SA goed verteenwoordig wanneer WRK in Europa saamtrek

*******

SA goed verteenwoordig wanneer WRK in Europa saamtrek | Kerkbode

Gustav Claassen

8 Augustus 2022

’n Afvaardiging van die NG Kerk sal vanjaar vir die eerste keer sedert die 1960’s amptelik die Wêreldraad van Kerke (WRK) se Algemene Vergadering bywoon wat van 31 Augustus tot 8 September in Karlsruhe in Duitsland gehou word.

Dit sal die eerste keer wees dat hierdie invloedryke byeenkoms deur ’n Suid-Afrikaner, prof Jerry Pillay, gelei word. Prof Pillay, ’n lidmaat van die Presbiteriaanse Kerk van Suid-Afrika, is pas aangestel as die nuwe sekretaris-generaal van die WRK en was tot onlangs die dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Belangrike temas wat aandag sal geniet is onder andere klimaatsverandering, rassisme, geslagsgebaseerde geweld, die oorlog in die Oekraïne asook die Israel/Palestynse konflik.

Die WRK se Algemene Vergadering is die liggaam met die hoogste gesag en vergader elke agt jaar. Dit is ’n belangrike gebeurtenis vir lidkerke ten opsigte van besinning, besluitneming en feesviering.

Meer as 4 000 deelnemers, van regoor die wêreld, sal vanjaar bymekaar kom. Dit is ’n unieke geleentheid vir die kerke om hulle verbintenis tot sigbare eenheid en gemeenskaplike getuienis te verdiep. Die byeenkoms sal, aldus die leierskap van die WRK, ’n tyd wees om momentum te verseker vir kerke se gemeenskaplike pelgrimstog in die huidige globale konteks met sy uitdagings oor ’n breë spektrum.

Die WRK se Algemene Vergadering is die mees diverse Christelike byeenkoms van sy grootte in die wêreld.

Die vorige keer wat die vergadering in Europa plaasgevind het was in 1968 in Uppsala, Swede. Die vergadering vind plaas op uitnodiging van die Evangelische Kirche in Deutschland (EKD) en verskeie ander Duitse en Switserse kerke. Wat nie algemeen bekend is nie is dat die NG Kerk baie naby daaraan gekom het om die vergadering aan te bied en is in die finale rondte van besluitneming net-net deur die EKD geklop. Die amptelike afvaardiging van die NG Kerk bestaan uit ds Nelis Janse van Rensburg en dr Gustav Claassen met dr Nadia Marais, prof Hannes Knoetze, dr Henco van der Westhuizen en dr Nico Mostert wat die vergadering as waarnemers bywoon. Claassen is betrokke by die strukturering van die gesprek rondom rassisme en het onlangs ’n werksessie in Genève in die verband bygewoon.

Die WRK is ’n ekumeniese liggaam waaraan 352 kerke behoort wat meer as 580 miljoen Christene uit meer as 120 lande verteenwoordig. Die tema van die vergadering is “Christ’s love moves the world to reconciliation and unity”.

Die NG Kerk het in 1961 aan die WRK, wat krities teenoor die apartheidsbeleid was, as lidkerk onttrek. Na die tragiese gebeure by Sharpeville in Maart 1960 is die Cottesloeberaad in Desember 1960 deur die (WRK) belê. Besluite van dié beraad is deur die regering veroordeel en politieke druk het veroorsaak dat die NG Kerk, ’n stigterslid van die WRK, sy verhouding verbreek het as gevolg van harde kritiek van die ekumeniese liggaam.

Op die Algemene Sinode van 2007 is die besluit geneem om weer vir hertoelating tot die WRK aansoek te doen. Die aansoek van die NG Kerk is simpatiek deur die leierskap van die WRK ontvang. Getuienisse van die ander Suid-Afrikaanse kerke het die aansoek van die NG Kerk ondersteun. Die laaste stap in die proses tot lidmaatskap sou die goedkeuring van die Sentrale Komitee van die WRK in Trondheim, Noorweë wees. Na 55 jaar het die NG Kerk uiteindelik weer op 27 Junie 2016 ’n volle lid van die WRK geword. By hierdie historiese geleentheid was Janse van Rensburg en Claassen teenwoordig as verteenwoordigers van die NG Kerk.

  • Dr Gustav Claassen is die algemene sekretaris van die NG Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui