Adrio König antwoord teoloë wat sy nuwe boek erg kritiseer

Hierdie is een van ’n paar artikels wat deel van ’n debat is oor Adrio König se boek Die evangelie is op die spel.

Kyk Teoloë kap König oor sy nuwe boek vir die vorige artikel.

**********

Adrio König antwoord teoloë wat sy nuwe boek erg kritiseer

Oorspronklike artikel kan hier gelees word.

Prof. Adrio König van Centurion skryf:

Ek antwoord op die berig oor my boek Die Evangelie is op die spel (“Teoloë vaar uit oor König se nuwe boek”, 9 April).

Dit is jammer dat proff. Cas Vos en Dirk Human “die man speel en nie die bal nie”. In die brief wat hulle deur die land versprei het, verskyn meer onsmaaklike opmerkings oor my persoon. Human kon maklik sy beskuldiging dat ek sy standpunte verdraai, bevestig het deur saaklik te antwoord op die paar vrae wat ek in die boek aan hom vra.

Hoe is dit dat hy oor “die opstandingsgeloof van die Ou Testament” skryf, terwyl die geloof dat daar ’n opstanding sal wees, eers ná die Ou Testament algemeen geword het? Hoe is dit dat hy oor die opstanding van Jona skryf terwyl ek in die Jona-verhaal net lees dat Jona uit lewensgevaar gered is?

Hoe kan hy van die opstanding van Jona praat en dit met die opstandingsgeloof van die Nuwe Testament en die opstanding van Jesus in verband bring? Is daar nie ’n radikale verskil tussen die opstanding van Jesus en Jona se bevryding uit die vis nie?

Kan dit nie misverstand veroorsaak om Jona se “opstanding” met Jesus s’n in verband te bring terwyl hy aanvaar dat Jona se verhaal ’n mite is nie?

Watter implikasies het dit vir die historisiteit van Jesus se opstanding?

Terloops, ek het Human nie van dwaalleer aangekla nie, en daarvan is hy vrygespreek. Ek het die diepgang van sy insig in die teologiese ontwikkelings in die Ou Testament bevraagteken. Ek nooi al die persone wie se standpunte ek in die boek bespreek tot ’n openbare debat uit.

**********

Lees die volgende artikel by Professore voel oor König-boek nes Luke oor trui.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui