Leiers vra: Kom ons bly luister en leer

In antwoord op hierdie verklaring kan ’n mens bloot weer sê wat gesê is toe Die Strand-gemeente van verdagmakery beskuldig is. Kyk Verdediging van Die Strand se sewe aantygings (Julie 2021).

*******

Leiers vra: Kom ons bly luister en leer | Kerkbode

Kerkbode

16 Augustus 2022

“Die antwoord vir ons verskille lê nie in kortsigtige kerkregtelike afwykings van die Kerkorde en die kerkbegrip wat dit verteenwoordig nie,” luidens ’n verklaring wat deur die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinode uitgereik is. “Dit lê in verdraagsaamheid en eensgesindheid.”

Lees die volledige verklaring hieronder.

VERKLARING VAN DIE DAGBESTUUR VAN DIE NG KERK (ALGEMENE SINODE)

Ons, die lede van die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen, is opgewonde en dankbaar oor die toewyding en dankbaarheid waarmee die NG Kerk in al sy gestaltes die Here dien. Op talle terreine maak die kerk ’n lewegewende verskil en word miljoene se lewe daardeur geraak. Ons is ook dankbaar oor bedieninge en versorging wat dwarsdeur die Covid-pandemie volgehou is en nou ’n nuwe seisoen ingaan. Ons wil dankie sê aan leraars, kerkrade en lidmate wat hulle roeping gehoorsaam bly vervul.

Die kerk het egter ook oor die afgelope jare interne verdeeldheid beleef. ’n Vreemde taal van verdagmaking en dreigemente het in die kerk opgeklink en die versoeningsboodskap wat Christus aan ons opgedra het in die gedrang gebring. In die proses is talle valse beweringe gemaak, soos dat die NG Kerk haar belydenis oor die Persoon, werk en opstanding van Christus versaak; dat ons nie meer ernstig is oor die Bybel as Woord van God nie; die realiteit van die Bose en boosheid in en rondom ons ontken; dat ons die ingrypende aard van sonde en gebrokenheid en daarom ook ons nood aan verlossing geringskat.

Wanvoorstellings is ook gemaak oor die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings. Die waarheid is dat die Algemene Sinode nie in 2019 ’n beginselbesluit geneem het ten gunste of teen selfdegeslagverhoudings nie. Die prosesbesluit wat geneem is, het die gereformeerde beginsel gehandhaaf dat gemeentes selfstandig besluite kan neem oor etiese sake, in hierdie geval oor selfdegeslagverhoudings. Gemeentes het trouens nog altyd besluit oor wie in hulle ampte dien en hoe lidmate pastoraal versorg, begelei en bedien word.

Die Moderamen het sedert 2019 by verskeie geleenthede met sinodes in gesprek getree wanneer hulle dit versoek het. Die gesprekke is telkens met deernis gevoer en het gelei tot verheldering. Die Algemene Sinode Moderamen het desondanks die feit dat ons Kerkorde nie voorsiening maak vir drukgroepe nie, ook welwillend uitgereik na die Kairos Netwerk wat op ’n nie-kerkordelike wyse die kerk as gemeenskap van gelowiges se integriteit met verdagmaking en drukgroepvorming ernstig aangetas het. Dit het stelselmatig geblyk dat hulle besware veel verder strek as die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings. Hulle skaar hulle daarom tans by kerke en groeperinge wat oor talle kwessies wat vir die NG Kerk prinsipieel belangrik is, totaal anders dink.

Die NG Kerk se verbintenis aan God se Woord spreek uit hoe dit Sondag vir Sondag in gemeentes bedien word. Dit spreek óók uit hoe die kerk sover terug as die 1980’s haar ontworstel het aan ’n apartheidsteologie, rassisme as sonde bely het, die gelykwaardigheid van alle mense voor God erken het, vroue tot alle ampte in die kerk en dooplidmate by die Nagmaalstafel toegelaat het. Hierdie standpunte van die sinode het deel geword van ons getuienis en identiteit en kan nie sommer net goedskiks prysgegee word nie. Die NG Kerk is immers daartoe verbind om in ’n uitdagende tyd en ontwikkelende wêreld gehoorsaam te wees aan Christus, die Here, en nie weg te skram van moeilike vraagstukke en omstandighede wat onreg en lyding veroorsaak nie.

As kerk is ons dankbaar vir die deeglike teologiese opleiding van ons voornemende predikante in vennootskap met geakkrediteerde akademiese instellings waarby ons oop deure het. Die onderskeie kuratoria is in openhartige gesprek met sinodes en belanghebbendes hieroor en is verbind tot deursigtigheid en leerbaarheid.

Ons het met dankbaarheid kennis geneem van die moeite wat die tien sinodes, ringe en gemeentes doen om in hierdie tyd almal te help om Christus se wil vir sy kerk te onderskei en die talle geleenthede en ruimtes wat ons kerkorde bied, te benut om saam kerk van Christus te wees. Die antwoord vir ons verskille lê nie in kortsigtige kerkregtelike afwykings van die Kerkorde en die kerkbegrip wat dit verteenwoordig nie. Dit lê in verdraagsaamheid en eensgesindheid.

Ons is oortuig dat daar binne die verband van die NG Kerk genoegsame ruimte is om opreg met mekaar te kan praat, in die hart van ons belydenis mekaar te vind en waar daar verskille is, met respek en deernis op weg te gaan. Vir skeurmakery is daar egter nie in die Kerk van Christus plek nie. Vandaar ons oproep om na mekaar te bly luister en te leer, om saam te bid en te werk sodat ons heling mag vind en God saam sal verheerlik.

Die Dagbestuur van die Moderamen

Nederduitse Gereformeerde Kerk

12 AUGUSTUS 2022

1 thought on “Leiers vra: Kom ons bly luister en leer”

  1. Maar julle bly luister maar julle leer nie……….n leraar wat nie die woord verkondig nie is n valse Leraar

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui