André Gaum “skynheilig” oor kind skool toe is

Advokaat André Gaum is die Wes-Kaapse menseregtekommissaris. Tydens die Covid-19 inperking is alle kinders belet om skool to

******

DA sê MRK se Gaum is skynheilig oor sy kind glo skool toe is | Netwerk24

Deur Warda Meyer

03 Junie 2020

Die DA sê die Wes-Kaapse kommissaris van die Menseregtekommissie (MRK), adv. André Gaum, is skynheilig nadat Gaum glo sy kind skool toe gestuur het, terwyl die MRK die provinsie hof toe wil sleep oor die heropening van skole.

John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, het Dinsdag vir Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, op die party se aanlyn Facebook-program, CoronaCast, uitgevra oor die MRK se hofgeding teen die provinsie oor die opening van skole.

Die kommissie het aangedui dat hy die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) hof toe gaan sleep oor sy besluit om die skole vandeesweek te open en het versoek dat indien kinders skole toe gaan, geen onderrig moet plaasvind nie.

Dit kom nadat die nasionale onderwysdepartement Sondag op die nippertjie aangekondig het die heropening van skole vir gr. 7- en gr. 12-leerlinge word met ’n week uitgestel tot 8 Junie omdat skole in groot dele van die land nog nie gereed is nie.

Steenhuisen wou ook weet hoeveel kommissarisse van die MRK kinders het wat skoolgaan en hoeveel van hulle het hul kinders skool toe gestuur.

Volgens die LUR was sy verstom dat Gaum, wat aan die voorpunt van die aksie teen die WKOD staan, se kind wel Maandag terug skool toe is.

“Ek is ’n bietjie verbaas oor die rede waarom hy nie wil hê dat ons onderrig moet gee nie, gegewe dat sy kind skool toe is. Ek kan nie eintlik die houdings versoen nie,” het Schäfer gesê.

Steenhuisen het gesê dat Gaum “sy skynheiligheid sal moet verduidelik”.

Gaum het by navraag gesê hy sal nie kommentaar lewer oor sy private lewe nie en vertrou dat almal sy reg tot privaatheid sal respekteer.

“Dit is besonder onbehoorlik, teen die beste belang van ’n kind ingevolge die Grondwet, en onbetaamlik vir ’n openbare verteenwoordiger, wat nog te sê ’n LUR van onderwys, om ’n kind te probeer betrek om enige rede, veral ’n opportunistiese rede, en nog selfs meer so om ’n grondwetlike instelling aan te val,” het Gaum gesê.

Volgens die Wes-Kaapse MRK-kommissaris is dit om die minste te sê uiters skokkend. “En as die leier van die opposisie die LUR se voorbeeld volg, laat dit groot vrae ontstaan.”

Intussen sê die MRK dat hy nie sal skroom om Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en Schäfer in die hof te pak oor die wyse waarop die heropening van skole gedurende die staat van inperking gehanteer word nie.

Die kommissie voer aan die huidige regulasies is diskriminerend teenoor skole wat nie aan die maatreëls vir sifting, sanitasie en die handhawing van ’n gesonde afstand kan voldoen nie.

Die MRK sê in die lig van die besorgdhede oor en uitdagings rondom die gereedheid van skole om oop te maak, sal die kommissie die volgende maatreëls tref:

* Die minister van basiese onderwys en haar LUR’e versoek om inligting te verskaf oor alle skole wat nie gereed is om oop te maak nie;

* Inligting versoek rakende alternatiewe maatreëls wat ingestel is om te verseker dat leerlinge wie se skole nie kragtens die Covid-19-regulasies kan oopmaak nie, nie agterweë gelaat word nie; en

* Skole landwyd monitor om te verseker dat onderrig plaasvind en dat geen leerlinge onnodig benadeel word deur die onvermoë van skole om oop te maak nie.

Die MRK sê hy sal nie huiwer om die nodige maatreëls te tref nie, insluitend litigasie, indien nodig, om te verseker dat leerlinge nie hul reg op basiese onderwys onbehoorlik ontneem word nie.

Die kommissie het ook ’n dringende vergadering met die nasionale Covid-19-bevelsraad om die probleme by skole te bespreek.

**********

Kruisverhoor: Gaum: ‘Ek praat nie oor my private aangeleenthede’ | Netwerk24

Deur Hanlie Retief

07 Junie 2020

Skynheilig? Nie ék nie,’ sê die Wes-Kaapse Menseregtekommissaris, adv. André Gaum, oor hy sy eie kind skool toe stuur terwyl die MRK die Wes-Kaap hof toe wil sleep oor hulle skole vroeër as die res van die land heropen het.

Wat is verkeerd daarmee as die Wes-Kaap skole vyf dae vroeër open?

Want dit versterk en vererger die ongelykhede in ons samelewing.

Waarom het die MRK dan nog nooit geëis dat alle skole toemaak oor sekeres steeds puttoilette het nie?

Ons is besig om toenemend druk op die regering toe te pas om water en sanitasie by skole reg te stel.

Hoeveel keer het die MRK al daarop aangedring dat alle skole ’n week later moet begin omdat skole in Limpopo nooit betyds handboeke kry nie?

Ons kry verskeie klagtes oor skole en pas druk toe op departemente en gaan hof toe om kinders se reg tot basiese onderwys te handhaaf.

As jy so sterk voel dat die Wes-Kaapse skole nie mag heropen voor die res van die land nie, hoekom het jy jou eie kind Maandag skool toe gestuur?

Ek praat nie oor my private aangeleenthede nie, dit behoort gerespekteer te word. Daar is gesê ek is skynheilig. Die eintlike skynheiliges is dié wat dit gesê het. Hulle gee voor hulle tree in die beste belang van kinders op, maar betrek dan kinders om politieke punte aan te teken. Dis ’n nuwe laagtepunt in ons openbare diskoers.

So jy sê jy is nie bereid om die beginsel wat jy op die res van die land wil afdwing op jouself toe te pas nie?

Ek het geen verdere kommentaar nie.

Hoe kan jy jouself die reg toeëien om die opvoeding van jou eie kind as ’n private kwessie te beskou terwyl die opvoeding van ander mense se kinders ’n kwessie vir die MRK is?

Ek sou dink dit is Rapport se beleid om die beste belang van die kind voorop te stel en dit nie ’n politieke speelbal te maak nie.

Is die feit dat jy jou kind skool toe gestuur het nie maar soos ministers wat hul kinders private skole toe stuur omdat hulle nie kans sien vir staatsonderwys nie?

Dit help nie om verdere vrae oor ’n private aangeleentheid te vra nie.

Het jy vir die beheerliggaam en skoolhoof van jou kind se skool gesê die MRK reken die skool moet eers volgende week oopmaak?

Die MRK se standpunt was dat die nasionale posisie, soos dit verlede Sondag geblyk het te wees, behoort te geld. Dit het weer verander, want om een of ander rede het die nasionale minister se nuwe riglyne steeds die datum van 1 Junie as heropeningsdatum van skole behou. Dit stel die eienaardige posisie daar: Tree die ander provinsies onwettig op deur nie op 1 Junie oop te maak nie?

Hoekom fokus die MRK nie liewer daarop om die 400 000 mense wat onwettig gearresteer is se menseregte te beskerm nie?

Ons fokus op ’n verskeidenheid van menseregteskendings wat onder ons aandag gebring word.

Het die MRK enige saak wat uit die inperking spruit ondersoek wat die regering in die verleentheid kan stel?

Dis ’n wanopvatting dat ons nie die regering takel nie. As die minister nie die riglyne gewysig het vir alternatiewe reëlings vir skole wat nié kan oopmaak nie, sou ons die saak hof toe geneem het. Ons moet prioritiseer, want ons kan nie al die klagtes aanpak nie.

Hoekom prioritiseer die MRK die klagtes dat diegene wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma kritiseer “rassisties” was, terwyl honderdduisende gewone mense se regte veel erger geskend is tydens die inperking?

Dis ’n klagte wat ons ontvang het, dit word soos alle klagtes hanteer. Ons het die skoolkwessie geprioritiseer.

**********

MRK se Gaum is ANC-naprater | Netwerk24

14 Junie 2020

Elred Ferreira, Orania, skryf: Die menseregtekommissaris adv. André Gaum se antwoorde op die vrae van Hanlie Retief verlede week illustreer net weer hoe vals die wit liberaal in ons land is.

Hierdie man baklei namens die kommissie dat kinders nie moet teruggaan skool toe totdat al die skole nie reg en veilig is om terug te gaan nie, want dit sal die ongelykheid in ons samelewing net vererger. En terselfdertyd gaan sy eie kind reeds meer as ’n week skool. Hoeveel valser kan jy wees?

Toe ek ’n parlementslid-LP was, was Gaum – as Nasionale Party-lid – een van die mees uitgesproke anti-ANC-lede in die parlement. Nie lank daarna nie, toe sit hy knus op die ANC-banke en die ANC is alles wat goed is.

Christhénus van der Vijver, Kuilsrivier, skryf: Adv. André Gaum bevestig maar net weer dat die ANC nie in staat is om almal op te bou tot ’n gelyke vlak nie, maar uitstekend daarin slaag om alles af te breek tot op ’n vlak waar hul mislukking as ’n regerende party verbloem kan word. Die onderwysstelsel het al ver gevorder om standaarde te verlaag. Ek twyfel of Gaum hierdie sentiment sou gedeel het toe hy in die Wes-Kaap die LUR vir onderwys was, maar nou is hy mos ’n ANC-naprater.

Kobus Esterhuyse skryf op Netwerk24: Het adv. André Gaum gelees wat Sonja Loots in haar rubriek (“Het jy geweet die kind wat mielies wou koop, is dood?”) skryf? Hoe hou die MRK julle met die feite oor die dood van hierdie onskuldige mense besig? Of is dit nie menseregtevergrype nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui