Die hof het tog anders beslis

Kyk ook Helgard Janse van Rensburg se repliek (14 Sep 2021) op hierdie berig.

****

Die hof het tog anders beslis | Netwerk24

Deur Laurie Gaum, Muizenberg

12 September 2021

Laurie Gaum, Muizenberg, skryf:

Die “bronboek” wat ek en Chris Jones saamgestel en waarna ds. Helgard Janse van Rensburg in sy skrywe “Laaste sê moet lê by Woord en kerk se belydenisskrifte” verwys, se volle titel lees: “Twaalf lidmate se hofstryd met die NG Kerk omtrent selfdegeslagverhoudings: Om ’n bevestiging van seksuele diversiteit te verseker” (nie #liefdeisliefde nie).

Dit bring dokumente rakende die hofsaak byeen. Dit bevat selfs dr. Tokkie Ernst se 84 bladsy-beswaarskrif teen die 2015- inklusiewe besluit van die kerk omtrent selfdegeslagverhoudings.

Janse van Rensburg vereenselwig hom met ’n “behoudende” interpretasie van die Bybel, die Drie Formuliere van Eenheid en veral die kerkorde, wat ’n mens kan vermoed sy eintlike dryfveer is.

Teen hierdie tyd sal hy ook moet erken dat daar ánder interpretasies van bogenoemde bestaan.

Hy gee hoog op oor die sinodale appèlliggaam en die Algemene Taakspan Regte (ATR) se rol in die verloop van die gebeure wat geboekstaaf word. Dit is juis ook hieroor wat ons die hof genader het en waaroor ’n onafhanklike regbank ernstige vraagtekens gehad het. Verder voer hy aan dat ons nie alle “kerklike middele eers aangewend en uitgeput” het voor ons ons tot die hof gewend het nie, maar die hof het anders geoordeel.

Heelwat gay persone voel tans onveiliger as ooit in die NG Kerk. Nie omdat daar ’n tekort aan behoudende stemme in die kerk gehoor word nie; inteendeel. ’n Belangrike vraag vir my is hoe die angstigheid van lidmate oor baie ander sake in die land bestuur kan word, sodat laertrek nie die enigste opsie vir ’n kerk is nie en ons nie verder verstrik word in kerkordelike rompslomp nie.

***********

‘Ware kerk’ wag | Netwerk24

Deur Henrietta Klaasing, Randfontein

12 September 2021 00:43

Dr. Henrietta Klaasing, Randfontein, skryf:

Die berig “Laaste sê moet lê by Woord en kerk se belydenisskrifte” van 5 September 2021 het betrekking.

Ek is dankbaar teenoor ds. Helgard Janse van Rensburg vir die duidelike uiteensetting van hoe bepaalde gebeure deur die jare verloop het.

Dis ook baie belangrik dat hy daarop wys dat die kerkorde bepaal dat omstrede sake soos die on-Bybelse en anti-belydenisskrifte-besluit oor selfdegeslagverbintenisse in 2019 na streeksinodes verwys moet word.

Dit is herhaaldelik aan die Algemene Sinode uitgewys, sonder dat hulle gehoor gee.

Hoe lank moet die ware kerk nog in die duister gehou word en wag?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui