Kyk ook:
Vir die ope brief waarna verwys word, kyk Ope brief: teoloë pleit vir gays (1 Junie 2007).
*******
Ope briewe, die kerk en verandering | Die Burger
Volksblad/Die Burger, 2 Junie 2007
Frits Gaum
Die “ope brief aan die algemene sinode van die NG Kerk” oor die gay-kwessie geniet heelwat aandag in die media. Hier verduidelik dr. FRITS GAUM, eertydse redakteur van Kerkbode, skriba van die algemene sinode en een van die organiseerders van dié brief, wat die sin en waarde van so ’n gebaar is.
Nagenoeg 500 mense het die ope brief onderteken – van teoloë soos Allan Boesak, John de Gruchy, Etienne de Villiers, Elna Mouton, Willem Nicol, Christina Landman, Nico Smith, Yolanda Dreyer, Julian Müller en Wentzel van Huyssteen, tot letterkundiges en skrywers soos Elize Botha, Henning Snyman, Cecile Cilliers en Madeleine van Biljon. Van politici soos Johnny de Lange, Loretta Jacobus en Andries Nel, tot kunstenaars, sangers en komponiste soos Willie Bester, Steve Hofmeyr en Hubert du Plessis.
Die brief is onderteken deur gays, hul familie en vriende, en deur baie ander mense. Dis onderteken deur ’n hele aantal lidmate van die NG Kerk, maar ook deur nie lidmate met allerlei verbintenisse met dié kerk – óf deur familie, óf deur vriende, óf deur die geskiedenis.
Die ondertekenaars van die brief stel dit as hul oortuiging dat die meeste mense heteroseksueel gebore is en sommige mense gay. “Soos ‘n heteroseksuele oriëntasie nie sonde is nie, so is ’n gay oriëntasie nie sonde nie. En soos ’n morele heteroseksuele leefwyse nie sonde is nie, so is ’n morele gay-leefwyse nie sonde nie.”
Hulle sê dat hulle ’n God van liefde en geregtigheid aanbid. “Waar daar haat en onreg is, is God bedroef. Die algemene sinode word nou geroep om haat en onreg teen gays, in die samelewing én in die kerk, in die duidelikste taal af te wys.”
En: “Ons versoek die algemene sinode – ons pleit by u – dat u gay mense, nes heteroseksuele, as volwaardige mense en as volwaardige lidmate sal erken, dat u vir die diversiteit wat onder mense bestaan, ruimte sal gee, en dat u die deur ook sal oopmaak vir dié kerkrade wat gelei word om openlike gay mense tot ampsdraers te verkies of te beroep sonder om eise te stel wat nie vir ander mense geld nie.”
“OPE briewe” — het hulle enige nut? Al die briewe wat jaarliks aan mnr. Trevor Manuel voor sy begrotingsrede gestuur word (Tips for Trevor), al die briewe oor misdaad aan pres. Thabo Mbeki … het dit ooit enige uitwerking?
En ’n ope brief aan ’n kerkvergadering soos ’n sinode, wat op prosedures en kerkordes gesteld is … is daar ‘n kans dat dit hond haaraf sal maak? Daar is tog g’n moontlikheid dat dit formeel deur die sinode “ter tafel” geneem sal word nie. Wat is dus die sin daarvan?
Die sin daarvan is dat dit ’n sein uitstuur. Die sin daarvan is dat mense wat nooit by ’n sinode sal (of wil) uitkom nie, die kans gebruik om hul stem oor ’n uiters belangrike kwessie te laat hoor.
Die sin daarvan is dat die sinode, al is dit hoe informeel en “onkerkordelik”, meteens stemme van buite die vergaderingmure hoor wat hom vra om asseblief kerk van die evangelie te wees, kerk met “goeie nuus” vir mense wat te dikwels voel dat die dice vir hulle heeltemal verkeerd geval het.
In die NG Kerk is ope briewe nie heeltemal onbekend nie.
Die bekendste ander voorbeeld is die Ope Brief van 1982 waaroor later selfs ’n boek geskryf is: Perspektief op die ope Brief.
Dit was gerig aan “die NG Kerk” en is deur 123 predikante en gelegitimeerdes onderteken. Die brief het binne- en buitelands groot aandag getrek en baie reaksie uitgelok.
Dit is aanvanklik aan die destydse breë moderatuur oorhandig met die versoek dat hy dit moes voorlé aan die algemene sinode wat in Oktober daardie jaar sou vergader.
Die breë moderatuur wou, met ’n beroep op die reglement van orde, nie plan maak nie, en die briefskrywers het die stuk aan die Kerkbode gestuur. Die redakteur, ds. Tappies Moller, het dit op 9 Junie 1982 in dié blad geplaas.
In daardie ope brief is gesê:
‘Die kerk moet getuig: Dat ’n bestel waarin onversoenbaarheid tot ’n samelewingsbeginsel verhef word en die verskillende dele van die bevolking van Suid-Afrika van mekaar vervreem, Onaanvaarbaar is.
“Dat die wette wat simbole van hierdie vervreemding geword het, onder meer dié oor gemengde huwelike, rasseklassifikasie en groepsgebiede, nie Skriftuurlik verdedig kan word nie.
“Dat geregtigheid, en nie bloot wet en orde nie, die rigtinggewende uitgangspunt in die reëling van die samelewing sal wees.
“Dat alle mense wat Suid-Afrika as hul vaderland beskou, betrek behoort te word by die uitwerk van ’n nuwe samelewingsbestel.”
Daar is ook gevra dat die eenheid van die kerk en versoening in die land dringend aandag moet kry.
Hoewel die Kerkbode die 1982-ope brief volledig gepubliseer het, het die blad in hoofartikels sterk standpunt daarteen ingeneem. “Ons kerk neem besluite deur sy amptelike kerkvergaderings en sy standpunte word nie verteenwoordig deur petisies nie,” het die redakteur onder meer geskryf.
Hy het kapsie gemaak teen die “geheimsinnige” manier waarop mense genader is om die brief te onderteken, en het geskryf dat daar nie duidelikheid is hoe die ondertekenaars die één kerk wat hulle bepleit het, “in ons ingewikkelde Suid-Afrikaanse samelewing visualiseer nie”.
’N KWARTEEU later kan ’n mens wel vra wat die uitwerking van daardie ope brief was.
Die 1982-sinode het dit nie formeel bespreek nie, en afgesien van ’n briewestorm in die kerklike en dagbladpers, het niks dadelik daarna gebeur nie. Tot 1986, toe die algemene sinode met ’n nuwe beleidstuk, Kerk en samelewing, van apartheid begin wegstaan het.
In 1990 het die sinode nog verder weggestaan, in 1994 is pres. Nelson Mandela by die sinode verwelkom en is prof. Ben Marais en dr. Beyers Naudé om verskoning gevra dat daar nie voorheen na hulle geluister is nie, en in 1998 het die sinode die reste van apartheid finaal begrawe.
WAS dit alles aan 1982 se ope brief te danke? Sekerlik nie. Maar daardie brief het destyds ’n getuienis gelewer wat juis tóé baie nodig was en wat sonder twyfel uiteindelik tot verandering bygedra het. Ook om die ideaal van kerkeenheid lewendig te hou, al ontwyk dit ons nog altyd.
Nee, die kerk se besluite word nie via “petisies” geneem nie. En tog sal dit onverstandig wees as die kerk nie goed luister na wat daarin gesê en gevra word nie. Want dit slaan die spyker soms presies op die kop.
In die ope brief van 2007 word oor ’n ander brandende kwessie as in 1982 gepraat. By die ondertekenaars is daar nie twyfel nie dat dit, soos 25 jaar gelede, wel ’n bydrae kan lewer om die mense wat in kerkvergaderings besluite neem, twee keer te laat dink.
En die NG kerk is juis midde-in ’n sogenaamde “seisoen van luister” waarin lidmate opgeroep word om “na God te luister”, “na mekaar te luister” en “na ander te luister”.
Die ope brief van 2007 kan hiermee help.