Kyk ook:
Die volgende is versprei na aanleiding van die kwessies rondom Bethulie-gemeente se predikant.
**********
‘n Mededeling aan die Bethulie-gemeenskap
5 November 2025
Agtergrond, huidige stand van sake en die pad vorentoe
INLEIDING
Die afgelope tyd het daar heelwat gesprekke en onsekerheid in die Bethulie-gemeenskap ontstaan oor die gebeure rondom die voormalige NG Kerk Bethulie, die gemeente se besluit om alle verbintenisse met die NG Kerkverband te beëindig en voortspruitende die daaropvolgende hofgeding.
Hoewel baie inwoners bewus is van die gebeure, is die agtergrond en die redes vir die gemeente se besluite nie noodwendig aan almal bekend nie.
Die Dagbestuur van Bethulie Gemeente ag dit daarom nodig om die gemeenskap op ‘n verantwoordelike en gebalanseerde wyse oor die verloop van gebeure, die gemeente se standpunt en die huidige situasie in te lig.
Ons doen dit nie met die bedoeling om verdeeldheid te bevorder of ‘n openbare debat te voer nie, maar om groter begrip vir die gemeente se besluitneming en huidige posisie te skep.
- DIE AGTERGROND: ‘N GESKIL OOR GELOOFSOORTUIGINGS
Die verskille tussen die destydse NG Kerk Bethulie en die meerdere vergaderings van die NG Kerk het reeds in 2020 na vore gekom.
Die kern van die geskil was die teologiese rigting waarin die NG Kerk beweeg het, onder meer ten opsigte van die sogenaamde Ruim Huis-standpunte en bepaalde wysigings aan die kerkorde.
Bethulie se besorgdheid was dat hierdie ontwikkelinge die gesag van die Heilige Skrif en die grondliggende betekenis van die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisgrondslag van die Gereformeerde geloof sou relativeer.
Dit was dus nie bloot ‘n verskil oor kerklike bestuur of organisatoriese aangeleenthede nie, maar ‘n wesenlike besorgdheid oor die teologiese identiteit en geloofsgrondslag waarop die gemeente sy bediening wou voortsit.
- DIE VERDERE GESKIL IN 2025
In 2025 het ‘n verdere geskil ontstaan rondom die optrede van die Ring van Smithfield teenoor Bethulie se leraar, Ds. Nel.
Die aangeleentheid het betrekking gehad op beweerde gebeure uit ‘n voorafgaande dienstydperk in ‘n ander geografiese gebied, buite die operasionele gebied van die Ring van Smithfield.
Volgens dokumentasie waaroor Bethulie beskik, het die vorige gemeente en die Ring van Dordrecht vooraf skriftelik bevestig dat daar geen sake teen die leraar aanhangig of hangende was wat op enige kerklike wangedrag dui nie. (Onder andere op daardie grondslag en feite deur die NGK se eie kerkstrukture is Ds. Nel aangestel en ook deur die ring voorsitter van Smithfield ingehuldig, wie se taak dit ook was om seker te maak en goed te keur en te bevestig dat die Barkly-oos Gemeente en die Ring van Dordrecht se “getuigskrifte” (aktes van demissie) in orde was. Nieteenstaande, in Februarie 2025 word die kerkraad van Bethulie vir die eerste keer ingelig dat daar ‘n tugsaak teen hulle predikant is wat reeds in proses geplaas is deur die ring in November 2024 minder as twee maande na Ds. Nel se aanstelling en onbevlekte akte van demissie wat uitgereik was. Dit was uiteraard nie aanvaarbaar vir Bethulie nie.
Die saak is nie daar gelaat nie en die aangeleentheid is in April 2025 amptelik tydens die Ringsvergadering van Smithfield ter tafel gelê vir remedie en regstelling. Besluite is daaroor geneem en ‘n onderneming is deur die vergadering gegee dat die besluite uitgevoer sou word.
- Die ring het in die eerste plek Bethulie se kerkraad doelbewus ignoreer en oningelig gehou vir maande. Sodoende is die kerkraad doelbewus uitgesluit van enige deelname aan ʼn leraar in sy diens wat aangekla word van onbekende sake buite die sinode, ring en sinode van die Vrystaat. Daarby word kommunikeer dat die lede van die tugkomitee uit ander streke as die Vrystaat kom – selfs uit Namibië wie nie meer deel van die kerkverband was nie.
- Die vermeende valse verklarings en uitreiking van demissie van beide Barkly-Oos en die Ring van Dordrecht is onbevraagteken gekondoneer en net aanvaar. In optrede is die president wat bestaan het van ʼn vorige geval uit die verlede (van ʼn steeds dienende leraar binne die ring ook aangekla was en die ring het toe op gronde van skoon demissie, soos in hierdie geval so ʼn tugproses van die hand gewys.
- Die kerkraad van Bethulie win gevolglik kerkreg advies sowel as arbeidsreg advies in en versoek ds. Nel (onder opdrag) om nie aan die tugproses deel te neem nie. Dit sou strydig wees met die ooreengekome besluite van die April ringvergadering ingevolge waarmee die meriete en geldigheid van ʼn tugsaak beredder sou word.
Die meerdere vergaderings het egter daarna nie die betrokke besluite waartoe ooreengekom is tot uitvoering gebring nie. Ds. Nel is skuldig bevind en van sy ampsbevoegdheid gestroop.
Bethulie het, by die ring se gebrekkige optrede, ten einde die saak te beredder, gevolglik in Mei 2025 as ʼn verdere desperate poging die verteenwoordigers van die meerdere vergaderings na ‘n spesiale kerkraadsvergadering genooi met die doel om die bedenklike aangeleentheid te bespreek en ‘n oplossing te probeer vind.
Tydens hierdie vergadering is dit aan Bethulie gestel dat die meerdere vergaderings verwag dat die gemeente sy leraar moet afdank, ongeag wat die arbeidsregtelike gevolge en Bybelse etiek van so ‘n opdrag inhou.
Bethulie het daarop gewys dat die versuim om die besluite van die amptelike Ringsvergadering uit te voer, die gemeente ontneem van kerkregtelike kanale en tesame met die reeds bestaande teologiese verskille sedert 2020, die gemeente voor ‘n ernstige besluit plaas vir voorgesette verband met die NG Kerk denominasie.
Die kerkraad het dit duidelik gestel dat die gemeente, indien die kerklike geskille nie langs die bestaande kerkordelike kanale opgelos word nie, sy lidmate oor die situasie sou moes besin en ‘n mandaat van hulle verkry word oor die toekomstige kerkverband en voortsetting van die bediening te Bethulie.
- DIE GEMEENTE SE BESLUIT: 31 AUGUSTUS EN 2 SEPTEMBER 2025
Op 31 Augustus 2025 het die gemeente tydens ‘n formele stemproses oor sy toekomstige kerkverband besluit.
Die stemproses is onder toesig en beheer van onafhanklike geoktrooieerde rekenmeesters uitgevoer.
Die uitslag was ‘n duidelike mandaat aan die kerkraad om van die NG Kerk-verband te disassosieer. Meer as twee derdes van die stemgeregtigde lidmate het die besluit gesteun.
Dit was dus nie ‘n besluit van enkele kerkraadslede of ‘n klein groepie lidmate nie, maar die resultaat van ‘n formele gemeentelike besluitnemingsproses insluitende inligtingsessies en skrywes, die uitslag wat tot ‘n meer as volstrekte meerderheid van twee derdes gelei het.
Op 2 September 2025 het die kerkraad uitvoering aan hierdie mandaat gegee en is die disassosiasie van die meerdere vergaderings van die NG Kerk formeel deurgevoer.
In ooreenstemming met die uitdruklike versoek van die verteenwoordigers van die meerdere vergaderings tydens die kerkraadsvergadering in Mei 2025, is daar ook besluit dat die naam NG Kerk Bethulie voortaan na Bethulie Gemeente verander. Dit het dan ook voldoen aan die uitdruklike versoek, in opdrag toon, deur die meerderevergadering verteenwoordigers tydens die vergadering gemaak dat Bethulie in enige disassosiasie proses, nie die “Nederduitse Gereformeerde” assosiasie vorentoe in sy naam gebruik nie.
Die gemeente het daarna amptelik gekies om sy bediening onafhanklik van die NG Kerk-verband voort te sit.
- DIE PAD SEDERT DIE DISASSOSIASIE
Sedert September 2025 het Bethulie Gemeente voortgegaan om sy onafhanklike kerklike identiteit en administratiewe status te vestig.
Dit het onder meer die nodige administratiewe en organisatoriese prosesse by die Aktekantoor, regeringsinstellings, munisipaliteite, banke en ander finansiële instansies behels.
Die gemeente het onverpoos voortgegaan om die Evangelie te bedien vanuit die ortodokse Gereformeerde gelooftradisie.
Die grondslag van die gemeente se geloof en bediening bly:
- Die gesag van die Heilige Skrif as hoogste norm vir geloof en lewe (Sola Scriptura).
- Die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisgrondslag.
- ‘n Kerkgrondwet wat hierdie geloofsoortuigings en die gemeente se onafhanklike kerklike karakter onderskryf.
Die gemeente se doel is om die Evangelie getrou, vry en doelmatig te verkondig en sy kerklike bediening binne hierdie geloofsgrondslag voort te sit. Nie net in geloofsverband nie, maar ook getrou aan die stigters van die gemeente en die geloofgemeenskap wat die voorsate vir meer as 160 jaar getrou bewaar en uitgebou het.
- DIE HUIDIGE HOFSAAK
Die disassosiasie het ongelukkig nie die kerklike geskil beëindig nie.
Die Ring van Smithfield en die NG Kerk Sinode het intussen ‘n vervolgingsaak in die Hooggeregshof teen Bethulie Gemeente aanhangig gemaak.
Die eise wat teen Bethulie Gemeente ingestel is, sluit onder meer die volgende in:
- ‘n Uitsettingbevel om die gemeente se leraar uit die pastorie te verwyder.
- ‘n Eis dat die eiendomme wat tans in Bethulie Gemeente se naam geregistreer is, aan die betrokke meerdere vergadering van die NG Kerk behoort.
Bethulie Gemeente beskou hierdie eise as ‘n ernstige bedreiging vir sy onafhanklike voortbestaan, eiendomsbelange en die voortsetting van sy bediening.
Die gemeente het daarom die nodige regsreëlings getref om sy belange in die hof te verdedig.
HJ Van Rensburg Prokureurs Ingelyf is as die gemeente se regsadviseurs en regspan aangestel om die saak te hanteer.
Die hofproses is tans onderweg en Bethulie Gemeente sal sy saak binne die regsproses stel. Die gemeente respekteer die regspraak en sal die uiteindelike beslissing van die hof eerbiedig.
- DIE MINDERHEIDSGROEP EN DIE KWESSIE VAN VERTEENWOORDIGING
Bethulie Gemeente erken dat daar, ondanks die duidelike meerderheidsteun vir die disassosiasie, steeds ‘n klein minderheid lidmate is wat nie met die besluit en die daaropvolgende veranderinge saamstem nie.
Na onbevestigde raming verteenwoordig hierdie groep ongeveer 5-7% van die geregistreerde lidmate.
Die gemeente het reeds direk met betrokke persone binne hierdie groepering kontak gemaak en gesprekke gevoer of in poging gegaan om die verskille te oorbrug.
Bethulie Gemeente beskik oor ‘n amptelike lidmaatregister wat jaarliks hersien word. Die gemeente se standpunt is dat die voormalige lidmate van NG Kerk Bethulie wat deur die formele besluitnemingsproses na Bethulie Gemeente oorgegaan het, steeds as lidmate van Bethulie Gemeente aangeteken staan, tensy hulle formeel bedank of hul lidmaatskap andersins beëindig het.
Intussen het ‘n klein groepie van die ontevrede persone kontak met die meerdere vergaderings van die NG Kerk behou. Twee predikante van die Ring besoek ook ongeveer tweeweekliks die Residentia (ouetehuis) om boodskappe en geestelike bediening te behartig.
Hierdie optrede word skynbaar onder meer voorgehou as ‘n aanduiding dat die voormalige NG Kerk Bethulie steeds voortbestaan en deur hierdie groep verteenwoordig word. Bethulie Gemeente is nie seker wat die status is wat voorgehou word nie maar dit kan ‘n uitvloeisel van ‘n wyk van die NG Kerk Rouxville wees wat bykomende bedieningswerk by Residentia uitvoer.
Bethulie Gemeente se standpunt is dat die formele gemeentelike mandaat van Augustus 2025 en die daaropvolgende besluit van die kerkraad die gemeente se huidige kerklike identiteit en besluit weerspieël.
Die bestaan van ‘n minderheidsgroep met ‘n ander siening verander nie die uitslag van die destydse formele stemproses nie.
- ‘N UITNODIGING TOT GESPREK EN VERSOENING
Ten spyte van die verskille en die huidige regsproses, bly Bethulie Gemeente verbind tot Christelike naasteliefde, respek en die strewe na versoening.
Die kerkraad is daarom van voorneme om enige voormalige lidmate wat steeds ongelukkig of onseker voel oor die gebeure en veranderinge, opreg uit te nooi om met die kerkraad in gesprek te tree. Andersins is die kerkraad van voorneme om so ‘n geleentheid te skep.
Daar is ruimte vir eerlike gesprekke waarin enige griewe, vrae of misverstande op ‘n ordelike en respekvolle wyse na vore gebring kan word.
Die bedoeling is nie om mense se besware gering te skat of hulle standpunte te ontken nie, maar om te kyk of enige oorblywende spanning of verdeeldheid op ‘n Christelike wyse hanteer en beredder kan word.
Ons glo dat verskille nie noodwendig tot permanente vervreemding hoef te lei nie.
- ‘N BOODSKAP AAN DIE BETHULIE-GEMEENSKAP
Bethulie Gemeente wil dit graag duidelik stel: Die besluit om van die NG Kerk-verband te disassosieer, was nie ‘n ligtelike of oorhaastige besluit nie.
Dit het gevolg op ‘n lang tydperk van teologiese verskille, kerklike gesprekke en pogings om die geskille binne die bestaande kerklike strukture op te los.
Die gemeente het uiteindelik, deur ‘n formele en oorweldigende meerderheidstem van sy stemgeregtigde lidmate, besluit om by sy oortuigings oor die gesag van die Skrif en die Gereformeerde belydenisgrondslag te bly.
Die gemeente se strewe is nie om verdeeldheid in Bethulie te veroorsaak nie, maar om sy geloofsoortuigings te handhaaf en die Evangelie op ‘n verantwoordelike, onafhanklike en volhoubare wyse te bly bedien.
Ons vertrou dat hierdie uiteensetting die gemeenskap sal help om die gebeure beter in perspektief te plaas en te verstaan waarom Bethulie Gemeente hierdie pad gekies het.
Bethulie Gemeente wil vorentoe kyk: getrou aan sy geloofsgrondslag, verbind tot sy bediening en met respek en welwillendheid teenoor die breër Bethulie-gemeenskap.
Ten slotte: Bethulie Gemeente het nie sy geloofsgrondslag verlaat nie; dit het juis besluit om daaraan getrou te bly, selfs al beteken dit dat die gemeente sy kerklike verband moes verander.
KERKRAAD
BETHULIE GEMEENTE