Vanwaar die kerk se obsessie met seks?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Vanwaar die kerk se obsessie met seks? | Netwerk24

Hardus Borckenhagen, Bloemfontein

05 September 2023

Ek vra weer: Wat is die morbiede obsessie wat die kerk steeds het met seks? Die gedurige inmenging in die privaatheid van die slaapkamer?

Want die Bybel sê so?

Hoekom verval godsdiens so maklik in moraliteit en moraliteit weer in seks?

Dalk gee die gedurige obsessie met seks ’n gevoel van morele meerderwaardigheid, ten koste van ander.

Wanneer mense die Bybel aanhaal om hul standpunt te steun, beskou hulle dit as God se ondersteuning van hul standpunt. Hulle wil hê God moet verantwoordelikheid neem vir hul interpretasie, want hulle glo dit kom van God.

Ek wonder net of diegene wat so kerm oor gays hul Bybelstudieklasse gemis het.

Want ten minste wat betref Bybelse huwelike het hulle dit heel verkeerd.

Om dus ons Grondwet aan te pas by die Bybelse siening van huwelike, onder meer die volgende:

  1. Huwelike in Suid-Afrika sal wees tussen een man en een of meer vroue (Gen. 29:17-28; 2 Sam. 3:2-5; Matt. 25:1);
  2. ’n Huwelik sal nie ’n man verhoed om bywywe te neem as toevoeging tot sy bestaande vrou(e) nie (2 Sam 5:13; 1 Kon 11:3; 2 Kron 11:21);
  3. ’n Huwelik sal slegs geldig wees as die vrou ’n maagd is. As sy nie ’n maagd is nie, sal sy gedood word (Deut 22:13-21);
  4. Aangesien ’n huwelik permanent is, sal geen sekulêre wet egskeiding toelaat nie (Deut 22:19; Mark 10:9);
  5. Koop ’n stukkie grond en kry ’n vrou as deel van die koop (Rut 4:5-10);
  6. Moenie kieskeurig wees nie. Verhoog kwaliteit met kwantiteit! Salomo en 1 Kon 11:1-3); ens., ens., ens.

Sola scriptura!

Kommentaar

Daniel Louw

Hardus is baie moedswillig. Dit is baie duidelik dat hy net uit is om te kritiseer.

Net eers ‘n paar algemene opmerkings:

Sekere wette in die Ou Testament was spesifiek gegee vir God se volk. Met Jesus se koms is dit egter afgeskaf.

Sekulêre regerings is natuurlik vry om van die Bybel af te wyk, maar dan moet hulle nie God se seën op die land verwag nie.

Om terug te kom na die ses punte hierbo:

1. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat die huwelik ‘n instelling is tussen ‘n man en ‘n vrou en nie tussen mense van dieselfde geslag nie. Kyk Die Bybel oor homoseksualiteit. Mense in homoseksuele verhoudings hoef nie tronk toe te gaan daaroor nie, maar hoekom is dit nodig dat hulle “huwelike” deur die staat erken word?

2. Alhoewel ‘n mens nie poligamie volgens die Bybel as sondig kan veroordeel nie, is dit vir baie voor die handliggende redes ‘n baie onpraktiese praktyk (kyk Die Bybel oor poligamie). Ek dink nie dat jy tronk toe kan gaan indien jy in Suid-Afrika meer as een vrou aanhou nie, maar hoekom moet regerings so ver gaan om poligame huwelike te erken?

3. Hierdie is ‘n voorbeeld van ‘n wet wat Jesus baie duidelik afgeskaf het in Johannes 8 toe Jesus die vrou wat owerspel gepleeg het vergewe het, maar ook vir haar gesê het om nie verder te sondig nie. Kyk ook Johannes 4 waar Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat het.

4. Die Israeliete kon al in Moses se tyd skei en selfs Jesus en Paulus het gesê dat jy mag skei in die geval van owerspel (Mat 5:32; Mat 19:9)

5. Hierdie was weereens een van die siviele wette wat God aan Moses gegee het. Dit is nie ‘n morele wet wat vandag nog van toepassing is nie.

6. Dit is weereens poligamie wat in punt 2 genoem is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui