Deur wetenskap na geloof in Christus – Allan Sandage

Kyk ook:

Hennie Mouton het onderstaande op facebook/kerkbode geplaas –

http://www.facebook.com/kerkbode/posts/412624035432894.

**********

Hennie Mouton -> Kerkbode

Prof. Allan Sandage (1926 – 2010) was ’n wyd gepubliseerde sterrekundige wat van ’n ateïs na ’n skeppingsgelowige Christen verander het omtrent halfpad in sy loopbaan. Hy het oor die 500 wetenskaplike artikels gepubliseer en was een van die invloedrykste sterrekundiges van die 2de helfte van die afgelope eeu (volgens onder andere ’n huldeblyk in “Nature”). Hy is beskou as ’n man van absolute integriteit. Hy het nooit opgehou met aktiewe navorsing tot met sy afsterwe nie.

Sandage se etnies Joodse ouers was verbonde aan universiteite al die jare wat hy by hulle in die huis was. Hyself het dus in ’n akademiese omgewing grootgeword en was van kleintyd af ’n ateïs. Baie mense (ook enkele skrywers op hierdie forum) reken dat hoe meer wetenskaplikes die wetenskap en byvoorbeeld die heelal navors, hoe meer sou ’n godsbegrip uit hul gedagtes verdwyn. Maar vir Sandage het dit nie so gewerk nie. Hy het later besef dat daar meer in die wêreld is as die koue alhoewel indrukwekkende vergelykings van wiskundige fisika. Sy navorsing het hom laat besef dat die antwoord op die oorspronge van lewe en die heelal buite die wetenskap lê. Hy het ook afgelei dat moderne fisika misties is, met sy nie-leë vakuumruimtes en die geloof dat die heelal uit ’n onwillekeurige fluktuasie uit niks ontstaan het. Dit verg geloof in onsienbare en onwaarneembare dinge. Volgens hom is die resultaat dat moderne fisika onwetenskaplik geword het in terme van wat wetenskaplik genoem is ’n eeu gelede.

Een van die gevolge van Sandage se wetenskaplike navorsing was dat hy ’n teïs en uiteindelik ’n Christen geword het. ’n Huldeblyk oor hom in “The Telegraph” het gestel dat hy ’n wedergebore Christen geword het omdat hy nie ’n lewe vol sinisme kon bly leef nie. Hy het gekies om te glo, en het daardeur vrede gekry. Sy bekering het wetenskaplikes en nie-wetenskaplikes onkant gevang. Sy gevolgtrekking was dat die skepping van die heelal ’n bonatuurlike gebeurtenis was wat nie in die realm van fisika verklaar kan word nie – wetenskap kan ons nie na die Eerste Oorsaak vat nie – daar moet ’n intelligente skepper wees. Volgens hom kan mens binne die realm van wetenskap niks meer sê as die boek Genesis nie. ’n Triomf in die kosmologie was die ontdekking dat die heelal soos ons dit vandag ken nie vir altyd bestaan het nie, maar ’n begin gehad het. Sy navorsing het hom gelei na die aanvaarding van Intelligente Ontwerp. Hy het die Skepper geïdentifiseer as die God van die Bybel.

Volgens Sandage kan mens nie wag aan die kant van die wetenskap tot jy sekerheid het nie. Sy benadering was om te besluit om die Bybel te glo wat verduidelik wat die wetenskap nie kan nie, soos byvoorbeeld bestaan, doel, waarde en vrye wil. Ongelukkig het sommige van die wêreldwye hoof huldeblyke oor hom sy godsdienstige gevolgtrekkings uitgelaat.

Bostaande is geneem uit “Journal of Creation”, vol. 25(2), 2011, bl. 78-82, “Professor Allan Sandage—his research led to Intelligent Design“.

Kommentare:

Jan Tik

Dis nogal interessant dat hy so nou betrokke was met die pogings om die heelal se ouderdom te bepaal – sy eie bevindings het hom laat dink dat dit biljoene jare oud was. Ek wonder hoe dit inval by julle ouens wat dink die aarde is 6,000 jaar oud?

Somerset Morkel

Prys die Here vir so ’n getuienis! Dis treffend.

Jaco De Beer

Wonderlik, dankie Here vir sulke getuienis wat aan ons bevestig U is die enigste waarheid.

Hennie Mouton

Jan, gaan lees Humphreys of Hartnett se artikels oor ver-sterlig-jong-aarde op www.creation.com of die betrokke hoofstuk in my boek daaroor vir ’n vereenvoudigde verduideliking [of Ver-sterlig-jong-aarde-probleem]. Maar jy moet tenminste bereid wees om te aanvaar dat tyd op verskillende plekke in die heelal teen dramaties verskillende spoede kan verloop, ooreenstemmend algemeen aanvaarde relatiwiteitsteorieë. Maar die doel van my plasing is eintlik om te wys dat eerlike wetenskapsbeoefening behoort te lei tot geloof in God, selfs al gaan dit net oor die noodwendige gevolgtrekking van intelligente ontwerp. Om bevestiging van die Bybel te kry uit die wetenskap, kan tot ’n mate met die argument van intelligente ontwerp gedoen word (en dit lyk of onder andere dít vir Sandage tot geloof beweeg het), maar nog baie meer bevestiging is moontlik as mens bereid is om skeppingsleerbegrippe te oorweeg.

Jan Tik

Sonder om nou die artikels in detail te gaan bestudeer (waarvoor ek nie nou tyd het nie), ek aanvaar wel dat die spoed van lig dalk kon verander het oor tyd. Sien http://www.newscientist.com/article/dn6092-speed-of-light-may-have-changed-recently.html

M.a.w. die tempo of “vloei” van tyd kon dalk anders gewees het in die verlede.

Die ongeluk met daardie argument is egter dat die spoed van lig gekoppel kan word aan die “fine structure constant” soos die artikel verduidelik – en weereens volgens die artikel, die enigste moontlike verandering in die waarde van “α” sou ten minste 2 biljoen jaar gelede moes gebeur het, wat steeds te oud is om in jou argument pas.

Maar dit nou eers daar gelos – dankie vir jou plasing. Ek is oortuig daar is groot vreugde in die hemel vir elke sondaar wat die pad tot die Here vind. Dit is iets waaroor ons almal kan juig 🙂

Hennie Mouton

Die verandering in die spoed van lig en die verandering in die spoed van tyd is nie dieselfde begrip nie. Maar ja, jou laaste paragraaf is die belangrikste.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui