Die pad van die NG Kerk met homoseksualiteit

Kyk ook:

Die volgende artikel is gekopieer van NG Kerk Hartenbos se webblad.

********

Die pad van die NG Kerk met homoseksualiteit

VOËLVLUG

1986 Afwykende vorm van seksualiteit. Homoseksuele praktyke en verhoudings is sonde 1999 Klem op Pastoraat op grond van menswaardigheid van alle mense (Wes-Kaap)

2002 Etiek ook belangrik, daarom rol van Bybelse tekste weer in fokus

2002/2004 Formuleer beleidstandpunte oor Skrifgesag en Skrifgebruik

2004 Ten spyte van die feit dat dit blyk die Bybel die homoseksuele dade waaroor daar gepraat word as opstand teen God beskryf en as sodanig as sonde beoordeel, is daar verskil van mening of hierdie uitsprake in die Bybel van toepassing is op homoseksuele mense wat in ’n permanente verhouding van liefde en trou staan.

2007 Homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen kan tot die predikantsamp toegelaat word. Erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

2013 Sinode vra verdere studie oor status van selfdegeslagverhoudings, terwyl homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie. Ook ’n verbintenis om hierdie kwessie te hanteer aan die hand van die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

2015 Volle aanvaarding van menswaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie, goedkeuring van selfdegeslagverhoudinge en die kerklike bevestiging daarvan deur gewillige predikante.

2015 Gespreksdokument oor Ons Christelike Geloof en die (moderne) Wetenskap aan die kerk vir gebruik en oriëntering met die oog op hermeneutiek.

INLEIDING:

Die saak van homoseksualiteit wat tans wêreldwyd in die brandpunt van kerklike gesprekke is, het in 1986 die eerste keer (vanuit ’n verslag uit eie geledere) op die agenda van die Algemene Sinode van die NG Kerk verskyn. By hierdie Sinode is ’n verslag “Homoseksualiteit: wat sê die Kerk?” deur die Algemene Kommissie vir Diens van Barmhartigheid (AKDB) voorgelê en is sekere aanbevelinge as beleidstandpunt van die NG Kerk aanvaar. (Algemene Sinode 1986:355-363, 672).

Die standpunt het onder andere behels dat homoseksualiteit in die lig van die Bybelse getuienis as ’n afwykende vorm van seksualiteit beoordeel word en dat homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding afgewys word as in stryd met die wil van God. Terselfdertyd word egter erkenning gegee vir die bestaan van wat genoem word “kern- of egtehomoseksualiteit” en beskryf word as “die gerigtheid op iemand van dieselfde geslag… (wat) nie net ’n eenmalige verskynsel (is) nie, maar ’n sekere duurte of patroonmatigheid (verkry) waardeur die persoon se optrede gekenmerk word”. Oor die besit van ’n homoseksuele oriëntasie word daar geoordeel dat dit nie “summier tot persoonlike skuld gereken kan word nie” en daar word dan ook besluit dat “die homoseksuele lidmaat nie op grond van sy afwykende gerigtheid, as sodanig, die belewing van die gemeenskap van die heiliges en die geleentheid tot diens in belang van die koninkryk van God ontsê (mag) word nie”.

Sedert 1995 het die debat oor homoseksualiteit weer op verskeie wyses in die NG Kerk aan die orde gekom en het verskeie sinodes aan die saak aandag gegee.

FOKUS OP PASTORAAT (EN MENSWAARDIGHEID)

In ’n definitiewe sin van die woord het die NG Kerk se studie-pad met homoseksualiteit nuwe stukrag gekry met die sinode van Wes- en Suid-Kaap (NG Kerk in SA) se bespreking van ’n verslag in 1999 oor Die Pastoraat aan Homoseksuele Lidmate. Die bedoeling hiermee was om weg te stuur van die kompleksiteit en kontroversie van die etiese vrae en eksegese van Bybeltekste rondom die verskynsel van homoseksualiteit.

In hierdie verslag is daarom meer gepoog om ’n aanduiding te gee van hoedat die kerk mense wat ’n alternatiewe seksualiteit het te hanteer op so ’n wyse dat hulle menswaardigheid nie aangetas word nie, maar hulle erken sal word as ook geskape na die beeld van God soos enige iemand anders (heteroseksueles).

In hierdie proses het dit byvoorbeeld toe al duidelik geword dat die term homoseksualisme vermy behoort te word, aangesien dit alreeds ’n vooraf bepaalde vertrekpunt impliseer wat ’n negatiewe konnotasie daaraan verleen (en dus onmenswaardig is). Ons moet dus liewer praat van seksuele oriëntasie, of van homoseksuele oriëntasie, of homoseksualiteit, of gay of lesbiese persone – maar nie van homoseksualisme nie.

Juis omdat hierin alreeds gevra is vir ’n menswaardige benadering tot die vraagstuk van homoseksuele mense, wat deurgaans sedertdien deel was van die NG Kerk se amptelike woordeskat oor hierdie aangeleentheid, is hierdie verslag ’n belangrike mylpaal op die pad van die geskiedenis van die kerk met (homo)seksualiteit as sodanig.

PASTORAAT NIE LOS GESIEN VAN ETIEK:

Gou is egter besef dat ’n mens oor hierdie saak nie kan praat los van ’n etiese beoordeling van die verskynsel van homoseksualiteit nie, aangesien dit met die eerste oogopslag oënskynlik duidelik is dat die Bybel nie gunstig verwys na hierdie spesifieke seksuele gedrag nie. Die sinode het dus gevra dat daar verder met studie voortgegaan moet word, aangesien die besluite van die Algemene Sinode van 1986 nog steeds as die amptelike standpunt van die NG Kerk beskou is. Daarin is die volgende oa gestel:

30.5.3.1 Homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit.
30.5.3.2 Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar.

Hieruit blyk dit duidelik dat homoseksuele oriëntasie negatief as ’n afwykende vorm van seksualiteit beskou is. Ook dat homoseksuele praktyke (homoseksuele seks) en selfs ’n homoseksuele verhouding gesien is as sonde, as in stryd met die wil van God. Die pastorale aanslag wat vanuit die verslag van 1999 aangebied is, het die vraag laat ontstaan of hierdie standpunt van die kerk in die lig van die menswaardigheid van alle mense (die belangrike vertrekpunt van die 1999-verslag) nog steeds volgehou mag word.

Die verdere studie (wat deur SKLAS gevoer moes word) moes benewens die etiese beoordeling van homoseksualiteit ook omvattend na seksualiteit as sodanig kyk en met ’n aanbeveling na die volgende sinode kom, terwyl gesprek in gemeentes aangemoedig is oor hierdie saak.

Intussen was AKLAS (Kommissie van Leer en Aktuele Sake van die Algemene Sinode) ook besig met dieselfde saak en het insette gevra van die verskillende sinodes waar daar alreeds oor die saak gewerk word.

ALGEMENE SINODE VAN 2002

In die lig van die hernieude worsteling met die problematiek rondom homoseksualiteit het die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (AKLAS) versoek om aandag aan die saak te verleen en om in 2002 aan die Algemene Sinode te rapporteer. Na aanleiding van die rapport het die Sinode besluit dat hy hom nie langer sonder meer kan vereenselwig met die beleidstandpunt van 1986 nie en dat daar rede is om weer te besin oor sy standpunt oor homoseksualiteit.

Dit is ook betekenisvol dat daar toe ook besef is dat die indeks vir die beskrywing/omskrywing van psigiatriese afwykings (DSM) homoseksualiteit as sodanig verwyder het as ’n psigiese afwykende gedragsverskynsel – en dit dus in lyn met die ontwikkelende denke verstaan het as ’n alternatiewe seksuele oriëntering op ’n kontinue lyn tussen manlike en vroulike seksualiteit.

Intussen het die Algemene Sinode dit aan AKLAS opgedra om ’n grondige en omvattende studie oor homoseksualiteit te doen met die oog op die Algemene Sinode van 2004. AKLAS is spesifiek versoek om ook ander kommissies en deskundiges en veral ook lidmate met ’n homoseksuele oriëntasie, asook lidmate wat bely dat hulle van ’n homoseksuele ingesteldheid en leefwyse bevry is, by die ondersoek te betrek (Algemene Sinode 2002:624). ’n Uitvoerige verslag is aan die sinode voorgelê, wat ook die hantering van die Bybel in etiese beroep ingesluit het voorgelê met die volgende aanbevelings wat aanvaar is:

14.11 AANBEVELINGS: HOMOSEKSUALITEIT

(Uit besluiteregister van Algemene Sinode 2002)
12.11 HOMOSEKSUALITEIT (551: 14)
1. In die lig van die voortgaande besinning verklaar die Algemene Sinode dat ons ons nie langer sonder meer kan vereenselwig met die verslag, Homoseksualiteit. Wat sê die kerk (1986) nie. In die lig van voortgaande besinning verklaar die Algemene Sinode dat daar in die Kerk ernstige meningsverskil ontstaan het oor sy ingenome standpunt oor homoseksualiteit.
INTERPRETASIE VAN BESLUIT 1:
Die Algemene Sinode verstaan dit so dat hy met die aanvaarding van besluit 1 erken dat daar rede is om weer te besin oor sy standpunt oor homoseksualiteit. Alhoewel die besluit van 1986 geldig bly totdat dit herroep word, bring die aanvaarding van die amendement mee dat daar ’n nuwe, oop situasie ontstaan het in afwagting op ’n standpunt by die volgende Algemene Sinode.
2. Sonder miskenning van die feit dat daar in die samelewing verhoudings bestaan en tot stand kom tussen lede van dieselfde geslag, handhaaf die Sinode die standpunt dat slegs die verbintenis tussen een man en een vrou volgens ons verstaan van die Skrif as ’n huwelik beskou kan word.
3. Die Algemene Sinode erken met hartseer en berou dat ons in die verlede deur veroordelende gesindhede en liefdelose optrede ’n aandeel gehad het aan die vervreemding van homoseksuele gelowiges. Ons bevestig dat ons nie die integriteit van medegelowiges bloot op grond van ’n homoseksuele oriëntasie in twyfel wil trek nie. Graag verseker ons hulle van die NG Kerk se opregte pastorale bewoënheid en verklaar dat hulle hartlik welkom is in ons gemeentes.
4. Die Algemene Sinode waarsku in ’n tyd van seksuele losbandigheid met groot erns om die Godgegewe gawe van die seksualiteit te gebruik op ’n wyse wat die Gewer eer en ons medemens koester. Dit impliseer dat hetero_ en homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
5. Die Algemene Sinode dra dit op aan die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake om ’n grondige en omvattende studie te doen oor homoseksualiteit met die oog op die volgende Algemene Sinode. Die Kommissie betrek ook ander kommissies en deskundiges by die besinning oor hierdie saak. Veral moet gepoog word om ook gelowiges met ’n homoseksuele oriëntasie, asook gelowiges wat bely dat hulle deur God se genade van ’n homoseksuele ingesteldheid en leefwyse bevry is, by die ondersoek te betrek. Die Algemene Sinode versoek AKLAS om hierdie studie te onderneem binne die raamwerk van die meer omvattende antropologiese vraag na die rol van die seksuele as sodanig in die lewe van mens en maatskappy.
6. Die Algemene Sinode versoek ampsdraers en kerkvergaderings om met groot omsigtigheid en respek teenoor alle medegelowiges die aangeleentheid te hanteer in afwagting op die besluite van die volgende Algemene Sinode. Op almal wie se pad kruis met persone met ’n homoseksuele oriëntasie, word ’n beroep gedoen om hulle in die styl en gesindheid van Jesus Christus te aanvaar.

SKLAS (NGK EN VGK) HOU WERKSWINKEL IN JULIE 2004

Intussen, maar ook betekenisvol vir die kerk se reis met hierdie vraagstuk, het SKLAS van WesKaap (in samewerking met die SKLAS van die VGK-Kaapland) ’n twee-dag werkswinkel gedurende Maart 2004 in die Paarl gehou, waar daar intens oor die hele saak gepraat is. Die verskillende Bybeltekste is bespreek. Wetenskaplike kennis is ingewin en vanuit die psigiatrie en sielkunde geïnterpreteer. Die samestelling van die groep was so inklusief as moontlik, mans en vroue, heteroseksuele sowel as homoseksuele persone (diegene wat dit openlik erken, asook sekere persone wat anonieme gays was).

Aan die einde van die twee dae is die volgende standpunte geformuleer om deurgestuur te word na AKLAS as ’n bydrae oor die saak vir voorbereiding van die Algemene Sinode wat in 2004 sou sit. Hierdie dokument het soos volg gelui:

SKLAS 2004-Konsep

1. Dit is die kerk se roeping om die Evangelie van Jesus Christus in alle omstandighede en aan alle mense te bring.. Daarom is dit die kerk se taak om alle sonde en sondige praktyke, op seksuele en ander gebiede, konsekwent en met oortuiging aan te spreek, met die doel om die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus tuis te bring.
2. Dit is vir ons duidelik dat die Bybel die homoseksuele dade waaroor daar gepraat word as opstand teen God beskryf, en as sodanig as sonde beoordeel.
3. Daar is by ons verskil van mening of hierdie uitsprake in die Bybel van toepassing is op homoseksuele mense wat in ’n permanente verhouding van liefde en trou staan. Ons onderneem dus om met hierdie gesprek en navorsing voort te gaan ten einde die kerk in die verdere verloop van die proses op die mees verantwoordelike manier te dien.
4. Dit is vir ons duidelik dat daar binne ons kerk, maar ook wêreldwyd binne die Christelike gemeenskap, uiteenlopende standpunte oor homoseksualiteit is. Die verskil in uitleg en toepassing van die Bybel in hierdie verband wys dit. Die kompleksiteit van die saak word ook deur die bio-psigo-sosiale bevindinge en standpunte in die onderskeie wetenskaplike dissiplines onderstreep.
5. Dit is ons Bybelse oortuiging dat ons alle mense se getuienis oor hul geloof en toewyding as Christene, sowel as hulle seksuele oriëntasie, ernstig sal opneem en hulle integriteit onvoorwaardelik sal aanvaar.
6. Dit is die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons gebrokenheid, ons lidmate op te roep en te begelei om met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan, om sodoende integriteit te verleen aan ons Christelike getuienis.

Hieruit was dit duidelik dat homoseksualiteit nie meer beskou is as ’n afwykende vorm van seksualiteit nie, maar wel as ’n alternatiewe oriëntasie.

Hieruit was dit ook duidelik dat die wetenskap nie vir ons onomstootlik die oorsprong van homoseksualiteit kan aantoon nie. Sommige navorsing ondersteun die teorie van oorerwing, van genetiese oorsprong, terwyl ander navorsing die sosiologiese konteks van mense aandui as die oorsaak van homoseksuele oriëntasie. Dit het gou geblyk dat dit alles afhang van watter navorsing aangehaal word, wat die antwoord is op die vraag of homoseksualiteit aangebore, of aangeleer (gekondisioneer) word. Die antwoord op hierdie vraag is ook bepalend vir die perspektief of homoseksuele persone “reggemaak” kan word of nie.

Vir baie is die feit dat van die rehabilitasie (regmaak) van homoseksueles gepraat word, alreeds ’n vooropgestelde negatiewe vertrekpunt en persepsie. Vir ander is die feit dat aan rehabilitasie getwyfel word ’n mosie van wantroue in die krag van God, aangesien dit gesien word as ’n toestand teen die wil van God – en dus sonde as sodanig.

Belangrik: Tot dusver, soos is feitlik alle gevalle in die kerk, het kommissies en ondersoeke bestaan uit mans alleen. Uit hierdie byeenkoms het dit nou ook (dalk verrassend vir baie) geblyk dat die gesprek rondom homoseksualiteit (net soos met seksualiteit as sodanig) anders verloop as daar vroue by is, of wanneer mans alleen oor die saak praat. Die verskillende prentjies wat vroue en mans in hulle koppe oor seksualiteit het, bepaal dan ook die feit dat vroue oor die algemeen anders dink oor lesbiese verhoudings (waaroor daar terloops baie min navorsing bestaan) as wat mans dink oor homoseksuele verhoudings. Daar is selfs diegene wat beweer dat seks as sodanig ’n baie laer frekwensie het by lesbiese verhoudings (die verhouding tussen vroue is baie meer emosioneel van aard – die soeke na kameraadskap en geborgenheid en emosionele veiligheid), terwyl seks as fisiese daad meestal voorop staan by mans. Die saak is dus selfs nog baie meer gekompliseerd as wat vermoed is.

ALGEMENE SINODE VAN 2004

Hierdie konsep is na AKLAS geneem vir voorbereiding van die verslag aan die Algemene Sinode van Oktober 2004 en het ’n groot bydrae gevorm in die finale formulering van hierdie besluite. In hierdie proses is dan ook weereens besef dat ’n mens se Skrifbeskouing ten grondslag lê van hoedat die Bybel in hierdie (en ook ander sake) saak bekyk word.

Almal wil Bybelgetrou wees. Die heel grootste uitdaging vir ’n sinvolle gesprek hieroor in die kerk is om mekaar se bona vides (of regsinnige bedoelinge) hieroor te aanvaar. Oor en weer beskuldiging van misbruik of minagting van die Bybel word in hierdie debat dikwels gehoor.

Vir sommige is dit sonder meer duidelik wat die Bybel sê en dat dit vanselfsprekend normatief behoort te wees vir mense van gereformeerde belydenis. Vir ander is dit weer nie so vanselfsprekend nie, juis vanuit gereformeerde Skrifbeskouing waarin die konteks van die Bybel in berekening geneem behoort te word as oor etiese sake gesprek gevoer word.

Hierdie stand van sake word gereflekteer in die konsep van SKLAS soos hierbo aangedui, maar sou nog duideliker na vore kom in die aanloop van AKLAS se voorbereiding met die oog op die Algemene Sinode.

Derhalwe het AKLAS met die volgende formulerings na die sinode van 2004 gegaan:

AANBEVELINGS ALG SINODE 2004:
7.1 Dit is die roeping van die kerk om die evangelie van Jesus Christus in alle omstandighede en aan alle mense te bring. Daarom is dit die kerk se taak om die lig van God se Woord ook op die terrein van menslike seksualiteit te laat val sodat die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus ook met betrekking tot hierdie aspek van die lewe tuisgebring kan word.
7.2 Die Algemene Sinode erken dat daar nie eenstemmigheid in die kerk is oor wat die wil van God met betrekking tot homoseksualiteit is nie, maar dat daar verskillende vertolkings is van die beskikbare Skrifgegewens en van wat God vandag vir ons oor die saak wil sê. Ons onderneem om die gesprek en studie oor hierdie saak met groot erns voort te sit met die oog daarop om die kerk en ons lidmate op die mees verantwoordelike manier te dien.
7.3 Hoewel dit vir die Algemene Sinode duidelik is dat daar in die Bybel na bepaalde dade, wat verband hou met homoseksualiteit, verwys word as in stryd met die wil van God, is daar by ons verskil van mening of hierdie uitsprake in die Bybel van toepassing is op homoseksualiteit in die algemeen. Daar is ook by ons meningsverskil of dit spesifiek van toepassing is op homoseksuele persone wat in permanente verhoudings van liefde en trou staan.
7.4 In aansluiting by die huidige beleidstandpunt van die N G Kerk oor lidmaatskap (Handelinge, Alg Sinode,1990:590, 591 vgl paragraaf 249,250) is daar by die Algemene Sinode nie die minste twyfel nie, dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, die objekte van God se liefde is en dat hulle op grond van hulle geloof alleen as volwaardige lidmate van die kerk aanvaar behoort te word. Dit is ons oortuiging dat ons alle mense se getuienis oor hulle geloof en toewyding as Christene, sowel as oor hulle seksuele oriëntasie, ernstig moet opneem en hulle integriteit onvoorwaardelik moet aanvaar.
7.6 In aansluiting by die Algemene Sinode van 2002, besluit die Algemene Sinode dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word. (Handelinge, Algemene Sinode 2002:624 punt 12.11).
7.7 Dit is die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebrokenheid, ons lidmate op te roep en te begelei om met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan. In die lig hiervan vra die Algemene Sinode onomwonde verskoning aan alle homoseksueles en hulle families, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die kerk sulke persone in die verlede seergemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die kerk se optrede raakgesien kon word nie. Ons staan voor God en voor elkeen wat direk of indirek onder ons optrede gely het en daarom aan hulle menswaardigheid getwyfel het, skuldig en kan maar net om vergiffenis vra.

Die uiteindelik standpunt van die Algemene Sinode van 2004 het soos volg gelui:

4.10 AANBEVELING: HOMOSEKSUALITEIT

4.10.1 Dit is die roeping van die kerk om die evangelie van Jesus Christus in alle omstandighede en aan alle mense te bring. Daarom is dit die kerk se taak om die lig van God se Woord ook op die terrein van menslike seksualiteit te laat val sodat die boodskap van hoop en bevryding in Jesus Christus ook met betrekking tot hierdie aspek van die lewe tuisgebring kan word.
4.10.2 Dit is ook die roeping van die kerk om sonder vooroordeel, bewus van ons eie gebrokenheid, ons lidmate op te roep en te begelei, om in waarheid met liefde en deernis voor God met mekaar om te gaan. In die lig hiervan vra die Algemene Sinode verskoning aan alle homoseksueles en hulle families, binne en buite die kerk, vir elke geval waar die kerk sulke mense in die verlede, onder andere as gevolg van ’n gebrek aan leiding, seergemaak en veronreg het en waar God se liefde nie in die kerk se optrede raakgesien kan word nie.
4.10.3 Die Sinode is diep geraak deur die pyn en lyding, verwerping en eensaamheid wat persone wat op een of ander wyse met die werklikheid van homoseksualiteit gekonfronteer is. Daarom onderneem ons om met mekaar saam op weg te gaan, deur:
* In liefde mense te ondersteun op persoonlike vlak en die nodige ondersteuningsisteme daar te stel op alle vlakke;
* Met die middele tot ons beskikking die nodige pastorale begeleiding te verskaf, as daar ’n behoefte is;
* Saam te besin oor wat ’n Bybels gefundeerde pastorale model is om homoseksuele persone te versorg.
4.10.4 Die Algemene Sinode erken dat daar in die kerk verskillende vertolkings is van die beskikbare Skrifgegewens oor homoseksualiteit. Ons onderneem om die gesprek en studie oor hierdie saak met groot erns voort te sit met die oog daarop om die kerk en ons lidmate op die mees verantwoordelike manier te dien.
4.10.5 Volgens ons verstaan van die Skrif kan slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou word. (Handelinge, Algemene Sinode 2002: 624 12:11 punt 2.)
4.10.6 In aansluiting by die Algemene Sinode van 2002 bevestig die Algemene Sinode dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
4.10.7 In aansluiting by die huidige beleidstandpunt van die NG Kerk oor lidmaatskap (Handelinge, Algemene Sinode 1990: 590, 591, vgl paragraaf 249, 250) is die Algemene Sinode daarvan oortuig dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde is en dat hulle op grond van hulle geloof alleen as volwaardige lidmate van die kerk aanvaar behoort te word. Dit is ons oortuiging dat ons alle mense se getuienis oor hulle geloof en toewyding, sowel as oor hulle seksuele oriëntasie, ernstig moet opneem en hulle integriteit moet aanvaar.

Na afloop van die bespreking en aanvaarding van die voorstel, het die sinode verder besluit: Hierdie besluit vervang die vorige besluit van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit en word nou die amptelike besluit van die NG Kerk.

Terwyl die Algemene Sinode van 2002 wou stel dat die posisie van 1986 nie meer gehandhaaf kan word nie en dat verdere studie daarom noodsaaklik is, het die sinode van 2004 nou gemeen dat daar ’n nuwe standpunt is. Hierdie standpunt word gebalanseer tussen 4.10.5 en 4.10.7 van die besluite van die sinode. Dit, terwyl punt 4.10.4 die belangrike punt maak dat, soos die verslag dit aandui, daar ten opsigte van al die tekste in die Bybel twee uiteenlopende beskouings is wat albei met ewe ernstige beroep op verantwoordelike Bybeluitleg gestel word.

Ook het hierdie sinode (dieselfde punt 4.10.4) onderneem om “gesprek en studie oor hierdie saak met groot erns voort te sit” en is daar besluit op die saamroep van ’n inklusiewe taakspan om hieraan uitvoering te gee.

SKRIFGESAG EN SKRIFGEBRUIK (2002/2004)

Gelyklopend met hierdie worsteling oor ’n standpunt oor homoseksualiteit, het die sinodes van die NG Kerk (Algemeen sowel as anders sinodes) die dringendheid van ’n duidelike standpunt oor die gesag van die Skrif en Skrifuitleg beklemtoon. Onder meer het dit gelei tot twee standpunt-dokumente (wat intussen die afgelope dekade telkens weer onder die aandag van die kerk gebring is) wat mekaar komplimenteer – en waarvan die 2004-besluit die duidelikste en korste een is. Vir die doeleindes van die beskrywing van die kerk se pad met homoseksualiteit is dit belangrik om die 2004-besluit hier weer te gee.

(Uit die besluiteregister van die Algemene Sinode 2004 pp 9-10)

“5. SKRIFGEBRUIK EN SKRIFGESAG

Die Algemene Sinode keur die volgende verklaring goed en verwys dit na gemeentes en ringe vir bespreking:
5.1 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk bely, as kerk wat in die Gereformeerde tradisie staan, dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom:
* gesag het oor ons hele lewe, omdat dit aan ons betuig dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here, sodat ons geroep word om in vertroue op Hom en in gehoorsaamheid aan Hom te leef;
* betroubaar is, omdat ons vas glo dat God werklik is soos Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak: die Vader, Seun en Gees wat uit genade ons God is;
* duidelik is, omdat die kerk hierin die helderheid van die evangelie van God se liefde en genade hoor;
* voldoende is, omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons hoef te weet om in God te glo en om sy wil te gehoorsaam (vlg NGB Artikel 7).
Daarom bely ons steeds gelowig dat dié waarheid bo alles is.
5.2 Soos nog altyd vir die Gereformeerde tradisie, beteken hierdie belydenis vir ons nié:
* dat die Bybel vereis dat ons ons denkvermoë, wat ’n gawe van God is, moet opoffer nie;
* dat die Bybel gesien kan word as ’n eksakte handboek vir historiese of wetenskaplike kennis nie;
* dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie;
* dat die Bybel vir ons die volle kennis oor alle aspekte van die werklikheid gee, sodat geen verdere menslike nadenke of navorsing nodig is nie.
5.3 Ons bely verder dat God deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord lei. Dit beteken vir ons dat ons die Skrif as die lewende Woord van God hoor in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar. Daarom was die kerke in die Gereformeerde tradisie nog altyd oortuig van die belangrikheid van ’n verantwoordelike interpretasie van die Skrif waardeur die kerk as geloofsgemeenskap onder leiding van die Heilige Gees soek na die waarheid, geregtigheid en barmhartigheid wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie oortuiging dat die kerk die Skrif moet interpreteer, blyk onder meer uit:
* die klem wat van die begin af gelê is op ’n grondige kennis van die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) waarin die Bybel geskryf is, asook die soeke na die beste metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg;
* die beklemtoning dat die hele Skrif gelees moet word in die lig van die konteks waarin dit ontstaan het, sodat die tyd- en kultuurbetrokkenheid daarvan verreken kan word in die uitleg;
* die soeke na reëls vir die uitleg van die Skrif (voorbeelde van sulke uitlegreëls uit ons tradisie is: dat die Skrif as totaliteit gelees moet word, dat Skrif met Skrif vergelyk moet word en dat die moeiliker dele in die lig van die makliker dele vertolk moet word en dat die Skrif uit sy hart, die evangelie van Jesus Christus, verstaan moet word);
* die onderskeid wat in die uitleg van die Skrif gemaak is tussen verskillende dele van die Skrif wat ’n verskillende soort gesag het (byvoorbeeld die onderskeid tussen die historiese en normatiewe dele van die Skrif, asook die onderskeid tussen die kultiese en morele wetgewing);
* die dankbare, maar kritiese luister na die manier waarop die Skrif in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en in ons eie tyd deur medegelowiges in ons eie kerk en ander kerke uitgelê word;
* die vestiging van kerklike praktyke vir die interpretasie van die Skrif, soos veral die prediking, maar ook kategese, Bybelstudie, teologiese studie en andere;
* en veral ook in die daarstel van belydenisskrifte waarin die kerk streef om die hart van die Skrifboodskap duidelik te vertolk en gehoorsaam te aanvaar.
5.4 Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg, bly dit vir ons ’n basiese oortuiging dat die belydenis van die Skrif as Woord van God nooit teenoor verantwoordelike Skrifuitleg staan nie. Die belydenis roep ons juis op om onsself, in gemeenskap met mekaar en met al die gawes wat God vir sy kerk gegee het, toe te lê op die soeke na die waarheid.
5.5 In die lig van hierdie belydenis glo ons dat God ook in die uitdagende tye waarin ons leef, sy kerk deur sy Woord en Gees in die waarheid sal lei. As Gereformeerdes verbind ons ons daartoe om, ook wat die komplekse leerstellige en etiese kwessies van ons tyd betref, in hierdie oortuiging saam te soek na waarheid, geregtigheid en barmhartigheid. Ons glo dat hierdie soeke ’n ekumeniese strewe is, in verbondenheid met die kerk van alle eeue en die kerk dwarsoor die wêreld. Waar ons van mekaar verskil, glo ons dat ons in gesprek met mekaar moet bly, in die gebed dat God ons liefde al meer sal laat toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9-10).”

TAAKSPAN VIR HOMOSEKSUALITEIT VIR 2007

Soos hierbo genoem, het die Algemene Sinode van 2004 die volgende aanbeveling aanvaar – en daarmee hierdie opdrag tot verdere studie aan die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake gegee:
Die Sinode erken dat daar in die kerk verskillende vertolkings is van die beskikbare Skrifgegewens oor homoseksualiteit. Ons onderneem om die gesprek en studie oor hierdie saak met groot erns voort te sit met die oog daarop om die kerk en ons lidmate op die mees verantwoordelike manier te dien (Handelinge, Algemene Sinode 2004: p 302).

Met die oog op die uitvoering van hierdie opdrag is die volgende persone in ’n taakspan benoem:
André Agenbag, André Bartlett (mede-voorsitter), Jean du Plessis, Ben du Toit (sameroeper) Judy Kotzé, Andries Louw, Julian Müller, Gerhard Mahne, Johan Marais, Jorrie Potgieter (mede-voorsitter), Frik Smith, Marius Terblanche, Francois Tolmie, Marietjie van Loggerenberg, Carin van Schalkwyk, Werner Venter, Francois Wessels, Willie Botha (emeritus- skriba)

Om aan te dui hoe inklusief hierdie taakspan te werk gegaan het, word die volgende inleidende paragrawe hier verbatim weergegee:

“In die samestelling van hierdie taakspan is daar gepoog om sover moontlik verteenwoordigend te wees. Onder andere is homoseksuele persone (manlik en vroulik), ’n eks-homoseksuele persoon, eks-eks-homoseksuele persoon, ’n pastorale terapeut, ’n sielkundige, predikante en teoloë in die taakspan ingesluit. Die taakspan het by vyf geleenthede vergader (wat dertien dae in totaal was). Tydens die vergaderings is daar so ver as moontlik in mekaar se teenwoordigheid gesprek gevoer, met Herman Carelse as fasiliteerder. Van die werk van die taakspan is ook per elektroniese media afgehandel terwyl sommige lede (met instemming van die hele taakspan) dit ook nodig geag het om hul werk dmv addisionele sub-vergaderings af te handel.

Die taakspan het in die loop van sy werksaamhede kennis geneem van soortgelyke prosesse in ander kerke in Suid-Afrika en die buiteland. Uit hierdie deel van die studie het dit duidelik geblyk dat daar wêreldwyd in kerke dieselfde uiteenlopende sienswyses oor hierdie saak na vore kom en dat dit ook in ander kerke soms aanleiding gegee het tot spanning en konflik.

Nederduitse Gereformeerde Kerk (en -familie): Ons het kennis geneem van die NG Kerksinodes se besluite rakende homoseksuele verhoudings asook briewe wat aan die taakspan gestuur is sowel as besluite en verklarings van kerkrade en ringe. Alle streeksinodes het in beginsel pastorale besluite geneem. Hiervolgens is alle gay lidmate in die kerk welkom. Sommige streeksinodes het ook die uitleef van homoseksualiteit as onskriftuurlik beoordeel, terwyl nog ’n paar gekies het om vir die besluit van die Algemene Sinode te wag. Die taakspan het ook op informele vlak kennis geneem van die prosesse wat by die Verenigende Gereformeerde Kerk aan die gang is, asook van die posisie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika en die Reformed Church of Africa.

Gereformeerde en Protestantse kerke: Verder het ons op nasionale vlak ook geluister na die standpunte by die Apostoliese Geloofsending en die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die dagbestuur van die taakspan het ook ʼn ontmoeting met die Nederduitsch Hervormde Kerk se kommissie wat werk aan ’n voorlegging oor homoseksualiteit gehad. ’n Konsultatiewe byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke is ook deur sommige lede van die taakspan bygewoon. Logisties was dit nie vir ons moontlik om ontmoetings met alle relevante kerke te hou nie, maar ons het kennis geneem van prosesse en besluite van ander kerke. Daar is ook kennis geneem van die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika en die Marriage Alliance of South Africa se standpunt.

Die taakspan het ook kennis geneem van twee ander Suid-Afrikaanse kerke wat tot op datum ernstige aandag aan die saak van homoseksualiteit gegee het, naamlik die Metodiste Kerk en die Verenigde Presbiteriaanse Kerk. Albei hierdie kerke het gekies om ’n gespreksbenadering te volg in plaas daarvan om die sake waaroor daar ernstige meningsverskil bestaan, op die spits te dryf. Gespreksdokumente waarin die verskillende aspekte van die problematiek uiteengesit word, is so wyd as moontlik in die twee kerke beskikbaar gestel met die oog daarop om met die verloop van tyd ’n groter mate van konsensus te ontwikkel.

Die taakspan het ook kennis geneem van kerklike debatte oor homoseksualiteit op ekumeniese vlak. Die taakspan het onder die indruk gekom dat die saak wêreldwyd uiters kompleks en kontensieus is, met die potensiaal om verwydering en skeuring binne kerke en kerkverbande te veroorsaak.”

Hierdie verslag van die Taakspan vir Homoseksualiteit het uiteindelik by die sinode aangeland met ’n aantal konsensus punte oor die saak, maar dan ook twee uitvoerige bylaes waarin twee verskillende standpunte beredeneer was, die een vir volle aanvaarding in alle opsigte van homoseksuele persone op dieselfde basis as heteroseksuele persone, terwyl die ander bylaag gemeen het dat homoseksuele persone wel “reg” kan kom en selfdegeslagverhoudings, veral waar dit seks aangaan, nie goedgekeur kan word nie.

Die bespreking van hierdie verslag by die Algemene Sinode van 2007 het uiteindelik gelei tot die aanvaarding van die volgende besluite (soos ooreengekom deur ’n vergadering van die moderatore van die samestellende sinodes, sowel as die Algemene Sinode), naamlik:

“Die Algemene Sinode besluit soos volg:

1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.

2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.

3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.

5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.

8. Die AS erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

Met 299 daarvoor en 66 stemme daarteen is hierdie voorstelle deur die sinode aanvaar. Dit het die voorstelle van die taakspan vir homoseksualiteit vervang en was toe die amptelike standpunt van die NG Kerk (sedert 2007).

ALGEMENE SINODE VAN 2013 VRA VEREDERE STUDIE

Die Algemene Sinode van 2011 het geen verdere besluite oor homoseksualiteit aanvaar nie. Intussen is die 2007 standpunt al meer as ’n kompromie-voorstel beskou en het dit veral ten opsigte van die legitimasie van teologiese studente ernstige spanning gebring. Ook in ander kerke in Suid-Afrika is gedurende hierdie tyd hieroor dieselfde spanning beleef. Dit het daartoe gelei dat die Algemene Sinode van 2013 hierdie saak nie kon systap nie en die kerk se standpunt van 2007 is op die agenda van die sinode in Port Elizabeth geplaas. Die 2013-sinode het die volgende besluite aanvaar:

“10.1 Besluiteregister (p237)
HOMOSEKSUALITEIT: PROSESVOORSTEL TOV DIE VOORTGESETTE GESPREK OOR

(vgl Agenda A.12 bl 128 pt 9.3; A.12 (Aanvullend) bl 24; Notule Dag 5 pt 4)
Die Algemene Sinode vervang A.12 (Aanvullend) bl 24 pt 1.5 met die volgende:
Die Algemene Sinode
1. bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ʼn deeglike eksegetiese en teologiese studie.
2. gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ʼn studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie
3. besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
4. verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.”

Hieruit het geblyk dat die sinode verdere studie gevra het oor die status van selfdegeslagverhoudings, besluit het dat dieselfde etiese standaarde sal geld vir beide homoseksuele en heteroseksuele studente met die oog op legitimasie en dat die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid hierin bepalend moet wees.

Die Moderamen van die Algemene Sinode (ASM) het na afloop van hierdie sinode hierdie opdrag opgedra aan Taakspan vir Homoseksualiteit van aan die ASM verslag moes doen voor die volgende sinode. Die taakspan het bestaan uit Andries Kritzinger, Elize Morkel en Andre van Niekerk. Na uitvoerige konsultasie landwyd met lidmate oor die breedste spektrum moontlik, is ’n verslag voor die moderamen gelê vir oorweging. Die moderamen het besluit om die verslag te laat dien, maar sonder sy aanbevelings en in die plek daarvan aanbeveel dat, volgens hulle oordeel die saak (veral van legitimasie en van proponent en die vereiste vir selibaat) daar nog verdere studie oor nodig is en hierdie sinode nie ’n finale besluit behoort te neem nie (sien volgende punt).

ALGEMENE SINODE VAN 2015

Die saak van ’n besluit en standpunt oor homoseksualiteit het voor die sinode van 2015 beland via twee stelle voorstelle waaroor die sinode moes besluit. Wat hiertoe gelei het, was die moderamen se voorstel oor die saak na aanleiding van die Taakspan vir Homoseksualiteit se verslag aan die sinode wat soos volg gelui het:

“4. AANBEVELINGS: SELFDEGESLAGVERHOUDINGS
4.1 Die Algemene Sinode neem kennis van die terugvoering van die Moderamen te opsigte van die opdrag rakende selfdegeslagverhoudings
4.2 Die Algemene Sinode reël ’n gefasiliteerde gespreksgeleentheid oor die opdrag ter vergadering.
4.3 Die Algemene Sinode besluit om die opdrag voort te sit en besluit ter vergadering oor die raamwerk vir die voortgesette navorsing en dialoog.”

Die eerste stel voorstelle, wat die moderamen se voorstel (veral 4.3 hierbo) geamendeer het, is egter afgestem ten gunste van die volgende stel voorstelle, waarmee die Algemene Sinode van 2015 ’n volgende tree gegee het tot die volle erkenning van die status van selfdegeslagverhoudinge:

Die Algemene Sinode het op Vrydag 9 Oktober 2015 soos volg besluit:
“1. Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.
2. Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.
3. Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ʼn huwelik beskou word.
4. Die Algemene Sinode besluit om in die lig van punt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
5. Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval.
6. Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.
7. Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ʼn gees van Christelike liefde te doen.
8. Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ʼn ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.
9. Die Algemene Sinode besluit om ʼn Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van voorafgaande besluite. Hierdie saak word ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ʼn soortgelyke opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.
10. Die Algemene Sinode besluit om ʼn bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.”

Die Algemene Sinode het verder besluit:
“1. Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangetas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering.
2. Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ʼn diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.”

Die Algemene Sinode het verder besluit:
“1. Die Algemene Sinode dra dit aan die Algemene Steunspan Regte op om die kerkregtelikeen regsimplikasies van enige besluit(e) insake selfdegeslagverhoudings te ondersoek met verslag en aanbeveling aan die Algemene Sinodale Moderamen.
2. Die Algemene Sinode neem kennis dat volgens die Civil Union Act (Wet 17 van 2006) vereis word dat denominasies skriftelik by die Minister moet aansoek doen om toestemming te verkry om selfdegeslagverbintenisse te voltrek (vergelyk Klousule 5 wat soos volg lees: Designation of ministers of religion and other persons attached to religious denomination or organisation as marriage officers: (1) Any religious denomination or organisation may apply in writing to the Minister to be designated as a religious organisation that may solemnise marriages in terms of this Act).”

Die Algemene Sinode het verder besluit:
“1. Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.
2. Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudings nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.”

Hiermee het die Algemene Sinode sedert 1986, toe homoseksualiteit nog beskou was as ’n afwykende gedrag, terwyl verhoudings van dieselfde geslag (wat seksuele van aard sou wees) as sonde gesien was, na volledige aanvaarding van die menswaardigheid van alle mense ongeag hulle seksuele oriëntasie in 2015. Ook kan verhoudings van dieselfde geslag net soos heteroseksuele verhoudings, amptelike erkenning van die kerk verwag en predikante wat hulleself daarvoor bereid verklaar, geregistreer word om in sodanige verbintenisse te bevestig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui