Sowat 80 gemeentes van NG Kerk doleer

*****

Sowat 80 gemeentes van NG Kerk doleer | Netwerk24

Deur Arisa Janse van Rensburg

15 September 2021 18:39

“Selfs as daar net een gemeente was, is dit een te veel,” sê die NG Kerk oor die sowat 80 gemeentes wat tans doleer.

Die NG kerk Tsumeb in Namibië se naam is Dinsdag bygevoeg by die lys van 79 gemeentes wat doleer (treur oor ’n besluit).

Die gemeentes verskil met en treur oor die NG Kerk se algemene sinode (AS) se besluit om ruimte te skep vir selfdegeslagverhoudings en -huwelike in die kerk wat in 2019 geneem is.

[Kommentaar: Let wel dat dit nie die enigste rede is nie. Dit is weens ’n reeks van skokkende insidente en besluite die afgelope twintig jaar – kyk Skokkende geskiedenis van die NG Kerk sedert 2000.]

Die AS word ook van dwaalleer beskuldig en dat dit nie meer Skrifgetrou is nie.

Dit is ook van die redes wat Tsumeb in die brief aanvoer waarin hy amptelik doleer.

“Ons treur oor die algemene sinode wat vir jare reeds ’n stelselmatige, doelgerigte afwatering, ontheiliging en minagting van God se Woord aanvoor en toelaat. Dit het gekulmineer in (maar is nie beperk nie tot) die onhoudbare besluite van die AS 2019 wat selfdegeslagverhoudings nie net goedkeur nie, maar ook voorsiening maak dat dit kerklik geseën kan word,” lui die brief.

Dit is op die Kairos Netwerk se webtuiste gepubliseer.

Kairos is kort ná die besluit oor selfdegeslagverhoudings gevorm as ’n netwerk waar behoudendes mekaar kan ondersteun en lei in hul besluite oor ’n toekoms binne die NG Kerk.

Dr. Anton Knoetze, Kairos se voorsitter, het Woensdag aan Netwerk24 benadruk dat gemeentes steeds self besluit om te doleer, al dan nie, en dat Kairos slegs in ’n “ondersteunende rol” optree.

Knoetze sê daar is na sy wete al meer as 80 gemeentes wat doleer, maar hy kon nie teen druktyd aan Netwerk24 ’n lys hiervan verskaf nie.

Kairos het voorheen gesê hy beplan om teen die einde van die jaar gesprekke af te handel en teen volgende jaar ’n werkbare sinode van behoudendes binne die NG Kerk te vorm.

Knoetze sê Kairos se bestuur hou Maandag ’n vergadering om die toekoms te bespreek.

Intussen sê dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, dat die dolerende gemeentes die kerk “tot hartseer stem”.

False doctrine cries the loudest about unity. Listen carefully when you hear the cry for unity because it may be the cover of false doctrine encroaching. ~ John MacArthur

“Selfs as daar net een gemeente was, is dit een te veel. Die NG Kerk plaas die eenheid van die kerk van Jesus Christus voorop, belangriker as enige verskille.”

Volgens hom is daar meer as ’n duisend gemeentes in die NG Kerk, “maar dit is moeilik om ’n spesifieke getal te bepaal”.

Hy sê dolering is ’n “komplekse proses” omdat nie almal in ’n gemeente wat doleer noodwendig saamstem met die besluite wat deur die kerk se leiers geneem is nie.

“Die ironie is dat huidige dolerende gemeentes in die NG Kerk-konteks ontevrede is omdat die sinode gesag oor die saak van selfdegeslagverhoudings afwentel na kerkrade en nie van bo af vir kerkrade wil voorskryf nie,” sê Claassen.

Dit stel, met ander woorde, kerkrade in staat om self te besluit of hulle selfdegeslagverhoudings goedkeur en huwelike wil uitvoer, al dan nie.

[Kommentaar: Dit is steeds ’n probleem. Hoe kan ’n kerk ruimte maak om sondige praktyke te bedryf in die kerk?]

Claassen sê die NG Kerk hanteer dolerende gemeentes nie soos “afskeiers, skeurmakers of rebelle” nie, maar wil op ’n kerklike wyse:

  • Met luister, liefde en begrip versoenende gesprekke lewend hou;
  • Die eenheid van die kerk van Jesus Christus voorop plaas, wat belangriker as onderlinge verskille is. “Wat ons saambind, is baie belangriker as waar ons van mekaar verskil.”; en
  • Die regte en voorregte van dié gemeentes respekteer en hulle aanmoedig om ook hul verantwoordelikhede na te kom.

1 thought on “Sowat 80 gemeentes van NG Kerk doleer”

  1. Ek moes onder dwang my uit die Monumentpark Wes NG Gemeente onttrek nadat genoemde gemeente se kerkraad weier om ‘n besluit oor die kontensieuese saak oor enkelgeslaghuwelike en prosesse in ons gemeente te neem. Daarop het ‘n brugpredikant hieroor in ons gemeente op ‘n Sondag kom preek en my met my konserwatiewe gedrag, by name en met verwysing na my in die kerk banke, ten aanskoue van die gemeente, in sy preek as ‘n voorbeeld in die NG kerk voorgehou as die rede waarom die wereld vir ons lag. Ek het die behoefte om by ‘n aksie ten opsigte van die doleringsproses betrokke te raak. Hartlike groete. Louis Smuts.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui