- Om kerk en staat te skei
- Godsdiens en politiek: ’n Dodelike mengsel (12 Sep 2025, Johan van der Merwe)
*******
Brief | Geloof en politiek: Vermenging is onvermydelik – Kerkbode
Kerkbode
24 September 2025
Julian Olivier van Groblersdal skryf: Ek het met belangstelling prof Johan van der Merwe se stuk “Godsdiens en politiek: ’n dodelike mengsel” (Kerkbode, 12 September) gelees. Hoewel ek sy waarskuwing teen die misbruik van geloof vir politieke doeleindes deel, meen ek ons moet ’n belangrike onderskeid tref: Dit is nie die vermenging van geloof en politiek wat noodwendig dodelik is nie, maar die verkeerde manier waarop dit gedoen word.
Vir Christene is dit eenvoudig onmoontlik om geloof en politiek van mekaar te skei. Om te sê godsdiens moet nie met politiek meng nie, klink wys, maar dit impliseer dat geloof tot die private sfeer beperk moet bly. Tog leer die Bybel dat Jesus Christus Here van die hele lewe is. Ons mag Hom nie uit die openbare ruimte verban nie. Wanneer ’n Christen stem, beleid evalueer of gesprek voer, gebeur dit vanuit ’n wêreldbeskouing wat gewortel is in God se Woord en die belydenis dat Jesus Christus Koning is.
Die vraag is dus nie óf geloof en politiek meng nie, maar hóé. Daar is ’n verskil tussen geloof as instrument van ideologie, en geloof as getroue getuienis aan Christus.
Die geskiedenis bied waarskuwings. Die Kruistogte het begin as verweer teen Islamitiese oorheersing, maar het ontaard in plundering en moord. Met die Rooms-Katolieke Spaanse Inkwisisie het kerk en staat saamgewerk om geloofseenheid af te dwing – met verwoestende gevolge. In Suid-Afrika het dele van die kerk apartheid as “Gods wil” gesien, terwyl ander ná 1994 onder die vaandel van “menseregte” aborsie verdedig het. En in Engeland het die staatskerk onlangs ’n transgender-liturgie aanvaar, ten spyte van regsgedinge oor die skade wat geslagsideologie kinders berokken.
Tog wys die geskiedenis ook hoe geloof ’n seën kan wees. William Wilberforce, gedryf deur sy evangeliese oortuiging, het vir dekades in die Britse parlement vir die afskaffing van slawehandel geveg, gegrond op tekste soos 1 Timoteus 1:10 wat onbybelse slawehandel veroordeel. In Suid-Afrika het teoloë soos BB Keet en Willie Jonker apartheid vanuit die Skrif as onaanvaarbaar ontmasker en versoening bevorder sonder om mag te gryp.
Net om kerkhistoriese verwarring te voorkom: Dr DF Malan was ’n vrysinnige NG teoloog wat die betroubaarheid van die Evangelies bevraagteken het. Hy was die politieke argitek van apartheid. Prof Johan Heyns, aan die ander kant, het die gesag van die Skrif verdedig en apartheid as onbybels verwerp – ’n standpunt wat waarskynlik tot sy sluipmoord in 1994 bygedra het.
Om in 2025 neutraal te probeer wees, is self ’n politieke standpunt – dikwels een wat die status quo bevestig. Die besluit van die 2023 Algemene Sinode om uiteenlopende standpunte oor seksuele etiek te akkommodeer, illustreer dit.
Die werklike vraag is dus nie of geloof en politiek mag meng nie, maar aan watter Koning dit getoets word. Wanneer ons dit uit gehoorsaamheid aan ons Here Jesus se koninkryk uitleef, word dit nie ’n dodelike mengsel nie, maar ’n lewensnoodsaaklike en profetiese getuienis.