Hervormde kerk se appèl van hand gewys

Weereens ’n oorwinning aan behoudendes in die Hervormde kerk en moontlik help dit ook behoudendes in die NG Kerk in die toekoms…

*******

Hervormde kerk se appèl van hand gewys | Netwerk24

Arisa Janse van Rensburg

19 April 2022

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) sal hom nou tot die appèlhof in Bloemfontein wend met die hoop om die uitspraak oor kerkeiendom tersyde te laat stel.

Dit volg nadat die hooggeregshof Donderdag besluit het om sy aansoek vir verlof tot appèl met koste van die hand te wys.

’n Uitspraak in die saak tussen die NHKA en die afgestigte Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG) is ná tien jaar se litigasie in Maart vanjaar gelewer.

Dit het bepaal dat die 13 gemeentes van die GHG wat tussen 2010 en 2014 weggebreek het van die NHKA, regtens opgetree het toe hulle hul kerkeiendom oorgedra het aan verenigings wat hulle gestig het.

Die hof het beslis die oordrag van die eiendom was wettig omdat die eiendom in die gemeentes se naam was. Die NHKA kan as derde party geen insae in die ooreenkoms hê nie.

Dit beteken dat wegbreek-gemeentes wel hul eiendom kan behou as dit nie meer in die naam van die gemeente is nie.

Die hofstryd het gevolg ná die kerk se skeuring in 2012 weens die besluit om hom te distansieer van die teologiese regverdiging van apartheid.

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die kommissie van die algemene kerkvergadering van die NHKA, het Maandag bevestig die kerk gaan hom nou tot die appèlhof wend.

Van Wyk het uitgewys dat hy dit in belang van die kerk en ook van ander hoofstroom-denominasies doen.

“Dit is nie net die eiendomme wat reeds weg is wat die probleem is nie, maar daar is ook gemeentes wat in die toekoms geraak kan word. Die implikasies is enorm en dit kan die opsegging van die sinodale verband van alle hoofstroomkerke beteken,” sê Van Wyk en benadruk dat hulle nie lidmate van die kerk wil vervreem of verloor nie.

Hy sê dit is om dié rede dat die NHKA se litigasiekomitee aanhou met die saak.

Dr. Johan Otto, voorsitter van die GHG, sê hy is “teleurgesteld” in die NHKA se optrede.

Otto sê hulle het sedert die begin van die uittog tot 30 gemeentes gegroei.

Adv. Roelof du Plessis SC, die GHG se regsverteenwoordiger, meen die NHKA is “nie bekommerd oor siele nie, net oor kerkgeboue” en dat die NHKA bang is “die uitspraak beteken gemeentes gaan nou net hul goed vat en loop”.

Dit is onseker presies wanneer die aansoek by die appèlhof ingedien sal word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui