Kerke sê self oor homoseksuele

{jcomments on}

Kyk ook:

Die volgende artikel is gekopieer van Republikein (skakel).

*******

Kerke sê self oor homoseksuele

2007-06-08

DIE algemene sinode van die NG Kerk het gister ná ’n dooiepunt die vorige dag ’n beleid oor homoseksuele lidmate aanvaar wat behels dat gemeentes homoseksuele verhoudings sou kon goedkeur as hulle wou.

Homoseksuele gelegitimeerdes van die kerk sal egter net as predikante aanvaar word as hulle ’n selibate leefstyl beoefen. Dit beteken hulle mag nie ’n homoseksuele verhouding met ’n ander mens hê nie.

Sou kerkrade egter wou, kan hulle ouderlinge en diakens in homoseksuele verhoudings tot die ampte verkies.

Ds. Clem Marais, algemene sekretaris van die Namibiese sinode van die NG Kerk wat die algemene sinode se vergadering in Boksburg, Suid-Afrika, bywoon, sê die besluit oor homoseksuele is met 299 teen 66 stemme goedgekeur.

Ds. Marais sê dit is ’n wonderwerk ná die dilemma waarin die debat hom laat eergisteraand bevind het. Vanweë ’n dooiepunt is die tien moderators in die kerk versoek om indien nodig deurnag te werk om ’n “middelgrond” te vind wat die progressiewe en die behoudende standpunte binne die kerk oor dié kwessie met mekaar versoen.

Beeld berig op sy webwerf dat sommige waarnemers meen die NG Kerk het verstom deur met so ’n oorweldigende meerderheid ’n tegemoetkomende beleid teenoor sy homoseksuele lidmate te aanvaar.

Die standpunt wat gister aanvaar is, lui as volg:

  1. “Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
  2. “Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondbeginsel waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing van Christus is vir alle mense en die gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
  3. “Alle mense ongeag hulle seksuele oriëntering is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Lidmaatskap beteken toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderwerping aan die kerklike tug.
  4. “Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.
  5. “Die algemene sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  6. “Die algemene sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
  7. “Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die algemene sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
  8. “Die algemene sinode erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui