Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Vrystaatse sinode bly deel van algemene sinode | Netwerk24
Marita Herselman
Netwerk24
Dinsdag, 9 Junie 2026
Die NG Kerk Vrystaat gaan nie bande met die algemene sinode (AS) breek nie en ook nie in twee streeksinodes verdeel sodat een wel uit die verband kan tree nie.
So het die Vrystaatse sinode Maandagmiddag weer eens besluit nadat hy vir die soveelste keer in die laaste paar jaar oor die kwessie moes stem.
Dit volg nadat die teologies-kategoriale ring van die Vrystaat, ’n groepering van behoudende gemeentes wat nie saam met die besluite van die AS stem nie, gevra het dat daar weer op vandeesweek se sinodevergadering daaroor beslis moet word.
Die Vrystaatse sinodesitting, wat vanjaar op Nampopark buite Bothaville gehou word, het Sondag begin en duur tot Woensdag.
Hoewel dié ring – wat beskrywingspunte oor die kwessie vir die vergadering ingedien het – teleurgesteld is oor die besluit, berus hy daarby.
So sê ds. Ulrich Ohlhoff, voorsitter van die ring en leraar van die NG kerk Harrismith.
“Ek dink ons is teleurgesteld, want dit laat maar ’n klomp onsekerheid oor waarheen behoudende gemeentes in dié stadium gaan, afhangend van wat dalk met die derde beskrywingspunt kan gebeur. Maar ’n mens is maar teleurgesteld, want op ’n manier sê die besluit dat die Vrystaat-sinode verkies om deel te bly van die AS ten koste van behoudende gemeentes.”
In die betrokke beskrywingspunt het die ring die sinode versoek om ’n proses van losmaking goed te keur vir gemeentes wat nie meer langer kans sien om deel van die verband te wees nie. Dit sal eers Woensdag gehanteer word.
“Indien dit afgekeur word, laat dit nogal probleme. Dan het ons eintlik geen pad vorentoe nie en sal dit in ’n mate gemeentes wat nie meer deel wil wees nie, dwing om dan eintlik op ’n onkerkordelike manier uit die verband te gaan – wat ander gemeentes al gedoen het.”
Ds. Jan Lubbe, voormalige voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, bied in ’n video op dié kerk se Facebook-blad ’n oorsig oor die eerste twee dae.
Hy verwys onder meer na die besluite wat kerkverband betref, en sê daar is besluit om na eenheid te soek.
“Daarom gaan ons verder en wil ons na die kerkorde kyk – watter moontlikhede daar is om gemeentes te help om te kan tuiskom, regtig binne ’n verband waar hulle kan voel hulle die Here in vrede kan dien, deel kan wees van hul roeping,” sê Lubbe.
Ds. Christo Weideman van die NG kerk Kroonheuwel-Noord in Kroonstad en voorsitter van die Vrystaat se sinodale taakspan-kerkorde is Maandag as die nuwe voorsitter van die Vrystaatse moderamen aangewys.
Die nuwe leierskorps het Dinsdag die leisels op die vergadering oorgeneem. Weideman, wat in die pas afgelope termyn die moderamen se aktuarius was, het nie Dinsdag te midde van dié lywige program kans gehad om Netwerk24 telefonies te woord te staan nie.
Lubbe is steeds die voorsitter van die algemene sinode se moderamen.
LEES OOK | Vrystaatse sinode kies eenheid
Die moderamen van die NG Kerk Vrystaat het in Maart verlede jaar die stigting van ’n teologies-kategoriale ring in beginsel goedgekeur.
In dié ring groepeer gemeentes met dieselfde teologiese oortuigings saam, pleks van in streekverband, soos die res van die gemeentes in die provinsie.
Die NG kerk Harrismith, Kroonstad en Parys-Suid het die ring, wat nou tot sewe gemeentes gegroei het, in Junie 2025 gestig. Die NG Kerk Vrystaat bestaan uit 149 gemeentes.
Behoudende gemeentes stem nie saam met hoe die AS die Bybel interpreteer nie.
Ohlhoff sê die kwessie oor kerkverband het nie soos voorheen tot intensiewe debatvoering gelei nie. Dis relatief vinnig en doeltreffend gehanteer voordat hulle daaroor gestem het.
Lubbe, wat toe nog die moderator van die NG Kerk Vrystaat was voordat die nuwe leierskorps verkies is, het voor die sinodesitting aan Netwerk24 gesê die verdeeldheid in die Vrystaat het aansienlik getaan.
Ohlhoff sê daar moet in ag geneem word dat aansienlik minder afgevaardigdes as voorheen vir die sinodesitting opgedaag en sekere gemeentes reeds weggebreek het.
“Die meeste van dié wat besluit het hulle kom nie, het nie gekom nie omdat hulle behoudend is en nie meer hier wil wees nie.”
Hy sê wel daar is groter eenheid tussen diegene wat opgedaag het.
Volgens hom heers daar in die algemeen ’n positiewe atmosfeer by vanjaar se sinodesitting.
“Ek dink daar is goeie samewerking in terme van gemeentes wat by mekaar leer. Daar is goeie samesyn rondom roeping en hoe gemeentes in die Kerk, Vrystaat en samelewing ’n verskil kan maak.”
- Die res van die dagbestuurslede van die Vrystaatse moderamen vir die vierjaartermyn is ds. Riaan van Zyl (NG kerk Bethlehem-Wes) as ondervoorsitter, dr. Leon Foot (uitvoerende amptenaar van die NG Kerk Vrystaat se bedieningsbegeleiding) as skriba, ds. Leon Oosthuizen (NG kerk Langenhovenpark in Bloemfontein) as aktuarius en ds. Charles James (NG kerk Pellissier in Bloemfontein) as addisionele lid.
Kommentaar
Daniel Louw
‘n Mens kry die idee dat die voorstel van die Teologies-Kategoriale ring nie baie steun gekry het in die sinode nie.
Die feit dat baie behoudendes in die Vrystaat nie meer die Vrystaatse sinode bywoon nie, help ook nie die Teologies-Kategoriale Ring se pogings nie.
Die Teologies-Kategoriale Ring sal moet besluit of hulle werklik nog enige invloed op die Vrystaatse sinode kan uitoefen om die teologiese strominge in die NG Kerk om te draai.
As ek die berig reg verstaan het Ohlhoff van die Teologies-Kategoriale ring die volgende gesê het:
Hy sê wel daar is groter eenheid tussen diegene wat opgedaag het.
Volgens hom heers daar in die algemeen ’n positiewe atmosfeer by vanjaar se sinodesitting.
“Ek dink daar is goeie samewerking in terme van gemeentes wat by mekaar leer. Daar is goeie samesyn rondom roeping en hoe gemeentes in die Kerk, Vrystaat en samelewing ’n verskil kan maak.”
Indien dit so is, lyk dit glad nie vir my of hy/hulle werklik ernstig is oor die verskille in die kerk nie.
Alles in ag genome kan ek dan heeltemal verstaan hoekom Lubbe sê:
die verdeeldheid in die Vrystaat het aansienlik getaan.
En hoekom Christo Weideman blykbaar sê dat die Vrystaat rustig is. Kyk ‘Hoe gaan dit met die NG Kerk in 2026?’ – In gesprek met Maartje van der Westhuizen en ander (Youtube).