Wie is Andrew Murray?

Sommige jongmanne aan die Kaap het in Nederland gaan studeer om opleiding as leraars te kry. Dit was ’n tyd toe teologiese liberalisme sterk opgang in Nederland gemaak het. Hierdie Hollandse leraars het die liberale teologie waarin hulle opgelei is na SA saamgebring.

DR ANDREW MURRAY KAPING (deur Ferdie Mulder)

By die NG Kerk se Sinode van 1862 aan die Kaap is die 34-jarige Andrew Murray as moderator gekies. Hy is daar gekonfronteer met die dwaalleer van sommige van die leraars wat in Nederland gestudeer het. Ds JJ Kotzé van Darling het gesê hy aanvaar nie die bewoording in Vraag 60 in die Kategismus “dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is” nie. Na ’n lang gesprek is besluit dat ds. Kotzé “onwaardig” is om sy amp as leraar te beklee.

Daar is ook ’n klagte aangehoor aangaande ds. TF Burgers van Hanover . Ds. Burgers is skuldig bevind aan “loëning van die persoonlike bestaan van die duiwel asook van die onsondigheid van die menslike natuur van Christus”.

Die Sinode het bevind dat dié leraars, “hulle skuldig gemaak het aan dwaling van die leer en dat hulle ontrou geword het aan hulle plegtige belofte wat hulle by hulle legitimasie aangegaan het”. Die leraars het hulle dadelik weens hulle skorsing tot die hof gewend. Die saak het uiteindelik by die sogenaamde Geheime Raad van Brittanje gedraai, waar dr. Murray telkens die NG Kerk se saak op uitmuntende wyse, maar sonder sukses verdedig het. Die NG Kerk was verplig om met die onverkwiklike situasie in hulle midde saam te lewe. Die nuwe Teologiese Kweekskool het regsinnige leraars in die kerk begin beskikbaar stel en so is die bitter verdeeldheid in die kerk geleidelik besweer.

Dr Murray het hom voortdurend beywer vir die regsinnige leer in die Kerk met debatte en geskrifte oor “Die Moderne Ongeloof” en die “Die Moderne Teologie”. Hy was besorg daaroor dat die Kerk met onregsinnige leraars “gif” aan die lidmate voorsien. Sy gewete het hom gepla oor leraars wat “onrein van lewe en onsuiwer van leer welkom is, ja, deur die Kerk aan die gemeentes voorgestel word as geskik om hulle na die hemel te lei, as waardig om vertrou te word en aanspraak het om gehoorsaam te word”.

Dit was ’n baie moeilike tyd vir die NG Kerk. In die sekulêre pers is ook kant gekies vir die verskillende standpunte in die kerklike stryd.

Dr GBA Gerdener maak die volgende opmerkings oor daardie tyd:

Die ou terme van die regsinnige teologie is nog behou, maar ’n nuwe betekenis is daaraan gegee. …Menings oor die persoon en werk van die Here Jesus Christus het uiteengeloop. Vir die liberaalgesindes was Jesus ’n goddelike mens, maar nie meer God self nie. Daar is smalend na die leer van die Versoening as “bloedteologie” verwys. …

Toe die aangeklaagde dominees deur die hof in hulle ampte herstel is, het daar juigkrete opgegaan deur die Liberales, dat die dag vir algehele leervryheid in die kerk aangebreek het. By die regsinniges het verslaentheid en ontsteltenis geheers. As die kerklike liggame dan magteloos is om leertug toe te pas, wat sou dan van die kerk word. …

’n Liberale maandblad met die naam De Onderzoeker is uitgegee onder redaksie van Leopold Marquard. Hy het in die eerste uitgawe gesê: Ons maak geen aanspraak op kerklike regsinnigheid nie. …

By die Anglikaanse kerk het daar ’n soortgelyke stryd in 1862 teen biskop J.W. Colenso van Natal ontstaan. Hy het die historiese betroubaarheid van die Pentateug bestry. Dit het tot ’n noodlottige skeuring in die Anglikaanse kerk gelei.

(Andrew Murray Versamelde Werke Deel 2)

Vandag word Andrew Murray steeds deur die NG Kerk vereer deur die feit dat die jaarlikse pryse vir beste Afrikaanse teologiese publikasies na hom vernoem is (kyk Andrew Murrayprys). Intussen het die NG Kerk dit ook goed gedink om die liberale Desmond Tutu en Gerrit Brand op dieselfde wyse as Andrew Murray te vereer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui