Vreugde oor US en kerk se pakt

‘n Mens wonder of die Verenigde Evangelies-Lutherse Kerk die gevare van hierdie besluit besef. Kyk ook Ferdie Mulder se baie insiggewende video Doleer of losmaak?.

**********

Vreugde oor US en kerk se pakt | Netwerk24

25 Februarie 2021

Die US en Verenigde Evangelies-Lutherse Kerk in Suider-Afrika (UELCSA) het onlangs ’n vennootskapsooreenkoms onderteken. Van links is prof. Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, prof. Reggie Nel, dekaan van die Fakulteit Teologie, biskop Gilbert Filter van UELCSA en ds. Tony Robinson, voorsitter van die ekumeniese raad van die US.

Die Universiteit Stellenbosch erken die deurslaggewende rol wat kerke en alle godsdienstige organisasies speel in die opbou van die goeie samelewing en die gemeenskaplike welsyn van almal, het prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, gesê by die onlangse ondertekening van ’n ooreenkoms tussen die Verenigde Evangelies-Lutherse Kerk in Suider-Afrika (UELCSA) en die US.

UELCSA is die sesde kerk wat ’n ooreenkoms met die US aangegaan het ingevolge waarvan studente van hierdie denominasies vir kerklike bediening opgelei word aan die US se Fakulteit Teologie, wat ’n oop ekumeniese fakulteit is. Die ander vyf kerklike vennote is die NG Kerk (NGK), die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), die Verenigende Presbiteriaanse Kerk in Suider-Afrika (UPCSA), die Anglikaanse Kerk van Suidelike Afrika (ACSA) en die Volkskerk. Benewens studente van hierdie kerklike vennote studeer individuele studente van ’n wye verskeidenheid denominasies en tradisies in die fakulteit op voor- en nagraadse vlak.

“Die vennootskap met die Lutherse Kerk versterk die universiteit se strewe om ’n universiteit vir alle Suid-Afrikaners in ons ryk verskeidenheid te wees,” het De Villiers gesê.

Biskop Gilbert Filter, namens die UELCSA, wat die Evangelies-Lutherse Kerk in Namibië (Duitse Evangelies-Lutherse Kerk) en die Noord-Oostelike Evangelies-Lutherse Kerk in Suid-Afrika (NELCSA) insluit, het die vennootskap met die US beskryf as ’n droom wat waar geword het vir UELCSA.

“Ons is trots om met so ’n geloofwaardige instelling verbind te word. Die gesprekke het in 2014 begin toe ons op soek was na ’n fakulteit waarin ons predikante toegerus sal word vir bediening in die plaaslike kerk. In hierdie fakulteit het ons gevind waarna ons gesoek het.

“Ek is altyd bly om van ons studente te hoor hoe goed hulle voorberei word vir die bediening. Hulle geniet dit om hier te studeer. Dit is ook aangenaam om van hul dosente te hoor dat hulle positief betrokke is.

“Mag hierdie verhouding groei en die ekumeniese liggaam wat met hierdie fakulteit geassosieer word, versterk.”

Prof. Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die US wat toesig hou oor institusionele vennootskappe soos hierdie, het dankbaarheid en vreugde uitgespreek oor hierdie amptelike vennootskap met UELCSA. Godsdienstige instellings is sosiologies gesproke een van die bes toegeruste instansies van die burgerlike samelewing op die vasteland van Afrika, het hy gesê. Hulle het toegang tot die mees gemarginaliseerde lede van die samelewing, en hulle geniet hoë vertroue onder miljoene. Die wedersydse betrokkenheid en impak van akademiese teologiese refleksie en ’n verskeidenheid godsdienstige praktyke en perspektiewe kan die algemene welsyn plaaslik en wêreldwyd dien.

Prof. Reggie Nel, dekaan van die Fakulteit Teologie, het ook die ondertekening van die ooreenkoms met UELCSA verwelkom en sy waardering uitgespreek vir die rol wat hierdie kerk op baie vlakke in die fakulteit en in die Ekumeniese Raad van die US speel, veral sy steun vir sy bediening-studente.

Die geleentheid is ook bygewoon deur ds. Tony Robinson, voorsitter van die Ekumeniese Raad van die US, en ds. Felix Meylahn, plaaslike predikant van die Lutherse gemeente in Stellenbosch en Somerset-Wes, en mentor vir UELCSA-studente aan die US.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui