NGK moet by landswette hou

Kyk ook:

Die volgende artikel word geplaas ter wille van rekorddoeleindes.

****************

NGK moet by landswette hou | Netwerk24

Isabel Venter

21 Augustus 2018

Die NG Kerk (NGK) moet hom aan die landswette onderwerp en mag nie op sy eie besluit gay paartjies mag nié trou nie.

Dit is een van die argumente wat ’n dosyn lidmate se regsverteenwoordiger Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer het.

Foto: Laurie Gaum (middel) is by die hooggeregshof in Pretoria ondersteun deur sy ouers, Henda en Frits. Laurie en Frits is twee van die aansoekers wat ’n groep van 12 mense verteenwoordig wat die NG Kerk hof toe sleep oor die standpunt wat die kerk ingeneem het oor selfdegeslagverhoudings.

Die groep van 12 doen aansoek om die tersydestelling van ’n sinodebesluit oor gays in 2016 deur die NGK.

Volgens adv. Jeremy Gauntlett SC wil die kerk die aansoekers uitmaak as “hardnekkige dwepers” terwyl hulle net probeer om hul regte te beskerm. Die kerk probeer onder meer “wegkruip agter die reg op godsdiensvryheid”.

Gauntlett het aangevoer die NGK se besluit oor eengeslaghuwelike is nie ’n private kwessie soos wat die kerk dit in sy hofstukke stel nie.

Die huwelik is ’n statutêre instelling van die staat. Omdat die staat beslis het gay paartjies mag trou ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse (Wet 17 van 2006), moet die NGK hom daaraan onderwerp. Deur hulle te verbied om in die kerk van hul keuse te trou, is ’n skending van hul menseregte.

Adv. Schalk Burger SC, vir die NGK, het aangevoer die kerkbesluit skend nie gays se regte nie. “Dit staan hulle vry om by enige Christelike kerk aan te sluit wat die Bybel soos hulle vertolk of om hul eie kerk te begin.”

Die NGK se algemene sinode het in 2015 met ’n geskiedkundige besluit bepaal kerke kan self kies of hulle gay-verhoudings erken, gay paartjies mag trou en gay predikante wil aanstel.

Dié besluit is in 2016 op ’n spesiale sitting van die sinode vervang.

Die kerk se beleid sedertdien is dat gays en lesbiërs deel mag wees van die kerk mits hulle nie onder sensuur geplaas is nie en selibaat lewe.

Verder sal ’n gay persoon net toegelaat word om ’n dominee te word mits hy of sy selibaat lewe. Predikante word ook nie toegelaat om paartjies van dieselfde geslag in die huwelik te bevestig nie.

Die NGK hou wel by sy 2015-besluit dat hy alle mense van gelyke waarde ag, ongeag hul seksuele oriëntasie.

Gauntlett het aangevoer die kerk het nie sy eie reëls behoorlik gevolg met die herroeping van sy vorige besluit nie.

Burger het daarop geantwoord dat die spesiale sinode nie die 2015-besluit herroep het nie, maar ’n nuwe besluit geneem het.

Daar is geen beperking in die kerkorde oor hoeveel keer die sinode oor ’n kwessie – in dié geval eengeslagverhoudings – mag besluit of debatteer nie.

Intussen het die Vereniging van SA Kerke se Onafhanklikheid (Adacsa) toegetree tot die saak as vriend van die hof.

Dit is in reaksie op die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KVG), wat die hof gevra het om te beslis geen kerk of geloofsgroep mag vir of teen eengeslagverhoudings besluit nie.

Sou die hof in die KVG se guns beslis, sal dit beteken kerke kan gedwing word om ’n geloofsleer te aanvaar wat dalk indruis teen hul geloofsoortuigings en vertolking van die Bybel, sê Adacsa.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui