Die verhaal van die twee teoloë en die ruim huis

********

Die verhaal van die twee teoloë en die ruim huis

Ds Pieter Prinsloo

Baie lidmate van die NGK verstaan nie regtig waaroor die krisis binne die NGK gaan nie. Hierdie verhaal van twee NG teoloë sal hopelik bydra tot beter insig by leraars en lidmate oor sekere ontstelllende werklikhede binne die strukture van die NGK. Hierdie ware verhaal skets ‘n prentjie van die verskriklike glybaan waarop die NGK se ruimhuis-leierskorps die NGK probeer kry en hou.

Die twee teoloë

Die eerste teoloog het sterk getuig teen die ruimhuis-leierskorps se LGTBQI+ sentimente; die tweede teoloog het sterk getuig dat Jesus Christus nie werklik Theos (God) is nie. Vraag: Watter een van hierdie twee teoloë is volgens jóú die grootste gevaar vir ware godsdiens?

Dosente en leraars van die NGK se ruimhuis-leierskorps se reaksie op hierdie twee teoloë was ‘n openbaring oor wie hulle as die groot vyand beskou …

Die eerste teoloog en die ruimhuis-leierskorps

‘n Ontstelde, openbare petisie, deur dosente en leraars vanuit die ruimhuis-leierskorps se geledere, volg teen hierdie teoloog wat profeties waarsku teen kerkruimtes vir LGTBQI+ leefstyle. Die ruimhuis-leierskorps se pogings om hierdie teoloog in die openbaar te verguis, is goed gedokumenteer.

Met valse voorstellings en sinsverdraaiing was die betrokke teoloog geskilder as ‘n liefdelose, ongrondwetlike gevaar vir LGBTQI+ regte asook vir ‘n verdraagsame samelewing. Die openbare bohaai was groot uit hierdie ruimhuisgeledere, al was die betrokke teoloog nooit deur ‘n NG ring skuldig bevind aan onskriftuurlike gedrag nie!

Die tweede teoloog en die ruimhuis-leierskorps

Dosente en leraars uit die NGK se ruimhuisgeledere swyg egter vir minstens drie jaar soos die graf oor die ander teoloog waaroor ‘n student klagtes indien. Hierdie teoloog publiseer in 2019 ‘n artikel waarin hy ontken dat Jesus Theos (God) is. Teen 2019 het hy egter reeds vir talle jare openlik in klasse verkondig dat Jesus nie God is nie.

Genoemde student se klagtes teen hierdie teoloog sou uiteindelik eers in 2022 gedwonge optrede ontlok; hierdie tweede teoloog was immers geliefd binne die ruimhuis-leierskorps! Selfs nadat sy ring geen keuse gelaat word nie, en hy skuldig bevind word weens sy openlike ontkenning van die kern van die Christelike geloof, verkies die ruimhuis-leierskorps om die skuldigbevinding so stil moontlik te hou; geen openbare protes – soos in die geval van die eerste teoloog – of aandrang volg uit hierdie geledere dat ‘n dosent wat ontken dat Jesus Theos is, nie teologiese opleiding mag hanteer nie.

Tevergeefs het ontsteldes in die NGK gewag dat die toesighoudende kuratoriums daadwerklik moet optree teen ‘n fakulteit waar so ‘n dosent klasgee; slegs ‘n Pilatusgebaar kom uit hulle geledere: “Ons hande is afgekap want hy is ‘n staatswerknemer”.

Boonop: Daar word geen profetiese, eenparige verklaring deur die AS se Moderamen uitgereik om hulle skok uit te spreek dat sulke geloofsversakende lering bestaan by ons teologiese fakulteite nie; geen versekering word aan lidmate gegee dat ‘n deurtastende ondersoek na teologiese opleidingsentra gedoen sal word nie; geen verklaring word uitgereik (soos mens binne Skrifgetroue kerkstrukture sou verwag) dat die NGK bande gaan breek met ‘n instansie waar sulke dosente onverhinderd kan klasgee nie. Inteendeel gebeur iets wat die besorgdes sou kon voorspel …

Die ruimhuis-leierskorps reageer … en teiken eerder Potchefstroom as vir Stellenbosch

Die ruimhuis-leierskorps span teen hierdie agtergrond hulle groot kanonne in teen versoeke uit behoudende geledere dat die NGK eerder toekomstig gebruik moet maak van Potchefstroom se suiwer-Skriftuurlike teologiese opleiding. Die voorspelbare verdagmakery teen Potchefstroom deur die ruimhuisgeledere se leierskorps, volg: Potchefstroom diskrimineer kwansuis teen vroue (ongeag van die feit dat sekere NG vroueleraars met groot waardering kan getuig van hulle teologiese studiejare aan Potchefstroom), en Potchefstroom het kwansuis swak akademiese standaarde.

Die ruimhuis-leierskorps is onversetlik: Potchefstroom se teologiese opleiding is veel meer ongewens as Stellenbosch se teologiese opleiding, ten spyte daarvan dat Stellenbosch se dosente feitlik uitsluitlik progay sentimente verkondig; pro-ander-godsdiens-omarmingsentimente verkondig; Skrifgesagbevraagtekenende sentimente verkondig; asook voortgaande klasonderrig deur ‘n skuldigbevinde, Christusversakende dosent toelaat (sekere ander dosente is bloot nog net nie skuldig bevind nie!).

Byna dieselfde kan ook van Pretoria se teologiese fakulteit gesê word. Bloemfontein se pro-gay sentiment onder talle dosente is ook welbekend. Die woord vanuit ruimhuisgeledere is duidelik: die behoudende Potchefstroom is die vyand; vertrou die liberale Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein!

Dink gerus ook na oor die volgende: waarom reageer die ruimhuis-leierskorps telkens met ontsteltenis oor sogenaamde “valse verdagmakery” jeens Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein, maar hulle is minstens gemaklik en dikwels selfs verantwoordelik vir valse verdagmakery van, en onbewysbare aantygings teen Potchefstroom?

Dit is tyd dat oningeligte leraars en lidmate kennis neem van die eensydige aard van die ruim huis.

Hierdie verhaal van twee teoloë leer belangrike lesse: die ruimhuis-geledere se leierskorps het meer ruimte vir valse teoloë as vir ongemaklike profetiese stemme. Die uiteindelike doelwit waarheen langsaam gehaas word, is immers volkome godsdienstige inklusivisme (elkeen se godsdienstige waarheid is reg al glo jy nie in die boodskap van die Bybel nie); die ruim huis sal daarom later gesluit word vir profetiese stemme wat getuig teen die groeiende golf van onskriftuurlike inklusiwiteit. Profetiese stemme teen ‘n onvoorwaardelike kerklike insluiting van LGBTQI+ leefpatrone sal daarom beslis nie meer ná 2030 geduld word binne die liberale ruim huis nie.

Tans word profetiese stemme binne die gekaapte ruimhuis-strukture slegs verdra omdat die subtiele indoktrinasie deur die ruimhuis-leierskorps nog nie gelei het daartoe dat die liberale groepering die volstrekte meerderheid in NG geledere het nie. Intussen wag hulle geduldig dat hulle gifteologie langsaam verder versprei in die bloedstroom van die NGK.

Martin Luther King se woorde in ‘n ander konteks, is vandag meer as ooit relevant vir diegene wat kennis neem van hierdie krisis, maar nie profeties opstaan daarteen nie: “History will have to record that the greatest tragedy of this period of social transition was not the strident clamor of the bad people, but the appalling silence of the good people. Injustice anywhere is a threat to justice everywhere. We are caught in an inescapable network of mutuality, tied in a single garment of destiny. Whatever affects one directly, affects all indirectly. He who passively accepts evil is as much involved in it as he who helps to perpetrate it. He who accepts evil without protesting against it is really cooperating with it”.

1 thought on “Die verhaal van die twee teoloë en die ruim huis”

  1. Baie Tragies. Die NGK is gekaap deur die liberales en niemand kan dit meer ontkaap nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui