Verenigingsplanne van die NG Kerk vorder

*******

Verenigingsplanne van die NG Kerk vorder | Transvaler

9 Augustus 1946, Transvaler

Finaliteit moontlik binne volgende jaar

Aansienlike vordering is die afgelope paar maande gemaak met die verenigingsplanne vir die vier Gefedereerde N.G. Kerke (die N.H. of G. Kerk in Transvaal). Die hoop bestaan dat hierdie planne binne die volgende jaar of wat finaliteit sal bereik, te meer daar die kerklike publiek tans byna eenparig ten gunste daarvan skyn te wees.

Kom dit tot kerkvereniging sal tegelyk die probleem tov die noodsaaklike verkleining van die Sinodes van Transvaal en Kaapland opgelos kan word. Dit is naamlik die doel om i.p.v. van een onhanteerbaar groot sinode vir Kaapland en Transvaal elk, drie synodi contracta vir die Kaapse Kerk en twee vir die Transvaalse Kerk in te stel, Dit sal beteken dat daar altesaam sewe verkleinde sinodes in die Unie sal wees naas ‘n sentrale liggaam, met volle wetgewende gesag, in die plek van die teenswoordige Federale Raad van die Kerke wat geen sodanige mag besit nie.

Die kwessie van kerkvereniging is in 1912 reeds aangepak, maar het nie tot rypheid gekom nie. Sedertdien is die saak nooit lank met rus gelaat nie en tog is daaraan eers ‘n groot stoot gegee toe die Transvaalse Sinode die wens uitgespreek het dat dit heropen moet word. Die Raad van die Kerke het die volgende jaar sonder teenstem ten gunste daarvan besluit en dit ly weinig twyfel dat die meerderheid van kerkmense in die ander twee provinsies ook ten gunste daarvan is. Natal het trouens onlangs nog ‘n voorstel bespreek om ten minste by die Transvaalse kerk aan te sluit.

In die jongste aflewering van Die Kerkbode verwys ds. Wm Nicol Moderator van die N. H. of Kerk, ook na die ander saak wat telkens in ons dag geopper word, nl. die moontlikheid van samesnoering met die Geref. Kerk en die Hervormde Kerk.

Nie prakties

Hy wys daarop dat hierdie voorstel op die oomblik nog nie prakties is nie, enersyds omdat sodanige vereniging buite die beskerming van dle bestaande wetgewing staan en allerhande moellikhede met eiendomme, soos in 1802 die geval was, kan veroorsaak. Die tweede prakties beswaar is dat die ander twee kerke op uniale grondslag ingerig is terwyl die N.G. Kerke provinsiaal afgebaken is. Eie kerkvereniging moet dus algemene kerkvereniging vooruitgaan.

Dr. Nicol wys daarop dat, hoe gewens kerkvereniging ook al is, sekere struikelblokke eers uit die weg geruim sal moet word, wat nie ten tyde van die eerste poging daartoe in 1911-’12 bestaan het nie, altans nie so wesenlik nie, Destyds was die noordelike kerke nog maar bitter klein en hulpeloos met slegs ses gemeentes in Natal, 53 in die Vrystaat en 50 in Transvaal. Vandag tel Natal 20 gemeentes die Vrystaat 91 gemeentes en Transvaal 157 gemeente teenoor Kaapland se 238 gemeentes (in 1911 was dit 144). In 1911 het die drie noordelike Kerke nie ‘n sinodale saal, ‘n kerkkantoor, ‘n saakgelastigde of ‘n enkel voltydse amptenaar gehad nie. Tans het Transvaal en die Vrystaat volledig ingerigte kantore met vaste amptenare en selfs Natal het sy eie saakgelastigde. Dit sal dus nie vir die noordelike kerke moontlik wees om sommer hul tente op te vou en na die suide terug te trek nie.

Nie vooruit loop nie

Die drang na eenheid sal so onkeerbaar moet wees en die vertroue in mekaar so sterk, dat ons gereed gevind sal moet word om die nodige opofferinge te doen,” skryf dr. Nicol. “Daar is kommissies wat tans aan die probleme van streeksinodes, verkleinde sinodes en kerkvereniging werk en ons wil nie probeer om hul bevindings vooruit te loop nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui