Dit is tyd vir aanbeweeg

Kyk ook:

Die NG Kerk moderator, Nelis Janse van Rensburg, het die volgende brief geskryf waarin hy duidelik sy standpunt gee dat die NG Kerk moet aanbeweeg en homoseksuele mense moet insluit in die kerk.

************

Dit is tyd vir aanbeweeg | Kerkbode

25 September 2019

Die NG Kerk is stroomop, teen die wêreldkultuur in waarin flink mure gebou en mense met eng definisies afgesluit word van mekaar. Ons is ’n insluitende, meesleurende beweging, waarin elke mens ’n ruimte kan vind om te blom. Ons is oop kanale van God se genade vir alle mense. By die nagmaaltafels van ons kerk rig ons ’n ongekwalifiseerde uitnodiging  aan almal wat glo in Christus as Here om te kom aansit, om saam die brood en die wyn te kom eet en drink, met dankbaarheid en verwondering. Christus het immers kinders en grootmense, vroue en mans, oud en jonk, Jood en Griek, besny en onbesny, “in” en “uit”-mense ingesluit in sy gemeenskap van vriende by wie Hy aan tafel gegaan het. Hy droom van geloofsgemeenskappe wat mense van die strate af innooi na die maaltyd waarvoor baie gesiene mense nie genoeg tyd of aptyt gehad het nie. So droom ons saam met Hom.

Die NG Kerk het die afgelope jare baie tyd spandeer om te dink oor mense met ’n selfdegeslag oriëntasie. Gewoonlik, wanneer kerkmense verskil oor kwessies soos hierdie besluit sinodes om nog navorsing te doen- oor die betrokke verskynsel, oor die Bybel, oor die teologie. Ons hét dit gedoen. Ons kan nie nog navorsing doen nie.

Ons is nou op die punt waar ons nie meer kan toelaat dat mense die slagoffers bly van ons oneindige meningsverskille en teologiese onsekerhede nie. Ons lang gesprek het immers nie in ’n afgeslote laboratorium plaasgevind nie. Mense buite en binne die kerk was pynlik bewus van ons geworstel. Terwyl ons onsself die belangrike geleentheid veroorloof het van teologiese diskussie, het mense binne en buite die kerk die gesprek gehoor. Baie het seergekry. Hulle diepste identiteit was die onderwerp van bespreking. Hulle menswees en karakter is ontleed en ontken asof hulle gewoon nie-vleeslike objekte is. Die gesprekke het dikwels nie rekening gehou met talle gay-gelowiges wie se sogenaamde keuses, toewyding, moraliteit en geloof bevraagteken is nie. Dit gebeur trouens steeds wanneer mense vrae vra soos, ‘kan ’n gay-persoon gelowig wees en die Here dien?’ Die kort en die lank hiervan is dat hierdie debat die lewe in en buite die kerk vir duisende en duisende medegelowiges, insluitende die families en vriende van gay-mense, bitter onaangenaam gemaak het. Die uiteindelike uitkoms van hierdie teologiese gesprek kȧn nie wees dat dit by verstek die lewe van mense met ’n bepaalde seksuele oriëntasie vir altyd misrabel maak nie. Ons kan veel eerder vir mense van alle seksuele oriëntasies ’n lewewyse en lewensruimtes bedink waarin hulle met ’n skoon gewete voor God kan leef. En laat ek maar dadelik sê, die sogenaamde “humanisme” is nie die onderliggende uitgangspunt van hierdie standpunt nie.

Die Bybel vertel immers van Jesus wat al in sy hantering van die skrifgeleerdes se vrae oor die huwelik die diversiteit van mense erken het. “Sommige is so gebore, ander is so gemaak en ander het gekies om so te wees”- dit is nou die wat Hy sê nie kan trou nie (Matteus 19). Watter kategorieë van mense Hy in gedagte het, weet ons nie. Dat Hy duidelik  daaroor is dat alle mense nie inpas in die kategorie vir die “een man, een vrou” bedeling van die huwelik nie, is egter helder. Dit is dieselfde Jesus wat vir hetroseksuele mense sê dat die sonde van seksuele begeertes nie net in hulle dade gesetel is nie, maar in hulle gedagtes. Laat ons die Bybel en dus vir Jesus ernstig neem. Jesus het meer begrip vir die aard van seksualiteit en diversiteit as wat dikwels aan Hom toegedig word.

[Kommentaar: Dit is ’n totaal foutiewe argument. ’n Mens het beter argumente van die moderator verwag:

  • Oor die verwysing na Matteus 19: Veronderstel Jesus het in vers 12 na homoseksuele mense verwys dan beteken dit dat Hy bedoel het dat hulle nie moet trou nie maar selibaat moet bly. Nelis pleit egter dat die kerk homoseksuele huwelike erken.
  • Oor heteroseksuele mense se seksuele begeertes (Matteus 5:28): Niemand verskil daarmee nie. Dit is sonde, soos Jesus gesê het. Wil Nelis ook dit ontsondig soos hy homoseksualiteit ontsondig?]

Daar is ook ander ingeligde afleidings gemaak oor die gesprek binne die kerk oor seksualiteit. Is hierdie mense ernstig oor die Godgegewe menswaardigheid van alle mense? Is dit dan nie die Bybel wat skryf (kontra-kultureel) oor die wederkerige gelyke verhouding tussen man en vrou nie? (1 Kor 7). Is dit dan nie so dat die Bybel praat van een nuwe mensheid van gelowiges in Christus wat ontstaan wat die binêre (tweedelende) skeiding tussen besny en onbesny, ryk en arm, man en vrou te bowe gaan nie (Gal 3). Natuurlik bestaan al hierdie kategorieë van menswees voort, maar in Christus word dit te bowe gegaan. In Christus is almal een, gelykwaardig, nuut, vry.

So leer die Bybel.

Die Algemene Sinode (6-11 Oktober 2019) moet hierdie gesprek nou vorentoe neem. Regstegniese argumente sal nie antwoorde bied op die legitieme vrae wat gevra word oor ons standpunt oor mense nie. Die minste wat ons kan doen, is om ruimte  te maak vir sinodes en gemeentes wat aan alle mense die vryheid wil bied om Hom met oortuiging te dien, sonder dat hulle hulle diepste menslike identiteit hoef te ontken.

Die NG Kerk het ’n reuse rol om te speel in ons land waar mense se menswaardigheid  ingrypend misken word. Die misbruik van, en geweld teen vroue en kinders, armoede, opleiding van mense en die beliggaming van die evangelie van verlossing behoort binne die helder fokus te val van hierdie mooi kerk om ’n lewegewende verskil in Suid-Afrika te maak.

– Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.

4 thoughts on “Dit is tyd vir aanbeweeg”

  1. Miskien nou tyd dat die Ng kerk split.
    Gemeentelede moet ook nie net swyg nie. Staan op vir die waarheid!
    Die Woord waarsku ons teen valse predikers. Voor die wederkoms moet daar eers n afval kom. Dis wat ons nou sien.

  2. Wanneer laas het Nelis 1 Korintiers 11:27-34 gelees. Ons moet onself vooraf ondersoek, en as ons volhard in sonde eet ons n oordeel oor onsself. As die kerk dit aanmoedig staan die kerk ook saam skuldig! Hy het tydens die Weskaapse Sinode gedeel in die situasie dat daar n nulpunt bereik is, en gepleit het vir n interim besluit sodat daar nog ruimte vir gesprek kan bestaan. Wat het nou daarvan geword? Hoe is dit dat die pro/gay groep namens die res besluit dat daar klaar gepraat is terwyl dit vir die meeste in stryd met die Bybel is? Die NG lidmaat getalle was begin 2019 volgens Kerkbode 681050. Daar het vorige jaar 21000 lidmate die kerk verlaat. Nuutste statistiek dui dat daar minder as 10 persent gays in die wereld is. Tans word beraam 1 persent manlike gays en 0,6 vroulike gays. Rofweg dus 0,8 persent. As jy dit deurtrek na die NG kerk gee dit 5528,4 gay lidmate. Volgens navorsing wat Lindy Heinecken op homoseksuele mense gedoen het het slegs 2,7 persent van haar respondente n monogame langdurige verhouding gehad. Dan laat dit jou maar met 149 lidmate waaroor al die bohaai gaan terwyl daar 21000 gelowige lidmate die kerk daaroor verlaat

    1. Hull bring die oordeel oor almal wat dienste bywoon… Kan ons nie maar bietjie wag met die saak nie, kan ons nie meer daaroor dink nie? 1 Korintiers 11:29;34…want hy wat eet en drink sonder om te besef dat dit die liggaam van die Here is, bring daardeur ’n oordeel oor homself…. As een van julle honger is, moet hy liewer by die huis eet, sodat julle nie ’n oordeel oor julle bring as julle bymekaarkom nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui