Waak teen valses wat Woord verdraai

Kyk ook:

Die volgende artikel is deur Pastoor Gerrit van der Walt geskryf.

Addisionele kommentaar verskyn tussenin in [rooibruin blokhakies].

**********

Waak teen valses wat Woord verdraai

Netwerk24

Gerrit van der Walt, Dinsdag 14 Julie 2015 04:30

God se woord is onveranderbaar en kan nie verdraai word om ’n klein groepie ongehoorsame mense te akkommo­­deer nie, skryf Gerrit van der Walt in die gay-debat.

‘Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Genesis 2:24).

Elke mens is geskape na die beeld van God en dit word vervat in hierdie leerstelling.

Maar elke mens het ook ’n geslag en dit is onlosmaakbaar dat ons na die beeld van God geskape is. Met die Bybelse leerstelling van die mens moet daar in ag geneem word dat ons as manlik en vroulik geskape is.

Om na die onderwerp van geslag te kyk, moet ons ook na die huwelik kyk, want die betekenis daarvan kan net in die huwelik ten volle tot sy reg kom.

Die huwelik word juis in die weergawe van die skeppingsverhaal in Genesis 2 uitgebeeld. Dit is inderwaarheid die klimaks van die skeppingsverhaal en is gewortel in die mens se samestelling.

Dit is onmoontlik om die mens in sy totaliteit te verstaan indien ons die huwelik nie verstaan nie. Die Bybelse leerstelling oor die huwelik bring die sleutelfaktore en dimensie van die mens na vore.

Ons is almal geskape vir die eenwording wat in ’n huwelik is. Die ­leerstelling van die huwelik bring die mens se verhoudingsaard na vore.

Die seksdaad van die huwelik is man en vrou wat een vlees word. Al die skrifte beklemtoon dit.

Met bogenoemde in gedagte is dit belangrik om te kyk na ’n paar belangrike punte in ’n gay- of lesbiese verhouding.

Word ek gay gebore?

Daar is nie ruimte om wetenskaplike feite te noem nie, maar die slotsom is dat mense nie homoseksueel gebore word nie.

[Kyk Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit.]

Kan ’n gay mens terselfdertyd ’n kind van Jesus Christus wees?

[Kyk ook Kan ons beweerde Christen gays veroordeel?.]

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers kyk na die teorie soos dit deur die skrywer G. Rotello nagevors is. “That same-sex sexual be­­haviour is the central value of all exist­ence and transcending everything ­else – nothing else may be allowed to interfere with it.”

Ons kan daaruit aflei dat dit sentreer om die gay-liefdesverhouding en alle ander liefde bestaan net daarin dat hulle die ander mens van dieselfde geslag liefhet, met geen plek vir iemand anders nie, en dit sluit Jesus in.

Hierdie soort liefde veroorsaak dat die geliefde die afgod word. Dit gaan net oor die selfbevrediging en die geliefde.

Die Christelike geloof bestaan juis uit die liefde wat ons openbaar teenoor Jesus Christus en Sy dood aan die kruis, Sy opstanding, wat insluit die oorwinning oor die hel en alle sondes, siekte en dood.

Sodat ons wat in Hom glo, nie verlore kan gaan nie, maar vir ewig saam met Hom kan wees (Johannes 3:16).

Om ’n kind van God te wees, beteken dat ek hom meer liefhet as die lewe self. Galasiërs 2:20: “Ek is met Christus gekruisig en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nog in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”

Deur Jesus die middelpunt van jou lewe te maak, sal ’n baie hegte verhouding met Hom deur die Heilige Gees plaasvind.

Johannes 3:30: “Hy moet meer word, maar ek minder.” Al wat dit behels, is ’n keuse. Enigiets wat tussen jou en Jesus kom, is ’n afgod, dit kan ook dwelms, alkohol en ’n ander mens vir wie jy lief is, insluit! Jesus kom eerste.

Ja, jy kan nog gevoelens hê vir homoseksuele aktiwiteite, maar as Jesus eerste in jou lewe is, praat die Heilige Gees met jou hier binne-in jou en dan word daardie verkeerde gevoelens vervang deur die liefde wat God aan ons bewys.

Wat is ons as kerk se verantwoordelikheid dan?

  • As homoseksuele mense my vra om hul verhouding goed te keur, sê ek: Nee.
  • As hulle my vra om hulle te trou, sê ek: Nee.
  • As hulle my vra om ’n amp in die kerk te beklee, sê ek: Nee.
  • As hulle my vra om verdraagsaam te wees en hulle lief te hê, sê ek: Ja.

Die kerk is ’n plek van genesing en herstel en my funksie as pastoor is om alle sondaars te akkommodeer, die woord onverskrokke te verkondig, ’n atmosfeer van aanbidding te skep en toe te laat dat die Heilige Gees met al Sy gawes die werk doen om mense tot ander insigte te bring. (1 Korintiërs 12).

Ek hoef nie ’n vergadering te belê om namens mense besluite te neem oor hul leefstyl nie, dit is die Heilige Gees se werk.

Maar omdat baie kerke, veral die Gereformeerde kerke, nie toelaat dat die Heilige Gees aktief in hul dienste funksioneer nie, sit hulle nou met hierdie dilemma.

Ons as Pinksterkerke is die vinnigste groeiende kerke in die land juis omdat ons baie fyn ingestel is op bogenoemde.

Nogtans woon bekeerdes, sondaars, soekendes en gays ons dienste by, want hulle ervaar aanvaarding in ons geledere en hulle kom tot bekering.

Ons dank die Here dat ons deur Sy Heilige gees menige getuienis het van mense wat hul ou lewe agtergelaat het en ’n nuwe lewe in Christus lewe.

Dit is baie eerbaar om te verklaar dat die liefde alles oorwin.

In 1 Petrus 1:13-15 stel Petrus dit baie duidelik dat ons ons lewe nie moet inrig volgens ons begeerlikhede nie, maar dat ons heilig voor God moet lewe.

In hoofstuk 2 sê hy baie duidelik dat ons die sonde moet afsterwe en dan verwys Petrus ook in sy tweede brief in hoofstuk 2 na Sodom en Gomorra en die regverdige Lot en dan natuurlik na die sedelose mense se losbandige lewe.

Paulus gee ook baie goeie lering in Efesiërs oor heiligmaking. In die meeste van Paulus se briewe, asook in Petrus se twee briewe, word gewaarsku teen die vals leraars wat die Woord so sal verdraai dat dit hulle pas.

Ek verwys na artikels in Beeld en spreek my kommer uit dat die waarheid van die Woord van God verdraai word om ’n klein groep ongehoor-same mense om verdraagsaamheid en liefde se onthalwe te akkommodeer.

God se woord is onveranderbaar.

  • Past. Van der Walt is uitvoerende hoof van die Christian Fellowship of Ministries – Southern Suburbs.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui