Hervormers wysig formulier: Mans en vroue gelyk

Kyk ook:

Hervormers wysig formulier: Mans en vroue gelyk | Netwerk24

Deur Jana Marx

24 September 2019

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) het Dinsdag dele van sy amptelike dokumente wat ’n vrou as minderwaardig teenoor die man voorstel, ten sterkste verwerp.

Die kerk het met ’n meerderheidstem van 322 teen 27 ’n amendement aanvaar om sy huweliksformulier te wysig, sodat vroue as mans se gelyke voorgestel kan word.

Die bestaande formulier beskryf die vrou as die “swakker geslag”.

Dit sê ook: “Andersyds moet u as vrou weet hoe u volgens die Woord van God teenoor u man moet optree. U moet u man liefhê, hom eer en hom gehoorsaam bystaan in alle sake wat reg en billik is. So is die liggaam immers ook aan die hoof en die kerk aan Christus onderdanig. U moet nie oor u man baasspeel nie. God het Adam eerste gemaak en Eva as sy hulp. Na die sondeval was God se opdrag aan Eva dat sy haar met die wil van haar man moet vereenselwig en dit geld vandag nog vir elke vrou. Hierdie opdrag van God moet u nie verontagsaam nie. U moet dit gehoorsaam en die voorbeeld navolg van die gelowige vroue in die ou dae.”

Nog ’n frase lui: “Beloof u dat u hom gehoorsaam sal wees, hom sal ondersteun en bystaan en hom nooit sal verlaat nie?”

Die nuwe, gewysigde huweliksformulier lui soos volg:

“U het begeer dat u huwelik in die Naam van God bevestig sal word.

“Daarom moet u hoor watter inhoud gelowiges in Jesus Christus aan die huwelik gee gegrond op die riglyne wat ons daarvoor in die Bybel vind:

“Die Here God het gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke. Daarom het Hy vir die mens ’n vrou gemaak en haar na hom toe gebring. God het man en vrou as mekaar se gelykes geskape, en albei is na die beeld van God geskape. Daar is dus geen hiërargie nie, want alle mense is in die oë van God kosbaar. Dit word by uitstek aan ons bewys deur Jesus Christus se sterwe aan die kruis, deurdat Hy selfverloënend sy lewe vir sondaarmense aflê omdat Hy diep oor hulle begaan is en nie wil hê dat een sondaar verlore moet gaan nie. God maak geen onderskeid tussen mense nie.

“God se Woord bied ook onderrig aan egpare oor hoe hulle teenoor mekaar moet optree: Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig (Efesiërs 5: 21). Vestig u hoop op God en bewys eerbied aan mekaar, omdat u saam deel in die lewe as genadegawe.

“In die beproewings en teëspoed wat op aarde en ook in die huwelik voorkom, wil God ook sy seën en hulp skenk. U moet in u harte seker wees van God se hulp en in die vertroue lewe dat Hy sy bystand aan u wil verleen, selfs wanneer u dit glad nie verwag nie.

“Deel in mekaar se omstandighede, wees nederig en sagmoedig, goedgesind en verdraagsaam teenoor mekaar. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here u vergewe het, moet u mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet u mekaar liefhê. “Dit is die band wat u tot volmaakte eenheid saambind. “Laat die vrede wat Christus gee in u lewens die deurslag gee. God het u immers geroep om in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in u bly. Wat u ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Wetlike vrae

“… noudat u weet watter inhoud gelowiges in die Here Jesus Christus aan die huwelik gee en watter riglyne God in sy Woord daarvoor gee, verklaar u hier voor God en in teenwoordigheid van die Christelike gemeente dat u u huwelikslewe volgens hierdie inhoud en riglyne wil inrig?”

Antwoord: Ja.

“Verklaar u, N (bruidegom), dat so ver u weet daar regtens geen beletsel is nie teen u voorgenome huwelik met N (bruid) hier teenwoordig, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u haar tot u wettige vrou neem? Wat is hierop u antwoord?”

Antwoord: Ja.

“Verklaar u, N (bruid), dat so ver u weet daar regtens geen beletsel is nie teen u voorgenome huwelik met N (bruidegom) hier teenwoordig, en dat u almal hier teenwoordig roep om getuie te wees dat u hom tot u wettige man neem? Wat is hierop u antwoord?”

Antwoord: Ja.

Die huweliksbevestiger rig hom/haar nou so tot die bruidspaar:

“Mag ons Here God die voorneme wat Hy u gegee het bevestig, en mag die begin van u huwelik wees in die Naam van die Here wat hemel en aarde geskep het.

Gee mekaar nou die regterhand.”

Afneem van die huweliksbelofte

“N (bruidegom), u het voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N (bruid) as u wettige vrou neem. Beloof u dat u haar sal liefhê, haar geestelik en emosioneel sal versorg, haar nooit sal verlaat nie, en in lief en leed by haar sal bly; dat u opreg en in vrede met haar sal lewe en haar in alles getrou sal bly;dat u al u pligte as Christelike man na die beste van u vermoë sal nakom, volgens die riglyne van God se Woord? Wat is hierop u antwoord?”

Antwoord: Ja.

“N (bruid), u het voor God en almal teenwoordig verklaar dat u N (bruidegom) as u wettige man neem. Beloof u dat u hom sal liefhê, hom geestelik en emosioneel sal versorg, hom nooit sal verlaat nie, en in lief en leed by hom sal bly; dat u opreg en in vrede met hom sal lewe en hom in alles getrou sal wees; dat u al u pligte as Christelike vrou na die beste van u vermoë sal nakom, volgens die riglyne van God se Woord? Wat is hierop u antwoord?”

Antwoord: Ja.

“Ek verklaar dat N en N, hier teenwoordig, regtens getroud is. Mag die Vader van alle barmhartigheid wat u deur sy genade tot hierdie huwelik geroep het, u met opregte liefde en trou verbind en u sy seën gee.

Amen.”

Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die Deputate: Ekumene, van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, was nie beïndruk met die nuwe formulier nie.

“Die heel kosbaarste wat die Here in sy Woord vir ons oor die huwelik sê, gaan verlore in die nuwe formulier: Dat Hy die huwelik vergelyk met die band tussen Christus en sy gemeente. Dat Christus sy lewe vir sy bruid gegee het was vir my persoonlik vir bykans 50 jaar die duidelikste spieël van hoe ver ek as man tekort skiet . Juis dit was in pastorale bediening die genesing vir soveel grotman-eggenote. En nou, lyk my, is dit weg.”

Hy sê egter hy verstaan iets van die NHKA se dilemma. “Ons (die Doppers se) huweliksformuliere word sonder onderskeid ook gebruik vir mense wat nie die oorgegewe liefde van Christus vir sy bruid waarlik ken nie, en vir sy dienende Hoofskap geen begrip meer het nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui