Kyk ook:
In die volgende brief vra die NGK (Nederduitse Gereformeerde Kerk) en die NHKA (Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika) vir gesprek met die GKSA (Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika). Dit kom nadat die GKSA besluit het om bande met die NG Kerk te verbreek weens die twee denominasies se verskille oor homoseksualiteit en VIDA (vrou in die amp).
********
30 Januarie 2026
Deputate Ekumene (Binnelands)
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA)
VERSOEK OM GESPREK
Geagte broers in die geloof,
Ons dink met groot waardering aan julle as medegelowiges met wie ons langer as ’n eeu en ’n half al ’n besonder noue band het. Ons is diep onder die indruk daarvan dat al drie ons kerke ’n gemeenskaplike herkoms het, dieselfde belydenisse onderskryf, en in soveel verbande al met mekaar saamgewerk het. In ons verkondiging van die evangelie van Jesus Christus deel ons ’n roeping in die wêreld wat dikwels van God vergeet, en werk ons plaaslike gemeentes (kerke) meermale baie hartlik met mekaar saam. Ons harte word warm wanneer ons aan gesamentlike ondernemings soos Bybelvertaling, godsdiensonderrig op skool, die viering van 500 jaar sedert die Reformasie en maatskaplike dienswerk dink. Ons getuig oor dekades saam teenoor owerheid en onderdaan, ons aanbid God in dieselfde taal, ons is met bande van bloed en liefde aan mekaar verbind.
Juis daarom vind ons dit hartseer dat die bande tussen ons drie kerkverbande oor die afgelope dekade of wat al losser geword het. Sedert die gesamentlike viering van Reformasie 500 in 2017 het geen byeenkoms van die Tussenkerklike Raad (TKR) plaasgevind nie en kon enkele verteenwoordigers van die drie kerke slegs sporadies ontmoet. Die ontwrigting van die COVIDpandemie het sekerlik hierin ’n rol gespeel; ook landsomstandighede en die debatte daaroor, soos ook besluite van sinodes van ons kerke en persepsies dáároor. Die GKSA se eensydige kansellasie van ’n byeenkoms van die TKR op kort kennisgewing in 2025 was vir die NG Kerk en Hervormde Kerk (NHKA) ’n groot teleurstelling. Die GKSA se Deputate Ekumene (Binnelands) het gedurende 2025 afsonderlike gesprekke aangevra met die Algemene Sinode Moderamen (ASM) van die NG Kerk en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Hervormde Kerk (NHKA). Die NG Kerk se ASM het hulle ontmoeting met die GKSA se deputate as spanningsvol beleef, terwyl die Hervormde Kerk teleurgesteld was dat geen verteenwoordiger van die GKSA hulle Algemene Kerkvergadering ’n maand later bygewoon het nie en daar ook geen groeteboodskap van die GKSA ontvang is nie. Die NG Kerk was ook teleurgestel dat geen opvolggesprek (soos hulle versoek het) met die deputate gevoer kon word vóór die GKSA se sinode van 5 tot 10 Januarie 2026 nie, en dat dié sinode volgens berigte die ooreenkoms van samewerking tussen die GKSA en die NG Kerk opgeskort het. Hoewel die NG Kerk en die Hervormde Kerk beide genooi is om geskrewe groeteboodskappe aan die GKSA 2 se sinode te stuur, het daar nie ’n amptelike uitnodiging gekom om verteenwoordigers van ons twee kerke na die geleentheid te nooi nie.
Die NG Kerk en Hervormde Kerk wil daarom vra watter implikasies hierdie verwikkelinge vir ons pad vorentoe as gereformeerde kerkfamilie in Suider-Afrika inhou, en spesifiek die besluite van die GKSA se 2026-sinode vir die voortbestaan van die TKR. Ons sal graag hieroor ’n dringende gesprek met die Deputate Ekumene van die GKSA wil voer.
Dit gaan egter ook oor méér. Ons het in bogenoemde ontmoetings van albei ons kerke se moderature met die deputate van die GKSA daarvan bewus geword dat ons ingrypend van mekaar verskil oor die roeping en gawes van vroue in die Kerk van Christus, en hul teenwoordigheid, waardigheid en bydraes in kerklike ampte, leierskap en vergaderings. Ons kan nie anders as om hierdie gedeelde ervaring in verband te bring met die drastiese besluite van die GKSA se afgelope sinode oor vroue in die amp nie. Dit is duidelik dat die GKSA se besluit teen vroue in die amp in radikale kontras staan met besluite en die praktyk wat reeds dekades lank in die Hervormde Kerk en NG Kerk geld, asook in ander gereformeerde kerke in Afrika, Nederland en in die wêreld, soos dit weer in Oktober verlede jaar by die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (World Communion of Reformed Churches, WCRC) se Algemene Vergadering in Chiang Mai, Thailand, bevestig is.
Op hierdie punt kan die NG Kerk en die Hervormde Kerk nie anders nie as om te stel dat dit om ’n wesenlike teologiese verskil tussen ons en u 2026-Sinode gaan. Die GKSA se besluit om by ’n vorige standpunt teen vroue in die amp te volstaan en van gemeentes, leraars en lidmate volledige instemming daarmee te verwag of om hulle dan andersins as “ongehoorsaam aan Christus” en “losgemaak uit die kerkverband” te beskou, druis volgens ons in téén die Here Jesus Christus se radikale insluiting van alle mense in sy binnekring, die opmerklike teenwoordigheid van vroue by sleutelmomente in sy lewe en bediening, en die feit dat Hy self vroue as eerste draers van die nuus van sy opstanding uitgestuur het – in teenstelling tot die waardes van sy tyd. Dit spreek volgens ons ook uit die boek Handelinge en ander geskrifte uit die vroeë Kerk, en ons vind daarom die GKSA se verwysing na enkele teksverse uit die briewe van Paulus in hierdie verband ’n verskraling van die Nuwe Testamentiese boodskap oor vroue en hul geseënde rol in die Kerk van Christus.
In ons gereformeerde hermeneutiek en eksegese is dit gemenesaak dat enige teks geïnterpreteer moet word teen die agtergrond waarbinne dit ontstaan het én die wêreld waarbinne dit tans gelees word. Deur die Skrif sáám met mekaar te lees – mans en vroue en medegelowiges in ander gereformeerde kerke – word ons gelei tot dieper insig in die boodskap daarvan en word ons weerhou van die gevaar om tot slegs één gevolgtrekking oor die toepassing daarvan te kom. Só lei Christus ons deur sy Woord en Gees om waarlik Kerk te wees (Heidelbergse Kategismus Sondag 21, Vraag 54 en 55); méér as net ’n uitdrukking van wat elders in ons kultuur of samelewing gevestig geraak het en wat dikwels medegelowiges – in hierdie geval vroue – hul waardigheid, rol en roeping ontsê. Ons wil eerder uit ons ervaring getuig van die unieke gawes wat vroue van God ontvang het en hoe Hy hulle as getroue getuies, toegewyde eksegete en verkondigers van die Woord, luisteraars met ’n simpatieke oor en empatiese ampsdraers op ‘n verskeidenheid maniere in ons kerke gebruik.
Vir ons is die enigste weg om die spanning wat klaarblyklik nou hieroor tussen die GKSA en ons bestaan, te hanteer, dié van eerlike en openhartige gesprek. Ons wil mekaar sonder voorbehoud as volgelinge van Jesus Christus ag, mekaar oproep tot wedersydse respek, en ons lidmate 3 aanmoedig om steeds met waardering en deernis in plaaslike verband saam te werk in hul getuienis oor die liefde van God vir alle mense. Ons rig hierdie versoek om gesprek tot u as Deputate Ekumene daarom ook as ’n boodskap ter bemoediging aan ons broers en susters, lidmate en leraars in die breër gereformeerde kerkfamilie in Suider-Afrika. Laat ons volhard in ons Christelike getuienis, en die kosbare verhoudings wat daar bestaan, bly koester.
Dit is ons opregte wens dat ’n spoedige ontmoeting met die uitgebreide Deputate Ekumene en belangrike leiersfigure in die GKSA ons onderlinge verhoudinge met mekaar sal kan bestendig, en sien daarom uit om hieroor van u te verneem.
Ons groet u as broers en susters in die Naam van ons Here, Jesus Christus.
Seënwense,
Dr Wouter van Wyk (Sekretaris: Kommissie van die AKV)
Dr Nioma Venter (Algemene Sekretaris: Algemene Sinode van die NG Kerk)