NG gemeente Witfield se standpunt oor SGV

Kyk ook:

NG KERK WITFIELD
STANDPUNT VAN DIE KERKRAAD RAKENDE OMSTREDE BESLUITE VAN ALGEMENE SINODE (AS) 2015:
AANVAAR TYDENS KERKRAADSVERGADERING VAN 26 OKTOBER 2015

1. Belhar belydenis:

  1. Die Kerkraad van Witfield is dankbaar en verheug oor die finale uitslag van die NG Kerk se landwye stemming oor die voorgestelde wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde. In die finale uitslag is Belhar as opsionele belydenis verwerp.
  2. Die kerkraad is egter diep geskok oor die oneerbare wyse waarop die sinode voorgee dat hulle die uitslag aanvaar, maar in praktyk presies die teenoorgestelde gedoen het. Ten spyte van die onbetwisbare uitslag, het die AS geswig onder die druk van Wes-Kaap deur Belhar tog weer as opsionele belydenis te aanvaar. Die voordeur is vir Belhar toegemaak, nou gebruik die AS die agterdeur deur maar net ’n ander artikel (Artikel 35) van die Kerkorde, wat nie soos Artikel 1 verskans is nie, so te wysig dat sekere sinodes Belhar steeds as belydenis kan aanvaar.
    1. Ons beskou hierdie optrede van die AS as uiters bedenklik en oneties. Die AS het hiermee die hele stemproses van twee jaar, binne ’n paar minute waardeloos en belaglik gemaak. Dit plaas ’n groot vraagteken op die AS se integriteit en eerbaarheid. Om die gebroke vertrouensverhouding tussen AS en gemeentes weer te herstel gaan baie moeilik wees.
    2. Ons versoek dat die AS hierdie besluit moet herroep en vir al die sinodes, gemeentes en lidmate van die NG Kerk verskoning moet vra.

2. Selfdegeslagverhoudings:

  1. Eerstens wil ons dit helder en duidelik stel dat ons kerkraad en gemeente nog al die jare mense wat hulself as homoseksueel beskou het, met die grootste liefde en deernis aanvaar het en sover ons kon ook in liefde en waarheid begelei het. Ons onderneem om hulle ook op die pad vorentoe met die liefde van Christus ons Verlosser te begelei.
  2. Hierdie debat gaan dus geensins oor die volle aanvaarding of nie-aanvaarding van enige persone nie. Dit gaan vir ons slegs oor een vraag nl: Wat leer die Bybel ons oor God se wil tov homoseksuele dade.
  3. Omdat Jesus Christus Sy kerk regeer deur Woord en Gees, is ons verplig om teen hierdie on-Skriftuurlike besluite van die sinode te getuig met die woorde van Johannes en Petrus voor die Joodse Raad: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is:om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Hand 4:19-20.
  4. Aangesien die sinode deur sy nuwe besluite die uitlewing van lesbiese en homoseksuele praktyke goedpraat terwyl dit volgens die Woord van God groot sonde is, sondig die AS deur soos Eli mense (sy seuns) meer te eer as God.
  5. Die AS se besluite is nie net teenstrydig met die Bybel nie, maar ook inhirent teenstrydig. Die besluit om burgerlike verbintenisse wat in die Civil Union Act (wet 17 van 2006) ook as ’n huwelik (marriage) gesien word, amptelik in die kerk te erken, en soos ’n huwelik kerklik te bevestig en te seën is teenstrydig met die Bybel asook die sinode se eie definisie van die huwelik nl, die verhouding tussen een man en een vrou.
  6. Die AS se besluite oor homoseksuele predikante en lidmate impliseer baie duidelik dat die AS homoseksuele en lesbiese geslagsgemeenskap as christelik aanvaarbare gedrag volgens die wil van God en selfs as “persoonlike geloofsgehooraamheid aan die Here” beskou. Sonde word dus gekondoneer as christelik-eties aanvaarbare gedrag en as persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here.
  7. Om sonde goed te praat is die uiterste vorm van liefdeloosheid, want dit ontneem ’n sondaar die genadige voorreg van sondebelydenis, bekering en verlossing.
    1. Ons verwerp die besluit dat ’n burgerlike verbintenis kerklik bevestig kan word want dit is in stryd met die Woord.
    2. Ons verwerp die besluit dat iemand wat volhardend in ’n homoseksuele verhouding lewe, enigsins solank as wat hy/sy daarin volhard, toegelaat mag word as predikant of ander ampsdraer in die kerk. Dit is teenstrydig met die Woord.
    3. Appèl of beswaar: Ten einde die kerkraad in staat te stel om binne die toegelate tyd ons reg tot appèl uit te oefen versoek ons die ASM om dringend aan ons die Skrifgronde te stuur waarop die sinode se besluite gebaseer was sodat ons ’n appèlskrif kan voorberei. In die verslag aan die sinode word geen Skrifgronde hiervoor gegee nie.
    4. Moratorium: In die lig van:
      • die sterk protes en dreigende skeurings wat hierdie besluit alreeds veroorsaak het, asook
      • die feit dat letterlik duisende lidmate en predikante van die NG Kerk en ander gereformeerde kerke in SA, oortuig is dat hierdie besluit in stryd is met die Bybel, asook
      • die feit dat baie ernstige regsimplikasies van die besluit nog nie ondersoek is nie, asook
      • die feit dat slegs een suksesvolle appèl vir die sinode ’n groot verleentheid kan skep,
        versoek ons die ASM om, voordat hierdie besluit in werking tree, ’n moratorium op die besluit te plaas totdat sinodes kans gekry het om daarop te reageer en die implikasies van die besluit eers verreken kan word. Ons is oortuig dat dit baie kan bydra om verdere skeurings te verhoed aangesien lidmate en kerkvergaderings dan billike kans gegun word om ’n bydrae tot die debat te lewer.

Voorsitter van kerkraad: Theo Danzfuss

Skriba van kerkraad: Frans Lotz

Besluit: 26 Oktober 2015

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui