Gay oog: Bog, twak en onsin

***********

Gay oog: Bog, twak en onsin | Rapport

2014-02-04 13:38

Willem Bakkes

Ons kan almal na iets kyk, maar verskillende goed raaksien. Dit is inherent aan die oog se interpretasie van waarna gekyk word.

As ek na ’n gay verhouding kyk sien ek onder andere liefde raak.

Kyk ek na die Bybel, sien ek ’n versameling boeke wat in één vertaling ingedwing is om die kerk se kanonieke agenda te vervul.

Ek sien dit raak, want my oog is geskool in die babiloniese tekskritiek waar mens die kleitablette nog langs mekaar kan sit en die verskillende tekste met hulle nate met mekaar kan vergelyk. Selfs in die vakwetenskap maak baie slim mense hulle skuldig aan die homogenisering van die teks, en die sogenaamde weeg en tel van teksgetuies. Ek glo egter dat hierdie prosedure slegs kanoniekvorming steun en die konstruksie van ’n superteks wat in elk geval nooit kon bestaan op enige gegewe punt in die antieke geskiedenis nie.

Daar is egter mense wat reken hulle kan uit so ’n gerekonstrueerde teks se vertaling uitsprake maak oor die goed of sleg van gay-wees. Dit is ’n mistasting van die eerste water. Die antieke teks het gewoon niks te vertelle oor ’n moderne gay verhouding nie, want so ’n gebeure kon die outeurs van die teks hulle eenvoudig nooit indink nie.

Dit is dus gewoon bog, twak en onsin dat mense meen dat die Bybelse teks duidelik en vanself spreek. So ’n standpunt laat gewoon geen ruimte vir komplekse kommunikatiewe struikelblokke nie.

Die feit dat mens die Bybel self kan lees bring nog geen “verstaan” nie. Ons kyk na dieselfde ding, maar sien verskillende goed raak.

Mense moet meer gewaarsku word teen die Bybel se kompleksiteit en die skoolboekies soos die BHS, en Nestle Aland-tekste waarop dit berus. Daardie boekies is van weinig nut in ernstige tekskritiek. Dit toon bloot aan dat ons nie te seker moet wees van ons tekslesing nie, maar dit voorsien glad nie genoeg konteks en agtergrond vir selfs die goeie wetenskaplike om ’n absolute uitspraak te kan maak nie.

Die tyd het gekom waar ons duidelik vir mekaar moet erken dat ons dikwels bloot nie weet wat die Bybel dan wil “sê” nie. Op daardie punt is die kommunikasie-stoornis so groot ons kan glad nie verstaan nie.

Ons moet eers op ons hoede wees vir die passasies in die Bybel waar ons dan reken ons maklik tot “verstaan” gekom het sonder veel inspanning. Juis dan is die moontlikheid eers groot dat ons misverstaan. Ons kyk na dieselfde ding maar sien totaal iets anders.

As jy dus weer vir my wil vertel dat sodomiete na my verwys reken ek selfs ’n oogtoets gaan jou nie veel help nie.

Begryp wel dat jy die teks in die Ou Testament heeltemal mislees. Daar was ’n stoornis in jou kommunikasieketting, en werk harder om te verstaan.

Die orakel van Google sal jou dalk genadig wees en meer perspektiewe na die tafel bring sodat die teks beter verteer en verstaan kan word.

Lees gerus ook biskop John Selby Spong se eksegetiese briljantheid en bring ’n nodige perspektief in jou leesstrategie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui