Debat oor evolusie op Pretoria-Noord Hoërskool se webblad

Onderstaande debat het op Pretoria-Noord Hoërskool (PNHS) se webblad http://www.facebook.com/groups/2381610030/ plaasgevind.

Dit het gebeur nadat ek my boek “Verken Lewenswetenskappe verder – ’n kritiese evaluering van evolusie” en “Skepping & Evolusie – onversoenbaar!” daar genoem het.

Die debat het net tussen my en Yolandi van der Merwe, ’n oud-leerling van PNHS wat in 1998 gematrikuleer het, plaasgevind.

Yolandi Van Der Merwe

En wat presies is die bewyse vir spontane skepping? “Sommer net”? Die twee is nie onversoenbaar nie.

September 25 at 11:04pm · Like ·  1 person

Hennie Mouton

Ek weet nie wie “spontane skepping” voorstaan nie. Ek staan wel aanvanklike bonatuurlike skepping voor. Baie evolusioniste staan egter aanvanklike en voortgaande spontane ontwikkeling voor — hulle noem dit nie sommer spontane skepping nie, want skepping dui op ’n Skepper. Die getuienis vir bonatuurlike skepping is veelvuldig. Die kompleksiteit van die DNS-kodes, wat onmoontlik nie deur enige toevallige proses kon ontwikkel het nie, is een van baie voorbeelde. Die biogenetiese wet, wat nog nooit verkeerd bewys is nie, naamlik dat lewe net van lewe af kom, is nog ’n bevestiging van die Skeppergod.

September 28 at 9:19pm · Like

Yolandi Van Der Merwe

So jy ontken dat jou almagtige god iets so wonderlik en gekompliseerd soos evolusie kan vermag? 🙂 Verder ontken jy ook dat in biljoene en biljoene en biljoene jare ’n kansgeval êrens kon gebeur het? Wat as die “skepper” ’n elektron was wat links in plaas van regs gebons het? Is daardie elektron dan jou god?

September 28 at 9:45pm · Like ·  1 person

Hennie Mouton

Nee, ek ontken nie dat Hy dit kon gedoen het nie, maar wel dat Hy dit so gedoen het. Ek glo jy verstaan die verskil. As jy glo dat toeval ’n elektron uit niks laat ontstaan en daaruit alles natuurlik voortgekom het, is dit seker jou god. Geen wetenskaplike getuienis ondersteun egter jou geloof nie.

September 28 at 10:40pm · Like

Yolandi Van Der Merwe

Is Dr Craig Venter jou god? 🙂 Hy maak DNA en repliserende lewende organismes van nie-lewende chemikalieë (wat die lewe eintlik regtig is – hope chemikalieë). (Meer inligting oor sy werk –> http://en.wikipedia.org/wiki/Craig_Venter ) Verder, dink ek jy het ’n verwronge sig van evolusie. Evolusie as ’n teorie maak geen aannames oor *waar* die lewe vandaan kom nie, bloot dat oorerflike eienskappe in bevolkings van organismes voor kom en dat hierdie eienskappe oor tyd kan verander agv sekere faktore soos genetiese polarisering, omgewingsdruk ens (sien byvoorbeeld die pepermot gedurende die industriële revolusie). Om die “my geloof hoef NIKS te bewys nie want dit is reg en wetenskap is verkeerd” argument te gebruik, staaf geen van jou standpunte nie. Dus kom ek terug na my aanvanklike punt – skepping en evolusie is geensins onversoenbaar nie. 🙂

September 29 at 12:28am · Like ·  1 person

Hennie Mouton

Yolandi, jy stel strooipop-argumente op en skiet dit dan af. ’n Strooipop-argument is een waar jy beweer dat jou opponent iets glo, wat hy nie glo nie, en dan word dit afgeskiet. ’n Duidelike voorbeeld hiervan is jou implikasie dat ek die argument gebruik van “my geloof hoef NIKS te bewys nie want dit is reg en wetenskap is verkeerd”, terwyl ek dit nooit gesê het of voor geargumenteer het nie. Jy maak klaarblyklik die aanname dat ek nie wetenskap aanvaar nie omdat ek nie evolusie aanvaar nie. Dis die verkeerde aanname – een van my probleme met evolusie is juis dat dit swak wetenskap is – ek is in werklikheid 100% ten gunste van wetenskap, maar dit moet behoorlik gegronde wetenskap wees. En as dit oor oorsprongwetenskappe gaan, moet alle beskikbare wetenskaplike data in ag geneem word voor vertolkings gemaak word. Goeie wetenskap sal juis ontslae raak van sy swak hipoteses, soos evolusie en die idee van aanvanklike natuurlike ontwikkeling – die “elektron het links gedraai” soos jy dit gestel het, is ’n goeie voorbeeld van ongegronde swak stellings.

Nee, Graig Venter is geen god nie – op die beste is hy maar net wetend of onwetend besig om uit te vind hoe God geskep het. Dit sou ’n wanopvatting wees om te dink dat hy van nuuts af begin het met nie-lewende materiaal en toe by lewende organismes uitgekom het. Hy het begin by ’n lewende sel, en die sagteware (kode) in hulle vervang met kode wat hy gekry het van ’n ander lewende organisme, en toe kon hulle nog steeds lewend bly en repliseer, wat hulle in elk geval op hul eie kon gedoen het voor sy vervangings. Hy het dus geensins die biogenetiese wet van lewe is net moontlik uit lewe weerspreek nie. Gaan kyk gerus na http://creation.com/synthetic-life-by-venter Die geweldige navorsing wat hy moes gedoen het bevestig in elk geval dat intelligensie agter alles moes gesit het.

Venter se ontdekking is soos volg beskryf deur wetenskaplikes wat minder entoesiasties oor die gewaande betekenis daarvan is:

“It’s a great feat, but I wouldn’t call it an artificial organism,” Collins says [bioengineer James Collins, a Howard Hughes Medical Institute investigator at Boston University who was not involved in the study]. Synthetic, he contends, implies designed from scratch, not plagiarized from a natural genome. What’s more, the experiment required a recipient cell to provide the cytoplasm to hold the transplanted genome. “It’s small, but it’s an important quibble,” he says.

To claim the creation of synthetic life, asserts Glenn McGee of the Center for Practical Bioethics in Kansas City, Mo., the entire organism must be successfully produced from raw materials.

“The landmark achievement has yet to occur,” McGee says. “What they’ve done is they’ve successfully transplanted DNA from one thing to another without noticeably harming the operation of the old DNA, as best they understand it, from their definition of its function. When I put it that way, it’s a hell of a lot less significant.”

Yolandi, jou aanvanklike punt dat skepping en evolusie geensins onversoenbaar is nie, is maar net in jou kop geldig want jou idee van skepping is natuurlike ontwikkeling en evolusie. Jy glo dus dat evolusie versoenbaar met evolusie is. Jy mag maar glo wat jy wil, maar dit beteken nie veel nie.

Jou idee dat lewe net hope chemikalieë is, is ook verkeerd. Sagteware (genetiese inligting) is nie materialisties nie, en materie kon nog nooit genetiese inligting voortbring nie, net soos wat die hardeware van ’n rekenaar nie die sagteware wat nodig is om dit te laat werk, vanself kan skryf nie. Buite-intelligensie is nodig. Paul Davies het dit soos volg beskryf: “How did nature fabricate the world’s first digital information processor—the original living cell—from the blind chaos of blundering molecules? How did molecular hardware get to write its own software?” Hy kon dit nie antwoord nie, al wou hy hoe graag want hy is ’n evolusionis.

Die pepermot se kleurverandering tydens die industriële revolusie, sou mens al die bedrog en wanopvattings om dit verkoop te kry as bewys vir evolusie buite rekening laat, is op die beste ’n ondersteuning van natuurlike seleksie. Natuurlike seleksie wys maar net dat verandering binne soorte moontik is, wat niemand eintlik bevraagteken nie. Maar die pepermot het maar net ’n pepermot gebly, terwyl evolusioniste eintlik moet aantoon dat een soort in ’n ander soort bloot deur natuurlike prosesse verander het.

September 29 at 12:40pm · Like ·

Yolandi Van Der Merwe

Ek is bly dat jy ten minste jou opponent – die wetenskap – navolg. As jy WEL in wetenskap glo soos jy beweer, hoe ignoreer jy sulke bewyse soos byvoorbeeld die fossielrekord? Die “stappe” of “dae” van die skeppingsprokie soos in die Bybel beskryf word, word wel deur die fossielrekord ondersteun – onder andere dat eenvoudige diere meer gekompliseerde organismes voorgaan (maw dat veranderinge in spesies gebeur, wat oorsprong gee aan nuwe “soorte” oor tyd)(baie, baie belangrik hier is om uit te wys dat daar omtrent ’n half dosyn definisies vir “spesie” is, en dus moet jy maar vir my verduidelik watter definisie jy gebruik). In die fossielrekord is daar nie in die oudste gesteentes al olifante of mense of katjies nie – net eensellige organismes. As god dan enigiets kan doen, en nie evolusie of ’n naasbestaande “metode” gebruik nie soos jy voorstel, hoekom moet hy homself dan so beperk? Hoekom het hy dan nie van die begin af sommer maar net alles bonatuurlik geskep nie? Ek dink dit is eerder my probleem as jou aanname dat ek net bloot nie in skepping glo nie. 🙂 Jou DNA string wat jy so aanhang is ongelukkig net ’n string chemikalieë wat aanmekaar gehou word deur elektriese ladings, chemiese bindings en strukturele eienskappe wat deur die vorige twee eienskappe veroorsaak word (hierdie is gebaseer op waarneembare en meetbare feite, nie “ongegronde swak stellings” nie). Deur miljoene en miljoene en miljoene replikasies (wat, bygesê, nie almal lewensvatbaar was nie), sit ons vandag met ons DNA kode. Aangesien ons almal net uit omtrent $5 se chemikalieë bestaan, is dit dus nie verregaande om voor te stel dat ’n rebelse elektron eens op ’n lang, lang tyd gelede links gebons het in plaas van regs nie. As dit jou laat beter voel, kan jy sê dat god die elektron so rebels gemaak het in die eerste plek! 🙂

September 29 at 10:38pm · Like

Hennie Mouton

Nee Yolandi, dis nog ’n strooipop van jou – die wetenskap is nie my opponent nie. En nee, ek ignoreer beslis nie die fossielrekord nie. Geen mens wat belang stel in oorspronge kan die fossielrekord ignoreer nie. Die vraag is egter watter vertolking van die fossielrekord, gegewe alle data, die meeste sin maak – die evolusionistiese een of die skeppingsleer een.

Eersgenoemde werk met die beginsel van gelykmatigheid (“uniformitarianism”) rakende die geologie. Dit het begin posvat met George Lyell en is aangegryp deur Charles Darwin. Voor Lyell het geoloë algemeen aanvaar dat ’n wêreldwye vloed verantwoordelik was vir die meeste massiewe sedimentêre formasies wat regoor die wêreld gevind word. Die beginsel van gelykmatigheid kom daarop neer dat aanvaar word dat meeste natuurprosesse in die verlede teen dieselfde stadige tempo’s plaasgevind het as wat ons vandag waarneem. Dit laat dus omvangryke katastrofismes buite rekening. In die afgelope paar dekades het geoloë egter weer begin besef dat katastrofismes geensins in die geologie geïgnoreer kan word nie (die evolusionis wyle Derek Ager is ’n bekende voorbeeld). Dié insig het selfs die naam van neo-katastrofisme gekry, wat maar net ’n duidelike erkenning is dat gelykmatigheid ’n onvoldoende geologiese idee is. Daar bestaan nog meer verskeie ernstige probleme met die evolusionistiese vertolking van die geologiese kolom. Die sogenaamde kambriese ontploffing is eintlik ’n erkenning deur evolusioniste self. Sou evolusie waar wees, behoort mens byvoorbeeld in die diereryk slegs enkele stamme in die onderste rotslae van die geologiese kolom te kry, en dan geleidelik al meer stamme soos mens hoër op kyk. Dit is nie die geval nie – feitlik alle dierestamme word in die kambriese strata gevind – teenstrydig met die evolusionistiese verwagting. Verder is daar soveel fossiele van soogdiere saam met dinosourusse gevind dat die idee van ’n dinosourustydperk vinnig besig is om te vervaag. Die selakant, en talle ander sogenaamde lewende fossiele, plaas ook groot vraagtekens op die tydperke wat aan die geologiese kolom toegedig word. Volgens die fossielrekord en die evolusionistiese vertolking van die geologiese kolom, moes die selakant 65 miljoen jaar gelede uitgesterf het. Almal weet dat hy in die vorige eeu springlewendig en feitlik onveranderd ontdek is. Maar sou die tydperke van die geologiese kolom waar wees, moes die selakant vir 65 miljoen jaar nie bestaan het nie. Duidelik maak die evolusionistiese vertolking ook hier nie sin nie.

Die skeppingsleermodel aanvaar dat die wêreldwye vloed soos beskryf in Genesis werklik gebeur het. Dit is nie net ’n geloofsposisie nie want verskeie wetenskaplike aspekte van die geologiese kolom bevestig dit. Die sogenaamde kambriese ontploffing is geen probleem nie, want diere van alle stamme sou in die vloed in modderstortings begrawe geraak het. Diere wat normaalweg na hoër terrein beweeg tydens sulke gebeure, se fossiele sou eerder hoër in die geologiese kolom gevind word, terwyl visse soos die selakant, wat eintlik net in diepsee voorkom, en wurms, trilobiete ensovoorts eerder in die dieper lae gevind sou word. Die fossiele van soogdiere saam met dinosourusse is te verwagte want alle diere het voor die vloed saam geleef. Die talle fossiele wat dui op organismes wat skielik en katastrofies deur modder bedek is, is eweneens ’n bevestiging van die wêreldwye vloed. Talle rotslae self bevestig ook die vinnige neerlegging en op- en samedrukking daarvan kort daarna. Die Swartberge en Meiringspoort bevat pragtige voorbeelde hiervan. Dit is eenvoudig onmoontlik dat sulke uiters gebuigde rotslae gevorm kon word deurdat die lae eers plat neergelê en toe verhard het, en daarna saamgedruk is sonder om geheel en al te verbrokkel. Die samedrukking moes plaasgevind het voor die verharding, wat dui op baie kort tydperke, en daarom sien mens vandag die opgedrukte rotslae met goeie aanmekaarskakeling. Polistrata-fossiele (fossiele wat deur rotslae strek wat volgens evolusioniste oor lang tydperke neergelê moes gewees het), klop ook uitstekend met die wêreldwye vloed. Oor lang tydperke sou die fossiel nooit so volledig gevorm het nie, want die boonste gedeeltes sou vergaan het voor fossilering. Die fossielrekord bevat inderdaad wonderlike wetenskaplike bevestiging van die Bybelse gegewens en die skeppingsleermodel.

Yolandi, die DNS-string is baie meer as net ’n string chemikalieë wat deur natuurlike kragte aanmekaar gehou word, want dit bevat kode – onder andere uniek vir elke soort organisme. Veral die kode is iets wat deur geen toevallige proses kon ontstaan nie. Dit is een van die wetenskaplike eienskappe van inligting wat nog nooit verkeerd bewys kon word nie, naamlik dat dit ’n inisieerder, ’n sender en ’n ontvanger het. Die vraag vir jou is wie kon die inisieerder gewees het anders as ’n bonatuurlike intelligente Wese. Hou in gedagte dat die kode ver meer ingewikkeld is as enigiets wat die mens met al sy navorsing al bedink het. So byvoorbeeld word sommige kode nie net van voor na agter gelees nie, maar ook oorvleuelend met verskillende begin- en eindpunte. Dis nie al nie, sommige kode word ook van agter na voor gelees. Al hierdie lesery bevat die instruksies vir verskillende prosesse. Meeste van die kode het nie direkte funksies soos om proteïene te vervaardig nie, maar bevat inligting oor hoe om die ander inligting te beheer. Vantevore is gedink dat hierdie kode nutteloos was, maar gelukkig is die wetenskap besig om tot groter insigte te kom.

Yolandi, miskien moet jy ophou om links of regs te probeer draai, maar begin oorweeg om boontoe te draai.

September 30 at 11:22am · Like

Yolandi Van Der Merwe

Miskien moet jy ophou boontoe kyk en OM jou begin kyk. 🙂 Ondersteunende bewyse vir evolusie is orals. Ekskuus dat ek lag, maar die stories waarmee julle vorendag kom om wetenskaplike bewyse weg te verduidelik is regtig kreatief. Kom ons begin by die begin – die idee dat die Kambriese ontploffing klinkklare bewyse van gelyktydige “bonatuurlike skepping” is, is bietjie verregaande. Prothero sê dat daar nou al menigte fossiele van “sagte” en mikroskopiese organismes gevind is wat van voor die “ontploffing” dateer (eenvoudige organismes wat meer gevorderde organismes voorgaan). In hierdie geval is die fossielrekord daar, maar wie is 100% seker dat dit VOLLEDIG is? Dit is soos om te sê dat daar absoluut nêrens, êrens in die wêreld ’n wit kraai bestaan nie, want jy het nog nooit een gesien nie. Is jy 100% seker dat jy al die kraaie in die wêreld al gesien het? Hoe kan jy dit dan voorhou as ’n feit? Ek sou sê dis ’n “ongegronde swak stelling” want jy het dit mos nie wetenskaplik getoets nie. 🙂

Ek is ook heeltemal daarvan bewus dat primitiewe soogdiere, reptiele, primitiewe voëls en dinosaurusse eens op ’n tyd die aarde gedeel het – die fossielrekord sê vir ons so. Ek moet nog egter van ’n fossielfonds hoor waar ’n Tyranosaurus Rex en ’n mens in dieselfde strata, skouer-aan-skouer gevind is (ek hoop hulle vind dit wel eendag, want dit sou regtig cool wees). Aangaande jou “vloed/vlug teorie”, hoekom kry ons nie seelewende reptiele se fossiele so tussen die trilobiete nie? Hulle sou sekerlik dieselfde habitat gedeel het en sou dus mos saam gesneuwel het toe die moddervloed skielik op hulle neerdaal. In dieselfde asem, hoekom kon net reptiele, soogdiere en voëls tot die hoogste grond vlug om die vloed te oorleef? Dinosaurusse was mos veeeeel groter en sou dus vinnger kon hardloop voor die vloed. Of hoe dan? Daar is egter baie voorbeelde van intermediere soorte wat wel ’n geleidelike verandering (evolusie?) van een soort na ’n ander ondersteun. Jy wil seker nie hoor dat dinosaurusse verskriklik baie ingemeen het met voëls nie. Dat die eienskappe wat dinosaurusse toegelaat het om so verskriklik groot te word (bv hol beendere, lugsakke vir maksimale suurstof inname om hul metabolisme aan die gang te hou, selfs die vorm van hulle gewrigte en pubis-bene ens) deur moderne voëls aangewend word om te kan vlieg. Ons het selfs intermediere vorms in die fossielrekord wat die oorgang (evolusie?) van dinosaurus na voël ondersteun. Ek dink die wanindruk wat mense oor evolusie het, is dat hulle glo een vorm kan nie tergelykertyd met die ander vorm bestaan nie (daar was WEL voëls gedurende die sogenaamde dinosaurus tydperk). Die evolusie van walvisse vanaf landlewende organismes is ook ’n ander goeie voorbeeld. Hoekom sal ’n ontwerper nuttelose bekkenbene nou in ’n nuwe ontwerp los as dit nooit gebruik gaan word nie? Dit klink nie baie “intelligent” nie. Ek kan regtig ure en ure en ure oor DNA en aminosure praat. Maar kom ons knip dit kort. Toe die “bestanddele” van DNA eers bymekaar gekom het (weereens, kon moontlik deur eenvoudige chemiese prosesse en elektriese ladings gebeur het), kon natuurlike seleksie die lewensvatbare van die nie-lewensvatbare kombinasies geskei het. Uiteindelik kom dit maar daar op neer oor wat jou definisie van “te gekompliseerd” is. “Te gekompliseerd” is ’n opinie, nie ’n meetbare feit nie. ’n Drie-jarige kind sal vir jou sê dat optelsomme “te gekompliseerd” is. Dieselfde kind sal op agt-jarige ouderdom daai optelsomme soos soetkoek opeet, want “hulle is maklik”.

Soos ek al voorheen uitgewys het, evolusie is ’n teorie wat geen aannames maak oor die oorsprong van die lewe nie, maar slegs die diversiteit van lewe probeer verduidelik aan die hand van wetenskaplike getuienis. Selfs al dink ek evolusie is ’n goeie teorie, beteken geensins dat ek nie die absolute wonderwerk van hierdie kansgeval kan raaksien nie. Enige teorie kan môre verkeerd bewys word en dan van die bank afgeskuif word – dis hoe die wetenskap werk. Wat my bekommer is dat jou teorie (ek neem aan dit is sogenaamde “intelligent design”, so om verskoning by voorbaat as ek verkeerd is) geen wetenskaplike toetsing moontlik maak nie. Volgens wat ek nou al oor die afgelope paar jare gelees het, maak die ID-teorie geen aannames of stellings oor 1) wie/wat “die ontwerper” is nie (dit word geimpliseer… so alreeds vervreem jy ’n groot deel van die wêreldbevolking net op grond van godsdiens), 2) HOE “die ontwerper” ontwerp het nie, en 3) of “die ontwerper” net een keer ontwerp het of ’n paar kere ingegryp het of selfs heidiglik lewe op aarde “micro-manage” nie. Dan huil julle as die wetenskap julle nie ’n regverdige kans wil gee nie.

September 30 at 10:36pm · Like ·  1 person

Hennie Mouton

Nee Yolandi, kreatiwiteit is nie die antwoord nie – wel die vermoë om objektief en logies na wetenskaplike vertolkings te kyk.

Jy bly steeds strooipoppe opstel en probeer dit dan afskiet.

Ek het nie geskryf dat die kambriese ontploffing klinkklare bewyse van gelyktydige “bonatuurlike skepping” is soos jy beweer nie. Ek het geskryf dat dit ooreenstem met wat mens kan verwag sou die Bybel en skeppingsleer waar wees, maar dat dit strydig is met wat mens behoort te kry sou evolusie waar wees.

Ek het ook nooit beweer dat die fossielrekord 100% volledig is nie. Jy argumenteer klaarblyklik uit die hoek van wat nie gevind is nie, om evolusie te ondersteun (jou witkraai-argument). Jy kan dit maar doen, maar dis maar swak beredenering – jy mag teoreties reg wees, maar jy kan op daardie manier geensins beweer dat die fossielrekord jou hipotese ondersteun nie. Jy kan op die beste maar net hoop dat jy eendag ondersteunende getuienis gaan vind.

Jou erkenning dat voëls gelyktydig met dinosourusse bestaan het, is goed en dit is waar. Maar dat jy skynbaar nie kan insien dat dit jou sogenaamde intermediêre vorm tussen dinosourusse en voëls se status as oorgangsfossiel benadeel nie, is verbasend. Hoe kan iets ’n oorgangsfossiel wees as die organisme wat daarop moes volg, alreeds miljoene jare vantevore (volgens evolusionistiese tydskale) bestaan het? Hierdie soort ontdekkings maak die argumente vir evolusie net al meer ongeloofwaardig.

Ooreenstemmende strukture tussen heel verskillende organismes soos voëls en dinosourusse, is geen beter getuienis vir ’n gemeenskaplike voorganger of opvolgende natuurlike ontwikkeling as wat dit is vir ’n Gemeenskaplike Ontwerper nie.

Jy skryf: “Selfs al dink ek evolusie is ’n goeie teorie, beteken [dit] geensins dat ek nie die absolute wonderwerk van hierdie kansgeval kan raaksien nie.” Hiermee erken jy dat die kans dat evolusie waar is, so skraal is, dat dit eintlik ’n wonderwerk sou verg om te kon gebeur. Wie of wat dink jy sou so ’n wonderwerk kon vermag? Blote geweldige onwaarskynlike toeval? Hoe kan jy ontken dat om ’n wetenskaplike hipotese (evolusie) op sulke uiterste onwaarskynlikhede te bou, baie swak wetenskap is? Of glo jy in God en dat Hy deur middel van evolusie geskep het?

“Intelligente ontwerp”-voorstanders het heelwat uitstekende argumente, maar ja hulle kom nie by die belangrike punt uit van Wie daardie Intelligente Ontwerper is nie. Uit wat ek reeds geskryf het, en my verwysings na www.glodiebybel.co.za behoort jy al lankal agter te gekom het dat ek ernstig is oor wat in die Bybel staan, en dat ek in God wat daarin beskryf word as die enigste ware God glo. Wie of wat is jou god – dit wat die wonderwerk van evolusie bewerk het soos jy dit gestel het?

Yolandi, jy is ook heel verkeerd oor sogenaamde nuttelose bekkenbene in walvisse. Die bene waarna jy in walvisse verwys is nie eens aan hul rigstringe vas nie, en het ander funksies soos dat sekere organe daaraan vasgeheg is. Gaan lees gerus http://creation.com/the-strange-tale-of-the-leg-on-the-whale om te sien waarom hierdie argument van jou geen bruikbare wetenskaplike gronde het nie.

Sunday at 5:44pm · Like ·

Yolandi Van Der Merwe

Ek sien ’n tendens in jou antwoorde. Jy beweer dat jy in die wetenskap glo en haal met groot entoesiasme die wetenskap aan (wat jy ongelukkig verkeerd interpreteer nog boonop) wat jou teorie ondersteun en probeer verskriklik hard om die Wetenskap wat gate in jou teorie skiet ignoreer, of probeer dit afmaak as “strooipoppe” of “swak ongegronde stellings”. 🙂 Ek is baie jammer om vir jou uit te wys dat regte wetenskaplike teorie gebaseer word op waarneming van bewyse en dan, sonder verwronging van feite, hipoteses dan opstel om die teorie te ondersteun. Wat jy probeer doen is om die bewyse te MAAK pas in jou teorie deur meetbare en waarneembare feite te probeer verdraai. Byvoorbeeld dat ALLE sedimentêre gesteentes in die wêreld PRESIES dieselfde ouderdom is (ten spyte van teenstrydige bewyse??) en dus moes die “Vloed” alles tergelykertyd verswelg het (indien dit waar was sou ons mos letterlik daagliks oor die fossiele van die miljoene gesneuweldes gestruikel het, maar fossiele is raar!). Indien jy letterlik glo wat in die Bybel staan, waar is al die menslike oorskot? Die Bybel sê net agt mense (Noag en sy familie) het oorleef. Hoekom is daar nie menslike nedersettings of implemente gevind in hierdie gelyktydige verswelging van alles nie? Volgens jou, het die oorlewende diere net eenvoudig “gevlug” na die hoogste grond. Ek wag nog op die antwoord oor hoekom daar nie see-lewende reptiele tussen die trilobiete of MODERNE soogdiere, MODERNE voëls en mense in dieselfde strata as dinosaurusse gevind word nie. Hoe kon klein diertjies soos knaagdiere en insekte vinnig genoeg hardloop na veiligheid? Jy besef ook natuurlik dat nie ALLE tipes dinosaurusse tot voëls ontwikkel het nie, ne? Die teorie is dat raptors (klein, vlees-etende dinosaurusse) heel waarskynlik die bome bestyg het vir veiligheid en jaggeleenthede, en vandaar oor menigte geslagte van spring na sweef na vlieg gevorder het (en ja, daar is pragtige fossiele van properse dinosaurusse wat veer-agtige huidbedekkings gehad het).

Ek wag ook gretig op ’n antwoord oor wat presies die stellings van jou teorie is. Het hierdie opperwese net een keer geskep (die Kambriese ontploffing??), ’n hele paar keer of is dit besig om huidiglik skepping te “micro-manage” (laasgenoemde klink darem baie soos evolusie, of hoe?). Indien die opperwese NIE “micro-manage” nie… hoekom bid jy dan? 😉 Dis baie maklik om “reg” te wees as mens niks sê wat in werklikheid getoets kan word nie. Wat jy voorstel is nie minder of meer waarskynlik as wat evolusie voorstel nie. Wat is meer waarskynlik? 1) Dat ’n almagtige, bonatuurlike wese spesifiek na die aarde toe gekom het uit al die biljoene, triljoene ander sterrestelsels met planete, besluit het “Sjoe, boys! HIER gaan ek lewe maak!!” en toe in ’n handomkeer alles wat dit so pas geskep het in ’n vloed verswelg het OOOOF 2) dat in ’n see van chemikalieë en biljoene jare se tyd die eerste lewende selle spontaan bymekaar gekom het deur waarneembare en meetbare natuurlike verskynsels en met replikasie na replikasie verbeter het om meer kompleks te word? So hou maar gerus aan hammer om daai vierkantige stokkie in die ronde gaatjie in te forseer en te hoop niemand kom agter nie. 🙂

Monday at 10:20pm · Like

Hennie Mouton

Nee Yolandi, alle sedimentêre gesteentes in die wêreld is nie presies dieselfde ouderdom nie – jy bly steeds besig met jou strooipop-bewerings. Wat behoorlike vertolking van die gesteentes wel aantoon, is dat die sedimentêre gesteentes van die grootste gedeelte van die geologiese kolom nie miljoene of selfs duisende jare van mekaar kan verskil nie. Ek het reeds vir jou wetenskaplike redes daarvoor genoem. Die C-14 wat in diamante bestaan wat in kambriese gesteentes gevind is, is ’n verdere stuk getuienis, want dit wys dat die geologiese kolom tot op daardie diepte maar enkele duisend jaar oud is. Die hoeveelheid C-14 in alle steenkool dui ook op baie jonger ouderdomme as die miljoene jare wat evolusioniste so graag glo.

Yolandi jy besef tog sekerlik dat alles wat in ’n vloed sou vergaan, nie sou fossileer nie – slegs die wat deur materiaal soos modder bedek is? Heelwat van die diere en mense wat verdrink het, sou eenvoudig vergaan het sonder om ooit te fossileer. Onthou jou eie “witkraai”-argument.

God het in die begin alle soorte geskep, maar daar was voldoende variëteit in elke soort ingebou dat spesie-ontwikkeling later binne elke soort gebeur het. Nuwe spesie-ontwikkeling is egter begrens en kan nie die grense van soorte oorsteek nie. ’n Spesie uit een soort het dus nooit verander in ’n spesie van ’n ander soort nie. Daarom byvoorbeeld het die mens en die aap nooit ’n gemeenskaplike voorganger gehad nie, en is evolusioniste dus besig met ’n vrugtelose gesoek na geskikte kandidate want dit het nooit bestaan nie. En voor jy dalk nog ’n strooipop-stelling maak – niemand ontken dat australopithecines en ander uitgestorwe aapsoorte bestaan het nie – die verskil van opinie gaan oor hul betekenis.

Yolandi, jy het my nooit geantwoord oor wie of wat die wonderwerk van evolusie volgens jou eie woorde, laat gebeur het nie. Dink jy nog daaroor?

Watter waarneembare en meetbare natuurlike verskynsels kan jy opnoem wat die eerste lewende sel uit chemikalieë spontaan laat ontwikkel het? Die hele ongelowige wêreld sit en wag nog op so iets, want die Miller-Urey-eksperimente en al die opvolgende pogings het niks opgelewer nie. En moenie met die verskoning kom dat dit nie is waaroor biologiese evolusie gaan nie – dis jy wat een of ander wetenskaplike grond moet vind om hierdie een te antwoord sonder ’n bonatuurlike Skepper, of jy dit nou onder evolusie wil klassifiseer of nie.

Yolandi, die rede waarom God mens en dier feitlik totaal uitgewis het in Noag se vloed, word gegee in die Bybel. Ek dink jy weet dit – dit het eintlik gegaan oor die mens se rebellie teen God. En ek is bevrees jou verwerping van God en jou aanhang van evolusie wat strydig met die Bybel is, wys dat jy in hierdie stadium van jou lewe ook maar skrikwekkend rebels teen God is. Maar gelukkig vir jou is dit nog nie te laat so ver ek weet nie.

Jy praat van “pragtige fossiele van properse dinosaurusse wat veer-agtige huidbedekkings gehad het”. Noem asseblief die name, dan kan ons kyk na die meriete van jou voorbeelde. Ek weet van ’n paar hoopvolle kandidate wat later heel gefaal het.

Yolandi, jy is heel verkeerd dat moderne soogdiere en moderne voëls nie in dieselfde strata as dinosourusse gevind is nie. Daar is geweldig baie gevind – gaan kyk gerus na http://creation.com/werner-living-fossils

Dat mense en dinosourusse saam bestaan het, kan ek nie vir jou uit die fossielrekord aantoon nie. Daar is enkele aanduidings daarvan, maar omdat ander vertolkings van daardie data beter lyk, sal ek nie dit as getuienis voorhou nie. Maar goeie bewysstukke vir die saambestaan van mense en dinosourusse bestaan wel in ander velde van die wetenskap. As jy my daaroor vra, sal ek dit in ’n volgende skrywe vir jou opsom.

Yesterday at 12:09am · Like ·

Yolandi Van Der Merwe ‎

“…daar was voldoende variëteit in elke soort ingebou dat spesie-ontwikkeling later binne elke soort gebeur het” – EVOLUSIE, sê jy? 🙂

Yesterday at 10:08pm · Like

Hennie Mouton

Nee Yolandi, as evolusie maar net beteken het dat spesie-ontwikkeling binne ’n soort plaasgevind het, sou baie min mense dit nie aanvaar het nie. Jy lees of verstaan maar baie sleg wat ek geskryf het, en jy antwoord ook nie my vrae nie.

23 hours ago · Like

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui