Laat bekeringsdoop in NG Kerk toe, vra predikante

Kyk ook:

Gekopieer vanaf http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Laat-bekeringsdoop-in-NG-Kerk-toe-vra-predikante-20110730

***********

Laat bekeringsdoop in NG Kerk toe, vra predikante

2011-07-30 20:16

Johannes de Villiers

’n Groep predikante en lidmate van die NG Kerk het ’n amptelike proses begin om dié kerkverband te vra om ’n bekeringsdoop vir volwasse lidmate toe te laat.

Dié groep, wat hoofsaaklik uit vyf prominente gemeentes in die NG Kerk se oostelike sinode kom, het hul streeksinode versoek om die algemene sinode in Oktober vanjaar amptelik te versoek om ’n volwasse bekeringsdoop naas die kinderdoop toe te laat.

Dit kom nadat die Wes-en-Suid-Kaapse sinode vroeër vanjaar besluit het om die algemene sinode te versoek om opnuut ’n studie te doen oor die vraag of die kerk ’n volwasse bekeringsdoop kan toelaat. Dit kan daartoe lei dat die doop een van die belangrikste besprekingspunte op vanjaar se sinode word.

Talle NG teoloë, waaronder prof. Adrio König, waarsku reeds jare lank dat die NG Kerk se weiering om ’n volwasse bekeringsdoop toe te laat daartoe bydra dat baie lidmate dié kerk vir verbande soos die AGS of onafhanklike pinksterkerke verlaat.

Ander predikante en teoloë is egter gekant teen die instelling van ’n bekeringsdoop omdat hulle meen dit sal die geldigheid van die gereformeerde kinderdoop ondermyn.

König is een van die lidmate wat die jongste versoek aan die oostelike sinode help opstel het.

Die besluit om dié versoek te rig, is geneem op ’n vergadering waar onder andere predikante uit die gemeentes Moreletapark, Ermelo-Oos, Witbank-Klipfontein, Wit­rivier en Kerksondermure oor dié kwessie vergader het.

Volgens König glo hulle nie ’n volwasse doop sal ’n algemene verskynsel in die NG Kerk word nie, maar hulle wil wel die keuse hê vir diegene wat ’n behoefte daaraan het.

“Die bekeringsdoop is iets heel anders as die Christelike doop wat aan kinders bedien word. Die Christelike doop word in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees bedien en kan nie herhaal word nie.

“Ons wil ook nie hê dat dit afgeskaal of ondermyn moet word nie,” sê König.

“Maar as daar iemand is wat wel as ’n kind die Christelike doop ontvang het en wat as volwassene ’n bekeringsdoop ook wil hê om te wys hy het sy lewe vir die Here gegee, wil ons hê dat dit toegelaat word.”

So ’n bekeringsdoop sal nie die status van ’n sakrament hê nie, sê König.

Slegs mense wat die geldigheid van die Christelike doop (soos dit aan kinders bedien word) erken, sal vir ’n bekeringsdoop in aanmerking kom.

Dr. Johan van Schalkwyk, moderator van die oostelike sinode, het bevestig dat hulle so ’n versoek van die groep predikante in dié sinode ontvang het, maar sê dit is nog nie ’n uitgemaakte saak dat hulle dit wel aan die algemene sinode gaan oordra nie.
Hulle gaan nog daaroor besin.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui