Bybel is mees gesoekte boek op web

Die volgende artikel is van Beeld gekopieer. Dit is werklik baie bemoedigend dat die Bybel steeds relevant bly.

******************

ELAINE SWANEPOEL

Dinsdag 17 September 2013

Die Bybel is een van die boeke wat wêreldwyd die meeste ge-google word.

Dít volgens Google-tendense, ’n program wat aandui watter onderwerpe die meeste opgesoek word op dié soekenjin.

Die Bybel en Bybelverwante onderwerpe is amper ’n dekade lank een van die tien gewildste onderwerpe op Google wat boeke betref.

Boonop is die tien lande wat die Bybel sedert 2004 die meeste op dié soekenjin gesoek het, almal Afrika-lande, met Ghana, Swaziland en Zimbabwe wat die voortou neem.

Suid-Afrika is ongeveer 13de op dié lys.

Volgens Google-tendense is soekwoorde wat die meeste in die afgelope nege jaar gebruik is (in Engels), “Bybelvers”, “Jesus” en “Bybel-aanhalings”.

’n Woordvoerder van Google Suid-Afrika, wat nie haar naam genoem wou hê nie, het gesê dit is baie interessant dat die toptien-lande almal Afrika-lande is. “Die meeste mense was op soek na Bybelverse oor liefde.”

Prof. Jorrie Jordaan van die departement teologie aan die Universiteit van Noordwes het gister gesê dit dui op die krag en waarheid van die Bybel. “Ongeag tegnologiese vooruitgang word die Bybel steeds erken.”

Prof. Jan du Rand van die departement teologie aan die Universiteit van Johannesburg meen die internet is ’n deurbraak wat Christene tot hul voordeel moet gebruik. Hy het gemaan dat inligting op die internet nie altyd so betroubaar is nie en dat internetgebruikers hul eie geloofsraamwerk as maatstaf moet gebruik wanneer hulle oor geloof op die internet lees.

Du Rand en Jordaan is dit eens dat gelowiges baie nuuskierig is en enige geleentheid sal aangryp om meer oor hul geloof te wete te kom.

“Dit is juis hier waar die internet so handig te pas kom,” het Du Rand gesê. “Inligting is vinnig en maklik bekombaar en kan Christene help om die kennis wat nodig is vir ’n dieper geloof te verkry,” het hy gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui