Valke bekyk ‘wanbesteding’ van R5,9 m. by kerk in Wes-Kaap

Valke bekyk ‘wanbesteding’ van R5,9 m. by kerk in Wes-Kaap | Netwerk24

Deur: Ané van Zyl

21 Oktober 2020

Die Valke in die Wes-Kaap ondersoek die “wanbesteding” van sowat R5,9 miljoen in die NG Kerk in die Wes-Kaap.

’n Werknemer van die Wes-Kaapse sinode word daarvan beskuldig dat sy verantwoordelik is vir die wanbesteding van die geld. Nadat dit aan die lig gekom het, het sy onmiddellik bedank.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, sê die wanbesteding het oor ’n tydperk plaasgevind en die kerk wil dit nie as diefstal of bedrog bestempel nie.

“Die finansiële kantoor van die NG Kerk in Wes-Kaapland het in Mei vanjaar vermoed dat ’n werknemer van die sinode geld van die sinode van Wes-Kaapland wanaangewend het,” sê die kerk in ’n verklaring.

“Ds. Bossie Minnaar, saakgelastigde, is onmiddellik op 21 Mei ingelig en die werknemer is nog dieselfde oggend met die feite gekonfronteer.

“Daarna het die werknemer onmiddellik bedank. Op advies van die NG Kerk in Wes-Kaapland se ouditkomitee is ’n firma met forensiese spesialiste (Mubesko Africa) aangestel om ’n volledige ondersoek te doen.”

Luidens die verklaring is die forensiese ondersoek voltooi en dit toon dat sowat R5,9 miljoen wanbestee is. “Gemeentes en predikante kan verseker wees dat hul geld veilig is.”

Die NG Kerk se pensioenfonds is ’n aparte entiteit van die Wes-Kaapse sinode. Dit is ’n pensioenfonds vir predikante van die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Al die gemeentes in die betrokke sinodes is deelhebbers van die fonds en daar is sowat 567 lede, luidens die fonds se webtuiste.

Janse van Rensburg verseker ook gemeentes dat die geld wat wanbestee is, nie uit hul bydraes aan die sinode kom nie. Hy kon nie bevestig of die sinode se reserwefonds betrokke is by die wanbesteding nie.

[Kommentaar: Nou watter ander bronne van inkomste het die NG Kerk?]

“ ’n Strafregtelike klag van diefstal is teen die werknemer by die polisie ingedien en die saak word tans deur die Valke ondersoek,” lui die verklaring.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke in die Wes-Kaap, het bevestig die saak word ondersoek, maar wou nie meer besonderhede gee totdat ’n arrestasie gemaak is nie.

’n Groot gedeelte van die geld kan glo teruggekry word.

3 thoughts on “Valke bekyk ‘wanbesteding’ van R5,9 m. by kerk in Wes-Kaap”

  1. Nelis “wil dit nie as diefstal of bedrog bestempel nie,” maar die geld is weg, maar “moenie worry nie”, ons kan darem daarvan terugkry.

    Waarom moet dit “teruggekry” word as dit nie gesteel of bedrieglik verduister is nie?

    Ja swaer, ons weet nou al dat sonde in die Wes-Laap mos nie meer sonde is nie…

  2. Stem saam met die vraagopmerking in rooi oor ’n sinode se bronne van inkomste.
    Waar kom sinodale geld andersinds vandaan as slegs uit die sinodale bydraes van lidmate via hulle kerkrade? Selfs al sou die “gesteelde” geld per oudit toon dat dit afkomstig is uit skenkings, beleggings of erflatings het sodanige inkomste geen ander oorsprong as uit die bydrae van lidmate, tensy die geld dalk as skenking uit een of ander buitekerklike – of ekumeniese bron afkomstig is om as teenprestasie een of ander agenda te dryf. Mens weet mos nie. Dankbaar oor die ondersoek wat die lug sal suiwer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui