Aan my sigarette

 

Aan my sigarette

Jy is nader aan my as enige ander lewende wese en ek hou jou in my sak na aan my hart. Met my lippe streel ek jou meer as enige ander lid van my gesin.

As ek wakker word, keer my gedagtes dadelik na jou, en dit bly daar die hele dag, afgemete elke ontmoeting reeds bepaal.

Ek aanbid gedurig met brandoffers in jou tempel. Op my lessenaar gaan die vure op jou altaar selde dood.

Ek versprei jou wierook in die aangesigte van ander mense ongevraagd – mans, vroue en kinders. Ek is kinderlik afhanklik van jou.

Ek roep jou hulp meer in as wat ek my Skepper se hulp inroep, want jy is my kalmte en vertroosting, daarom gee ek meer geld aan jou as aan die kerk en liefdadigheid tesame.

Ek stel my lewe vir jou in gevaar, want deur te rook kan ek maklik longkanker kry, en dit kan ook die oorsaak wees dat ek sterf aan ’n hartaanval.

Ek is nie bereid om hierdie risiko vir enige ander godsdiens te loop nie, maar net vir jou.

Ek dra in my liggaam die sigbare getuienis van my toewyding aan jou… die kleur van my vingerpunte en my vel. Mense kan selfs aan my ruik aan wie ek behoort. En oral waar ek was, sien mense die liefdespoor van as.

Ek is jou slaaf… en daarom weet ek jy is my god.

****************

Van hierdie sondige gewoonte, kan Jesus ook jou vandag verlos. Deur sy bloed, kan ook hierdie verslawing die nekslag toegedien word.

Die vraag is: wil jy Hom toelaat om die lyk van hierdie dooie god uit sy tempel te sleep?

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui