NG Witfield verklaring ivm AS 2019 oor SGV

Kyk ook:

KERKRAAD VAN NG WITFIELD

28 Oktober 2019

VERKLARING IN VERBAND MET SELFDEGESLAGVERBINTENISSE

1. Agtergrond:

Die volgende aspekte van die Algemene Sinode 2019 se besluit omtrent selfdegeslagverbintenisse verwys:

  1. “1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het…”,
  2. “4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:
    4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;
    4.2 nie oor ander te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en
    4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.”
  1. “5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.”
  2. “8. Die Algemene Sinode erken dat daar:
    8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,”
  3. “9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig.”
  4. “10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
  5. “11. Die Algemene Sinode
    11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;”

In die lig van die bogenoemde gee die Algemene Sinode ruimte vir almal “om volgens hulle oortuiging op te tree“. Verder respekteer die Algemene Sinode alle lidmate, ampsdraers en kerkvergaderings se reg “om geloofsonderskeidende gesprekke” in eie konteks te voer en “deurdagte en verantwoordelike besluite te neem” omtrent selfdegeslagverbintenisse wat ook die moontlikheid insluit om die Algemene Sinode 2019 se besluit omtrent selfdegeslagverbintenisse in geheel te verwerp indien dit volgens hul oortuiging verkeerd is.

2. Besluit:

Die kerkraad van NG Witfield het die volgende besluite by die vergadering van 28 Oktober 2019 geneem ten opsigte van die Algemene Sinode van 2019 se besluite oor selfdegeslagverbintenisse:

  1. Die kerkraad van Witfield besluit om die 2019-besluite oor selfdegeslagverbintenisse in sy geheel te verwerp. lntussen bly ons staan by die kerk se standpunt hieroor soos verwoord in besluite van 2007 en 2013.
  2. Die kerkraad stel die Kerkbode asook die kantore van beide die Algemene Sinode en die Sinode Hoeveld in kennis van hierdie besluit.
  3. Die kerkraad besluit om doelbewus kontak te soek met ander Skrifgetroue kerkrade en gemeentes van die NG Kerk ten einde mekaar te adviseer en te ondersteun op die pad vorentoe.

3. Motivering:

  1. Die kerkraad van Witfield het reeds in 2016 die volgende besluit onder die aandag van die kerk se meerdere vergaderings gebring: “Aangesien die Skrif ons beveel om aan God en Sy Woord meer gehoorsaam te wees as aan mense of menslike leringe, of selfs kerkvergaderings, wil ons in nederigheid en met eerbied die volgende verklaar: Wat die sinode ook al besluit om met ons gravamen te maak, is die kerkraad van Witfield nie van plan om die 2015-besluite te aanvaar of te implimenteer nie, aangesien dit in stryd is met die Woord van God. Sien Hand 4:19.
  2. Die kerkraad van Witfield het kennis geneem van die Algemene Sinode se hantering van die gravamina teen die 2015-besluite oor selfdegeslagverhoudings en is dankbaar dat die Algemene Sinode wel die kerkordelike besware in die gravamina gehandhaaf het en al die besluite van 2015 oor selfdegeslagverhoudings herroep het.
  3. Die kerkraad van Witfield neem egter kennis dat die sinode nagelaat het om die Skriftuurlike en teologiese besware in die gravamina aan die orde te stel en te bespreek.
  4. In die lig hiervan betreur die kerkraad van Witfield die feit dat die Algemene Sinode direk na die herroeping van die 2015-besluite weer nuwe besluite geneem het wat inhoudelik grootliks ooreenstem met die 2015-besluite waarteen steeds dieselfde teologiese besware vanuit die Bybel en belydenisskrifte bestaan, maar wat nie deur die Algemene Sinode hanteer of beoordeel is nie.
  5. Verder is 2019 se besluite gegrond op die beskrywingspunt wat (blykbaar onregmatig) ingedien is onder voorwendsel dat dit van die Sinode van Wes-Kaapland kom.
  6. Die kerkraad van Witfield is diep verontrus dat die Algemene Sinode van 2019 selfs verder gegaan het as in 2015 deur opdrag le gee dat ’n kerklike formulier opgestel moet word vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse. Sodoende word nou amptelik seën geplaas op seksuele gemeenskap tussen persone van dieselfde geslag en word die Bybelse en teologiese besware daarteen (soos vervat in die gravamina) weer eens geïgnoreer.
  7. Dit sou verkieslik gewees het dat die saak eers na streeksinodes verwys moes word vir advies. Die Algemene Sinode het egter toegelaat dat die potensieel-verdelende besluite van 2019 geneem word ten spyte van die volgende besluit van die sinode soos vervat in die ATR se verslag (4.2 p 364 van AS se agenda): “lndien die Algemene Sinode goeie rede het om te vermoed dat ’n besluit of standpunt moontlik tot groot verdeeldheid kan lei, moet die Sinode voor die finale besluitneming, die advies van mindere kerkvergaderings inwin ten einde konsensus oor die betrokke sake in die NG Kerkverband as geheel te probeer verkry.
  8. Die kerkraad van Witfield betreur die Algemene Sinode se oordrewe herhaling van verskonings aan die gay-gemeenskap, terwyl verskonings ontbreek vir die geweldige groot finansiële-, geestelike- en integriteitskade wat die Algemene Sinode reeds veroorsaak het aan die NG Kerk en haar lidmate wat erns maak met die Woord van God.

Namens die Kerkraad van Witfield NG Kerk

28 Oktober 2019

Geteken deur:

Voorsitter: Dr P Kruger

Skriba: JH Louw

Nog van Witfield

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui