Die Trojaanse Perd in die NG Kerk (opsomming deur WM van Heerden)

Kyk ook:

Die Trojaanse Perd in die NG Kerk

WM van Heerden

Hierdie insiggewende boek beslaan 253 bladsye en is geskryf deur die volgende lidmate van die NG Kerk: dr Henrietta Klaasing, dr Hennie Mouton, ds Gedeon Aggenbag, Daniel Louw, ds Jan Louw, ds Hannan Viljoen, en dr Koos Visser.  Omdat daar so baie skrywers is, bestaan die boek tot ’n groot mate uit losstaande eenhede wat nie heeltemal geïntegreer is nie, maar dit hinder nie.

Die twee hoof oorsake vir die huidige dwaling in die NG kerk kom uit die boek duidelik na vore: skrifkritiek en evolusie. Daar is ook ’n derde belangrike faktor: die wyse waarop die nuwe denkrigtings bevorder word deur, wat ’n mens magstrukture kan noem.

Skrifkritiek Eerstens is skrifkritiek (historiese kritiek) ’n manier waar die teoloog hom die reg toe-eiën om die inhoud van die teks self te bevraagteken. Dit kom van ver af, want Volgens Britz (Artikel van 14 bladsye in die gereformeerde internettydskrif, Vox Viva, in Desember 2007. http:www.glodiebybel.co.za/images /Leers/vox viva 62 des 2007.doc wat in Hoofstuk 1 aangehaal word) het historiese kritiek (in die algemene sin van die woord) oor die afgelope 50 jaar ’n fundamentele uitgangspunt in die teologiese opleiding van die NG Kerk geword.

Evolusie Tweedens aanvaar teoloë die hipotese van evolusie as sou dit wetenskap wees en dit is ’n geloof wat teenstrydig is met die Bybel. “Richard Dawkins, verklaar onomwonde dat evolusie hom van enige godsdiens laat afsien het, en dat Darwinisme hom toelaat om ’n intellektueel vervulde ateïs te wees.”

Magstrukture In Hoostuk 8 (Ongelyke speelveld ) word getoon hoe bestaande strukture gebruik word, en nuwes geskep word om waarhede van die Bybel af te takel en nuwe denkrigtings te bevorder. Die teologiese opleiding van die NG Kerk is die eerste en belangrike, van waar dit ook na ander deursyfer. Die ander magstrukture word aan die einde van hierdie oorsig behandel.

Gevolge van Skrifkritiek en evolusiegeloof

Skrifkritiek en evolusiegeloof lei tot allerhande uitsprake en optredes, en ongeloof in die Bybel wat op verskillende wyses na vore kom:

“Nou is dit ’n “metaforiese teologie” waar, byvoorbeeld, die opstanding van Christus nie letterlik as historiese gebeurtenis gesien word nie, maar simbolies vertolk word.”

Verderaan “Hierdie teologie is uiteindelik op pad na volle verheerliking van die mens in die universele godsdiens van die Nuwe Era of ‘New Age.’ Dit is die godsdiens waar die mens weggedoen het met die persoonlike God aan Wie hy verantwoording verskuldig is; die godsdiens waar hy vir hom ’n nuwe god—onder andere die god van die panenteïsme—geskep het, met wie hy nou deur meditasie en mistisisme kan kontak maak.”

En, in ’n boek: Die benadering dat die Bybel deur God ingegee is, is “onwetenskaplik en ontdaan van enige integriteit.” So skryf dr Ben du Toit in sy Andrew Murray-bekroonde boek: Geloof in ’n postmoderne tyd. Dr du Toitis ’n moderamenlid van die NG Kerk se Algemene Sinode en is verantwoordelik vir kommunikasie en Parlementêre skakeling.

“In wese is die postmoderne teoloë se verstaan van die Skrif van so ’n aard dat daar nie juis veel van die Evangelie oorbly nie. Die maagdelike geboorte van Christus én sy liggaamlike opstanding word verwerp. Die kruisdood word deur sommige geleerdes as ’n wrede daad van die Vader uitgebeeld.”

Een resultaat van die nuwe tendense is die besluit van die Sinode in 2002 oor skrifbeskouing. ’n aanduiding hiervan word deur die volgende sinsnedes daarin gegee:

  • “volgens moderne standaarde nie voldoen aan wetenskaplike eksaktheid nie”
  • “wetenskaplike ‘swakheid’”
  • “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”

Tendense wat in die verskillende hoofstukke bespreek word

Die ontluikende kerk

Daar is ’n betreklik nuwe ontwikkeling wat die Christelike kerk wêreldwyd oorspoel het (sederd 2004): die Ontluikende Kerk (Emerging Church). “Dis ’n beweging of ’n stroming eerder as ’n gestruktureerde organisasie of kerkverband. Een van die filosofiese uitgangspunte van dié beweging is dat dit ’n deug is om onseker te wees of twyfel te hê oor geloofsake!”

Dis ’n “ . . . subtiele postmoderne ‘herverwoording’ van die evangelie . . . is bo alles ’n aanslag op die Bybel . . . Alles kom uiteindelik neer op die ontkenning van die duidelikheid van die Bybel. Ten diepste is dit egter ’n weiering om te aanvaar en te gehoorsaam wat die Bybel duidelik sê.”

“Talle sogenaamde behoudende Suid-Afrkaanse teoloë en kerkleiers wat nie deur vorige dwaalstrome soos die Jesus Seminaar en Nuwe Hervorming meegesleur was nie, het nou blykbaar met groot ywer ingekoop op die Ontluikende Kerk. “ Hulle het die “deure in SA wyd oopgegooi vir ontluikendes soos Leonard Sweet, Rob Bell, Brian McLaren, Tony Jones en Erwin McManus.”

“In sy boek Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede: Geloofsgemeenskappe in pas met ’n Postmoderne Wêreld, propageer prof. Nelus Niemandt van Tukkies bogenoemde ontluikendes se idees en postmoderne paradigma sonder enige voorbehoude. . . Onder die opskrif ‘My kop is geswaai’ skryf die bekende prof Stephan Joubert in sy voorwoord tot dié boek: Nelus Niemandt is een van die invloedrykste denkers . . . Sy insigte is asemrowend . .. ‘ Die Nuwe Drome-boek sê hy is ’n ‘absolute juweel . . . kop-oopmaak materiaal . . horison-verskuiwend . . . “ ens. Die boek is nou ’n voorgeskrwe boek vir teologiese studente.

“Die misleiding van die Ontluikende Kerk word tans op groot skaal deur die kerklike media in die Suid-Afrikaanse gemeenskap ingedra . . . op Radiokansel . . en RSG . . . Rob Bell het die sentrale tema gevorm van ’n nuwe reeks Christelike TV-programme op SABC 2 getiteld ‘Ware Noord’ . . . the Shack . . . Rob Bell se Nooma-DVD’s word in talle NG Kerke vertoon.”

Homoseksualiteit

In Oktober 2006 het die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers, drs. Ben du Toit en Kobus Gerber, die Suid Afrikaanse Regering aanbeveel om voort te gaan om homoseksuele wette te magtig. Ds Johann Symington wou in 2005 eers nie ’n betaalde advertensie in die kerkbode toelaat van ’n boek van dr Peet Botha nie. Daarin staan dat “die beskouing dat homoseks ’n normale variant van seksualiteit is ’n volskaalse aanslag op die kernwaarhede van die skrif is (Symington was toe redakteur van die Kerkbode).”

“Op 30 Mei 2007 pleit verskeie bekendes [twintig] in ’n ope brief aan die Algemene Sinode van die NG Kerk dat die kerk openlike “gay” predikante op die kansel moet toelaat! Dit sluit die volgende teoloë in: ds Frits Gaum, dr. Alphonso Groenewald, prof. Julian Müller, prof. Wentzel van Huyssteen, ds Willem Nicol, prof. Denise Ackerman, dr.Sorita Baard, dr. Allan Boesak, dr Gerrit Brand, prof. Johan Cilliers, prof Etienne de Villiers, prof. Yolanda Dreyer, ds Liena Hoffman, prof. Louis Jonker, prof. Christo Lombard, ds. Llewellyn MacMaster, prof. Elna Mouton, prof. Jeremy Punt, prof. Gert Steyn en dr. Robert Vosloo.”

Op 8 Junie 2007 reik die NG Kerk sy nuutste [onduidelike] verklaring oor homoseksualiteit uit. Hierna, in ’n onderhoud in ’n program op TV, praat Symington asof die nuwe beleid nie noodwendig teen homoseksuele verhoudings of homoseksuele huwelike gekant is nie. “Volgens Laurie Gaum, ds Frits Gaum se seun, en praktiserende homoseksuele predikant, is hy teleurgesteld [blykbaar oor die Sinodebesluit, wat nie duidelik genoeg is nie], maar dit is nie die einde nie.”[Frits Gaum was natuurlik ook vroeër redakteur van die Kerkbode! ’n ry Kerkbode redakteurs is blykbaar eenstemmig!]

Sinodebesluite oor homoseksualiteit: in 1986 was dit nog redelik, in 2004 was daar ’n groot ommekeer, en in 2007 was dit so onduidelik, soos hierbo genoem.

Evolusie

In Hoofstuk 6 word voorbeelde genoem van persone se uitsprake oor evolusie, waarop duidelik teenantwoorde gegee word. Met dit alles word dit duidelik wat evolusie is en wat die Bybel se weergawe is.

Uittreksels van die antwoorde wat gegee word is: “daar bestaan geen behoorlike wetenskaplike verklaring vir die ntuurlike ontstaan van die eerste lewe uit dooie materie nie. . . Geen bewese natuurlike meganisme bestaan om genetiese inligting te vermeerder nie. . . Daar is geen bewys dat een soort in ’n ander soort kan verander nie—die sogenaamde ‘verlore skakels’ tussen alle soorte is nog nooit gevind nie—ook nie tussen die mens en die aap nie.”

Saambly

’n Nuwe boek het nou verskyn: “Kan ons nie maar net saambly nie?” onder redakteurskap van Chris Jones. In die voorwoord sê dr Anton Pienaar (redakteur van die Kerkbode): Dit is ’n poging om gehalte-huweliksverhoudings en, waar dit van toepassing is, waardige saambly-verhoudings te bevorder.” Adrio König kom ook hier aan die woord, en ander: Christina Landman, Louis Jonker (prof in Ou Testament Fakulteit van Teologie US), Jeremy Punt (prof Nuwe Testament US) Julie Claassens (Ou Testament US), Antoon de Klerk (rekenmeester) en Gerda de Villiers (UP). Op die agterblad van die boek word o.a. gesê: “Lees en dink saam oor al die aspekte van saambly en beslluit self wat vir julle die beste gaan werk.”

James Kirkpatrick, hoof van Leer en Aktuele Sake in die Kerk het ook ’n nie-Bybelse houding oor saambly en propageer dit waar hy kan.

Daar is nog nie ’n Sinodebesluit oor saambly nie.

Dit is verblydend dat ’n Bybelgefundeerde Bylaag (Bylaag B) in die boek ingesluit is: Verklaring van Doornkloof NG Kerk oor “Grense en Saambly.”

Liberale magstrukture

Hier volg van die liberale strukture wat reeds bestaan en ’n sterk invloed uitoefen.

Die webtuiste www.teo.co.za

Prof Gerda de Villiers (UP se teologiese fakulteit en redakteur van die Webtuiste) glo dat Genesis  ’n mite is. Vir haar is dit heeltemal te benouend om die Bybel as waar te aanvaar. Sy het verder o.a. ook gesê “God en die gode van Egipte is ’n uiters geslaagde filosofiese, spirituele ontdekkingsreis, en beslis ’n aanwins in die eenogige geloofslewens van die Afrikaanse Christendom.” Prof Alphonso Groenewald van UP, skryf op dié webtuiste in “Die Profete: Godsdienshistoriese posisie” dat profete eintlik eers so 1000 v.C. verskyn het, en dat hulle monoteïsme ingevoer het . . . ook dat hulle net oor die hede en die nabye toekoms ten opsigte van hulleself gepraat het.”

NG Kerk se seisoen van luister

George Claassen was die uitgenooide hoofspreker by die openingsdag (2 Febr. 2010) van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria. Claassen is ’n bekende ateïs. Na hierdie  geval waar ’n godloënaar met ope arms te ontvang is, wou die fakulteit nie ’n Bybelgelowige (’n ontwerp-ingenieur) toelaat om die Bybelse standpunt oor die skepping te stel nie. Prof Julian Müller het dit afgewys. Prof Cornél du Toit het na Claassen se voordrag gesê dat hy nie veel van hom  oor evolusie verskil nie. By dieselfde geleentheid het prof. Danie Veldsman gesê dat hy evolusionisme aanvaar, maar hy glo darem dat die teologie kan argumenteer teen die “nie-bestaan” van God.

Die Kerkbode

Die redakteur is dr Anton Pienaar (ook predikant van die NG Gemeente Suid-Oos Pretoria) en Jean Oosthuizen, nuusrekakteur. Anton Pienaar se beïnvloeding kan gesien word, o.a. in die artikel (Luister fyn na hulle wat saggies wegloop) waarin hy aan die einde daarvan sê hoe mense saggies wegloop [van die kerk], omdat “. . . hulle die liefdelose geraas nie meer kan verduur nie.”  “. . . Want hulle het ander insigte oor evolusie en hulle betrokkenheid by gays maak dat hulle nie meer veroordelend kan wees nie. Hulle is nugter en eerlik oor samelewingstendense soos saamwoon.”

Die “Diversiteitsforum het kort na die totstandkoming daarvan al meer en meer publisiteit op Kerkbode begin kry.”

Kerkbode-aanlyn

Die webwerf (www.kerkbode.co.za) het “Ondanks skreiende Godslasterlikhede op Kletskerk vir jare lank ’n elektroniese skakel na Kletskerk bevat. Dit is eers in Januarie 2010 verwyder nadat NG-lidmate aanhalings uit Kletskerk geneem en ’n e-pos-aksie aan die gang gesit het om die NG-kerkleiding te laat optree.” “Prominente figure in die NG Kerk, soos ds Danie Mouton (van die Oos-Kaapse leierskap) en Nelus Niemandt, het voordat die Kletskerkskakel vanaf die Kerkbode-aanlyn verwyder is, hul hoop en verwagting uitgespreek dat die skakel sou bly.”

Daar is selfs op ’n keer stemme gemanipuleer: die stemme het maar drupsgewys gekom tot by 70, waarvan 60% gesê het hulle glo dat Genesis en Eksodus historiese gebeure is wat werklik plaasgevind het. Toe, binne drie dae, het die stemtal toegeneem tot 25 000, met amper 100% ten gunste daarvan dat dit nie historiese verhale is nie! Nadat daarop gewys is dat dit ooglopend “poll-crashing” was, en hoe dit plaasgevind het, is die uitslag tog behou en het Jean Oosthuizen dit selfs geadverteer onder Kerkbode-aanlyn nuus!

Kletskerk

Die webmeester en moderator: Jean Oosthuizen, (www.kletskerk.co.za) “’n Voorbeeld van die misbruik van die “seisoen van luister” is die webwerf Kletskerk. Ateïste, Godloënaars en –lasteraars en mense van ander gelowe soos Boeddhiste en Moslems word toegelaat om hul sê te sê onder dekmantel van vryheid van spraak. Die moderator doen geen behoorlike moderering nie en gebruik vryheid van spraak en ‘almal se opinies moet gehoor word’as verskoning.”

Verskillende items wat in Kletskerk geplaas is word genoem, dis ongelooflike snert, en Godslasterlik, en die ergste is glo in hierdie boek nie eers genoem nie.

Die Diversiteitsforum

Die sogenaamde Diversiteitsforum (webbestuurder: dr Charles Malan) het einde Mei 2010 sy verskyning gemaak op die NGKerk se webwerf (Dr Ben du Toit was een van die inisiëerdes van die forum). “Soos die Diversiteitsforum tot dusver bedryf is blyk dit om eenvoudig die doel na te streef om onbybelse liberale standpunte in die NGKerk in te voer.” Die forum se benadering word gehandhaaf deur die webbestuurder “met sterk ondersteuning van die teoloë drs Gerhard Bothma en Fanie Cronjé.” “Talle van die Bybelgelowiges se skrywes is baie vinnig deur die webbestuurder verwyder, met die dikwels ongeregverdigde beskuldiging van belediging of ontoepaslikheid, terwyl talle Bybelliberales se bydraes behou en aangeprys is, ondanks selfs Godslasterlikhede.”

Ten slotte

Koerante, radio en TV is nie eers hier genoem nie, terwyl ons weet watter berekende aftakeling van Bybelse waarhede in veral die koerante gedoen word. Nou loop dwaalleraars en sekulêre media hand aan hand, besig aan ’n gemeenskaplike taak. Hopelik kan die Trojaanse perd in die NG Kerk ’n sterk teenreaksie veroorsaak. Mag dit so gebeur!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui