Kyk ook:
Hierdie het ook in Kerkbode verskyn as
- Oor ‘droom-scenario vir NG Kerk’ (26 Mei 2022, Dubois du Toit, Kerkbode)
*******
Dít is die rede vir vasgelooptheid in die NGK | Netwerk24
Dubois Du Toit, Kestell
Volksblad
Maandag, 23 Mei 2022
Daar was al baie konflik oor die Algemene Sinode (AS) se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings (SGV) wat gelei het tot vasgelooptheid in die NG Kerk, met die grootste verdeeldheid seker in die geskiedenis. Maar in dieselfde sinodesitting in 2019 het ’n verslag gedien wat dalk groter implikasies gaan inhou vir toekomstige kerkeenheid.
In 2016 het die AS aan ’n taakspan opdrag gegee om ondersoek in te stel na die kerk se toekoms as kerkverband en die posisionering van haar rol as missionale kerk in Suid-Afrika. Dié taakspan se bevindinge is by die 2019-sinode voorgelê as Visie 2030, wat later Droom Scenario 2030 geword het, en waarin verskeie skokkende voorstelle gemaak is wat aandui waarmee die AS oor jare heen besig is.
Waar die evangeliese ywer van die NG Kerk die afgelope 30 jaar afgeneem het, het die kerk se missionêre fokus nou geskuif na missionale diakonaat wat sentreer rondom maatskaplike geregtigheid en só word dit gedoseer aan teologiese fakulteite. Die doelwitte is in lyn met die VN se Agenda 2030. Daar is ’n samehang tussen die Grondwet (menseregte) en Visie 2030 wat alle kerkgemeenskappe (“Reformed Family Forum”) wat reeds in netwerke by die NG Kerk betrokke is, wil saamneem in vennootskappe om ’n nuwe alternatiewe, ekumeniese, inklusiewe, relevante, vloeibare kerkgroepering te vestig in “een liggaam van reformatoriese geloofsgemeenskappe”, met ’n eie belydenisgrondslag. Om dit reg te kry, moet die 500 jaar oue soliede, eksklusiewe, nie-relevante gereformeerde patriargale kerk se identiteit nie net aangepas word nie, maar afgebreek en getransformeer word. Die voertuig is die Algemene Kuratorium (AK) en teologiese skole. Daar is jare reeds ekumeniese samewerking om leraars en geestelike leiers van alle kerkverbande op te lei en hierop voor te berei.
Dit is waarom ons vasgeloop is – die eksklusiewe en inklusiewe groeperinge in die NG Kerk verskil oor ons Bron van waarheid, waar ons vandaan kom en ons visie waarheen ons op pad is.
God het ons ’n opdrag gegee in Matt 28., maar as dié opdrag deur die kerk verander word, kan ’n groep lidmate en leraars nie saamloop nie. Ons moet dus almal die Bron herontdek as ons vertrekpunt en God se droom of visie vir Sy kerk uitvoer, sonder om aanpassings te maak. Dan is ons die ware kerk van Christus.