Om te kniel of nie te kniel nie

Om te kniel of nie te kniel nie | Maroela Media

Deur Isak Burger

29 Oktober 2021

Die geknielery en gebalde vuiste by die T20-Wêreldbeker is tans groot nuus. Opmerklik is dat beide hierdie simboliese gebare ook ’n sterk Bybelse konnotasie het.

Om jou hande in die lug te steek, het in die Bybel die betekenis van eer en lof wat aan God gebring word. Dis egter nooit met ’n gebalde vuis gedoen nie, maar met hande wat oop is – simbolies daarvan om eer aan God te bring of barmhartigheid van Hom te ontvang. ’n Gebalde vuis spreek van aggressie, veglustigheid, rebellie en verset.

Om te kniel is een van die kragtigste simbole wat daar is. ’n Mens kniel nie voor enige persoon of saak nie. Dis ’n baie eksklusiewe gebaar. ’n Man kniel voor die meisie wat hy liefhet en vra om te trou, maar hy kniel nie voor verskillende meisies nie.

Om voor iemand te kniel het tradisioneel een van twee betekenisse gehad. Daar is gekniel voor iemand vir wie daar die allergrootste respek, agting, liefde, verering en dankbaarheid is. Dit is altyd ’n vrywillige en spontane, simboliese gebaar.

Die tweede rede wanneer daar gekniel is, was ’n teken van gedwonge oorgawe voor ’n vyand wat jou oorwin het. In tradisionele oorlogvoering en wanneer jy jou heerskappy en baasskap oor iemand wou bewys, is die persoon gedwing om te kniel. In teenstelling met die eerste rede, is dit nie vrywillig nie, maar gedwonge, en dit word teësinnig gedoen. Nou is dit nie meer verering nie, maar vernedering.

Hierdie tweede betekenis om te kniel, kom duidelik voor in ons gesegde wanneer iemand verloor het. So byvoorbeeld sal ons praat van ’n krieketspan wat “die knie moes buig” voor sy opponente.

Die eerste, vrywillige gebaar om te kniel het deur die eeue (en vandag steeds vir baie mense) hoofsaaklik ’n religieuse betekenis – vir alle godsdienste.

In die Bybel word dit male sonder tal vermeld dat mense voor God gebuig of gekniel het. Soos genoem, is dit een van die kragtigste simbole en het dit ’n dieper betekenis as wat ons besef wanneer ons kniel om te bid of God te vereer.

In die Bybel word hierdie gebaar as aanbidding eksklusief vir God gereserveer. In die gevalle waar mense in die Bybel voor ’n ander hemelwese soos ’n engel gekniel het, het die engel hulle onmiddellik gekeer en gesê dat daardie verering net vir God toekom.

In die lig hiervan beskou ek Krieket Suid-Afrika se opdrag dat ons hele T20-krieketspan op geboë knieë en met gebalde vuiste die BLM-beweging moet ondersteun as veragtelike politieke dwang en ’n flagrante vergrype aan die persoonlike en grondwetlike regte van die spelers.

Laat ek dit sover dit myself aangaan onomwonde sê dat God die enigste Een is voor wie ek my knieë buig!

  • Isak Burger is ‘n voormalige kerkleier en skrywer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui