Grense en saambly (Doornkloof verklaring)

Onderstaande is deur die adviesspan van die NG Kerk Doornkloof in 2009 opgestel.  Dit het waarskynlik bygedra tot die besluit om die saamwoonkwessie op die Algemene Sinode van 2011 te bespreek, want dis onder andere (op oorwegend neerhalende wyse) op Kerkbode bespreek. 

Grense en saambly

Datum: 5 Oktober 2009

Die kwessie van saambly is ongelukkig so ’n algemene verskynsel in die hedendaagse samelewing dat enige Christelike kerk haar daaroor duidelik behoort uit te spreek. Alhoewel die strawwe in die Ou Testament nie vandag toepaslik is nie, en strafoplegging (meer as kerklike tugtiging) die bestaande landsregering se verantwoordelikheid is, kan ons vandag steeds uit onderstaande Skrifgedeeltes sien wat God se wil vir sy kinders is. Moontlike besware teen die Ou Testamentiese strawwe kan dus nie gebruik word om God se riglyne vir ons gedrag te ignoreer nie.

Voorhuwelikse seks, selfs tussen verloofdes, word in die Bybel sterk veroordeel:
Deut.22:21b: Sy moet sterf omdat sy ’n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met ’n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.
Hos.5:7a,b: Hulle was ontrou aan die Here, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Hy gaan hulle binnekort vernietig.
1 Kor.7:8 en 9: Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.
1 Kor.7:36: As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde (ou vertaling: maagd) onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie.

Let wel, Paulus se oplossing, soos gelei deur God, is nie om maar saam te bly nie, maar wel om te trou.

‘n Verwysing na Deut.22:21 vind ons ook tydens die gebeure by Jesus se geboorte:
Mat 1:18-25: Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees. En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei. Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.

Buitehuwelikse seks word sterk veroordeel:
Deut.22:22: Wanneer ’n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ’n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word. So moet jy hierdie soort kwaad tussen die Israeliete uitroei. 
Die daad is natuurlik sonde ongeag of die oortreders uitgevang word of nie.

Verkragting word so sterk veroordeel dat dit met moord vergelyk word:
Deut.22:25-28: Maar as ’n man ’n verloofde meisie in die veld raakloop en haar oorweldig en met haar gemeenskap het, moet net die man sterf. Die meisie moet ongestraf bly. Sy het niks gedoen wat die dood verdien nie, want in haar geval is dit soos wanneer ’n man iemand gryp en vermoor. Die verloofde meisie is in die veld raakgeloop, en sy het om hulp geroep, maar daar was niemand om haar te help nie. Wanneer ’n man ’n meisie wat nie verloof is nie, raakloop en haar gryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, vyf honderd en sewentig gram silwer aan haar pa gee en met haar trou. Hy het haar onteer en daarom mag hy nooit van haar skei nie.

In Gen.34 word ’n spesifieke voorbeeld bespreek waar Sigem vir Dina verkrag het, maar uiteindelik saam met al die mans in die stad doodgemaak is al het Sigem vir Dina liefgehad. Dis nie noodwendig so dat Dina se broers in hierdie geval reg opgetree het nie, maar die verkeerdheid van Sigem se optrede is duidelik.

Prostitusie of deelname net vir die genot of vir ervaring, word so sterk afgekeur dat dit met die dood vergelyk word:
Spr.9:14-18: Sy sit by haar voordeur, haar stoel staan op op die hoogste plek in die stad, en sy roep na dié wat verbykom, elkeen besig om sy gang te gaan (ou vertaling: die wat op hulle paaie reguit wandel): “Draai af hiernatoe, almal wat nog onervare is!” Sy sê vir dié wat kennis kortkom: “Gesteelde water is soet, kos wat stilletjies geëet word, is lekker!” Dié wat na haar luister, besef nie dat die dood self daar wag nie, dat dié wat hulle deur haar laat nooi het, klaar diep in die doderyk is nie. 
1 Kor.6:13b: ’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is.
1 Kor.6:18: Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam.

Pornografie is eweneens ’n vernietiger van mense se lewens — volgens die Bybel kan dit mens in die hel laat beland:
Mat 5:28-30: Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam in die hel gewerp word nie. 
Vrouens veral, het hier ’n besondere verantwoordelikheid in terme van hul kleredrag — uitlokkende kleredrag hoort eenvoudig nie by Christene in die openbaar nie.

Die Bybel gee selfs riglyne oor fisieke grense vir verhoudings voor die huwelik. Onderstaande is weliswaar in terme van beeldspraak waar Samaria en Jerusalem vergelyk word met twee prostitute, maar onbehoorlike betasting buite die grense van die huwelik word duidelik deur God afgekeur:
Esg.23:1-4: Die woord van die Here het tot my gekom: Mens, daar was twee dogters, dogters van dieselfde ma. Hulle was al onsedelik in Egipte, toe hulle jonk was. Dáár is hulle borste al betas, dáár, toe hulle nog jongmeisies (ou vertaling: maagde) was, is aan hulle borste gevat. Die oudste se naam was Ohola, en haar suster was Oholiba. Hulle het aan My behoort en hulle het seuns en dogters gehad. Ohola se naam was eintlik Samaria en Oholiba s’n was Jerusalem.

God stel heiligheid teenoor onsedelikheid:
Gal.5:19: Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, …
1 Tes.4:1-8: En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe. Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ’n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.

Natuurlik verbied God nie fisieke intimiteit nie — Hy het dit immers geskep — en nie net vir voortplanting nie, maar ook om te geniet. Die boek Hooglied spel dit besonder duidelik uit, maar dis bedoel vir een man en een vrou — binne die huwelik.

Die gemeente NG Doornkloof versoek enigeen wat vasgevang is in enige vorm van onsedelikheid, saamblyery ingesluit, om in berou daarmee na die Here te gaan, al was dit ook net ’n eenmalige gebeurtenis lank gelede. Enigeen wat in opregtheid na Hom gaan, met die bedoeling om sy sonde te laat staan, sal vergewe word:
1 Kor. 6:10,11 : “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” 
Daar is ook predikante en opgeleide en ervare beraders (kyk onder Familiesorg/Oase/geestelike berading vir besonderhede) in die gemeente wat gekontak kan word om in die proses te help.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui