.

• Herformuleer 2019, sodat dit duideliker is wat presies met die “ruimte” wat die AS skep, bedoel word.

• Kommer oor die regsimplikasie: Luidens ’n regsmening deur adv. Jeremy Gauntlett SC oortree die NG Kerk al die afgelope vier jaar die hofbevel oor gay-verbintenisse. Die hof het in 2019 onder meer bevind om gay lidmate tot die kerk toe te laat, maar hulle dan nie toe te laat om in die kerk te trou of kerkampte te beklee nie, is diskriminerend. Die 2019-besluit gee kerke die ruimte om verskillende standpunte oor gay-huwelike en gay-ampte in te neem.

Opsommend dui die data op ’n behoefte aan gesprek, respek vir verskillende standpunte, en ’n soeke na ’n liefdevolle en inklusiewe eenheid binne die NG Kerk, terwyl dit ook diepgewortelde sienings oor die interpretasie van die Skrif en die aard van die kerk se eenheid uitdaag.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui