NG Kerk kap na Kairos oor ‘leuens en verdagmaking’

In die volgende artikel word berig dat die dagbestuur van die NG Kerk se algemene sinodale moderamen (ASM) die Kairos Netwerk van verdagmakery beskuldig. Dit is waarskynlik na aanleiding van die FGG byeenkoms van 21-22 Julie:

‘n Mens hoef niks meer hierop te antwoord as wat gesê is toe Die Strand-gemeente van verdagmakery beskuldig is toe hulle gedoleer het nie:

*******

NG Kerk kap na Kairos oor ‘leuens en verdagmaking’ | Netwerk24

Outeur onbekend

17 Augustus 2022

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) het vir die eerste keer skerp gereageer teenoor die Kairos-netwerk, ’n behoudende groep wat dreig om oor selfdegeslagverhoudings van die kerk weg te breek.

Die dagbestuur van die moderamen van die NGK verwys in ’n sterk bewoorde verklaring na die “verdagmaking, dreigemente en talle valse bewerings” wat oor die Kerk gemaak word en na die “wanvoorstellings” wat oor die besluite van die algemene sinode oor selfdegeslagverhoudings gemaak is.

Die algemene sinode se moderamen sê ten spyte daarvan dat die kerkorde nie voorsiening maak vir drukgroepe nie, het hy met welwillendheid uitgereik na die Kairos-netwerk, “wat die integriteit van die Kerk as gemeenskap van gelowiges op ’n nie-kerkordelike wyse met verdagmaking en drukgroepvorming ernstig aangetas het”.

“Dit het stelselmatig geblyk dat hul besware veel verder as die NG Kerk se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings strek. Hulle skaar hulle daarom by kerke en groeperinge wat totaal anders dink oor kwessies wat vir die NG Kerk prinsipieel belangrik is,” lui die verklaring.

Die lede van die dagbestuur van die NGK se algemene moderamen sê op talle terreine maak die Kerk ’n lewegewende verskil en word miljoene mense se lewens daardeur geraak.

“Ons is ook dankbaar oor bedieninge en versorging wat dwarsdeur die Covid-pandemie volgehou is en nou ’n nuwe seisoen ingaan. Ons wil dankie sê aan leraars, kerkrade en lidmate wat hul roeping gehoorsaam bly vervul.”

Die Kerk het egter ook oor die laaste jare interne verdeeldheid beleef.

“ ’n Vreemde taal van verdagmaking en dreigemente het in die Kerk opgeklink en die versoeningsboodskap wat Christus aan ons opgedra het, in die gedrang gebring. In die proses is talle valse bewerings gemaak, soos dat die NG Kerk haar belydenis oor die Persoon, werk en opstanding van Christus versaak; en dat ons nie meer ernstig oor die Bybel as Woord van God is nie.”

Wanvoorstellings is ook oor die besluite van die algemene sinode oor selfdegeslagverhoudings gemaak. Die waarheid is dat die algemene sinode nie in 2019 ’n beginselbesluit ten gunste of teen selfdegeslagverhoudings geneem het nie.

Die NGK se verbintenis aan God se Woord spreek uit hoe dit Sondag vir Sondag in gemeentes bedien word. Dit spreek ook uit hoe die Kerk sover terug as die 1980’s “haar ontworstel het aan ’n apartheidsteologie, rassisme as sonde bely het, die gelykwaardigheid van alle mense voor God erken het, en vroue tot alle ampte in die Kerk en dooplidmate by die Nagmaaltafel toegelaat het”, sê die dagbestuur.

“Hierdie standpunte van die sinode het deel geword van ons getuienis en identiteit, en kan nie sommer net goedskiks prysgegee word nie. Die NG Kerk is immers daartoe verbind om in ’n uitdagende tyd en ontwikkelende wêreld gehoorsaam aan Christus, die Here, te wees en nie weg te skram van moeilike vraagstukke en omstandighede wat onreg en lyding veroorsaak nie.”

Die antwoord vir hul verskille lê nie in kortsigtige, kerkregtelike afwykings van die kerkorde en die kerkbegrip wat dit verteenwoordig nie. Dit lê in verdraagsaamheid en eensgesindheid, lui die verklaring.

“Ons is oortuig dat daar binne die verband van die NG Kerk genoegsame ruimte is om opreg met mekaar te kan praat, in die hart van ons belydenis mekaar te vind en waar daar verskille is, met respek en deernis op weg te gaan.

“Vir skeurmakery is daar egter nie in die Kerk van Christus plek nie. Vandaar ons oproep om na mekaar te bly luister en te leer, om saam te bid en te werk sodat ons heling mag vind en God saam sal verheerlik.”

1 thought on “NG Kerk kap na Kairos oor ‘leuens en verdagmaking’”

  1. Afgevaardigdes van Kairos Netwerk behoort die dagbestuur van die NG Kerk se moderamen uit te daag tot ’n openbare debat. Kairos word deur hulle beskuldig van bepaalde wanvoorstellings, skeurmakery, ens. Nêrens meld hulle wat Kairos se spesifieke besware is nie. En dit word met ’n baie spesifieke doel verswyg. As hulle die moed van hulle oortuigings het, behoort hulle die geleentheid aan te gryp om Kairos Netwerk te ontmasker oor sy skeurmakery. Debat moet gevoer word oor die kern van die saak, nl. die NGK se ‘nuwe’ teologie en onbybelse bediening. Daar is mos talle voorbeelde daarvan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui