Tanya van Wyk: Kyk uit vir dié platejoggie as hy begin preek

Kyk Mans sal nooit kan geboorte skenk (Conrad Van Goodwood, 25 Okt 2023) wat kommentaar lewer op hierdie artikel.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Tanya van Wyk: Kyk uit vir dié platejoggie as hy begin preek | Netwerk24

Tanya van Wyk

18 Oktober 2023

Onlangs word ek vertel van ’n predikant wat op ’n Sondagoggend die kansel gebruik het om teen aborsie en homoseksualiteit – in een preek – te protesteer. Ek het ongelukkig al dikwels sulke verhale gehoor.

Dit laat my altyd dink aan platejoggies wat op partytjies hul eie gunstelingliedjies speel. ’n Toptien-trefferlys. Die platejoggie speel daardie trefferlys, ongeag of dit vir ’n gehoor is wat klassieke musiek ken of rock-musiek verkies. Dalk verstaan die gehoor nie die taal van die liedjies nie, maar die platejoggie bly dit speel. En as daardie tien treffers klaar gespeel is, dan is die platejoggie se repertoire sommer op. Klaar.

Dit laat my dink aan ’n student wat eendag ná afloop van ’n lesing na my toe kom en vir my sê dat hy nou geluister het na alles wat ek gesê het, maar hy wil net asseblief beklemtoon: Sonde is verkeerd.

Die lesing het gehandel oor die kerk se belydenis van die Drie-enige God. Geen woord oor sonde het ter sprake gekom nie. My mond hang oop. Hoe het hy die kloutjie by die oor uitgebring? En hoekom die oordrewe beklemtoning van sonde?

In die predikant se gemeente wat dáárdie preek afgelewer het, is ’n gemeentelid wat gay is. Die predikant het al by die paartjie huisbesoek gedoen.

Ná afloop van die preek vra die betrokke gemeentelid vir die predikant: “Maar hoe dan nou?”

En die predikant antwoord: “Dit is niks teen jou nie (jy staan apart van die saak, en ek gee vir jou/julle om). Dit gaan hier oor die groter saak van homoseksualiteit.”

Die gemeentelid se mond hang oop. Myne ook, toe ek dit hoor. Hoe sien jy nie die mens raak nie wat reg voor jou staan? Wat elke Sondag in jou kerkgebou sit?

Dit is ’n asemrowende kortsluiting. In die meer as tien jaar wat ek ’n teologiese verstaan van menswees doseer, kom ek agter dat hierdie tipe kortsluiting nogal dikwels plaasvind as dit by die tema van menslike seksualiteit kom. Die tema verander dikwels hoogs intelligente mense wat wetenskap en komplekse teorieë gebruik om hul alledaagse werk te doen, in mense wat nie wil of kan dink nie. Skielik is daardie vermoë om verskillende tipes kennis te integreer, skoonveld.

In ’n opsig is dit nie vreemd nie. Dele van die Christelike kerk het oor ’n tydperk van meer as 1 000 jaar oor menslike seksualiteit ’n tipe obsessie ontwikkel (van Augustinus tot by Thomas Aquinas). Dit het veroorsaak dat ’n stuk wettisisme oor seksualiteit in geloofskringe na vore getree het. Dit is jammer. En hartseer.

Een van die Christelike kerk se kernbelydenisskrifte, die Heidelbergse Kategismus, stel dat geloof uit vertroue én kennis bestaan. Dit beteken dat geloof nie wetenskap en kompleksiteit uitsluit nie. Hoe vind ons dan ons pad terug na daardie integrasie?

• Van Wyk is medeprofessor in sistematiese teologie aan die Universiteit van Pretoria. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Nog ‘n bewys dat die universiteite se teologiese skole nie vertrou kan word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui