Beweerde min entoesiasme vir Christelike universiteit

Onderstaande artikel en kommentare het op Kerkbode-aanlyn verskyn — die misleiding van die titel blyk sommer vinnig as die artikel gelees word.

Die skrywer is Jean Oosthuizen, nuusredakteur van Kerkbode, die NG Kerk se amptelike nuusblad.

Volgens sy logika, gemeet aan die 2de paragraaf van sy skrywe, kon die titel net sowel “Baie entoesiasme vir Christelike universiteit” gewees het.

**********

Min entoesiasme vir Christelike universiteit

15/08/2012 | Filed under: Nuus,Suid-Afrika | Geskryf deur: Jean

PRETORIA. – ’n Voorstel vir ’n sogenaamde Christelike universiteit in Suid-Afrika word nie juis met geesdrif begroet deur teoloë wat aan die bestaande universiteite verbonde is nie. Sommige sê reguit dit kan tot ’n laertrek-mentaliteit aanleiding gee.

Die gedagte aan ’n Christelike universiteit is vroeër vandeesmaand tydens ’n seminaar in Pretoria geopper. Sprekers soos prof Ponti Venter van die Noordwes-Universiteit en dr Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het hulle ten gunste van so ’n instelling uitgespreek. Die uitvoerende hoof van die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), Pieter Bisschoff, wat die seminaar deur sy Juventus-jeugvereniging aangebied het, het aangevoer dat daar ’n geweldige behoefte by die jeug aan Christelike wetenskaplike opleiding is.

Die dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), prof Francois Tolmie, het aan Kerkbode gesê dat so ver dit sy eie vakrigting, teologie, aangaan, dit die heel beste is om dit aan ’n openbare universiteit soos die UV te beoefen. “Die feit dat jy aan so ’n universiteit gereeld met ander, uiteenlopende standpunte, gekonfronteer word, maak dit wel meer uitdagend,” het prof Tolmie gesê. “Maar terselfdertyd bied dit ook groot geleenthede – veral in ’n land soos Suid-Afrika, waar daar toenemend tekens van sekularisering is.”

Prof Tolmie sê dit staan egter enige groep vry om binne die ruimte wat die grondwet bied, en deur eie finansiering, so ’n inrigting binne die tersiêre opset tot stand te bring. “En indien dit ’n werklikheid word, sou dit waarskynlik die beste wees om dit so inklusief moontlik te maak.”

Prof Tolmie wou hom nie te veel uitlaat oor “Christelike wetenskap” nie, omdat dit nie sy vakgebied is nie. Hy glo egter wel dat dit onmoontlik is om wetenskap heeltemal neutraal en waardevry te beoefen, en dat ’n mens vanuit ’n Christelike hoek ’n baie belangrike bydrae kan maak tot die gesprek oor gedeelde wetenskaplike waardes. Hier dink hy veral aan respek vir die ander, wetenskaplike integriteit, en eties korrekte argumentering.

Prof Danie Veldsman van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek by die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit Pretoria, was baie skepties oor die gedagte aan ’n Christelike universiteit. Prof Veldsman het aan Kerkbode gesê dit is niks anders nie as ’n “laertrek-mentaliteit” as Christene hulle op dié manier wil afsonder.

Hy sê dit is Middeleeus-gesentreerde denke wanneer ’n bepaalde groep reken húlle het ’n monopolie op kennis. Dit sal volgens hom net tot vervreemding lei indien Christene hulle op akademiese gebied wil afsonder. “En die term ‘Christelike wetenskap’ staan my ook nie aan nie, omdat dit ’n suggestie bevat dat die Bybel ’n wetenskaphandboek is,” het prof Veldsman aan Kerkbode gesê.– jean@tydskrifte.co.za

Kommentare

Henrietta Klaasing
15/08/2012
Dit lyk nie of die genoemde persone wat so min entoesiasme vir ’n Christelike Universiteit het hulle juis steur aan wat die “man op die grond” dink nie. Daar was ’n meningspeiling in Rapport van 4 Augustus 2012:
Vraag: n Groep politici en aktiviste meen dit is tyd dat Suid-Afrika weer ’n Christelike universiteit moet kry. Wat dink jy?
Uitslag:
  • Ek stem saam. Ook hoër onderwys moet Christelik wees? 74% (3897 stemme)
  • Nee, godsdiens hoort nie in onderwys nie. 11% (572 stemme)
  • Daar moet plek wees vir universiteite van verskillende gelowe. 15% (804 stemme)
Edwin Müller
16/08/2012

Vroeër jare het ons altyd gepraat van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU VIR CHO). Maar gaande weg het die Universiteit sy Christelike karakter begin verloor, omdat die meisies by hulle kêrels se kamers begin slaap het, of die kêerels het in hulle meisies se kamers gaan slaap in die koshuise, terwyl dit teen die reëls van die Universiteit was.

En die Potchefstroomse Universiteit is nie die enigste Universiteit waar dit gebeur nie, dit gebeur by al die Universiteite dwarsoor die land. Ek moet eerlikwaar sê dat ek bly is dat hulle die naam in sy geheel verander het na die Noordwes Universiteit, Potchefstroom kampus, en Noordwes Universiteit Vaaldriehoek kampus. Dit pas baie beter, want dan hoef ’n mens nie skynheilig te wees as jy weet daar oor en weer in mekaar se kamers geslaap nie.

Edwin Müller
Sasolburg
Anna Louw
16/08/2012
Dis die persoon wat die Here wil dien & volgens Christelike waardes sy opleiding wil doen, wie se mening belangrik is.
Nie die Teoloë nie – hul skep juis die behoefte vir ’n Christelike Universiteit.
Laat hul voortgaan by hul fakulteite soos hul wil – hul is mos baie seker van hul saak en mag & wil volgens die moed van hul oortuiging doseer.
Elkeen is sekerlik vry om sy keuse uit te oefen in hierdie verband.
Laat diegene in vrede wat wil saamwerk om ’n Christelike Universiteit tot stand te bring.
Mag hierdie pogings geseënd wees en van krag tot krag gaan.
——————————————————–

Waarskynlik omdat daar deesdae maar min kommentare op Kerkbode-aanlyn verskyn, het Kerkbode dit toe na facebook/kerkbode herlei.

Kerkbode shared a link.
August 22.

http://kerkbode.co.za/?p=1557

Min entoesiasme vir Christelike universiteit | Kerkbode
kerkbode.co.za

PRETORIA. – ’n Voorstel vir ’n sogenaamde Christelike universiteit in Suid-Afrika word nie juis met geesdrif begroet deur teoloë wat aan die bestaande universiteite verbonde is nie. Sommige sê reguit dit kan tot ’n laertrek-mentaliteit aanleiding gee.

Kommentare:

Kobus Bester

Geen wonder mense verlaat die kerke op strepe nie.

Eion Klaas Du Toit

Hul kan maak wat hul wil – solank dit nie met my geld (belasting) is nie!!!!!

FP Aldrich

Hoor hoor, Eion Klaas Du Toit!!

Lize Grobler Schlebusch

Dit sal wonderlik wees as daar so Universiteit tot stand kan kom.

Henrietta Klaasing

Thinus Malan van Affies vra in ’n brief in Beeld: “Waar moet jong Christene gaan swot?”

Lees hier:

http://www.beeld.com/​MyBeeld/Briewe/​Waar-moet-jong-Christene-ga​an-swot-20120821

Waar moet jong Christene gaan swot?
deur Thinus Malan van Affies skryf: 2012-08-21 21:33
Ek is ’n matriekleerling aan Affies en moet besluit waar ek volgende jaar gaan studeer.
Ek wil baie graag aan ’n Christelike universiteit studeer, maar daar is nie een in Suid-Afrika nie.
Waar moet ek as Christen gaan studeer?
Gaan ek my geloof kan uitleef aan een van die sekulêre universiteite in ons land?
Sal ek in my eksamens kan skryf evolusie is verkeerd en dit aan die hand van die Bybel kan beoordeel sonder om benadeel te word?
Dit is nie net ek wat in dié krisis is nie, maar ook van my vriende.
Kan iemand ons help? Waar moet ons as jong Christene gaan studeer?

Henrietta Klaasing

Die eerste (geplaasde) reaksie was sarkasties en neerhalend:
http://www.beeld.com/​MyBeeld/Briewe/​Thinus-se-denke-is-verontru​stend-20120822
Thinus se denke is verontrustend
deur Dr. M. Sittmann skryf: 2012-08-22 22:04
Thinus Malan van Affies se brief “Waar moet jong Christene gaan swot” (Beeld, 22 Augustus) het betrekking.
Liewe Thinus, wat is ’n “Christelike universiteit”? Is dit ’n instelling wat naskoolse opleiding, gepolariseer deur bekrompe idees, gee?
En wat wil jy gaan studeer? Hopelik nie in ’n natuurwetenskaplike rigting nie, want jy gaan die skok van jou lewe kry!
Dit is vir my erg verontrustend dat ’n skoolkind, met minimale inligting en ervaring, so vroeg in sy lewe reeds eendimensioneel dink.
Vir jou inligting, boet, sekularisasie is nié ’n aartssonde nie. Dit hou bloot voor dat opleiding geskied sonder dat kennisoordrag besmet word deur (geloofs)eksklusiwiteit.
Ek hoop jy verstaan dié oom se moeilike woorde.

Henrietta Klaasing

En hier is ’n Kort Boodskap–reaksie op Dr Sittman se brief:

Absoluut verontrustend hoe sarkasties en onverdraagsaam dr. M. Sittmann reageer op Thinus Malan, ’n jongmens, se brief.

– Jan Henning

Henrietta Klaasing

Latere reaksies:

Só kan jy dalk meer mense sê van Jesus
deur Christo du Plessis van Sandton skryf: 2012-08-23 21:30
Thinus Malan se brief “Waar moet jong Christene gaan swot?” (Beeld, 22 Augustus) het betrekking.
Op die keper beskou moet elke Christen die beginsels van die Bybel in ag neem as hy of sy wonder oor die stand van hoër onderrig. Die wêreld vandag is skreiend in teenstand met dit wat die Bybel uitstippel.
Op sosiale, ekonomiese, maatskaplike en talle ander gebiede is daar geen ewewig tussen die verskillende inkomsteklasse in die wêreldbevolking nie.
Thinus self maak melding dat hy gaan matrikuleer by ’n puik sekondêre instelling.
Ek wonder of sy Bybelse instelling akkordeer met die voorsprong wat hy sover geniet het oor byna elke ander Suid-Afrikaner in matriek. Die blote feit dat hy kan kies en keur onder universiteite dui aan dat hy besonder geseënd is.
Daniël, saam met sy vriende wat hernoem is na Sadrag, Mesag en Abednego, het hul beginsels uitgeleef in Babel. As hulle ooit ’n vraag oor evolusie moes beantwoord, is ek seker hulle sou die punte prysgee en dit as offer aanvaar.
In die gebrek aan ’n breër aanvaarding vir hul geloofsoortuiging, het hulle hulself as ’n tempel van die Heer gelewe vir almal om te sien, selfs in die sondige Babel.
Ek dink dié vier Bybelmanne het verstaan daar is belangriker kwessies ter sake. Daar is belangriker dinge in die lewe as sekulêre tersiêre opvoeding om jou kop oor te breek.
Elke Christen wil so ’n instelling hê, tog gaan jy somtyds moet aanpas by jou omgewing. Só kan jy moontlik meer mense vertel van Jesus, dit was tog sy laaste bevel op aarde.

EN NOG EEN:

Thinus, klink of jy wel in ’n kokon lewe
deur Willie van Moreletapark skryf: 2012-08-23 21:30
Dit verbly my om te lees van kinders wat in vandag se tyd Christene is en vrese het vir die wêreld daar buite.
Hoekom kritiseer mense Thinus Malan dan so erg? Gee eerder opbouende kritiek en help die jong man reg, soos sommige mense inderdaad doen.
Kom ons gee eerder ons nommers aan sulke jong kinders sodat hulle ons kan nader as hulle hulp nodig het.
Duidelik het hy en ander jongmense raad nodig oor hul vrese.
Maar aan Thinus wil ek sê: Dit klink wel of jy in ’n kokon lewe. Dit beteken nie as jy ’n Christen is jy in afsondering moet leer en werk nie.
Jy moet as Christen aanpasbaar en sterk wees genoeg om al die storms om jou te kan trotseer.

Henrietta Klaasing

EN WEER:

Hy sal sy studies met nuwe oë betrag
deur Stephan Oberholzer van Verwoerdburgstad skryf: 2012-08-24 20:42
Ek skryf na aanleiding van dr. M. Sittmann se brief “Thinus se denke is verontrustend” (Beeld, 23 Augustus), waarin hy Thinus Malan kritiseer oor sy vrese.
Dr. Sittmann verwys na Christelikheid as ’n besmetting. Ek het egter vir hom slegte nuus. As hy só dink, sal hy nooit die Woord van God verstaan nie.
“Want die wysheid van die wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hul listigheid vang” (1 Kor 3:19).
Thinus, baie dankie dat jy nog ’n dimensie by jou toekoms voeg, vier¬dimensioneel dink en jou Christelikheid wil uitleef in alles wat jy doen.
Wees gerus, ek het ook in ’n natuurwetenskaplike rigting gestudeer en dit is tot jou voordeel om jou Christelike beginsels uit te leef hierin. Jy sal met nuwe oë jou studies betrag.
Sout van aarde hoort nie in watte
deur Willie van Staden van Annlin skryf: 2012-08-24 20:42
Aan die universiteit waar ek studeer het, het ek in die departemente van Engels, geskiedenis en sosiologie groot dosisse Marxisme ingekry.
Dit het nie van my ’n Marxis gemaak nie.
Op onderwyskollege in die jare 60 het ons rektor aan ons verduidelik dat jongmense in ander lande geneig is om met politieke ideologieë te wil eksperimenteer, maar ons Afrikaner-jongmense het nie daardie luukse nie.
Ons moet “neem wat die ouer geslag vir ons gee”. Dié indoktrinasie het ook nie op my gewerk nie.
Vir Thinus Malan, die bekommerde jong Christen-student, wil ek sê ek het 15 jaar by jou skool onderwys gegee. Ek weet jy het daar alles gekry wat hy nodig het om getrou te bly.
Maar weet tog dat sout van die aarde nie geroep word om in watte toegewikkel te word nie.

Henrietta Klaasing

‎’n 14-jaige skryf vir Dr Sittman:

Moenie ons skoolkinders onderskat
deur Salomie Eensteen van Bela-Bela (Warmbad) skryf: 2012-08-24 20:42
Liewe dr. M. Sittmann, ek is 14 jaar oud, ingelig oor wat in die wêreld aangaan en deel van ’n nuwe generasie wie se kreet “Jesus” is, soos wat die band Onbeskaamd dit sing.
My wonderlike onderwysers in Warmbad het my geleer hoe om die HAT te gebruik, ek kon dus Oom se moeilike woorde opsoek.
Gaan lees asseblief Gideon Joubert se boek Die groot gedagte en Oom sal agterkom dat die natuurwetenskappe juis God se bestaan uitskreeu (ek hoop Oom verstaan al die moeilike begrippe in dié boek).
Oom moenie ons skoolkinders onderskat en dink ons het net “minimale inligting” nie. Ons leef juis in ’n tyd waar die wêreld se kennis tot ons beskikking is deur ons liewe vriend Google.
Oom dink dalk sekularisme is nie ’n aartssonde nie. Oom is reg. Dis bloot ’n oningeligte manier van dink.

Toe dr. M, gaan sit nou, man!

Henrietta Klaasing

Thinus antwoord Dr Sittman in gister se Beeld:

Thinus sê dankie vir les in sekularisme
deur Thinus Malan van Affies skryf: 2012-08-24 20:42
Dr. M. Sittmann se brief “Thinus se denke is verontrustend” (23 Augustus) het betrekking.
Liewe oom Sittmann, dankie vir u les, maar ek het hom al gehoor en ek stel nie belang nie.
Sekularisme is die siening dat kerklike dogma, geloof, godsdiens en ander bonatuurlike gelowe nie ’n rol speel in ’n mens se verstaan van die wêreld nie.
Dit lei nie net tot skeiding tussen staat en kerk nie, maar ook tussen openbare en private lewe. Godsdienstige geloof speel slegs ’n rol in die private lewe en nie in openbare sake nie.
Die gedagte van sekularisme is dus neutrale wetenskap, wat ek verstaan en doelbewus teëstaan.
Neutrale onderrig is ’n wêreldvreemde gedagte, dalk moet oom meer koerant lees of belê in ’n oorsee se toer om oom se eendimensionele denke te verbreed.
As oom maar net die woorde Christelike universiteit google sal oom sien dat daar honderde Christelike universiteite in die wêreld is.
Al wat ek vra, is hoekom is daar nie een in Suid-Afrika nie?
As Oom die koerante die laaste paar weke dopgehou het, sou oom sien dat daar wel ’n groot behoefte onder die breë publiek vir ’n Christelike universiteit in Suid-Afrika is. Ons jong Christene is nie dom nie, Oom.
Ek waardeer egter die feit dat oom bereid is om met ’n skoolkind in gesprek te tree, dankie.

Henrietta Klaasing

En goeie nuus vir Tinus van prof Dr. Danny Nel:

Daar is nog swotplek vir jeug soos hy
deur Danny Nel, registrateur van die Afrikaanse Protestantse Akademie, skryf: 2012-08-24 20:42
Ek het met groot opgewondenheid kennis geneem van Thinus Malan van Affies se brief (22 Augustus).
Kan jy glo daar is nog jongmense wat so sterk staan op hul Christelike oortuigings?
Maar ek wil Thinus verseker dat daar wel ander mense is wat ook so dink en dit ook probeer uitleef.
Daarom het Die Afrikaanse Protestantse Akademie (Die APA – letterlik ’n klipgooi van Affies af!) tot stand gekom en bied dit ’n gulde geleentheid vir jongmense om op Christelike grondslag en in ons moedertaal verdere akademiese opleiding te ontvang.
Ons is by die onderwysdepartement geregistreer, maar kan natuurlik nie die naam “universiteit” gebruik nie omdat dit die uitsluitlike voorreg van die staatsinstellings is.
Ek dink egter dat ons registrasie as private tersiêre instelling nie alleenlik ’n groot deurbraak vir naskoolse Bybelgegronde en moedertaalonderrig is nie, dit is ook ’n veer in die hoed van die onderwysowerhede omdat hulle ons toelaat om onsself te wees en ons uit te leef ingevolge die Grondwet van die land.
Ek dink regtig nie jou benadering klink bekrompe nie, soos dr. Sittman beweer (23 Augustus). Ek noem dit eerder positief beginselvas binne die veranderde omstandighede.
Daarom is dit ook ons missie om studente op te lei wat hul plek volwaardig in die Suid-Afrikaanse samelewing kan volstaan.

Albert Cruywagen

Ek sien geen goeie rede om eenkant, apart verder te studeer nie. Dis soos “home scholing” op sy slegste. Alles wat dan kwansuis met de Bybel bots (op grond van engdenkende mens se interpretasie van die Bybel) word geignoreer. Dis tragies.

Henrietta Klaasing

Albert, geen onderwys of opvoeding is “neutraal” nie, watter kant toe mense ook al redeneer.

Philip du Toit

‘n Opvoedkundige instansie met ’n Christelike etos hoef nie te beteken dat studente nie kritiese vaardighede geleer word nie. Inteendeel, ek sou sê meeste skoolkinders moet nog leer om krities te dink. Dit hoef ook nie te beteken dat studente nie blootstelling kry aan ’n wye spektrum van lektuur nie. Maar hulle kan leiding kry oor hoe om hulleself te verantwoord, selfs al is hulle eie siening nie ’n hoofstroom siening nie. Ironies genoeg dink ek dat baie jong studente aan universiteite vandag juis nie geleer word om krities te dink nie, maar om goedsmoeds die hoofstroom opinie na te volg.

Jean Oosthuizen

Sal daai studente geleer word die aarde is net 6 000 jaar oud ook?

Albert Cruywagen

Henrietta: Wie het gesê dat onderwys neutraal is?

Albert Cruywagen

Philip: Soos ek kan onthou, trek jy akademiese inhoude dat dit naderhand so ’n dun nuttelose rekkie is! Bv. soos mbt. ewolusie!

Philip du Toit

Jean, ek dink hulle moet beide evolusie- en skeppingsteorieë geleer word en geleer word om self te besluit, iets wat nie by sekulêre universiteite aan studente geleer word nie.

Albert Cruywagen

Universiteite is nie-godsdienstig. Hoe kan hulle dan (verdraaide) “Bybelse” skeppingsteoriee doseer? Dan mag die Moslems ook hulle pond vleis wil hê! En die Boedhhiste, en die Hindus, ens. ens. ens. Onhoudbaar.

Jean Oosthuizen

Philip enige universiteit wat studente vandag leer die aarde is net ongeveer 6 000 jaar oud moet homself liewer ’n kleuterskool noem en nie ’n universiteit nie. Wetenskap is wetenskap. Dit behoort objektief beoefen te word en dit is presies wat aan sekulêre universiteite die geval is. Ek weet nie waarom is die laertrekmentaliteit nodig nie. Waarom sou Christene hulle by ’n “eie” universiteit wil gaan afsonder? Ek begryp dit glad nie. Universiteit is daar om akademiese opleiding te verskaf. Dit is nie kerke of godsdienstige instellings nie en ook nie veronderstel om te wees nie.

Philip du Toit

Ek hoor jou Jean, maar ek stem nie daarmee saam nie, veral nie met jou teenstelling van skepping en wetenskap nie. Ek stem ook nie saam daarmee dat ’n Universiteit met ’n Christelike etos noodwendig hulleself “afsonder” nie, inteendeel… Maar nou ja, ons gee mos maar bloot ons menings.

Jean Oosthuizen

Philip ek sal graag wil weet presies wat bedoel jy met ’n Christelike etos aan ’n Universiteit. Potch was eens so universiteit gewees. Is dit wat jy bedoel. ’n Universiteit soos Potch eens was?

Albert Cruywagen

Die mening van die meerderheid vorm die hoofstroom. Dit staan egter enigeen vry om ’n eie minderheidstroompie te begin.

Philip du Toit

Jean, ja, dit is min of meer wat ek in gedagte sou hê.

Jean Oosthuizen

Philip in watter opsig meen jy het Potch se christelike etos ’n beter universiteit van Potch gemaak as byvoorbeeld Stellenbosch, Pretoria of Bloemfontein? Wat sou die belangrikste kenmerke van so ’n “Christelike universiteit” wees?

Adriaan van der Wart

Ek reis onlangs in Oostenryk en merk dat talle kloosters en kerke hoog op teen die berge gebou is. Waarom? Om weg te kom van die ‘besoedelde – sondige – aarde’. Die ‘wêreld’ soos Paulus sy woordkeuse maak. Hoe ongelukkig is dié interpretasie oor die ‘wêreld’ nie. Dis net ’n deurgang, ’n onbelangrike reis na die ‘anderkant’. Maar intussen leef en doen ons alles op dié aarde saam met en tussen al die ander mense. ’n Christelike Universiteit? Waarom dan nie ’n Christelike trein vir my vervoer, ’n Christelike koffiewinkel vir my koppie boeretroos nie, ’n Christelike Kentuckey en ’n handelaar wat net Christelike motors verkoop en diens nie. Of ’n Christelike Harley Davidson mouterbike handelaar nie? Kom nou – ons leef hier en nou tussen mekaar en dis lekker! Ons hoef nie mure om ons te bou om ons te beskerm nie. Dít kom van binne as ons Hom volg! Hy het immers by wynsuipers en vrate se tafels aangesit.

Albert Cruywagen

Die neukery is dat al is hierdie gewaande universiteit hoe Xtelik ook al, dit sal nooit sonde weghou nie: Een of ander tyd sal ’n jong man en meisie voorhuwelikse seks geniet, sal iemand afkyk, sal dar dalk geld wegraak, geskinder word, gelieg word, ens, ens.

Nelmarie Cruywagen

Ek wil weet presies wat moet anders wees by so ’n christelike universiteit. Moet almal christene wees en wat nog? Hoe gaan hulle jool, ser en kafoefel?

Philip du Toit

Jean, elke konteks is anders. Vroeër het baie ander universiteite ook soort van ’n Christelike karakter gehad. Bv. die teologiese fakulteite van beide Pretoria en US was vroeër baie behoudend, maar nie nou meer nie. In ’n sin sou ek sê dat self US en Pretoria dus vroeër ’n sterker Christelike etos gehad het. Dit hang ook af wat die kriteria is vir ’n goeie universiteit. Ek dink maar net daar is tans ruimte vir ’n behoudende Christelike univ. te midde van die sterk liberale ettosse by universiteite tans.

Jean Oosthuizen

Philip kan jy dalk voorbeelde noem van die liberale etosse waarna jy verwys en duideliker uitspel wat jy van ’n Christelike Universiteit verwag. Ek stem saam dat Universiteite vandag meer vrydenkend is as wat voorheen die geval was by Afrikaanse universiteite. Ek dink nie dit is noodwendig negatief nie. As jy gekant is teen losbandigheid en sedeloosheid aan universiteite is ek seker daar is baie sekulêre mense wat jou sal steun. My vraag is eintlik hoe moet die akademiese opleiding van ’n Christelike Universiteit verskil van dit wat studente vandag by Tukkies, Maties, UV, UJof Potch studeer.

Veilige Waters

Dis merkwaardig hoe meer ons Christelike beginsels uit ons univ en skole uitredeneer en evolusie – wat ook net n geloof is – inforseer hoe meer val ons samelewing en waardes uitmekaar. Die VSA is n briljante voorbeeld hoe openmindness die gesinne dn samelewing geskaad het.

Renier Lourens

Christelike beginsels was vir baie jare slegs ’n rookskerm waaragter mense kon skuil, terwyl hulle in elk geval gemaak het soos hulle wou.

Albert Cruywagen

Daai Xtelike etos is slegs een groep se opinie, niks meer nie.

Annari Du Plessis

Ek sidder om te dink watse teologie en wetenskap daar aan studente aangebied gaan word

Adoré Smith

Mediese studente gaan leer dat siektes deur die en daai se demoon veroorsaak word, teologie gaan mal en charismaniac wees met ’n klem op die bevrydingsbediening, demone en sci-fi eskatologie, studente van die sielkunde gaan ook moet hoor dat geestesversteurings demone is, wetenskapstudente gaan leer dat die aarde 6000 jaar oud is, argitekte gaan leer van die bose Vrymesselary van die Voortrekkermonument, Visuele Kommunikasie studente gaan ure lank sit en al die okkultiese simboliek in ’n Lady Gaga musiekvideo uitwys en ontleed, fine arts studente gaan seker heeldag sit en “profetiese” kuns maak terwyl die musiekdepartement die studente gaan leer hoe om ’n cheesy soft rock praise en worship groep bymekaar te sit vir Charismatiese kerkdienste D:

Adoré Smith

Dis nou behalwe vir die feit dat hierdie mense in hulle eie ou kokonnetjie gaan lewe terwyl hulle totaal en al kontak verloor met die harde realiteit van ateïsme, andersgelowiges, evolusie ens. En ek glo nie vir een oomblik almal gaan net reine en stralende Jesuskinders wees wat nie gaan struikel oor die vlees nie 3:)

Dirk Swanepoel

Video killed the radio star.

Johan Wolfaardt

Nee,brandewyn killed the Nesquick bunny,en in die geval sal dit waar wees.As jy opsigself te gesond is,is jy eintlik siek.As jy geen bloodstelling het aan die goeie en die slegte daar buite nie,gaan die wereld jou oorrompel.Ek het dit al hoeveel maal gesien met kinders wat “home schooling” doen.Eerste kans wat hulle kry,toe haak hulle uit en kan nie cope met die harde werklikheid nie.Christen universiteit,teories ’n oulike idee,prakties,’n agehele disaster!

Annari Du Plessis

Ek sien evolusie is nou weer ’n ”geloof”. Rondaardeisme seker dan ook.

‘n Christelike universiteit gaan ontaard in ’n ACE skool nagmerrie, waar allerhande onwaarhede opgedis word as feite, net sodat ’n erg verkrampte, letterlike siening van die Bybel gehandhaaf kan word. Verder gaan diegene wat nie in die koekiedrukker pas nie, sataniste genoem word of net bloot uitgeskuif word. Dit is ’n resep vir disaster.

Rudolph Scharneck

Ek het respek vir die wat dink n Christelike universiteit is goed. Maar as Christene hulleself heeltyd eenkant hou, hoe leer hulle om met nie-Christene gesprek te voer en in vrede saam te leef?

Philip du Toit

Jean, kom ek praat net t.o.v. teologiese opleiding: Ek sou nie sê dat studente weerhou moet word van meer vrydenkende lektuur nie, maar hulle moet opleiding kry wat verteenwoordigend is van die ganse teologiese spektrum. Tans is dit nie die geval nie. Die ironie is dat die grootste gros akademiese lektuur in die teologiese wêreld behoudend is. Ek dink veral aan die kommentaar reekse, maar ook die geskiedenis van teologiese interpretasie. Die ander ironie is dat baie teologiese denkrigtings in Amerika en selfs Engeland (bv. Wright, Dunn, ens.) meer behoudend is as in Suid Afrika. Vir een of ander rede voel SA teoloë en veral teologie-departemente aan universiteite hulle moet teologies so liberaal as moontlik wees. Ek het al gewonder waarom dit so is.

Veilige Waters

As dit nie vir die Bybel was nie, was daar nie teoloë nie, nou wil sekeres die Bybel afwater, so waarop baseer teoloë nou hulle teologiese redenasies wat skynbaar verhewe bo die gewone Bybelleser is?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui